Doringrivier September 2007

Vrydag 7 September

Ou toeriste wat bekommerd was dat dinge dalk op hierdie toer anders sou werk, word gou gerusgestel. In die BTK verander dinge nie sommer net so nie. Die bus is laat. Sommer baie. Laat genoeg dat julle eers koffie in die Neelsie kan gaan drink. Toe die Adams-bus uiteindelik opdaag, word daar vinnig gelaai en julle is gou oppad na Clanwilliam vir die Doringriviertoer van 2007.

Omdat jy ’n regverdige sketsskrywer is wat nooit die voorsitter in ’n onsimpatieke lig sal uitbeeld nie, gee jy vir Retief Swart kans om ’n amptelike rede op rekord te gee vir die busvertraging. Sy antwoord is iets soos die volgende: “Meneer Adams sê dis die bestuurders se skuld; die bestuurders sê dis die garage se skuld; en die garage weet van niks”. Op die bus maak jy jou gemaklik en reg vir die name-leerproses. As daar dálk nog 1etoeriste was wat nie van Tinus de Wet notisie geneem het as gevolg van sy snor, sy baie gepaste snorboelie-hemp en sy nuwe benaming Miguel nie, maak hy seker hy word raakgesien (of eerder: gehoor) met die baie interessante gesprek wat hy basies met homself voer oor sy bors- en rughare. Jy gaan nie uitbrei nie… net noem dat die woord ‘pelsjas’ gebruik is, deur die snorboelie self. Verder wonder baie van julle of Willie vn Schalkwyk en Andre Haasbroek broers is, en Petrie van der Merwe heet almal welkom op “sy” toer… voorbarig, dan nie?

Die minder-aktiewes onder julle luister met groot oë toe Colyn De Villiers sê: ’n Mens is gemaak om te oefen nie om net heel dag rond te lê nie. Jy sak sommer byvoorbaat so bietjie laer in jou bussitplek. Jy hou nogal van rondlê… maar dit kan altyd erger; gelukkig drink jy nog nie wyn uit die bottel soos sommige van die agtersitplekryers nie. Jy eet eerder hotdogs – uitgedeel in ’n uitgerekte proses van heen en weer in die bus deur Heleen Marais-hulle.

By Clanwilliam gekom gebruik Retief sommer van die kans om die hondjie-item te doen toe hy die kampplek aanwys – dit is immers sy laaste toer as voorsitter, en netnou vergeet die res van julle later om hom te vra om dit te doen. Niks soos eie inisiatief nie. Colyn is op soek na sy sak en gebruik ‘n … onkonvensionele metode: ek vind hom maar deur so aan almal se boudjies te voel.” ’n Paar van julle maak gebruik van die swembad. Dis te donker om te sien wie die slagoffers is, maar jy kry hulle jammer, want die klank van hul bellyflops eggo skoon deur die nag. Lodi maak seker dat niemand hom ooit sal vra om as tolk op te tree nie, met sinne soos “I are gonna explain to you” kan dit dalk net gevaarlik raak. Ileana Smit en Willie is die gekose skiet-demonstreerders, maar Gerrie le Roux ry Willie se planne in die wiele en skiet haar na ’n wilde jaagtog. Retief verduidelik van die players en sê dat jy nie elke aand hóéf te skiet nie…. Maar net as jy ’n meisie het en weet julle gaan trou.

Gou is almal in hul tente en die eerste nagrus van die toer.

Nag dames

Saterdag 8 September

Die stokers het kamstig vanoggend geoefen. Klink nie vir jou so nie. Dit maak eers later sin toe jy hoor die oefen het nie veel gehelp nie aangesien Lodi toe met die verkeerde liedjie wegval. Voorbarig om die minste te sê.

Jy dink eers al die slaap is nog nie uit jou oë nie, en was gou weer jou gesig. Maar toe jy terugkom het Retief nogsteeds daai broekie aan. Jy kan in sy oë sien hy’s vasbeslote om, soos hy dit stel, die mode weer terug te bring, en jy laat dit maar daar. Maar in jou binneste wens jy jy het die fashion police se nommer uit jou kop uit geken. Intussen het van julle ander, ernstiger probleme: Lodi verwoord baie van julle se gevoelens toe hy se “ek kyk net vir my sak , en toe’s my rug klaar seer”.

Julle klim op die bus en maak reg vir nog ’n stof-ervaring op pad na jul beginpunt toe. Langs die pad maak julle asof julle kultureel ingestel is en gaan loer na C Louis Leipoldt. Suzaan Hauman gee so half haar kursus en graad van nerd-wees weg toe sy die enigste een is wat op Oom Andricus van der Westhuizen se aankondiging van die gedenkwaardigheid reageer, en dit nogal met: cool!! Die volksdigter draai in sy graf om. Terug op die bus is Lodi en Tinus in ’n snor-debat gewikkel, en Ileana moet besluit wie s’n die lekkerste is.

Gou is jul by die beginpunt en die stap langs die Doringrivier begin. Mooi blommetjies, merk jy dadelik op. en so tussen die sand en blommetjies stop jul vir die eerste uitkyk, die ordentlikheidspraatjie en die eerste koning. Middagete breek aan sonder veel verdere gebeurtenisse en die eerste swemsessie breek aan. ’n Resies word gehou en die res van julle kyk al broodsmerende toe hoe Hendrik Retief dit wen. Marinda Bruwer-hulle se groepie sit nie langs die rivier nie, so jy weet nie waarna sy gekyk het nie… maar iets moes haar aandag afgetrek het: jy dink darem jy sou agtergekom het as die hele pot marmite oor jou been uitloop.

Na middagete het julle nie ver om te stap nie, nog blommetjies bring nog foto’s en jy verstom jou aan die kleure. Ongelukkig maak die blommetjies hier en daar ongelyke grond toe, soos Suzaan moes agterkom: sy trap skeef in ’n gat en maak met die opstaan haar knie seer. Sy en Garth is seker julle het ‘n doring sien ingaan, maar jy weet darem nie so mooi nie. Tone Heleen en Gys Muller probeer nietemin om dit uit te haal, maar sonder sukses. Intussen het die res van julle teruggestap kampplek toe (want ja, julle was al verbý die kampplek toe die insident gebeur het) en toe sy later met ’n verband om die knie daar aangedra word staan die meeste tente al. Gys maak Anreza van der Merwe se bril vir haar reg en laat Andries van Reenen opmerk: Jys soos McGyver jy ruk net ’n mes uit en dan kan jy enige iets doen.

Besluite moet gou geneem word en na daar besluit is dat Suzaan definitief nie verder sal kan stap nie prakseer Garth Shaw-hulle met behulp van Oyvind Sandve se tou en ’n paar stokke ’n draagbaar. Daar is gelukkig ’n plaas naby en die Le Rouxs sal solank laat weet word om haar te kom haal. Die tog oor die rivier word nie sonder beplanning aangepak nie, Garth reguleer sy troepe met ’n ysterhand en spel duidelik uit wat van hulle verwag word. Jy is nou nie ’n search en rescue kenner nie, maar jy dink nie daar word van hulle verwag om haar in die water te gooi, soos met Vicci Schooman tydens die oefenlopie nie. Maar nouja, iewers hou beplanning op en begin geloof seker en daar gaan julle met haar. Anderkant die rivier, met hul cargo wonder bo wonder redelik droog begin die tog na die plaas toe. Dis ’n entjie en jy wonder of die ouens spyt is hulle het gevolunteer. Seker nie, alles mos avontuur. Dalk so bietjie toe hulle hoor hoe Retief skiet oopmaak, maar nie te ernstig nie. Tone Heleen stap saam en word oorval duer versoeke en selfs Suzaan word deur Tinus gevra of sy darem met hom sou slee as sy daar was. Uiteindelik kom julle by die plaashuis uit en Suzaan deel van haar snacks aan die honger ouens uit, dit is immers al aandetetyd. Die Le Rouxs kom met hul bakkie, Suzaan word ingelaai en met laaste afskeide en vermanings aan die nuwe sketsskrywer Charlotte Hauman en pogings van Tinus om haar te laat huil is sy op pad. Nou is julle haastig kamp toe, jy wonder of dit die idee van kos en droeë klere of die hoop om ’n orraait sleedate te kry uit die wat oorgbly het wat julle so vinnig laat stap.

Suzaan Hauman

Dit was nou nie regtig jou plan om onder sulke omstandighede jou debuut as sketsskrywer te maak nie, maar dit nou daar gelaat. Die kommunikasie oor die radio wat betref die sogenaamde reddingspoging is nogal interessant. Veral stories van Tinus (aka Sersant snor) wat verdrink het omdat sy snor hom afgetrek het, en Gerhard du Toit wat opmerk dat hy darem okay is want die lugbubble onder sy snor het om weer boontoe gestoot…

Soos die ouens terugkom is hulle taamlik bevrore maar verlig om te hoor dat skiet nog nie oopgemaak is nie. Dis maar sleg om iemand uit die groep te verloor en Tinus dra “Ain’t no sunshine when she’s gone” op aan Suzaan.

Vanaand se items is heel vermaaklik. Die ou blommetjie en bytjie treffer word die keer deur Johannes Swart en Tinus gedoen. Die by se geluide is egter bietjie onkonvensioneel en julle kan nie help om te wonder of die by op steroids is en of dit dalk eerder ‘n brommer is nie. Lodi as die Afrikaanse boer met “one big dam full en one small dam full” is ook nogal snaaks. En jy wonder of Retief nooit geleer het dat een skaap en baie skape albei sheep is en nie sheeps nie…

Jy’s nou nog nie heeltemal seker hoe “afhanklik” Sanmarie Muller van haar good looks is nie en hoekom Tilana Jansen van Rensburg eerder op ‘n hoek sal staan om geld te verdien as om iemand te massage nie, maar nou ja.

Met dankbaarheid in die hart dat almal op die ou end van die dag darem veilig is, sing julle Magaliesberg se aandlied.

Nag Dames

Sondag 9 September

Stoker Lodi is vanoggend heel luidrugtig en met ‘n “staan op, die son trek al amper water; hy gooi nog neer op die oomblik… maar amper” klim jy maar vir eers uit die tent.

Vanaand is wraakaand en Andre Haasbroek is die bekommerde eerste-toeris-convenor wat glo die heelnag rondgerol het, en vanoggend al die eerste toeriste kry om saam te stap sodat hulle solank kan oefen. Dit is ‘n baie mooi oggend; daar is darem net iets aan die baie water en voëltjies wat sing wat maak dat mens heeltemal kan afskakel en die rustigheid saam met mede BTK-ners geniet.

By die oggend se eerste uitkyk word Antoinette van Breda uitgejaag na sy sukkel om die ernstigheid van die situasie te besef. Die pad word bietjie meer avontuurlustig, en julle klim en klouter oor ‘n paar rotse. Tinus uiter ‘n paar vreemde gilletjies nadat hy ‘n Kaapse Kobra sien maar dàài snor en die hospus-broekie wat vanoggend die eerste rondtes doen, het die slang glo afgeskrik.

‘n Rukkie later is dit die eerste veelbesproke rivier-oorgang, en met groot organisasie begin julle so een vir een oorgaan. Jy moet erken dat jy bietjie skepties was oor die splash-cover wat alles gaan droog hou, maar jy is aangenaam verras. Ander is egter minder suksesvol en aan die ander kant van die rivier word slaapsakke ens. oopgegooi om van die ergste nattigheid ontslae te raak. Retief het met groot erns gewaarsku teen ‘n groot waterval aan met die stroom, maar jy sou later die dag wonder waar presies hierdie waterval dan nou is… Die nattigheid sorg ook vir ‘n paar interessant uitlatings, soos bv. Tilana wat sê dat die nat broek haar laat dink aan haar kinderdae

Na Game-break volg die pad die groen roete – Die nattigheid, GROEN grassies en blomme laat Susan Viljoen dink aan ‘n plek vir feetjies en jy moet nogal saamstem. Agter jou is die eerste toeriste steeds besig om te sing; hulle is werklik entoesiasties, maar dit is omtrent waar die komplimente vir hulle pogings ophou.

Middagete is op die klippe, en tone Heleen Marais doen sommer huisbesoek. Later sny sy Garth Shaw se hare, in, ja – jy’t reg gekyk, ‘n mullet. Iemand merk heel gepas op – nou lyk jy eers soos ‘n Engelsman. Terwyl jy so na Garth sit en kyk met Tinus in die baie klein broekie in die agtergrond kan jy nie help om te dink dat die BTK se modesmaak defnitief veel te wense laat… Sanette Vermeulen sou later opmerk dat sy dankbaar is sy slee nie met Garth nie, want sy “sou sommer ‘n mes gebruik”.

Marinda besoek perongeluk manskamp maar darem sonder enige voorvalle en so is julle weer oppad. Dit is alweer bietjie klim en klouter. Gerhard Rossouw en Hendrik Retief stoot ‘n BAIE groot klip in die water en van julle is effens bekommerd nadat gerugte die rondte doen dat dit Luize Feldmann is wat ingeval het…

By die kampplek aangekom is die eerste toeriste hard aan die oefen. Die wind waai maar almal lê lekker rond. Willie lyk asof hy besonder koud kry – moet wees agv daai 3% liggaamsvet waarmee hy vroeer loop en spog het. Retief sorg weer vir ‘n twyfelagtige quote toe hy sê dat hy sal spoon, solank hy die patty is…

Gerrie se reputasie as stoker loop hom vooruit. Hy het glo al drie keer die pot laat oorkook en meer as een keer helfte koffie helfte tee gemaak…

Die eerste toeriste sorg vir ‘n paar (dankie tog) nuwe items. Veral Andre en Attie van der Linde beïndruk toe hulle verwoed by die berg agter die sleekring ophardloop met flitsies en Bobbejaan klim die berg uit volle bors sing. Wat hulle ook nie sal doen om die ou-toeriste tevrede te stel nie… Nog ‘n paar goeies is Marietjie Hanekom se oortuigende “Wurg hom Dirkie, wurg hom” en Andre wat die vyand al van kleins af ken. Oyvind is ook baie indrukwekkend met sy Norwegian Folksong; jy’s stilweg bly dat jy nie in die tyd van die Vikings geleef het nie. Die singery is egter minder goed. Met “nog ‘n toer is verstreke” merk Gerrie op dat dit die einde van ‘n toer is… nie ‘n begrafnis nie! ‘n Paar gille (lees: Anreza van der Merwe) later, ervaar julle saam met twaalf nuwe BTK-ners die soetheid van die wraak. Die BTK-serenadegroep : Retief, Tinus en Willie sing ‘n paar ser treffers. Garth, Gerrie en Petrus Janse van Rensburg doen die k-k-k-aptein met ‘n c-c-cool en c-c-crazy, rollende k-k-kanonne en ‘n k-k-kan jy nie ophou hakkel nie – altyd ‘n treffer. Daar is ‘n iewat flou poging om die hasie van die vorige toer met krokodil te vervang, maar dit is nie baie geslaagd nie.

Met die wete dat nuwe vriende nou deel in die ervaring van BTK- wees sluimer jy in.

Nag dames

Maandag 10 September

Lodi aka Generaal Chops beklemtoon weereens die BTK se modebewustheid (of gebrek daaraan) toe hy vanoggend wil hoor of hy “kakie of kakie” moet dra. Die roete is steeds baie mooi – groen gras, watervalletjie wat raas en stap so tussen die klippe deur. Vanoggend kan die eerste-toeriste natuurlik spog met hulle nuwe nekdoekies, en hulle doen dit ook. Op ‘n stadium loop julle verby ‘n baie mooi strandjie met ‘n groot klip, julle verbeel julle amper julle is op ‘n tropiese eiland … (ja, en dit langs die DORING-rivier). By Gamebreak sing Groepie 5 lekker en Gerrie maak ‘n engeltjie in die sand. Dit is warm, baie warm… Later is van die ouens lus om af te show by waterbreuk en doen ‘n paar pull-ups by die rotshang. Jy wag in spanning vir die eerste een om te val, maar hulle kry dit verbasend goed reg.

Die BTK-sangbundeltjie word so in die stap aangepak, met veral Willie, Tinus en Johannes wat heel entoesiasties is. So kom julle by ‘n sytak van die rivier waar julle ook moet oorgaan. Gelukkig is dit darem doenbaar sonder om uit te trek en te swem, of so sê hulle. Toe Retief byvoorbeeld net wil sê dat dit nie nodig is om ons skoene uit te trek nie, val hy baie hard in die water. Jy wonder of dit is omdat; om ‘n goeie toerleier te wees beteken seker jy moet self foute maak sodat die wat volg beter af is as jy, of miskien is dit net Retief wat ‘n blonde oomblik gehad het.

Gelukkig is die ouens heel hulpvaardig en jy kom sommer maklik ander kant uit. Birgitte August is baie skerp en met ‘n “good catch” nadat Nick Joubert haar vang met die valslag sê sy “I know I am”. Anderkant van die riviertjie is dit middagete en die rivier sorg vir ‘n goeie swem-sessie, dis nou vir die van julle wat nie getrou die provitas sit en smeer nie. Tinus en Retief doen ‘n GROOT ching chong cha om te besluit hoe lank voor julle stap. Die stof warrel en met iemand wat agter jou die wysie van the good, the bad and the ugly fluit voel dit regtig vir jou asof hierdie ‘n slegte rerun van een of ander western is…

Nie lank nie of julle is weer oppad. En dit is warm. En lank. Jy’t gewoond geraak daaraan om die afgelope twee dae sommer vinnig na middagete te stop, en dus voel vanmiddag nogal lank. En jy kry warm. Jy dink Ileana, Heleen en Vicci is baie slim om eerder die tog rivierlangs aan te pak met ‘n survivalbag of twee, maar toe Garth later die sakke moet vang na ‘n stroomversnelling en hulle nog later hulle nat klere uitdroog besef jy dit was miskien tog beter dat jy padlangs gehou het.

Vir ‘n oomblik is jy bietjie verward oor waar jy jou bevind, want Oyvind, Sandra Wallenhorst en Marli Zietsman is verwoed besig met ‘n Duitse gesprek hier agter jou. Nie lank nie, of julle moet bietjie rotsklim en selfs bergklim omdat dit die enigste pad is. Julle wonder wat beteken recce nou eintlik, en Retief is gou om te verduidelik dat julle tot bo die rivier klim vir die uitsig, en hierdie keer moet jy erken hy het ‘n punt beet. So van die hoogte af lyk die rivier en die groenigheid ekstra mooi, en dit is ‘n goeie geleentheid vir foto’s, foto’s en foto’s. Marinda wend ‘n poging aan om die hondjie te doen, en dink dat julle eerder eers ‘n bietjie hier bo moet slaap en dan afdaal rivier toe. Van julle oorweeg ching-chong-cha om haar af te gooi…

En dan is dit weer af. Nick is so besig om klippe uit die pad te skuif dat hy amper die hele berg verskuif. Onder gekom is dit weer tyd om terug oor die rivier te gaan. Hierdie keer is julle baie meer geoefen as die vorige keer. Gerrie lê sommer so bo-op sy rugsak en roei oor. Ander swem met hulle sakke af tot by die kampplek, so 100m aan. Arme Erna Grove se goed is egter heeltemal nat – miskien tog nie heeltemal so geoefen soos wat jy gedink het nie…

Vanaand is damesskiet: Gerrie daag Fredalette Uys se hardloop-vermoëns uit maar sy val vas in ‘n sinkgat of twee en Carine Nel is te vinnig vir Andre – hy verloor sommer sy broek in die proses!

Julle kamp vanaand naby ‘n waterval, en dit is glo die perfekte bad na so lang dag – jou skouers kry sommer ‘n massage. Jeanne Roux is histeries nadat ‘n paar bye haar in dameskamp aanval, maar is gelukkig reg. Met aandete daal ‘n soort rustigheid oor julle. Dit is die perfekte kampplek; manskamp, dameskamp, sleekring en ‘n rotsoorhang waar julle sit en kos maak, alles presies uitgelê. Met die waterval wat in die agtergrond druis en die refleksie op die water soos die son sak weet jy die lang dag was die moeite werd.

Die items begin vanaand met ‘n bang nadat Mike Tyson (Tinus) met die deur in die huis val en vir Charlotte (as een helfte van die bar-deur) perongeluk platduik. Die Waterval Vandaliste is vanaand se boyband maar hulle sukkel bietjie om al die woorde te onthou. Die program word gereeld onderbreek deur of Gerrie (as die kleintjie wat snaaks loop) of Andries van Reenen, Willie, Heleen, Ileana en Marinda wat mal rondhardloop. Lyk ten minste asof hulle dit geniet. Luize wys haar talente en sing haar eie liedjie (met Tinus se kitaar – wat AL die pad saamkom, en selfs twee keer oor die rivier was; dit wil nogal gedoen wees) . Lodi en Andre is ook besonder skerp met hulle tolk program se direkte vertaling tussen Afrikaans en Engels.

Terwyl die sterre bo julle flikker, en julle God se almag opnuut besef is dit

Nag dames

Dinsdag 11 September

Die stokers sing ‘n remix van die opstaanliedjie, en jy moet sê dat dit nogal help vir die hup in die stap so vroegoggend . Die weer lyk vanoggend dreigend maar Retief is gou om dit af te maak as “koue front, shmoue front”. Daar is sprake van Erna se slaapsak wat so dun is soos pep-sykouse, maar jy het darem lekker geslaap. Almal maak reg vir die reën en koue maar dit is toe onnodig. Julle stap bo-oor die berg met ‘n twee-spoor-pad – nogal heel uitputtend, en ‘n paar van julle hyg goed na julle asems. Met die afkomslag huppel Lodi en skree selfvoldaan “ek is ‘n klipspringer, ek is ‘n klipspringer” maar sy vreugde is van korte duur toe hy neerslaan -en julle eerder laat dink aan ‘n duiker – soos Willem Treurnicht later sou opmerk. ‘n Niksvermoedende Attie verjaar, en julle stap mooi in gelid oor die kwaai boer se plaas. Die wind waai en dit is ‘n stowwerige stap, jy wens jy het ‘n sonbril of iets gehad om die stof uit die oë te hou. Iewers speel ‘n mondfluitjie, en erens anders sing iemand, veral YMCA kry goeie ondersteuning en selfs die moves word so in die stap gedoen.

Dit is ‘n lang dag se stap, en julle is goed moeg. By ‘n waterbreuk bo-op ‘n heuwel is jy nogal bly jou hare is nie blond toe jy hoor hoe daar geskimp word dat die met blonde hare in hulle sakke moet kyk. Toe Luize aan die ontvangkant van Lodi se berugte klip is, is jy maar dankbaar dat dit nie jy was nie. Dat sy dit nie sommer afgegooi het nie gaan egter jou verstand te bowe. Nee, die klip gaan verder saam… wat kan jy sê; die spoed waarteen mens sentimentele waarde aan iets heg is verstommend.

Met die idee dat die kampplek net om die draai is stap julle verder. Julle staan egter so op ‘n hoogte en afkyk om te sien dat die plek reeds geneem is deur mense wat op die rivier roei. Dit skep nogal ‘n interessant prentjie; die tente wat so op die vlakte staan en julle (sowat 50 mense) wat afdaal na onder. Retief stap nader en julle maak gou aanspraak op die hele veldslag-gevoel deur vir Retief te skree ” ons is reg agter jou” en “ons is meer as hulle”, die mense het nie geweet wat hulle tref nie, maar nou ja; jy kry dit taamlik gereeld as daar ‘n BTK-groep betrokke is. ‘n Paar honderd meter later is julle by die laaste stop vir die dag – nogal nie te sleg nie dink jy, beter as die een wat die professionele mense uitgekies het. Lyk asof julle ‘n privaatstrand het, en met die son wat sy laaste strale gooi lyk dit heel idillies, behalwe vir die snydende windjie en die feit dat die son, wel, dat die son sy laaste strale gooi. Manskamp is effens meer openbaar as die ideaal, en hulle moet versigtig wees om nie te ver van die oewer af te beweeg nie, terwyl groepie 5 die lyn tussen dameskamp en kookplek onderskat (letterlik en figuurlik): hulle sit omtrent tussen die tente. Graig Snyders wonder hardop of Petrie (a.k.a Kaptein Stap) ooit iets së wat sin maak.

Na aandete ly groepie 5 aan ‘n effens kaffeïne – overdose en hulle skree “Groepie 6 is nowhere!” Wie sou nou kon dink dat sulke sterk koffie sulke skerp dinge na vore kan bring…

‘n Paar van die groepies massage mekaar en hekel-bare quotes is volop, veral Petrus met sy “Ek kan nou net hier doodgaan” verskaf heelwat vermaak. Ja-nee, almal is effens seer na die dag se stap. Dit is vanaand groepie-items; ook maar goed want daarsonder sou daar min items wees, almal is redelik moeg en aan die slaap. ‘n Blonde grappie, ‘n paar telefoonpale en donkies, ‘n crime scene met ‘n suspicious knie, ‘n poging tot whose line is it anyway, en lesse oor hoe om te skiet later het almal ‘n kans gehad, selfs al het twee groepies aanvanklik dieselfde idee gehad. Die drie dorings van doringrivier is vanaand aan die beurt met ‘n paar aangepaste liedjies en weereens nie te sleg nie. Jy sukkel egter om jou oë oop te hou, en jy wag in spanning vir nag dames, maar die is vanaand non-existent. Jy wonder of Oom Andricus ook ingesluimer het en of jy maar net nie gehoor het nie, maar nou ja.

Woensdag 12 September

Julle slaap vanoggend bietjie later nadat dit glo gereën het toe julle sou opstaan; jy sal nie weet nie. Retief vertel dat dit sy laaste dag as voorsitter is en dat hy dalk op ‘n paar power trips mag gaan. Dit voorspel niks goed nie, dink jy by jouself. Julle is gegear vir reën; die verskillende kleure splashcovers wat die rugsakke ekstra groot en die mense klein laat lyk, en die verskeie maniere van jou lyf droog hou is ‘n interessante prentjie. By gamebreak voel Retief dat hy beter is as generaal, kaptein of sersant en ‘n beter titel verdien. Of hy nou ‘n brigadier of ‘n troep is weet jy nie, maar dat hy sy eerste power trip gehad het, is duidelik. Enige orige sleelekkers maak ook die verskyning en selfs die laaste meusli word uitgedeel. Julle doen ‘n koning op die sand, en julle kan nie help om te lag vir Sandra, Marli en Tilana wat met die terugbeweeg oor hulle sakke val nie.

Die berugte klip maak weer sy verskyning nadat Willie dit in sy sak ontdek en toe stilletjies terug sit in Lodi se sak. Wat jy saai sal jy maai is een van vele gesegdes wat van toepassing is… By waterbreuk is Andre so moeg dat hy sommer so op ‘n klip sit en slaap. Die dorings en splash-covers werk nie so lekker saam nie en Anreza merk op dat sy nie regtig daaraan gedink het dat Doringrivier verwys na dorings self nie. Suzaan mag dalk van haar verskil. Middagete gee geleentheid vir julle om van julle noodvoorraad te benut en jy wonder of mash en provita in enige ander situasie so lekker sou wees nie. Julle sien die roeiers in die rivier en dit gee julle iets om na te kyk – jy het net opgewonde geraak dat hulle die rapid gaan ry toe hulle self afdraai.

Tyd vir ‘n groepsfoto en julle kan nie help om te wonder wat die toekomstige BTK-ners van julle modesmaak gaan dink nie – Garth met sy kaki top, die alomteenwoordige hospus-broekie en ‘n baie opsigtelike mullet staan immers heel voor.

Lodi het intussend die klip ontdek en dit iewers anders gesit. Jy kan nie help om jou te verbeel dat jou rugsak nou effens swaarder is as netnou nie. Dat ‘n klip nou soveel paranoia kan veroorsaak.

Nie lank nie of julle stap met ‘n tweespoorpad, die keer teen ‘n baie goot en steil bult op. Aanvanklik dink jy – hoekom doen jy dit? Maar as julle later lag vir die 90 grade hoek waarteen almal loop en nog later uit volle bors (dis nou behalwe vir die uitasemheid) Nkosi-sikeleli kan sing terwyl julle uitkyk oor die groen vallei weet jy dit is die moeite werd. Om egter die bus te sien maar nie daarby kan uitkom nie is bietjie frusterend. Jy wonder saam met Heleen of hulle die kontoerlyne op die kaart misgekyk het. Na die alternatiewe pad bo-oor die berg is dit egter tyd vir die gentlemen’s challenge waar die ouens met ‘n meisie se sak ‘n ent hardloop – oom Andricus verbaas met sy spoed en is een van die voorstes.

Petrus is die “gelukkige” een wat ontdek dat hy toe al die pad (ja; berg op en af en sommer die gentlemen’s challenge ook) aan Die Klip gedra het…

Uiteindelik op die bus, is jy verstom oor die hoeveelheid boyband-liedjies wat meeste uit hul kop uit ken en uit volle bors saamsing, ja, selfs Britney Spears kom aan die beurt.

By Clanwilliam stop julle vinnig om te stort en te hoor dat Suzaan darem veilig by die huis is. Ook dat die Clanwilliam-dokter nie veel van Heleen en Gys se benadering tot field medicine of Suzaan en Garth se oortuiging dat daar ’n doring in haar been is gedink het nie. Hy sou later sy woorde moes sluk. Julle groet vir Gerrie en op die bus is veral Lodi ontsteld oor die gedaanteverwisseling wat die skoon meisies ondergaan het en wil graag hê dat hulle die maskers moet afhaal. Almal is egter gou aan die slaap en jy raak eers heelwat later op Piketberg wakker vir die terrash. Vanaand se spur-burger challenge is groot. Met sowat 17 ouens wat deelneem is dit omtrent chaos. Andre doen baie goed, en jy is so besig om te kyk hoe hy sukkel om die laaste sluk af te wurg dat jy dit mis toe Retief as wenner uit die stryd tree, dit was omtrent naby. Daar is selfs pryse vir wenners; janee- die Spur weet hoe om hulle kliente (al is hulle ook hoe luidrugtig) te ontvang. Julle sing de machtige koning en ondersteun Zimbabwe se krieket-span wat die Aussies wen met oorgawe, en is weer met vol mae daaruit.

Terug by die Neelsie is almal maar redelik vaak, maar jy sukkel om verby die knop in jou keel sing met “nog ‘n toer is verstreke” met die wete dat dit van die mense wat vir jou BTK gemaak het wat dit is, se laaste keer is. Colyn sê ook dat julle van die legends groet en jy kan nie help om saam te stem nie. Maar jy weet dat dit ‘n goeie 5 dae was, met baie lag en kyk en inneem en sing en eet en stap en sommer net wees. En jy weet ook, dat soos julle sing: Lewe lank, lewe lank BTK.

Charlotte Hauman

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui