Twee Riviere Maart 2008

“Die water is so brak, dit blaf vir jou”
‘n Skets van gebeure deur Charlotte Hauman

Maandag:

Met die eggo van BTK-gisters wat steeds in jou kop weergalm laai jy jou sak by die Neelsie-parkeerterrein af. Die 80-jarige reünie en al die stories van ou vriende en goeie herinneringe het jou ‘n tipe verwagting gegee vir die toer, en jy probeer hard om dit vir eers te onderduk.

Julle begin net dink dat dit ‘n wonderwerk is dat die bus so betyds is, toe die ondenkbare gebeur. Janee, die bus het geen reverse nie! Retief Swart is gou om te sê dat hy nou sommer welkom voel maar al waaraan jy kan dink terwyl jy weer die swart-en-wit skyfies van die reünie sien, is dat daar ten minste een ding is wat nie verander het nie…

So in die gewag leer jy ‘n paar name aan. Dana Pretorius is ‘n eerstetoeris wat duidelik nie skrik vir die wraak nie, want hy is baie gou om jou te verseker dat hy nie die nuwe Tinus de Wet is nie, eerder dat Tinus die nuwe Dana is. Nouja, ‘n bietjie selfvertroue is seker nie sleg nie, maar jy dink hy weet nie, weet nie wat op hom wag nie, wag nie…

‘n Halfuur later is die bus met ‘n groot gesukkel omgedraai en jy kan nie help om te wonder of die busbestuurder (Gammie) elke keer die hele ratkas gaan moet uithaal nie. Julle maak reg vir die groot tog Vanwyksdorp toe, maar voordat julle kan sê Merriman staan die bus weer. Attie van der Linde doen hom egter voor as ‘n MacGyver-figuur en stuur ewe ‘n rol draad EN ‘n tang vorentoe. Jy wil nog bekommerd wees oor wat presies vasgebind moes word maar, julle is gou oppad (regtig die keer), en soos hulle sê: Wat die oog nie sien nie maak die hart nie seer nie.

Koshuisfetes is aan die orde van die dag soos die ouens mekaar aanvat. Jy weet nou nog nie of André Haasbroek twee of drie broodjies moet vat en hoekom daar elke nou en dan bekfluitjie geskree word nie, maar ‘n tekort aan geesdrif is daar nie!

Luize Feldmann en Retief is hard besig om ‘n nuwe liedjie te skryf maar hier na die die dertigste keer dat dieselfde reël probeer word, verveel selfs dit jou.

Julle laai omtrent helfte van die toer op langs die pad en kom uiteindelik by VanWyksdorp se kerksaal aan waar die laaste drie toerlede julle met ‘n braaivleisvuur inwag.

Bondelslee vind sommer binne die saaltjie plaas. Die dames onder julle is skoon verontwaardig toe Toervader oom André Leuvennink vertel skrikkeljaar beteken dat dit elke aand damesskiet is en slegs een aand mansskiet. Jy wil nou nie snaaks wees nie, maar vir ‘n 80-jarige organisasie klink so reëling bietjie vergesog, jy wonder of hulle dan hoegenaamd damesskiet gehad het in die pre-oorlog jare.

As voorbeeld van ‘n aitem wys Lodi en Karien vir julle dat soen baie lekkerder is as ‘n suurklontjie, maar dit is miskien nie so geslaagd nie. Of dit ‘n voortuitsig is op hoe min mense die grappies gaan vang weet jy nie, maar toe daar eers ‘n paar dae later vir party ‘n lig aangaan skud jy maar net jou kop .

Die kos word uitgedeel, waterbottels word gesoek en party se sakke word heeltemal herpak, en so gaan slaap almal in afwagting vir die 5 dae wat voorlê.

Nag Dames

Dinsdag

Die son se strale begin net die pragtige Kerkie verlig toe julle naderstaan vir die eerste bakkie muesli vir die toer. Vanoggend maak ‘n paar interessante kledingstukke hulle verskyning. Colleen Gericke bou op die reunie-tema en lyk pragtig in haar rokkie; sy sou later met gemak wys dat dit wel moontlik is om ‘n rugsak-stap stylvol te doen. Marinda Bruwer is nog in die KKNK-gees met haar bierdoppie-oorbelle en cowboyhoed. Marli du Plessis maak egter seker dat sy sommer gou verwarring tussen die twee Marli’s uitskakel wanneer sy Kulula gedoop word in haar skelgroen sokkies en hemp. Om Tone te spot in ‘n noodsituasie was nog nooit so maklik nie!

Wanneer julle later van die bus afklim en sakke op die rug sit, kyk jy bekommerd rond of jy die enigste een is wat wonder hoe jy verder as tien tree met jou rugsak gaan stap, hy sit besonder ongemaklik en swaar vanoggend. Maar so in die stap hoor jy van stokers wat praat van Benseen uitgooi, bottels blatjang wat vinnig gaan leër word en selfs provita’s wat geëet gaan word en dan voel jy nie meer so sleg oor die feit dat jy dit oorweeg het om helfte van jou margarien agter ‘n bos uit te gooi nie.

Die Groot-rivier het dalk eens op ‘n tyd sy naam verdien maar hy lyk maar vir jou taamlik gebrekkig. Wanneer julle die eerste keer deur die stilstaande water gaan sê Gerhard Rossouw: “As jy nou sê jy’s skoon wil ek nie weet hoe vuil jy was nie”.

So in die stap kry jy darem ‘n idee van die omgewing wat op julle wag vir die volgende paar dae, dit is groener as wat jy verwag het, alhoewel jy bekommerd is oor die groot hoeveelheid doringbome; jy’s vir ‘n oomblik heel verbouereerd voordat jy besef dat die VORIGE toer die Doringrivier-toer was.

Julle is gewaarsku oor die water wat so brak is dat dit vir jou blaf as jy nader kom, maar min kon jou voorberei op die smaak van die water, met ‘n chloorpilletjie by vir die wis en die onwis. By Gamebreak word daar gewonder of dit ‘n kruis tussen chloor en game is maar daar word uiteindelik besluit dat dit eerder ‘n kruis tussen CorenzaC en Berocca is. Jy’s nie ‘n groot aanhanger van bruistablette is nie, so jy gee so paar grille en maak dan maar jou oë toe (asof dit gaan help) om dit af te sluk.

André som ‘n baie belangrike aspek van die BTK se opset goed op: “Die Groepieleier het geen verantwoordelikhede nie, maar wel baie voordele.” Jy is net ‘n middagbroodjie maar die stelling klink vir jou belaglik naby aan die waarheid, miskien is die BTK TOG nie meer die BTK van ouds nie.

By middagete is dit tyd vir die eerste uitkyk en Dana verskaf bietjie vermaak aan die toeskouers as hy sommer wil inhaak by die kamstige scary kringetjie, hy’s duidelik nie geïntimideer nie…

Nick Joubert maak sy Voorsitter-strategie duidelik bekend as julle regmaak vir die eerste middagslapie. Jy begin net dink hierdie is ‘n verandering wat jy verwelkom, toe jy besef om dan weer jou sak op te sit net soveel moeiliker is.

Julle stap ewe op die Cape Epic pad en loop verby ‘n paar groot trokke. Dit is nog die eerste dag, maar jy merk duidelik in jou sketsboekie dat daar al klaar gehallusineer word oor ‘n yskoue Coke. Die sal egter moet wag vir die terrash, want om te dink julle gaan voor dan Coke kry is heeltemal belaglik, of hoe??

Julle eerste kampplek is nogal iets vir die oog. Met ‘n private strand wonder julle waar die sundowners is, maar vir eers sal die sop moet doen. Nick begin die eerste tekens van Voorsitter-hoogmoedigheid wys as Marinda Bruwer doodonskuldig vir hom vra of hy al groepieleier was en hy uit die hoogte antwoord met ‘n “Wat dink jy?” Hartseer om te sien hoe vinnig die helde val…

Iewers deur die dag het ‘n baie subtiele onderlingse groepie-trots begin. Groepie Vier is glo Groepie Awesome (of Foursome) terwyl groepie Drie heel op hulle eie sit om ‘n draai, hulle is letterlik nowhere. By groepie twee maak stoker Attie se stofie snaakse geluide en oom André kyk oopmond ongelowig na die gesukkel.

Die eerste aand se aitems is om die minste te sê taamlik flou. Jy hoor die linkervleuel kla dat dit net hulle en die Bachelors is wat aitems lewer. Jy weet nie so mooi nie; tussen die Bachelors se poging tot ‘n boyband-item vir “almal wat hulle mis” en Charlotte Hauman se patetiese spoegtegniek as die blommetjie wat lei tot ‘n sopnat Retief, word daar veel te wense oorgelaat.

Tydens hekels bring Kostya Zloschastyev julle terug aarde toe as hy sê dat hy nie aan die skietproses deelneem omdat dit ‘n primitiewe gebruik is. Hy sê ten minste hy hou daarvan om vir julle te kyk, dit is glo baie soos National Geographic…

Terwyl die sterre en die maan op die water reflekteer doen Anthonie Badenhorst godsdiens oor hoe jy God ervaar.

En so, met die prentjie van ‘n oermannetjie wat, voor hy met sy knuppel in die hand sy vroutjie aan die hare grot toe sleep vir haar vra of sy al geskiet is, raak jy weg…

Nag Dames

Woensdag

Die stemme van die stokers kom heeltemal te vroeg na jou sin by jou tentjie op die heuwel aan. Karlientjie Bezuidenhout verjaar vanoggend en julle sing sommer vir haar in die kring.

Die water is weereens ‘n onderwerp vir bespreking, want volgens André “dou dit hier sommer brak”. Fritz van Zyl voel weer dat as jy te veel water drink dit moontlik kan lei tot GG. Jy voel egter nie dat dit jou as sketsskrywer se verantwoordelikheid is om aan die oningeligtes te verduidelik wat presies dit beteken nie…

Dit is ‘n mooi oggend en die rivier raak net al mooier. Die eerstetoeriste is druk besig om hul liedjies te oefen onder leiding van oom André en Christelle Leuvennink. ‘n Enorme krans (weereens ‘n regverding vir die Grootrivier se naam) bied welkome verligting teen die snerpende son en dit gee aan julle die ideale geleentheid om eggo’s uit te toets. Veral die eerstetoeriste sing met nuwe woema, en die Hoi, Hoi van de Mactiche Koning weerklink ‘n paar keer.

By Gamebreak word daar geswem, alhoewel ‘n beter term seker waad sou wees want jy’s gelukkig as die water bo knie-diep is. Dit sit egter nie vir Dana, Attie, Marinda, en Reinhardt Pretorius af nie; hulle probeer ‘n paar duikbewegings uit. Jy weet nie of hulle dink dit lyk goed nie; hou in gedagte die water is net kniediep…

Julle beweeg weg van ‘n rivier en stap oor ‘n nek, jy begin jou bene VOEL werk en steek die uitasemheid weg met ‘n: “Sjoe, dis mooi!” en wonder wat Karien bedoel met: “Ons is nou almal op die pil.”

Met die afgaan word sake ontwrig deur ‘n baie groot spinnekop, om van bloedstollende gille nie eers te praat nie. Julle klim baie versigtig oor ‘n elektriese draad; net om later te hoor dat dit ‘n doodnormale draad is. Of altans, Anthonie het vir Lodi gesê dit is, en hom toe groot laat skrik toe hy skielik die draad laat los; ja só val die helde…

By middagete is dit André, Lodi en Koop Lubbinge wat met modder speel, jy weet nie mooi wie dit is wat skeef gemik het nie, maar skeef gemik is daar beslis. Anthonie loop rond met ‘n kakebeen en Kuno Venter dink hy’s ‘n ware Simson, ewe met die bos hare om die prentjie te voltooi. Dit is weer tyd vir die nou gebruiklike middagslapie, maar julle dink dat Nick dit eintlik inruim vir hom en Marli Zietsman om ekstra sleetyd in te werk. Jy dink “Skokkend” maar lê dan self ewe lekker terug om maar die situasie uit te buit.

Julle sit later met ‘n waterbreuk almal ingeryg onder ‘n boom wanneer Kostya ewe die voorstel maak dat ons BTK spel vir ‘n foto. Jy’s nie ‘n sielkundige, maar dit wil al vir jou lyk soos die innerlike geboorte van ‘n tipe trots, al bly skiet vir hom primitief! Fritz, ons fikse Ysterman, is belaglik gou op teen die berg terwyl julle julself probeer organiseer: makliker gesê as gedaan. Wanneer julle uiteindelik reg is maak Gerhard Rossouw die voorstel dat Fritz die selftimer moet stel en in die “K” kom staan. Kyk, hy’t jou beïndruk met die opgaan, maar hy’s ‘n Ysterman, nie Superman nie…

Net toe julle dink julle het die bestemming bereik sê Nick dat dit nog 30 minute se stap is. Jy dink iemand moet vir hom sê dat hy nie kan jok nie… of hom ten minste ‘n paar klasse gee oor hoe om sy gesig reguit te hou in sulke situasies: Jy is glad nie verbaas toe julle twee minute later julle sakke kan afhaal nie.

Skiet vanaand is soos ‘n aflewering van Days of our Lives. Of miskien regtig soos National Geographic: Andre is so chuffed oor hy vir Karien geskiet het voor Lodi dat hy haar los waar hy haar gevang het en dan ewe breëbors terugloop om te kom spog. Nie net lyk hy soos een of ander dierspesie wat sy vangs sien as ‘n manier om sy mag te vestig nie, hy’t nie ‘n saak met die wyfie (dis nou Karien) nie! Miskien was Kostya se uitlating tog nader aan die waarheid as wat julle wil glo…

Jy wil nog bekommerd wees as jy sien dat die vier kokke vergadering hou, maar Lodi se LongJohn’s trek julle aandag af; dit herinner aan ‘n nagmerrie uit die 80’s gym era; glo omdat hy vanaand Bachelor is.

Nie lank nie of daar is net nul dae, nul ure, nul minute ens. Tot die Wraak. En jy is Bang. Julle kan nie help om te wonder wat Kostya vanaand dink nie, van die Wraak-praktyke kan regtig verwar word met die van ‘n sekte…

Maar dis veral interessant om na die tyd die eerstetoeriste se verwagtinge te hoor. Christelle was glo BAIE senuweeagtig en Kuno het sy beste navigation-skills ingespan om homself te oriënteer in terme van die sterre. Ja, hulle weet nie, weet nie wat op hulle wag nie, wag nie…

Terug in julle groepies is daar ‘n gevoel van onderlinge samesyn terwyl die eerstetoeriste met ‘n nekdoek in die hand hulleself BTK-ners kan noem – daai gevoel om hulle te verwelkom bly darem spesiaal!

Wolfie Klinkenberg as ‘n Nazi en Dana as ‘n Capey wat sy vark wil verkoop beïndruk alhoewel die punchlines veel te wense oorlaat, maar, dit is immers BTK-aitems. Wolfie en Kuno se hondegeveg is ook hoogs vermaaklik, hulle leef hulself nogal in terwyl hulle in die sand rondrol. Wolfie maak later weer verskyning toe hy vir Gerhard du Toit wegjaag van hulle aitem af. Dit was onverwags, veral vir die arme eendjie!

Die res van die aitems is ook maar flou, met Fritz en Anthonie se verduideliking van Ai, Tim en Jeuk Al wat die woord flou verpersoonlik. Dit BTK-woordeboek word verder uitgebrei as Attie en Koop ‘n middagbroodjie groet, dit terwyl Dana the Banana die snaaksste byvoeging tot die groentetuin is.

Die hekels maak egter vanaand op vir die vinnige aitems – dit voel of dit net aan en aan hou. Tussen net Lodi, Karien en die Bachelor’s Klub bly julle nogal lank besig. Tien uit tien vir oom André wat die hekels uitstekend hanteer en nie nee vat vir ‘n antwoord nie.

Nag Dames

Donderdag

Die stokers is vanoggend besonder luidrugtig met ‘n sekere Meneer Muller natuurlik aan die voortou. Dit is duidelik nie vir Dana so irriterend as vir jou nie. Julle verstik in julle meusli soos hy verby huppel (letterlik) met ‘n “oh what a beautiful morning” Iemand is reg vir die dag!

Colleen oorhandig aan Karlientjie ‘n uitsonderlike krans waarvoor almal ietsie kleins moes gee en, ja jy’t reg gekyk: ‘n skilpaddop vir om die nek. Julle bid ook spesiaal vir haar en na die oorhandigingsseremonie lees Gerhard du Toit Jesus se Kruiswoorde en dit het besondere trefkrag.

Christelle vier die post-Wraak BTKner-wees as sy met rooi strikke met wit kolletjies op haar verskyning maak. Jy’t al gehoor van die spreekwoord om iemand se skoene te moet volstaan, maar dit kry vanoggend vir jou ‘n heel nuwe betekenis toe jy hoor dat Gerhard en Hendrik Retief die slotbroek met haakspelde moet vasmaak. Wonder of hulle werklik opgewasse vir die taak is…

So in die stap begin die idee van die Gouritz-rivier as ‘n kruis tussen die land van melk en heuning en ‘n regte oase die rondte doen. Fritz is byvoorbeeld oortuig daarvan dat die visse vir julle Coke gaan aandra, natuurlik heeltemal vergesog, om van die Coke nie eers te praat nie…

André is vanoggend hard aan die skimp vir ‘n sleemaatjie die aand, dit is immers Damesskiet en die Bachelor’s-slee verloor skielik sy aantrekkingskrag. Een groot probleem is egter sy gebrek aan sleepille. Sy gebreekte waterpompie (wat hy van die begin af al saamdra) sou glo Valpré kon verskaf, maar jy weet darem nie.

So in die loop oorweeg hy sy verskillende opsies: Biltong uit ‘n beeskarkas, of om miskien ‘n middagbroodjie in te pak vir die aand… Mmmmm, wonder hoekom hy toe nie geskiet is nie?

Nog slee-gesprekke doen die rondte. Suzanne Eckermans dink sleet kan nog ‘n toevoeging tot die BTK-woordeskat wees – dit is nou as jy by verskeie slees die rondte doen in een aand. Klink of sy uit ondervinding praat. Gerugte van Sanmari Muller wat “maklik” is word gehoor: Cor het glo nie vir haar sleesous aangebied nie, maar eers die tweede aand vir Izeldi van der Linde aangebied… Mmmmm, wonder hoekom hý toe nie geskiet is nie?

Julle doen goed om omtrent die hele Sound of Music se musiek te sing, dit terwyl julle op klippe stap wat ‘n prehistoriese gevoel aan die omgewing gee.

Gamebreak hou julle onder ‘n oorhang en teen die tyd is die groepie-kultuur en -kompetisie al goed gevestig. Die ander doen Groepie Awesome na: Groepie 3 is erens lang die pad herdoop na “Die Familie” kompleet met ‘n ouma, pa, ma en wie weet wat nog, terwyl Groepie 2 nou TwoPac is ( Dis nou met ‘n T: soos in Tappit Tappit Tappit…). Hulle gaan nogal wild met die naamgee-ding. Volgens Retief is die stoker Puff Daddy, waterdraer H20, Middagbroodjies iets soos Destiny’s Child en die Kok Grub. Ja, die BTK het ‘n ver gekom sedert 1928…

Jy’s nie seker of Groepie 1 nou Groepie Legend of Groupa Atyen is nie, jy weet nie of hul self seker is nie, laasgenoemde is seker vir internasionale studente.

Na Gamebreak kry julle bietjie teenspoed as Gerhard du Toit ‘n riet in sy oog kry, wat dit sleg seermaak. Hy lyk omtrent soos ‘n bandiet nadat hy die ergste verbind het.

Teen die tyd het die Gourits nou al kokosneute, dolfyne en palmbome en wie weet wat nog. Erens kom daar egter ‘n misverstand en julle stap verby Nick, en die middageteplek; wat natuurlik beteken julle moet omdraai. Wanneer julle ‘n groot slang oor die pad sien seil dink jy dis miskien tog beter dat julle op ‘n ander plek gaan eet.

Die water in die rivier is glo al beter, maar jy is bereid om te wag vir die Melk en Heuning van die Gourits… of altans: Die nie-brak water. Julle plas weer rond in die water en die middagbroodjies probeer hul bes om die ergste sand uit die Provita’s te hou.

Na middagete stap julle deur ‘n moeilike stuk met baie bosse waar jy nie agter kan raak nie en volgens Nick ook nie op ‘n ander pad mag stap nie – jy moet sê, dit klink nogal drasties, iets soos “Leave no-one behind” maar ‘n entjie in die doringtakke en moontlike paadjies in en jy voel omtrent asof jy in ‘n doolhof is.

Dit is Damesskiet. En Fritz hardloop weg vir Sanmarie – Maar wie nou eintlik vir wie geskiet het is steeds onduidelik. André se werk deur die dag het toe geen vrugte afgewerp nie. Tot die nuut gestigte Bachelor’s Club (of is dit nou Bach-boys?) se verdediging, Luize se timing was nadelig. Maar nou ja, met die Gourits-rivier se water binne stap-afstand, wie dink aan damesskiet?

Jy moet sê, die palmbome en kokosneute ontbreek miskien maar julle kampplek vanaand by die mond van die Grootrivier in die Gouritsrivier is iets vir die oog.

Terwyl julle regmaak om sop te maak, sak die son weg en ‘n bakkie verskyn op die horison. Ja, ‘n bakkie. Nick-hulle staan nader, maar jy sit maar gedwee en wag vir jou Cup-a-Soup… Minwetend. Oom Tielman Roos Snr. en Jnr. het self geBTK en kom verras julle vanaand met braaivleis!!! En Coke!!! En Bier!!! ‘n Gevoel van euforie daal op die groep neer as julle dit hoor, of soos Izeldi dit stel “Kyk almal se gesigte! Dit lyk soos op Survivor as hulle ‘n reward-challenge wen!” . Vir jou is Hendrik se reaksie die beste. Hy kyk seker 10 keer af na die kas Coke en dan op na die setting, dan weer af en op. En elke nou en dan sê hy: “Kyk waar is ons! En kyk…” Ja, jy dink almal se kop het maar bietjie uitgehaak toe julle die feesmaal sien. Julle is almal oortuig daarvan dat hierdie ‘n baie beter oase is as kokosneute en selfs ‘n Gouritsrivier vol Coke.

Terug by julle groepies is die sop eintlik maar vergete. ‘n Grootskaalse braaipoging word geloods, van julle luister na die Oom Tielmans se stories. Ander sit net en drink die ongelooflikheid van die hele situasie in… letterlik en figuurlik. Marinda noem dat dit ‘n lekker atmosfeer is, waarop Reinhardt gou antwoord : “Snaaks wat drank kan doen né”

[ Jy moet darem net aan die oningeligtes verduidelik dat daar ‘n beperking was op die hoeveelheid bier. Al het ‘n paar blikkies selfs Saterdag eers hul verskyning gemaak! ]

Maar lekker is dit beslis, julle speel kitaar, van die groepies skakel sommer en daar is BAIE vleis.

Luize vra vir Gerhard du Toit: “Kyk gou hier,” waarop hy met sy een oog opkyk en vir haar vra, “is jy sarkasties?” Ja, Gerhard se oog is ongelukkig baie seer en jul weet nie hoe ernstig dit is nie, so hy gaan die aand saam met die Rose uitry.

In die slee is enige wense van Bonaqua water vir sleesous iets van die verlede. Oom Tielman vertel die storie van De Machtige Koning se oorsprong, en hy vertel ook hoe mens iemand wat twee keer met dieselfde persoon slee moet uitsleep.

Die Bachelors-Club (of is dit die Bach-boys?) slee vanaand (weer) saam met Nadia, en sy kry (vanselfsprekend) baie aandag. Hulle doen dan ook die hondjie maar die keer soek hulle na hulle sleedate. Maar iets klop nie… vir mense wat so trots is om hulself die Bachelors te noem is hulle darem ernstig opsoek na sleemaatjies!

Attie, Koop en Dana sing ‘n interessante liedjie vir BTK-meisies. Jy weet nie of dit in enige ander omstandighede gaan werk om vir ‘n meisie te sing sy’s vuil en haar beenhare is lank nie, maar dit is heel oulik in die omstandighede.

Die Bachelors besluit om die die ou tradisie terug te bring en sleep vir Lodi uit omdat hy vir ‘n tweede keer met Karien slee. Maar hulle bring egter nie vir haar in berekening nie en sy val hulle verwoed aan.

Julle lag lekker vir Antonie as die verfynde ou wat ‘n bier of ‘n melkie soek. Luize, Izeldi, Marli Zietsman en Charlotte doen ‘n afgewaterde weergawe van Mama Jill, jy weet nie of hulle woorde vergeet het of wat nie, maar iets was nie reg nie. Koop is vas oortuig daarvan dat Izelditjie sy hart sal oopsluit, maar jy weet nie wat doen hy en Attie as hulle vir die maan huil nie. Dit was nie ‘n aitem nie, maar Retief ontlok die meeste lag toe hy eers verstik aan iets; en dan almal se aandag op hom verskoon deur te sê: “Jammer, ‘n furball…”

Lodi is baie goed daarmee om ‘n storie op te maak as hy gehekel word. Op die ou end is dit so uitgerek dat jy nie regtig kan onthou wat die hekel was nie. Dit was seker die idee.

Met oorvol mae en, wat voel soos die eerste geleste dors in 3 dae, is dit

Nag Dames

Vrydag

Dit het aand geword en dit het more geword. Vanoggend sing julle lank onder leiding van Lodi, sommer so uit die boekies uit. En terwyl julle die Onse Vader sing dink jy hoe spesiaal dit is om met 40 vriende so op die oewer van ‘n pragtige rivier te kan sit en saam bid, sommer in julle eie melk-en-heuning-land vir die aand.

Julle stap vandag rustig, wonder of dit iets te make het met die groot hoeveelheid rooivleis wat julle gisteraand verorber het; jy dink jou liggaam ly nog aan skok oor die skielike toename in proteïne en wat nog als. Die groepie Bachelors van die vorige aand is nou glo Bach for life… Hai siestog.

Sleesweeties word gou van kant gemaak tydens ‘n laaang gamebreak, waar Die Familie luidrugtig stry oor iets; gelukkig is bloed dikker as water, of hoe? By ‘n rivier-kruising stel die ouens weer ‘n goed ge-oliede produksielyn op, kompleet met Shozoloza vir bietjie gees. Luize is selfs bereid om dit op die proef te stel; jy weet darem nie, jy maak eerder jou broek nat as om daai risiko te vat. Maar sy is veilig aan die ander kant. Hier vermaak julle julleself met die groot hoeveelheid plat klippe wat rondlê; jy moet sê: Die groep lewer nogal ‘n paar talentvolle klipgooiers op, maar party vat dit bietjie ver soos die klippe groter en groter word.

‘n Onwetende Ettienne de Jongh verjaar, jy’t lanklaas iemand so sien bloos. Die eerste groot stroomversnelling van die toer is so merkwaardig dat almal se kameras gou reg is om hierdie vreemde verskynsel op film af te lê. Jy weet dit is die eerste aanduiding dat die rivier hoegenaamd loop, maar dit is beslis nie vir jou so fassinerend soos die res nie; jy stap maar aan. Middagete is by ‘n diep genoeg poel dat daar van ‘n relatief hoë rots afgespring word en backflips is aan die orde van die dag. Veral Marinda skop stof in die oë van die manne as sy haar gimnastiek-vermoëns ten toonstel. Groepie Twopak hou ‘n spoegpit-kompetisie; ching chong cha is duidelik nie meer voldoende vir die laaste stukkie sjokolade nie. Julle ruim weer tyd in vir ‘n lang middagslapie, uitgestrek op die sand. Ja, this is the life, dink jy.

Teen die tyd het Attie die kuns van “Stap nou, op met die sakke” in ‘n Voorsitter-rige stem vervolmaak. Julle sukkel om geirriteerd te raak, hy kry dit so goed reg dat julle eerder daaraan dink as sy manier om stemme te werf vir sy toekomstige ideale in die BTK-hiërargie.

Nick is aan die ander kant bekommerd oor wat mense van hom moet dink, want volgens hom sukkel hy om ‘n vraag ordentlik te antwoord, hy skree dit eerder. Mens noem dit goeie maniere Nick…

Julle stap die middag nogal oor klippe tot by die kampplek vir die aand, waar Nadia tydens skiet behoorlik oorval word deur die bachelors. Na die tyd doen hulle ‘n tipe oorlogskreet: “Bach for life”. Primitief, om die minste te sê.

Die doodse stilte van die vorige aande voel soos ‘n vae herinnering want vanaand WAAI die wind so dat dit omtrent ‘n gesukkel is om die tente staan te maak. Dit sit egter nie vir Fritz en Kuno af nie, wat ‘n ordentlike swemsessie inwerk tot daar waar jy hul nie eers kan sien nie. Die soeke na windskuiling beteken dat die groepies heel afgesonder van mekaar sit. Terwyl Anthonie hom verbeel hy is Mufasa op Pride Rock word die kokke gelukkig nie deur die wind ondergekry nie, jy eet besonder lekker. Groepie Awesome noem dit ‘n 5-gang maaltyd, maar jy dink dit is maar net ‘n verskoning omdat hulle dit ‘n LAAANG uitgerekte ete maak. Toe hulle uiteindelik klaar geëet is, kondig Nick aan dat daar ongelukkig geen slee gaan wees vanaand nie, dit is darem net te onplesierig. Dit sit julle egter nie te veel af nie, julle sing vir lank saam.

Oor die res van die aand se verrigtinge wil jy jouself nie te veel uitlaat nie; behalwe om miskien te noem dat Cor die volgende dag geskors is uit die Bachelor’s Klub en dat skokkende gerugte van ‘n sogenaamde sleetent die rondte sou doen. Wanneer presies die dames gaan slaap het, en hoekom daar die volgende oggend ook damesstemme uit ‘n ander tent weerklink bly onduidelik. Een ding is seker, sommige BTK’ners het ‘n onwrikbare geloof in slee, en ‘n stormsterkwind skrik hulle duidelik nie af nie.

Saterdag

Die koue sny vanoggend deur julle klere as julle kringetjie hou. Maar nie lank nie of julle is aan die stap en die koue windjie is welkom. By die eerste waterbreuk is julle bly dat die laaste aand se slee nie plaasgevind het nie, so sleepil smaak darem lekker 10uur die oggend. Daar word besluit om ‘n groepfoto te neem, met Lodi wat nogal rats deur die water hardloop as hy sy kamera stel. Kostya stel ewe sy driepoot op; dit is nou styl dink jy.

Julle het die eerste en enigste werklike rivierkruising en jy dink sommiges is bly dat dit net een keer moes gebeur. Karien se survivalbag is so vol water dat jy wonder of sy dit hoegenaamd toegeknoop het. En André vertel dat sy sak waterdig is; dit is nou behalwe vir die gate. Hy moes jou dalk gewaarsku het voor jy jou skoene by hom ingelaai het. Anthonie, Dana, Retief en Koop spring by ‘n BAIE hoë rots af. Die peanut-gallery op die anderkantste oewer het natuurlik baie om te sê, en almal probeer hulle beste om te skat hoe hoog dit is. Nou ja, of dit net oor 14m of net onder 30m is laat jy maar oor aan die springers om te besluit as hulleself later die storie vertel.

Julle klim baie op en af en neem weer ‘n groepfoto of 2. Die uitsig oor die Gourits is iets besonders as julle in die kloof terugkyk. Raad oor hoe om jouself te manouvre is volop, maar jy wonder die meeste oor Yolandi Verwey se antwoord: “Doen dit anders as ek!” Wanneer julle die hoogste punt bereik sien julle uiteindelik die lang-verwagte palmbome in die verte. Jy dink die palmbome sal maar vaal lyk as dit langs die koelkaste van Vrydagaand moet staan, maar dat die einde in sig is, is duidelik. Berg af is dit omtrent ‘n geskree-ery tussen Nick en Slot Lodi om vir Gammie (wat vir ‘n naam is dit?) te probeer bel en om die terrash-burgers te reel.

Julle skud julle kop in ongeloof toe julle die bus verby die brug sien ry. Fritz hardloop vooruit om hom te wys waar ons is. Superman is hy miskien tog, want jy sukkel om die prentjie van Clark Kent wat die skoolbus inhardloop uit jou kop te kry… Dit is ‘n rowwe paadjie af wat elke nou en dan eers skoongemaak moet word, maar julle kom darem sonder voorval onder waar julle onder ‘n groot boom sit en die laaste kos uit die rugsakke kry en game aanmaak. Gekom by die pad is dit tyd vir die Gentlemen’s Challenge. Die kamera’s en toeskouers is volop en beseerde Gerhard Rossouw speel ewe spanningsmusiek op die kitaar. Marinda is die afsitter en moet vinnig uit die pad kom; jy moet sê die geluid van die voete op die pad is vreesaanjaend. ‘n National Geographic prentjie van ‘n stampede buffels doem voor jou op, maar dit daargelaat. Hans is die wenner, julle kan ewe op die replay van ‘n kamera seker maak, maar jy wonder of Hans of Charlotte (wie se sak dit glo is) blyer is…

Julle kom vuil by die Saddles in Riversdal aan en dink die mense weet nie, weet nie, wat op hulle wag nie, wag nie. Jy word ook nie teleurgestel nie, die Saddles het ewe ‘n DJ en van julle sokkie sommer so tussen die tafels deur. Die werkers gaap julle aan met oopmonde, julle verskaf weereens heelwat vermaak. ‘n Koning en wel, interessante burger later moet julle van die eerste mense groet.

Op die bus hou die Bachelors Club aan om vir Cor te treiter, die kyk later maar net spraakloos by die venster uit. Jy vra vir Retief (glo Voorsitter) wat die verskil tussen die Bachelors Club en die Bach Boys is waarop hy verduidelik dat die Bachelors Club mag slee maar nie meisies het nie, en die Bach Boys het meisies maar mag nie slee nie. Jou logika sê vir jou iets in daai vergelyking is nie reg nie; as jy aan altwee behoort (soos baie van hulle doen) beteken dit jy slee nie en jy’t ook nie ‘n meisie nie… maar nou ja, watookal hulle gelukkig maak.

Uiteindelik by die Neelsie gekom is die groep redelik uitgedun en dit is ‘n sagte: Nog ‘n toer is verstreke waarmee julle groet. Maar terwyl jy so na elkeen om jou se gesigte kyk en terugdink aan die windstil nagte, nuwe vriende, ‘n Coke langs die Gourits, mooi oggende en lag-oomblikke saam met ou vriende besef jy dat die BTK na 80 jaar nog leef, en nog vir jou iets is om oor opgewonde te raak. En jy bêre die herinnering van die 6 dae diep in jou hart, om eendag ook te kan afstof en te kan waardeer. Ja, lewe lank, lewe lank BTK!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui