Suidelike Sederberge April 2002

Raait – die ouens (naamlik Colyn “Voete” Murray) het nie gespeel nie, en 18:00 het die ou lot en klomp nuwe, verwarde toeriste op die Neelsie-parkeerterrein gestaan, reg om te ry en twyfelend gereed vir aksie.

Die pad is gevat Ceres toe, stille opgewondenheid het geheers, en in sekere motors is kultuur behoorlik bevorder toe daar na “Storieman “ geluister is – tot die protes te hard geword het en niemand in elk geval iets kon hoor nie.

Op Kunje aangekom is daar vuurgemaak om die koue te verdryf en, die kos is uitgedeel – dié vir die aand, en dié om die reeds-te-swaar-rugsakke net nog swaarder te maak… Die energie is tot laaterig gemors, soos daar gewonder is wat vergeet is en hoe om nou eintlik jou pa se tent reg op te slaan. Leon de Wit se skuiftrompet is ook aan- en uitgehaal.

Vrydag, 29 Maart

Vrydagoggend is die groep deur die diep stemme van Corne van Daalen en Colyn wakker gebulder. Ná ‘n aanvanklike gevoel van “ons is nie reg om nou te stap nie” is die groep goedgunstiglik deur oom Theunis Hanekom van Kunje tot op die Suurvlakte vervoer. Toe is dit “opsaal burgers” en in die berg in – en sommer reguit (dwars teen die berg uit) in die pad geval.

Ná die bult langs Hamerkop verby is, was dit ‘n welkome verligting om agter te kom dat die kampplek bereik is. Colyn het dit ook waardeer, omdat die helder sand “besig was om hom ‘arc eyes’ te gee”. Die middag is daar gewandel na Sandfonteinboog – waar gamebreak en koekies genuttig is. Daar is ook baie lekker op die sagte gras geslaap. Terwyl Leida Heymann nog so lekker lê, kom Casper Steenkamp aangeloop en sê: “Hallo mense”. Leida beantwoord dit met: “Ons is nie mense nie, ons is bosnymfies.” Casper bekyk die situasie ‘n oomblik, en antwoord toe: “Hallo bosmense.” Coos Diener het ook die titel van die “lopende maag” by Keith Browne ontvang, na aanleiding van sy vermoë om groepie drie uit enige orige-kos-verknorsing te red. Terug by die kampplek is daar “geswem” – in ‘n billie langs die baie-stadig-lopende water. Corné van Daalen het dit wel bad genoem – die oud-voorsitter raak baie gesofistikeerd in sy pensioenstatus. Oor die bad-in-die-berg-kwessie het Liesbet Rossouw op ʼn latere staduim opgemerk dat “bad is soos knoffel eet – jy doen dit nie alleen nie”.

Later die aand is die eerste-toeriste ook voorgestel aan die konsep van slee, wat hulle baie gou gesnap het. Die arme oud-toeriste wat nog bietjie later wou slee, is uit die slaap gehou deur baie ywerige eerste-toeriste, onder die lei(y)ding van hul konvenor Leon. Hy het besluit “De machtige koning” moet nóú begin oefen word. Casper was byderhand om die eerste-toeriste van die wal in die sloot te help.

Saterdag, 30 Maart

Saterdagoggend het hopeloos te vinnig gekom. Brand is gestig deur die stokers en ná almal weer wakker geraas is deur die voorsitter en sy makkers, het “veels geluk liewe maaitjie” ook die oggendstilte verbreek. Dis verskeie male vir Coos gesing, wie se mondig(sondig)wording dit was.

Die dag se stap het wel ook voorgelê, na Apexpiek toe. Die stap is redelik vinnig afgelê en middagete is by die kampplek geniet. Daar het wel redelike verkoeling by Spock’s rock plaasgevind, ná eers Corné en toe sy boet Frits, Corné se watergeweer se slaan(spuit)krag op die proefgestel het. Corné “wou nog altyd onder die belt skiet”. Die na-middag se uitstappie was na Apexpiek self, waar Christo (lang) Esterhuyse opgemerk het dat “hy baie bly was om Casper sonder ʼn bottel in die hand te sien”. (Casper was een van die manne wat die Van Daalens se voorbeeld gevolg het in die watergevegte). Die gevegte het gelukkig die aand se kant bedaar, omdat water nie so vrylik beskikbaar was nie.

Die gevreesde wraakaand het ook te vinnig vir sommige aangebreek. Die eerste-toeriste was bietjie verward ná Suzanne Steenkamp uit hulle item verwyder is (sy het die hoofrol gespeel, maar was ʼn “undercover oud-toeris”). Maar Rocco de Villiers het redelike sukses met sy regterenkelhou en met die donkie “Ewald” behaal.

Na die soetheid van die wraak, was dit hekeltyd: Coos moes verduidelik wat hy met “(en) ek is nie ‘n poedel nie” bedoel het, terwyl Corné homself net dieper in die moeilikheid gepraat het met sy verduideliking van die tyd toe hy nog “divers geskiet” het. Die analogie van die jagter wat elke aand ander bokkies jag en later die boer met sy landjie wat elke aand sy plantjie water gee, het baie gelag ontlok. Hopelik kry die plantjie darem ook ‘n paar sleepille – maar sy het op die betrokke aand net onder die grond (slaapsak) verdwyn. Corné het dit ook onder die toeriste se aandag gebring dat as daar sonder klere in die donker geswem word – sal daar “glow in the dark” probleme wees. Henk Louw het teenoor Linda Hiemstra opgemerk dat “alle meisies blikskottels is” – in besonder die billy “Marie”.

Sondag, 31 Maart

Sondagoggend het ʼn uur later begin na Colyn verslaap het. Daar is gewikkel verby die Duiwel se Tafel teen Breekkrans uit (omdat ons “nie in die donker wil swem nie”). Gelukkig is die kampplek spoedig bereik en watergevegte het in alle erns los gebars. Johann “die rigting bevarkte koekie monster” Breytenbach en die junior Van Daalen, was veral die groot vabonde. Florian “the Terminator” Schiller het ook gelag veroorsaak met sy eskapades met die watergeweer. Later die middag is die oggend se verlore gamebreak ingehaal.

Die aand was damesskiet en ouens kon by tannie Lizette aanmeld om in die “Buro-vir-Onopgevoede-Mans” opgeneem te word. Met aandete het Groepie Drie ook begin wonder oor die radioaktiewe eienskappe van bensien. Groepie Een het in ‘n welgedrilde kommunikasiemasjien ontaard; hulle was wel nie so groot op die eetstorie nie. Peter wou by slot van rekening nie te veel “nege maande swanger” wees nie.

Maandag, 1 April

“You’re not cut out for evil”: groepieleier Keith aan kok Dorette (“the mighty midget”) du Plessis. Dit was hoe Maandagoggend se ontbyt begin het, na Dorette vir Keith wou terugkry na al sy sieluittrekkery. Daar is gestap na Bakleikraal, vanwaar daar ‘n swemuitstappie na Disapoele was – wat ‘n welkome koue, nat breuk was.

Die aand was daar wel weer ‘n koue, nat breuk, wat nie so welkom was nie. Dit het tot gevolg gehad dat die slee vir die aand afgestel is en die tyd aangewend is om skuiling te soek teen die reën, en om lekker in die tente te kuier. Groepie Drie het wel bietjie van ‘n kos-tekort gehad, ná Raelize Loubser (die kok ) die meeste van hulle aandete al die vorige aand gemaak het. Gelukkig was dit nie té groot probleem nie, omdat Corné, Frits, Liesbet en Riaan van den Dool die groepie die oggend verlaat het.

Dinsdag, 2 April

Die nag was darem nie te nat nie. Die oggend moes daar styf gestap word om betyds by Suurvlakte te wees, maar die groep het heel fluks gevorder en was betyds daar. Die bietjie reën wat geval het, het ook vroeg genoeg gewyk, sodat ons ‘n droë gamebreak kon geniet. ʼn Skuur op Suurvalkte het skuiling gebied om tee en middagete te maak. Daar is ook lekker gesing, of net rustig in die son gedut, terwyl ons vir die vragmotor gewag het.

Daar is al van dag twee af uitgesien na die terrash op Ceres, en toe dit aanbreek was dit groot gewees. Die eerste toeriste het hulle name in die boek geskryf, nekdoekies is uitgedeel en daar is baie lekker geëet, gesing en net gesellig saam verkeer voor die pad Stellenbosch toe, aangepak is. So is nog ʼn baie lekker en suksesvolle toer, met ‘n klomp nuwe vriende en beter ou vriende, van die ou BTK afgesluit.

Coos Diener

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui