Wildekus Julie 1997

Vrydag, 11 Julie

Vrydagoggend vyfuur het nie een van ons eintlik ‘n baie goeie idee van wat nog alles vir ons voorlê nie, maar dat ons almal in die pikdonker al by die Neelsie is, sê darem iets van ons gewilligheid. Al is die Eerste Toeriste nog effens verward oor hoe dinge werk, stres nie een Ou Toeris toe BTK-tyd skielik in werking tree nie! Nadat tannie Miems Swanepoel opgelaai is en Christiaan Terblanche ons almal welkom geheet het, slaap meeste mense maar nog ‘n stukkie. Almal kry vreeslik koud, en toe dit uiteindelik lig word by die Hexriviervallei, sien ons dat dit geen wonder is nie: daar lê dan dik sneeu op die berge! Teen elfuur stop ons op Beaufort-Wes om nog mense op te laai en bene te rek en Dirk Uys kom (tot sy skok?) agter dat hy die geëerde posisie van blikwasser gaan beklee. Teen twee-uur is ons op Graaff-Reinet waar ‘n klomp mense saam met Johan Gerber “laat spaander” om “amok” te gaan maak by die koffiewinkel. Die kamera-uitstalling in die museum lok ook baie belangstelling, maar die pad is nog ver. Deur die lang dag in die bus leer almal mekaar se name ken, Hildegard Steinmann loop op en af en smous met splashcovers, en ernstige kaartspeletjies word gespeel. Ons kom die aand omtrent ses-uur in Fort Beaufort aan waar Christiaan ons eers moet wys waar hy in sy jeug geswem, gespeel en klippe op onderwysers se dakke gegooi het voor ons na oom Japie Williams se huis toe gaan. Daar gekom kry ons nog toeriste, maar ook ‘n heerlike groot ete. Daar word ‘n hele rukkie gekuier en geëet en die soapie-mense kry selfs kans om ‘n laaste keer na al die intriges te kyk voor ons weer in die pad val. Oom Japie kom ook saam en beduie die pad na Hogsback. In bitter koue pak ons af en is aangenaam verras om warm water en beddens te kry, want as ons voorsitter eers “luukse chalets” belowe het, weet mens nooit wat om te verwag nie! Ons word amptelik welkom geheet en na ons eers bietjie moes sing, gaan beproef party die gemeenskaplike storte en almal gaan slaap.

Saterdag, 12 Julie

Ons word al ses-uur met die wraakliedjie en Christiaan se fluitjie wakker gemaak. Almal het die aand op die slap bedvere oorleef, maar vir Cor Beyers was dit blykbaar nie so ‘n rustige nag nie. Die groepieleiers en kokke begin kos sorteer en tannie Miems slaan haar tent op, maar nie voordat sy al voor ontbyt op haar maag op die badkamervloer gelê en soek het na Anlo de Wit se verlore kontaklens nie! Nadat die kos uitgesorteer is, word tente georganiseer en ons kan begin stap. Ons klim (met los hande, let wel!) oor die eerste hekkie en kom in pragtige natuurlike bosse, al groei daar al blackwattles tussen-in. By die Kettlespout-waterval bo-op die kop eet ons lemoene en neem foto’s. Tannie Miems wil nog ‘n watergeveg begin, maar Monré Meyer gee haar so ‘n goeie stort dat die geveg gestop is nog voor dit lekker vlamgevat het! Die rustige stap is die ideale tyd nog mense te leer ken en daar word baie gesels en gelag. Middagbrood is by ‘n yskoue riviertjie en die kampverdeling is soos volg: Mans stroom-af tussen rotse en gras, en dames stroom-op tussen die braambosse. Ons stap met ‘n paadjie op met die berg op soek na watervalle en poele, en as Christiaan se neus nie begin bloei het nie sou ons seker nog heelwat verder gegaan het. Met die teruggaan loop Mariëtte Grobbelaar en Nicolette Tredoux vooruit om te gaan kyk hoe dit met Cor gaan. Die res klim af na die “Madonna and Child” waterval, en vir eens is dit ander mense (en nie BTKners nie) wat mal genoeg is om in daardie yswater te swem. Die laaste bult op na Hobbiton is net lekker vir ‘n draffie vir mense soos JP du Plessis en Christiaan, maar tannie Miems en Johan G laat nie toe dat beesmis, bosluise of doringdraad hulle van die kortpad afskrik nie.Die ordentlikheids-praatjie volg en daarna ‘n baie powere “Koning”. Ons drink koffie en kuier saam op die kombuis se trappies terwyl die uitkykery begin word. Aandete is sommer vroeg en Groep 4 gryp die kans aan om hulleself as die Ramkatte voor te stel. Die eerste slee van die toer word binneshuis voor ‘n heerlike kaggelvuur gehou. Carel Cairns en Mariëtte, die twee met die diepste slee, is aan die ontvangkant van ‘n paar goed gemikte skoene van ‘n geheimsinnige gooier af en Monré se sleepille maak amper ‘n draai by die hele toergroep voor hy dit kan red. Die Items word ook goed afgeskop met Schalk van Zyl wat ‘n gewillige, maar nie baie entoesiastiese pampoen is nie, Monré wat maar nie kan onthou of dit nou Maria of Mary is nie, die eerste Eskimo-episode en Jaap de Lange se Scotch-item. Ander ou bekendes is ook weer daar, maar tannie Miems en Johan G se nuwe vlooie-een kry baie aftrek. En selfs hekeltyd begin sommer woes toe Hildegard baie ernstig oor haar mansbrein uitgevra word. Toe almal later in die bed is, weereens in die luukse chalet, word die aand heel gepas met die wraakliedjie afgesluit.

Sondag, 13 Julie

Ons word toegelaat om (effens) later te slaap, maar om al die bagasie teen die helling uit terug bus toe te dra maak almal sommer weer moeg. Terwyl daar skoongemaak en uitgesorteer word, klim Nic van Schalkwyk, JP en Carel bietjie op die klimmuur om hul spiere wakker te kry. Ons ry na die kleine Hogsback Village met sy pragtige St. Patrick-on-the-Hill kerkie. Marida Benadé trou amper daar en dan vir Heidi Jordaan en JP, maar die bruidegom is baie onwillig en ontglip hulle! Toe die kerkklok heel onverwags al halfnege begin lui, word die buurt se honde (en inwoners seker ook) byna histeries. Ons is nog skaars in die bus of die kaartspeletjies begin weer luidkeëls en entoesiasties. Veral Esti Cronje en Johan G se “CHEAT” weergalm elke paar minute deur die bus. Kort voor lank raak tannie Miems “kriewelrig” en terwyl ons deur die Transkei met sy dongas, beeste in die pad waarvoor Nic en Cor heeltyd moet oppas, duisende turkoois hutte en vreemde versameling van motors ry, word daar maan toe gegaan, rondgery-ry-ry en kaartgespeel dat dit klap. By Umtata wys Samuel Vos ons allerhande interessante plekke, waarna ons na sy ouers se huis gaan vir middagete. En hoe dankbaar was ons nie vir daardie sop en brood nie! Jean Hendriks se aansluiting by die groep maak ons voltallig en ons gaan verder met oom Vossie wat saamry om die bus te versorg. Tot tannie Miems se groot opgewondenheid vind sy uit dat oom Vossie ook van Barrydale af kom! Joline Nel en Yvonne Burger smeer die broodjies vir aandete sommer in die bus en Christiaan speel buskelner, terwyl Jaap vir Marida, Mia van der Merwe en Suzaan Koornhof byna histeries het met sy lemoenskiltande. Die bus stop omtrent nege-uur by die Wild Coast Casino sodat ons ons goed kan aflaai en kan sorteer. Ons laat ‘n paar petroljoggies se oë vreeslik rek: eerstens met al ons pakkasies en tweedens met die tradisionele gelukwensing aan Karen van der Merwe. Daarna pak almal weer in die bus in met rugsakke op die skote en ry die ou entjie tot by die beginpunt van ons ware toer. En feitlik dadelik is daar ‘n stroompie waaroor die ouens ons moet dra. Johan G is nie links nie en roep dadelik: “Joline! Ek wil vir Joline hê!”. Maar ons hou verniet ons voete droog, want net om die volgende draai slaan ‘n brander ons omtrent vas teen die rotse en almal se skoene en broekspype is papnat. Is dit dalk die “Voorsitter se verrassing”? Gelukkig kom ons daar weg voor daar nog branders kom en ons slaan kort daarna kamp op. Met halfmaan hoef ons ons gelukkig nie oor hoogwater te bekommer nie. Ons drink koffie en wag net tot twaalfuur om solank vir Erik van der Merwe te sing voor ons gaan slaap.

Maandag, 14 Julie

Toe Christiaan sy fluitjie ses-uur blaas, daal sy gewildheid skielik en drasties. Maar toe dit lig word sien ons ‘n ongelooflike mooi land wat soos ‘n tropiese eiland met palms en piesangbome lyk. Die enigste probleem is dat die eiland aan die ander kant van ‘n groot rivier lê… Met opening stel Esti heel ernstig voor dat ons “Swem, Jannie, swem” moet sing, en nadat ons weer vir Erik gelukgewens het, begin die groot swem oor die Mzamba. Die water is verbasend warm en teen agtuur is ons al amper weer klaar aangetrek. Ons stap oor ‘n klein stukkie binneland met bosse en gras orals en hier en daar ‘n klein mielielandjie. Ons steek ‘n tweede rivier (die Mnyameni, heelwat kouer) swemmend oor, en hierdie keer dra Jan Kraaij sy goed byna stuk-stuk oor om te keer dat alles weer nat word. Terwyl ons gamebreak hou en die waterdraers vir ons water by hutte op die heuwel gaan haal, steek ‘n paar vroue die rivier doodrustig op spesifieke sandbanke oor, en dit met bondels hout op hul koppe en sonder om ooit dieper as hul nekke weg te sak. Ons stap oor sand wat met tye hard is, maar oor die algemeen ons kuite kou. Middagete is langs ‘n lagunerige bedryf en ons eet regte gala-broodjies met baie sand op. Die Ramkatte hou ‘n impromptu operette, wat beteken dat mens alles wat jy wil sê, moet sing. Cor slaap nog ‘n stukkie van sy siekte af, Henri Hanekom begin sy eie kosstoor plunder, en Schalk se rugsak is skielik omtrent 5kg ligter toe hy die water uit sy slaapsak druk. Nic en Christiaan-hulle tel ‘n knollerige ding op waarmee hulle sommer in die stap rugby speel, maar dit vat nie lank voor die bol sy (met apologie aan Ettienne) hol sien nie. Die water wat ons deur die dag kry is maar brak en laat Clifton snaaks proe, maar as mens dors is, drink mens. Later vergeet ons om te tel by hoeveel klein stroompies ons ons skoene moet uittrek, en soms loop ons sommer oor sonder om deur nat skoene gepla te word omdat die aan- en uittrek te veel tyd mors. Die son skyn heerlik, daar is ‘n bries van agter af en Christiaan beplan sterk aan ‘n jaarlikse Junie-Gala! Piet (Helena-Marie Theron) loop heeltyd vir “De magtige Koning” en sing aangesien sy in die oggende daarmee in haar kop wakker word en Jan word amper ‘n tweede maal uitgekyk. Ons loop oor ‘n laaste rivier en hoor dat die dag se 18 km verby is! Die meisies sit dadelik af rivier toe om te gaan bad en gaan toe ook met die steil duinepad op na die kampplek toe. Ons slaan tente op tussen drie hutte waarvan ons een vir ‘n aantrekkamer gebruik, maar net as mens die gate in die agterste muur kan ignoreer. Hier moet al die water vir gebruik gesuiwer word, wat nogal ‘n rukkie vat en waarna die water na chloor proe. Na aandete maak die massage-garage oop, maar tannie Miems het vreeslik probleme met Johan G en ook met Jan en Sonja Nel, wat sommer afstig! Die slee’s is vanaand regte slee’s, want mens gly so lekker by die afdraand af. En op ‘n baie strategiese plek op die einste afdraand lê ‘n stuk lekker vars beesmis, wat baie min mense raaksien. Die Eerste-toeriste se konsert is goed geoefen en hulle sing sommer baie lekker. Veral hul skyfievertoning met o.a. Hildegard se slaapsak as die rooiliggebied het beïndruk. Die Eerste-toeriste kry dit weereens reg om die wraak te oorleef en ons eet wraakbolletjies/pasteitjies na die verwelkoming. Die hekels kom amper almal uit die massage-garage en veral Jan en Daleen Lordan moet net vinnig ‘n paar verduidelikings gee. Ons gaan slaap op ons gewone harde matrassies, maar nie Christiaan en JP nie! Hulle het toegang tot groter luukshede

Dinsdag, 15 Julie

Die oggendroetine verloop soos gewoonlik, met Daleen se “Môre, my ding!” wat enkele sekondes na die gehate fluitjie weerklink en Carel wat Groep 2 ewe vriendelik roep om koffie te kom kry, maar voor ons stap kry die ouens eers ‘n ernstige aanmaning oor begeerde sagte matrasse vir vanaand! Ons begin skaars stap voor ons weer ‘n rivier tref — hierdie keer die groot Mtentu. Gelukkig is daar twee bootjies wat die onwillige swemmers oorroei en dit vat nie te lank voor gamebreak aan die ander kant gehou word nie. Die Ramkatte gaan sit natuurlik weer reg langs ‘n dooie bees, maar terwyl hulle gelukkig genoeg is om die reuk vry te spring, moet hulle heeltyd daarin vaskyk. Ons loop oor stukke strand en binneland, neem groepfoto’s by ‘n skeepswrak en gaan die Mkambati-natuurreservaat binne. Voor middagete sien ons ‘n visarend verbyvlieg en arme JP word baie gereeld daaraan herinner dat hy na stroois ruik. Middagete is by een van die mooiste riviere wat ek nog ooit gesien het, die Mkambati-rivier en -valle. Met soveel poele en watervalle waarby mens kan speel, spandeer ons amper te veel tyd daar, maar dit was bitter moeilik om daar weg te kom. Net voor die dag einde se kant toe begin staan, kry ons ‘n heerlike hoë sandduin en BTKners kan mos nie by ‘n duin verby sonder om daar af te hardloop nie! Ernst van der Merwe en JP tref mekaar met ‘n ernstige slag op die einde, Nic bommelakiese af en sukkel seker die volgende twee dae om die sand uit sy ore te kry, terwyl Monré die enigste een is wat dit regtig regkry om binne-in ‘n sak te sit en af te gly. Net om die draai van die duin af kry ons die laaste rivier van die dag — die Msikaba. Net ‘n paar mense waag dit om oor te swem, maar die meeste wag vir die enkele bootjie om almal oor te vat. Yvonne en Sydney Schönegevel, wat baie vinnig Stanley geword het, is al aan die oorkant voor almal nog hul skoene uit het. Toe tannie Miems se beurt kom wil sy baie graag roei, maar die Xhosa-roeier wil net niks hoor nie. “Umama” moet net “hlala pantsi” en haar nie ooreis nie…o jinne! Daleen word ook op die naam kom soek, maar arme Mariëtte se sak bly tot amper heel laaste aan die verkeerde kant van die rivier. Dit vat ‘n hele rukkie om almal by die kampplek (wat die absolute luukse van ‘n longdrop skaars 15 meter van Dameskant af het) te kry, en die arme roeier is pootuit nog voor almal oor is. Hierdie is natuurlik ook die kampplek waar omtrent tien van ons geheimsinnig moet verdwyn sodra dit lyk asof iemand ons wil tel! Jean en die Tonerol is die aand baie besig, selfs terwyl tannie Miems al met haar flitsie rondloop en mense wat te diep slee onder oë kry. Jan word ook genadeloos gehekel oor soene en mans wat iets daarin soek…! “Nag Dames” is sommer baie vroeg, want 16 kilos vandag en 17 môre is nie ‘n grap nie.

Woensdag, 16 Julie

Dit voel wonderlik om effens later te slaap, maar kort voor lank weerklink “Slaan af daai Bybelse tent!” weer. Die Simonsbergers kom voor ons weg, maar net omdat Jean soveel laaste-minuut behandeling moet gee. Cor kom by ‘n dokter uit en dit gaan sommer beter met hom, maar nou voel Ernst nie so goed nie… Ons loop feitlik heeldag oor die binneland met moeraskruisings en bosluischecks wat amper ewe gereeld gehou word. Gamebreak is op ‘n grasperk tussen regte strand-bome, en die swemmers (Tineke Kraaij, Jan, JP en Sonja) verspeel nie die kans om die water aan te durf nie, soos hulle gewoonte sover nog by elke moontlike geleentheid was. ‘n Lekker stap oor ‘n netjies gesnyde vliegveld later sak ons af met ‘n klofie en kom by Port Grosvenor, waar ons eers met die vakansiegangers gesels en toe gaan middagete maak by ‘n inham met regaf kranse, pragtige piesangbome en ‘n kronkelende riviertjie. Later vertel Christiaan dat Port Grosvenor oorspronklik ‘n vakansieoord vir melaatses was en Nic pluk Noem-noembessies vir tannie Miems, waaroor sy heeltemal gaande raak. Die binnelandse deel is pragtig, met heuwels wat lyk of dit uit “The Sound of Music” kom aan die een kant en die vreeslike mooi blou see aan die ander kant. Net jammer van die stinkende modder en die dronk mense langs die pad. Besopenes is gelukkig maklik om af te skud, maar die modder bly. Almal is maar net te dankbaar dat dit nie reënseisoen is nie, maar Hildegard en Monré is baie slim en loop met die grootpad langs wat die voorste mense oor die riete getrap het! Ons swem oor die laaste groot rivier van die toer, die Mkweni. Ons kamp met Lupatana in sig (so naby dat ‘n paar mense sommer dadelik kafee toe draf) en ons slaan die tente tussen die bome op. Nic is vir die derde keer te laat om vir Carina Madsen-Leipoldt te skiet! Al Tone se pleisters word die aand opgebruik en daar word tot lank na donker nog aan voete gedokter. Daar is ‘n heerlike oopte tussen die bome waar Jaap ‘n groot vuur maak en daar ge-item word. Die hoogtepunt van die aand is “K-k-kaptein”, met Riaan Kok wat eers ‘n baie professionele brul gee en Johan G wat daarna Cor se naam in die BTK verewig. Marthinus Fourie en Riaan se uitstekende kanon moet ook genoem word. Net nog een vragie aan Cor: Waarom het jy in jou kos gaan sit? Was Susan Rossouw se kookkuns so erg?! En Jan sorg weer vir amperse moleste toe hy sommer in die verkeerde slee in duik. Ons gaan slaap tussen bome wat behang is met ‘n rare verskeidenheid van hemde, sokkies, kortbroeke en nat skoene –kortom, ‘n regte stapperskamp!

Donderdag, 17 Julie

Wat ‘n skrikwekkende oggend! ‘n Hele paar van ons verlaat die Transkei met heelwat minder goed as wat ons gekom het, maar almal werk wonderlik saam en die probleem word baie goed hanteer. In elk geval: Suzaan word gelukgewens met haar verjaarsdag (die derde een van die toer, en almal regtes!) en ons vaar al voor halfag die toe-skielik-nie-meer-so-vriendelike mense se kombuis binne om ons waterbottels vol te maak. Ons stop by die plat rotse waar die branders so hoog opskiet en almal neem net foto’s. Die hele dag is so vol pragtige goed dat ons in die eerste drie ure net 3 km stap! Ons stop ‘n hele rukkie by die waterval wat in die see val en by Cathedral Rock (waar ‘n interessant-geposisioneerde groepfoto geneem word), maar teen gamebreak word ons beveel: “Sluk nou en kou later!” Vandag ondervind ons ook die verskynsel dat daar na gamebreak, middagete en elke langerige stop, ‘n VERSKRIKLIKE stywe opdraand is. Middagete is weer by ‘n lekker rivier, maar vandag bly ons nie baie lank nie. In ‘n poging om ‘n ordentlike pad te kry loop Christiaan soms ompaaie, maar die agterste mense kies dan kortpad oor die heuwels en met tye lyk dit asof ons oorlogstroepe is wat in kommandemente oor die bult stroom. Vandag waai die wind vir die eerste keer glad nie en dit is drukkend warm, wat die ouens “baie lus vir ‘n yskoue Coke” maak, tot Daleen se onsteltenis. Ons begin net aan die vreemde soort pad (omtrent sewe voetpaadjies reg lang mekaar) gewoond raak, toe ons weer by die strand uitkom, maar nie voor Johan Brink amper vir Magriet van Zyl teen die vreeslik skerp en ongelyk afdraend moes afdra nie. ‘n Klein stukkie sandstap volg en toe loop almal oor ‘n rivier terwyl Christiaan en JP ‘n kampplek soek. Almal het net mooi weer hulle skoene aan toe die bevel kom: Ons slaap aan die ander kant van die rivier en ons moet terug oor. Skiettyd gaan seker vir die eerste keer in die BTK-geskiedenis al om kwart oor drie oop! Ons kamp op ‘n pragtige oop stuk grasveld (vrot van die bosluise, maar wie gee nou nog om?) en die ouens kry kans om te gaan was terwyl die meisies tent opslaan teen die donker wolke wat begin pak. Toe die meisies rivier toe stap, is ‘n klomp ouens nog in die water en Monré gee ons met die verbykom die Skotse saluut. Die water is vriesend, maar meeste mense druk maar deur. Ons is byna nog nie met aandete klaar nie toe dit begin reën. En nie sommer sulke druppels nie: groot vettes. Die amptelike slee word gekanselleer en dis net na agt toe almal tente toe laat spaander, sommige om te gaan slaap, en sommige om “nie-amptelik” te slee…

Vrydag, 18 Julie

Daar is maar bitter min toeriste wat nie in een of ander graad van natheid wakker word nie. Die kamp word toe maar nat-nat opgeslaan en ons sloeg met modderige paadjies langs tot by Mbotye waar Christiaan sy beplanning hersien en (tot meeste se verligting) besluit dat ons nie meer tot by Port St. Johns gaan stap nie, maar net tot by ‘n obskure plekkie met die naam van Fraser Falls en dat die beseerdes aangery sal word tot daar. Almal piekel af na die kafee toe om die plekkie amper leeg te koop, en dan begin die geswoeg oor die modderpad van Mbotye tot by die bruggie waar die kranklikes gaan wag. ‘n Vinnige gamebreak, laaste-minuut opdragte aan JP vir geval van nood, en ons pak die ses-kilometerlange opdraand. En om dit in ‘n uur en 20 minute te gedoen het was glad nie sleg nie! Ons eet eers laterig middagete omdat ons nie weet hoe ver die kampplek is nie, maar Carel en Manie Potgieter gaan vooruit om te verken en kom vertel toe dat hulle die perfekte kampplek gekry het. Ons stap dus maar aan. Skaars 200 meter verder verskyn daar toe skielik ‘n reuse kloof voor ons, toegegroei met oerbos en met ‘n asemrowende waterval op die een punt. Om so onverwags op een van die mooiste plekke van die hele toer af te kom het almal absoluut sprakeloos gehad. Ons slaan kamp op met ‘n wind wat voel of dit die tente se fly-sheets gaan wegwaai, en nat slaapsakke en klere word gebruik om die dennebome aan te trek. Die beseerdes kom teen vieruur aan en word ook deur die ongelooflike kloof betower. Nicolette-hulle vertel hoe nuus oor die dokter by die bruggie versprei het en dat sy ‘n paar pasiënte moes behandel terwyl hulle vir ‘n geleentheid gewag het. Intussen het Samuel en Louis Klopper na die volgende heuwel gestap om met Louis se selfoon vir oom Vossie van die veranderde reëlings te vertel. Veral Christiaan is baie beïndruk met die moderne tegnologie! Die wind waai verskriklik, maar “it’s all in the mind” en ons slee te lekker (Net Marthinus en Erik tel amper moeilikheid op omdat hulle hul sleemaatjies so verwaarloos). Johan G sing vir ons sy “Miems kom weer”-liedjie en tannie Miems kry dit vir die eerste keer reg om vir Christiaan om te spring met “Tanne-tanne”. Jan staan uit as ‘n baie oortuigende ballerina, Daleen moet mooi verduidelik hoekom sy vir Cor nie een nie, maar TWEE maal, “Jan” genoem het, en Jean bieg oor haar en Johan G se geheime verhouding…alles maar net nog spesiale BTK-oomblikke!

Saterdag, 19 Julie

‘n Vreemde trein het die hele nag lank vir tannie Miems wakker gehou, maar gelukkig is daar geen haas met die opstaan nie aangesien ons net vir die bus wag. Almal sit dan ook omtrent die hele oggend op die klippe na die waterval en kyk. Tannie Miems vermaak ons met stories van haar vliegtuigeskapades en ons hoor dat Johan B en Ernst die oggend ‘n effense kleremisverstand in hulle tent gehad het…Jan is ook erg ontsteld oor tannie Miems se planne vir hom en beskou die afgrond as die verkieslike alternatief! Die bus is laat, maar die selfoon vind gou uit wat die moelikheid is en dat hulp op pad is. Ons sluit af met al die tradisionele liedjies en met tannie Miems wat pragtig praat. Toe ‘n laaste gamebreak om die laaste kos op te eet, en skielik is die bus daar. ‘n DERTIG-seater! Vir 46 mense en hul bagasie!!

Maar ag wat, ons pas almal in (na ‘n effense gesukkel) en ons ry die 50km na ons geliefde groot bus. R850 later klim ons dankbaar oor en begin weer deur die minder mooi deel van Transkei ry, maar nie voor ons eers ‘n draai in die idilliese Port St.Johns gemaak het nie. Ons verorber sakke lemoene en teen vieruur is ons by Umtata, waar ons weereens deur Samuel se ouers onthaal word. Ook die Vos-grasperk sal na dese nooit weer dieselfde wees nie… Semi-skoon vertrek ons weer, maar teen agtuur is ons weer rasend honger. Selfone is baie handig en daar word vooruitgebel na Queenstown se Spur toe terwyl die rugby-telling ook sommer uitgevind word. Daar aangekom vind ons uit dat Queenstown regtig nie noemenswaardige openbare toilette besit nie, ons kry ons aandete (met komplemente van die BTK) en ons groet vir Manie, Walter Prins, Oom Japie, Yvonne en Sydney/Stanley. Die res van die aand verloop rustig, behalwe vir Monré wat die bus baie skielik moet stop en Hildegard wat van skoot na skoot hop om te keer dat haar sokkies vuil word. Net voor Beaufort-Wes is almal skielik wawydwakker en groet vir Jan, Tineke en Dirk. Ons ry aan en stop uiteindelik voor die opstal op Christiaan-hulle se plaas waar almal in kamers ingeboender word, maar party kamers word beslis vinniger as ander rustig…

Sondag, 20 Julie

‘n Haan wat op een noot vashaak maak ons wakker, ons vaar die badkamers in en eet van Christiaan se heerlike mieliepap. Ons kom teen nege-uur, na net omtrent vier ure se slaap, verfris daar weg en van toe af tot binne-in Stellenbosch word daar nie een oomblik opgehou speel nie. Moordenaar, die Groen Hekkie, Honey (met Klaus von Pressentin wat maar nie kan wen nie) en ‘n menigte kaartspeletjies. By die Neelsie kry almal eers ‘n laaste bosluiskoors- en bilharzia-waarskuwing voor ons Spur toe gaan. Die Makapanne word op die groot skerm vir die nuwe BTK-ners opgevoer en Johan G, die gelukkige verjaarsdagmaatjie, kry ‘n heliumballon wat groot pret veroorsaak. En nadat Christiaan sy fluitjie vir die laaste keer die toer geblaas het (binne en buite die Spur!), groet ons mekaar om ons te gaan gereedmaak vir die volgende paar dae se depressie. Maar, Rooi Ag, dit was lekker!

Namens sketsskryfster

Maria Magdalena Rossouw

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui