Tag Archives: Berghut

Die Berghut het water!

Uiteindelik is die watertenk bo op die berg. Van links na regs: Reinhardt Venter, Andre Leuvennink, MD Greyling, Charl Ellis, Isak Bosman, Daniël Schoonwinkel, Jacobus Stander en Hugo Minnaar (Johannes Leuvennink het die foto geneem)

Op Saterdag 25/11/2011 het ‘n groep van 8 BTK’ners en ‘n Oud-BTK’ner die water na die terrein van die Berghut op die plaas Belle Vue naby Hermanus aangelê. Dit is die eerste werk wat op die terrein gedoen is en die terrein is nou gereed vir die bouers wat in Januarie gaan begin.

Die vreugde was groot toe die kraan oopgedraai was en daar water uitkom.

Die groep van 9 het hulle baie goed van hul taak gekwyt en die werk sommer vinnig afgehandel, sodat daar nog tyd was om middagete by die waterval te geniet, waar die koue bergwater aangedurf is.

Die BTK sien uit na nog baie genotvolle uitstappies na die berghut en bedank die groep wat deel was van hierdie geskiedkundige oomblik vir die BTK.

–Isak Bosman

Klik hier vir nog foto’s van die uitstappie.

Berghut watertenk-installasie

Vriende,

Die Berghut se water is aangelê en die 1500 liter tenk is geinstalleer en vol! Die oorloop word teruggegooi in die stroompie waaruit dit geneem is!

Die pype se opneem was maklik. Ons het die onderste klofie se paadjie verby die poele gebruik. Die tenk se opdra was egter baie moeilik en ongemaklik. Ons het die nuwe voorgestelde kontoerpad se roete gebruik. Ons het baie gesukkel, maar die manne sien kans vir ‘n tweede tenk van 1500 liter in Februarie wanneer die US weer begin. Die keuse van die grootte van die tenk was korrek. Groter sou dit nie tussen die bome deur gemaak het nie. 1000 liter sou nie makliker wees nie, want dit is dieselfde deursnit as die 1500 liter. Die 500 liter sou baie makliker wees want hy is net 80cm in deursnit maar is te klein.

Baie dankie aan Isak Bosman, MD Greyling, Reinhardt Venter, Hugo Minnaar, Daniel Schoonwinkel, Jacobus Stander, Charl Ellis en Johannes Leuvennink.

Groete
André

Klik hier vir nog foto’s van die uitstappie.

BTK Berghut!

Die Berghut ‘n werklikheid!

Na jare se afwagting is die kontrakte vir die bou van die berghut in Junie 2011 onderteken. Na meer as drie jaar se onderhandelinge met trustees van die See Eike Trust en die “Wortelgat Outreach Trust” (WOT) is daar ooreengekom vir die bou van ‘n berghut wat vir beide partye se gebruik sal wees. Continue reading

Berghut-Inwyding September 1978

….verwesenlik van ons grootste BTK-droom.

1978 sal voortaan in die BTK-geskiedenis bekend wees as die goue jaar; die jaar waarin die vereniging van pure vreugde uit sy nate wou bars; die jaar van sjampanje en diamante; die jaar van groot “herlewing” wat weer menige oud-BT-Kaner tot ons geledere toegevoeg het. Dit was ‘n jaar met groot uitdagings, vele onvergeetlike ondervindings, nuwe en hernude vriendskappe; en helaas ook met groot hartseer… Continue reading

Berghutkamp Junie 1978

Vrydag, 16 Junie
Dis ‘n grys dag met Victoriastraat se laaste verdroogde blare net ‘n herinnering aan ‘n amper-eksotiese warm herfs van baie mense en baie kleure. Nou’s die Kampus leeg, dolleeg soos ‘n konsertsaal na ‘n vertoning; maar onder in Neelsie by die stoor hang ‘n paar rooi nekdoekies rond – dis Berghut vir ons! Continue reading

Berghut strafkamp in die berge September 1977

Vrydag:
Dit was dringend noodsaaklik dat almal om vyfuur daar moes wees, want ons sou mos met rugsakke stap vanaf La Motte-bosboustasie tot by die hutterrein. Om ‘n lang storie kort te maak, ons het ongeveer half-ses vertrek; net ‘n paar BT-Kaners in ‘n kombi geprop. Iemand het tereg opgemerk-gevra of dit nou ‘n toer is, of ‘n versameling hutuitstappies. Net die tyd sou die nodige antwoorde verskaf. Continue reading

Berghutkamp Julie 1977

Vrydag:
Na ‘n week waarin die Stormgod op behoorlike wyse oor die Kaap septer geswaai het, is niemand baie verbaas toe daar van die reeds karige toerlys ook nog ‘n hele paar “afwesig met vraagteken” gemerk moet word nie. Eindelik is almal en alles wat agterop die wa moet kom, darem bo, en kan ons ry. (Dit is seker nie nodig om te sê dat, ten spyte van ons oorspronklik-afgekondigde tyd van twee-uur of drie-uur, ons eindelik twintig voor vyf van Stellenbosch af weg is nie!). Continue reading