Langeberge April 1996

VRYDAG, 29 MAART

Ons maak van private vervoer gebruik om al die toerlede by die bestemming ( die Barry plaas, Dundonald ) te kry. Die groep vertrek basies in twee dele – die eerste groep arriveer reeds 19h00 die aand en kry koffie en tee in die plaashuis asook die geleentheid om ‘n laaste keer televisie te kyk terwyl daar gewag word vir die hoofgroep wat rondom 22h00 aankom.

Die slaapplek en omliggende area word verken in die donker en ons ontdek dat daar warm storte is, maar dat mens eers jou pad deur die moddermoeras moet negeer om daar te kom.

Die toerlyste word uitgedeel met die aankoms en terwyl ete voorberei word, word name geleer. Dit blyk ‘n heel interessante toerlys te wees met die geheimsinnige Elana X – wie se van ( Bennet ) onbekend was met die opstel daarvan. Margaret Maritz vind ook uit dat sy ‘n nuwe identiteit het met die van Maret: die fout le blykbaar by haar suster Johanna wat ‘n spelfout begaan het – dalk ‘n teken van die ontkenning van die familieband??? Gelukkig hou ons nie die gewone braaivleis van die eerste aand nie en eet ons wel ‘n paar minute VOOR 24h00.

Na skriflesing kruip almal in – ons het ‘n droe slaapplek binne in ‘n skuur. Hans Hendriks slaap egter buite want dis vir hom net te beknop in die skuur en Tannie Miems Swanepoel slaap ewe luuks in die huis.Tannie Miems wou nie die toer vir enigiets in die wereld mis nie aangesien sy in die area in Barrydale grootgeword het – dis haar wereld die!

SATERDAG, 30 MAART

Met die eerste aand agter die rug stel ons al vas dat daar mense onder ons is wat in hulle slaap praat soos Elricka de Villiers wat vir Jeanette Wolhuter uit die bloute deur die slaap vra : ” Waar het julle ontmoet??” Behalwe daarvoor en die effense gesnork hier en daar slaap almal redelik vas. Dit is natuurlik totdat die haan besluit om met dagbreek te kraai en nie EEN maal nie, maar oor en oor en oor en oor – een wekker wat mens nie kan afskakel nie!

Met die opstaan sien ons dat die weer baie onvas is – die een oomblik skyn die son en die volgende oomblik wil-wil dit na reen lyk.

Nico H. ry die sleepwa om na die volgende slaapplek en ons word nogal bederf aangesien die tente en die volgende aand se kos nie gedra hoef te word nie! Christiaan Terblanche wil sy volksie na die parkeerplek skuif, maar die ontwikkel probleme. Dit blyk nie te ernstig te wees vir nou nie en na ‘n paar minute se gevroetel onder die kap loop hy weer. Sy suster, Lirea, begin wonder of hulle na die toer hul bestemming gaan haal, maar in dieselfde asem voeg sy by dat Christiaan nog nooit ‘n motor sonder sogenaamde “karakter” gehad het nie.

Na opening deur Tessa van der Walt word die hindernisroete aangepak – eers moet daar liggeloop word tussen die beesmis deur en daarna le lekker “bundu bash” vir ons voor. Reenen Barry van Dundonald, wat al voorheen saam met die BTK gegala het, loop voor om vir ons die pad aan te dui.

Dit is so maklik om te loop sonder om te besef hoeveel verskillende soorte blomme ons omring, maar Christiaan begin elke nuwe blomsoort wat hy raakloop in sy hoed druk en naderhand lyk die soos ‘n blomtuin.

Soulby Jackson begin om ‘n paar klippe op Ewan Conradie se rugsak te pak (laasgenoemde was duidelik nie te beindruk nie! ) en toe ruk alles handuit – klippe word oral ingedruk, maar Nico Holtzhausen loop die slegste deur : Etienne van der Poel en kie druk klippe binne-in sy rugsak en sy matras en ek dink laasgenoemde klip is eers by die slaapplek ontdek!

Die kaart word gereeld bestudeer en die pad vorentoe stap vir stap geplot. ‘n Diep kloof le dwars oor die beplande roete en ons moet ‘n wye sirkel rondom loop, maar ons loop langs ‘n bergfiets roete wat meer genadig op die bene is. Ons kry ook sommer bergfietsers op pad en hulle gee vir ons ‘n aanduiding hoe lank die pad is.

Die dag word ‘n dag van verskeidenheid – ons stap langs ‘n groot pad, langs klein paadjies, deur die veld, deur woude en ook deur klowe. Veral deur die kloof maak ons, ons eie paadjie teen die steilte uit en bo is ons swart van die gebrande takkies en lelik gekrap, maar die kloof is ‘n asemrowende sig met interessante rotsformasies wat alles die moeite werd maak. In die kloof maak Elana X amper van naderby kennis met die water wanneer sy haar balans verloor en met haar rug oor die afgrond beland.

Op die pad af na die plaas waar ons bestemming is vaar tannie Miems op ‘n pad van haar eie en raak so weg in die bosse dat ons net haar stem kan hoor. Gelukkig gaan Hans vinnig tot haar redding en bring haar terug op die regte pad! Bobbejane hou ons dop van teen die hange, maar bly gelukkig uit ons pad.

Ons slaan kamp op in die koeikamp en by die rivier is daar vyfster badgeriewe – op pad is daar egter groot polle vars beesmis en nie almal slaag daarin om dit mis te trap nie ( die voetspore daarin die volgende dag blyk daarvan! )

Voor aandete maak die “massage garage” oop en almal sit in ‘n ry op ‘n lang stomp – dit word sommer gou ‘n lekker bedryf!

Die eerstetoeriste bied vir ons hul konsert aan en die aaitems dek ‘n wye verskeidenheid wat begin by die goue lokkies aaitem en eindig by ‘n minder suksesvolle poging om De Magtige Koning te sing : “ons ken die woorde maar nie die wysie nie”. Gelukkig is Hans daar om te help, maar hulle raak tog die wysie byster en moet ‘n tweede keer sing om dit reg te kry!

Na die wraak nuttig ons almal hot chocolate en koekies saam en sluit Soulby vir ons af voor ons gaan slaap.

SONDAG, 31 MAART

Ons staan oor en kan lekker laat slaap! Na ontbyt van koffie en beskuit is die tone oop en blase is ‘n algemene verskynsel na die vorige dag se groot stappery. Eddie Turner open vir ons en daar word gekoukus oor die plan van aksie vir die dag.

Die weer is koelerig – en die sonnige oggend het plek gemaak vir ‘n bewolkte dag. Uitendelik besluit die wat nie aan skete ly nie en wat krag het daarvoor om Noukloof aan te pak. Tannie Miems kry besoekers en sy moet ongelukkig agterbly. Ons verloor ook ‘n lid van ons groep wanneer Elana se skoene haar voete te seer maak om aan te gaan en sy huis toe vertrek.

In die kloof is die water verbasend genoeg nie so koud nie en solank ons aan die beweeg bly is daar geen probleme nie. Die kloof is pragtig met diep poele hier en daar. By elke poel word daar eers gestop om die ronde klippies oor die water te skim en ‘n paar indrukwekkende maneuvres word aanskou.

Teen die kante groei welige groen varings en Gerrit Maritz en Wim Morris identifiseer ‘n gaping in die varingmark en maak planne vir die terugkoms!!! Dit blyk dat Wim een of ander fobie vir die water het – hy vermy swem of deurloop soos die plaag en spring eers aan die einde in!

Jaap de Lange aan die ander kant kan nie genoeg kry nie en is die hele tyd in die water. Hy ontdek ook skuim iewers en met die in sy baard is hy nogal ‘n sig – ek wonder hoekom Tessa nie so gretig was om die “kersvader” se omhelsing te aanvaar nie?

Die kloof kronkel diep in die berge op en ongelukkig haal die tyd ons in – na ‘n paar uur van “kom ons kyk net wat le om hierdie draai voor” moet ons omdraai en terugkeer. Die planne is egter reeds gemaak om terug te kom en die kloof te reccie ( tannie Miems is vasberade om nie daardie uittog mis te loop nie! )

Die klippe is glad en die teewater van die area is donker wat die gang nogal moeilik maak – Lirea gly ‘n bietjie en haar skene ly daaronder – potensiele bloukolle!

‘n Diep poel met ‘n klein +- 3 meter sprong word ontdek en daar word ‘n rukkie vertoef om af te spring. In die afgaan verloor Hans amper sy nekdoekie – en dit nadat hy gese het : “ek trek hom nie weer uit tot na die toer nie!” Gelukkig raak rooi en wit nie maklik weg nie!

By die laaste groot poel word daar eers ‘n rukkie geswem, maar die laastes in die water is Jeanette, Tessa en myself – die ouens bly aan die kant en kyk. Daar word nog besluit of die storie van meisies wat ‘n groter persentasie vet het en dus langer vat om koud te kry die nodige meriete dra!

Almal droom van koffie by die kamp, maar met die tuiskoms word ons begroet deur ‘n aktiwiteitlose kamp – al die mense slaap. Gelukkig was die koffie reg teen die tyd wat skoon/droe klere aangetrek is. Oom Jurgens Hendriks sluit by ons aan en saam met die koffie kry ons lekker koekies gebak deur ‘n Kalahari tannie.

Ons hoor dat van die wat agtergebly het by die kamp later in die dag probeer het om die onderste poel in die kloof te bereik en dat “bundubashing” die orde van die dag was. Dit nadat Tinus Bezuidenhout aan die voortou was en hulle by die kamp weg is met die woorde “ek ken die pad – ek was al daar” in hul ore.

Die vuur word aangesteek en enkele nat skoene van die dag se ekskursie verskyn om die rand om droog te word. Die blikwassers en middagbroodjies begin ywerig slaai en poeding maak vir die groot gesamentlike aandete.

Tannie Miems en oom Jurgens gee die gewone bedagsaamheid / veldmaniere / slee toesprakie waarna die meisies en die ouens mekaar “Koning”. Daarna word Tinus (wat ewe gedink het hy het dit vrygespring ) geluk gewens met sy verjaarsdag van die vorige dag en hy kry die volle SHD ( soen / hang / druk ) behandeling by al die meisies.

Almal is gou betrokke in ‘n bietjie volkspele a la Miems voor daar gesmul word aan die heerlike braaivleis en poeding. Die slee vir die aand is aan en af weens die reen wat kom en gaan en op die ou einde loop die aaitemkonsert dood en almal vind ‘n plekkie onder die boom waar koffie gedrink word.

Oom Jurgens sluit vir ons af en almal gaan slaap. Almal? Die volgende dag le stories die hele wereld vol van slees wat aanhou tot half vier en Tessa en Christiaan se name word daaraan gekoppel. Niemand kan se hoeveel waarheid in die storie le nie, maar almal wonder waar die chaperone al die tyd was???

MAANDAG, 1 APRIL

Al weer tyd om aan te stap. Ongelukkig pla Annalien Moore se heup haar bietjie en word daar besluit dat sy en Eddie die bakkie met die sleepwa sou omry na die volgende slaapplek.

Wynand Muntingh behartig die oggendgodsdiens waarna ons die lang, steil bult begin bestyg. Die mis hang dik oor die berg en vinnig kan ons nie veel meer as ‘n paar tree voor ons sien nie. Dit was jammer aangesien ons bo langs Noukloof op is en ons graag sou wou sien hoe die kloof verder loop. Dit wat ons wel gesien het is egter genoeg aansporing om beslis terug te kom! Die misreen maak die spinnerakke langs die pad besonder mooi en op plekke sien ons selfs drie dimensionele spinnerakke.

Die reen, die nat voete en gekrapte bene is egter nie te goed vir die gemoedere nie en ons besluit net oor die nekkie om eers te breek vir tee sodat almal van binne kan warm word. Terwyl ons sit begin die mis lig en met die afkoms in die volgende kloof beweeg ons uit die mis. Oor middagete in die kloof trek dit plek-plek oop en ons sien vir die eerste keer die dag blou lug.

Groot sports ontstaan met tannie Miems se kierie – as sy weer sien kan sy hom nerens kry nie. Wanneer die kierie op ‘n onverklaarbare wyse weer op haar rugsak te voorskyn kom word die skuld word gepak op die vergeetagtigheid darem, maar tannie Miems wonder of Christiaan en Etienne werklik so onskuldig is!

Na nog ‘n paar stygings en dalings ontdek ons ‘n fantastiese swemplek – ek en Tessa laat nie op ons wag nie en gou volg tannie Miems, Christiaan, Carel Cairns en Lirea. Ons ontdek ‘n borrelbadbedryf in die rivier en neem beurte om rue te laat maseer deur die stromende water. Op pad terug na die ander ontdek ons dat Nico, Hildegard en Christine Steinmann ook die water aangedurf het, maar hulle is heel teesinnig om heeltemal nat te word. Die ander sit net langs die rivier en ‘n gespottery ontstaan oor die wat geswem het lede van die skoonklub is en maar met mekaar sal moet slee aangesien die ander te vuil is.

Die pad vorentoe bied ‘n pragtige uitsig van die Duiwenhok dam ( volgens Reenen die Ertjiespoort dam ) wat ‘n massiewe dam blyk te wees en hier en daar swem eendjies in die laat middag oor die stil, rustige water.

Ons het nog so vier kilometer om te gaan, maar Wynand en Jeanette begin sukkel met beserings. Ons is egter almal hier om mekaar uit te help en oom Jurgens en Christiaan help met die dra van hulle rugsakke.

Gelukkig bly daar net een steil bult en ‘n heining wat geklim moet word oor. ( By laasgenoemde maak ek met die oorklim heel onvleiend met moederaarde kennis toe die heining nie my gewig wou ondersteun nie en in die proses ietwat breek! )

By die kamp word die “massage garage” geopen, maar daar ontstaan terselfdetyd ook ‘n variasie op die gewone nek en skouers – naamlik ‘n voet massering.

Groep 3 nuttig voor aandete “hors de ouvres” aangesien middagete se vleis in die trommel gebly het ( of dit iets met die eerste April te doen het word nog bespiegel.)

Weens die feit dat dit die eerste April en ook skrkkeljaar is, is dit dameskiet. Gou ontstaan daar ‘n “Buro vir Onopgeeisde Mans” of te wel die BOM waar die dames kan uitvind watter mans nog nie geskiet is nie.

Jaap bou ‘n lekker kampvuur en dit is ook die eerste aand wat ons die amper volmaan en die sterre kan sien. Christine sluit vir ons af en dit is so ‘n mooi aand en lekker om die vuur dat almal maar traag is om te gaan slaap.

DINSDAG, 2 APRIL

Opstaantyd is 7h00 en dit blyk ‘n mooi dag te wees met helder sonskyn en blou lug met enkele vlieswolkies. Dameskamp is toe in die daglig ‘n heel sleg affere aangesien die ruie bos dit moeilik maak om buite sig te gaan!

Nadat Ewan die dag geopen het is dit al weer tyd vir ‘n lekker verrassings verjaarsdag. Susan Rossouw is die gelukkige / ongelukkige (?) wenner en gou omsingel die ouens haar en word sy ” let me call you sweetheart” toegesing – dit was ‘n oulike sig met Susan wat in die middel staan en onder haar hoed wegkruip! Tannie Miems gee opdrag dat almal vir haar ‘n geskenkie uit die natuur moet bring. ‘n Heel interessante gevolg was Wim en Gerrit wat ‘n ou paar skoene van iewers af bring. Ondankbare Susan los egter die skoene in die pad.

Gamebreak word gehou op ‘n grasperk by ‘n riviertjie op die plaas Palmyra waar Johan Thiart water oor tannie Miems uitgooi – ‘n eerste poging van ‘n water geveg. Tannie Miems alias watergooier hoef nie twee keer genooi te word nie en gou is almal betrokke in ‘n reuse water geveg en behalwe vir Lynn Melck ( wat almal binne ‘n radius van 2 meter van haar met suspisie bejeen ) is almal in ‘n meerdere of mindere mate nat.

Die teenwoordige paartjies word uitgesonder en toegesing en die wat deurloop is Etienne en Hildegard asook Rehan van der Merwe en Johanna Maritz. Tannie Miems word ook toegesing, maar vir haar kies die ouens ” Die grys ou merrie is nie meer wat sy was” !

Met die aanstap speel vergeetagtigheid weer ‘n rol en tannie Miems se kierie is weer weg – hierdie keer is dit egter sonder te veel moeite opgespoor. Ons klim teen ‘n steil bult uit na die eienaars se woning waar ons verneem na die pad oor die berg. Ons kan in die kloof op en stap aan deur ‘n klompie koeie, verby waterpype wat teen die steiltes slurp totdat ons by ‘n pragtige waterval kom. Middagete word ‘n entjie aan gehou – ‘n lekker luibedryf in die son.

Ons stap deur die pragtigste protea vallei met plante hoer as die meeste mense – met die terugkyk van voor af maak die gewone lang ry mense plek vir ‘n streep bewegende takke.

Bo teen die berg se rif word ‘n beter pad bespeur en die afgaan opsies word opgeweeg. Ons besluit tog om ‘n ander plan as die oorspronklike te volg. Die probleem is egter reelings wat reeds getref is en die groep verdeel in 3 om die probleem op te los. Die Hendrikse gaan in een rigting, Christiaan en Wim hardloop vooruit in ‘n ander en die res volg vir Nico teen die berg af. Gelukkig kom almal weer onder by mekaar uit en ons word per trok vervoer na die slaapplek. Asof die rit nie genoeg was nie kry ons bonop almal coke daarby.

Nico merk tereg op hoe wonderlik dit is om met een dag se stap twee wêrelde te betree, want aan die verskillende kante van die berg was die plantegroei verskillend en wat diere betref is die een kant bees wereld en die ander skaap.

Ons het ‘n fantastiese kampterrein vir die aand tussen die bome en daar is ook om die draai ‘n lekker dam om in te swem.

Die bestuurders van die trok kom sluit by ons aan na aandete en neem selfs deel in die aaitemkonsert. Die konsert is besonders aangesien daar omtrent ‘n waglys is om te aaitem. Die rede is seker die bottel coke wat op die spel is vir die beste aaitem. Die wenner is toe die towerfee aaitem met Etienne, Nico, Annalien, Christiaan en Eddie.

Na die afsluiting ( wat begelei is deur die snorkgeluide van een of ander moee siel ) begin die hewige bespreking oor wie saam met wie ry en waar ons vir almal ‘n gaaitjie gaan vind – ek dink die affêre is meer ingewikkeld gemaak as wat nodig was, maar dit is darem op die ou einde opgelos!

Sommiges moes in die slees wakker gemaak word om weer te gaan slaap – tannie Miems moes omtrent vir Riaan Kok wakker skud aangesien hy en Caryn Bredenkamp lekker in droomland was!

WOENSDAG, 3 APRIL

Die bestuurders wat hulle motors by Dundonald moes gaan haal en oom Jurgens- hulle staan vroeer op, maak hulle eie pap en sluit af. Die res kruip stuk-stuk uit die bed en slaan rustig kamp af. Ons ontdek dat daar vroeer in die oggend gratis botteltjies Frost water afgelaai is. ( Dit word gebottel in die Langeberge en die rede was seker maar promosie. ) Die oorblywende kos van groep 1 word verorber en om die tyd om te kry word grappe vertel totdat die “abstrakte grap vlak” ( wat is die verskil tussen ‘n hoender ? ) bereik word.

Die bestuurders keer terug en ons pak in en vertrek. Die nekdoekies is in Barrydale gestempel en Caryn moes ‘n tweede keer terug gaan aangesien haar nekdoekie op die verkeerde plek gestempel is.

Terash word gehou by die “Country Pumpkin” in Barrydale waar ons sing en heelwat aandag trek van verbygaande motoriste. Behalwe vir die wat na ander bestemmings ry, vertek ons terug Stellenbosch toe. Op pad soontoe kry Johan heelwat teespoed aangesien sy motor eers sonder petrol gaan staan en ‘n klip net voor Stellenbosch sy voorruit breek. Ons val die Spur binne vir middagete waarna almal sy eie weg gaan.

Op pad terug val tannie Miems se woorde my by : “Jou BTK vriende is vriende wat jy nooit verloor nie” en ek besef dat dit waar is aangesien ek na nog ‘n toer die spesiale band tussen die mense voel. Nog ‘n toer is verstreke, maar die BTK ervaring leef voort in die hart van 34 mense: Lewe lank BTK!

Darienne Rossouw

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui