Jonkershoekmarathon-Roete 1990

VRYDAG:

Vertrektyd halfsewe word toe vertrektyd halfagt en kort daarna word ons by Jonkershoek se hekke afgelaai. “Toe stap nou, julle wil mos stap!” Leon Verster en Antonie van Heerden het ons met gemengde gevoelens verlaat. Hulle akademie het geskree om aandag en hulle was lus vir saamstap, maar dit het ook fyn begin motreën. Ons was ook skaars in Swartboskloof toe is ons nat en teen die tyd wat ons gamebreak gehou het, het Ancil Theron en Desireé Erasmus ons verlaat nadat Desireé geval en haar oogbank oopgesny het. Ons was dus nou 21. En dit het nog steeds gereën.

By middagbrood was daar eers ‘n lekker deurmekaarspul, want die drie kosgroepies het intussen twee geword en niemand het meer geweet wat hulle is nie. Dit was maar ‘n mistige en ‘n koue bedryf en verskeie stelle tande het onbeheers geklapper. Die middagbroodjies het gesukkel om raak te vat met koue, dooie vingers. Die uitsig het deurentyd maar ‘n mistige waas gebly, maar die vreugde was groot toe ons teen halfdrie reeds die kampplek bereik het. Op die platste plek langs die stroompie het daar spoedig ‘n vrolike tente-dorpie verrys en vergete was die opdraendes van die oggend. Aandete is sommer vroegaand reeds gemaak en te midde van ‘n groot gelag is die FFF aan die oningeligdes bekendgestel. Die groepswoeps was nie juis geslaag ten opsigte van warm word nie, maar dit was die ene grappe tot “Nag dames”.

SATERDAG:

Ons moes vroeg roer, want Katedraal en Rifberg het voorgelê. Teen halfnege was daar geen teken meer van ‘n BTKaner by die slaapplek nie en was ons alreeds besig om die uitsig vanaf die Dwarsbergplato af te bewonder. Gister se mistigheid het opgeklaar en die uitsig in die Jonkershoekvallei af kon nie beter nie. Op Bergriviernek het ons vinnig asem geskep en ons gestaal vir Katedraal wat voorlê. Almal was gelaai met ekstra water, want hierdie “kerkberg” is blykbaar ‘n droë plek.

Kort voor lank het oom Bethal Müller en Eileen Wiekers ons verlaat en besluit dat hierdie kerktorings nie vandag geklim sal word nie. Ons was dus nou neëntien. En kerktorings klim is toe inderdaad ook nie ‘n grap nie. Teen middagbrood was ons darem bo en het die groep van die Bergklub ons verseker dat ons geen verdere probleme sou ondervind nie. Min het ons geweet wat wag, want Rifberg het voor gelê en Rifberg is op en af en op en af …. En toe sien ons eindelik die riffie wat aansluit by Langriviernek, maar hoe moet ons daar uitkom en dis al sterk skemer en ons is dors. En die bakentjies wat ons toe volg is toe nie jou standaardroete nie, maar ‘n rotsklimroete …. maar daar’s niks waarvoor ons skrik nie – ons wag hier net vir die daglig- en dié is sowat twaalfuur weg!

Danksy ‘n grotjie het ons ‘n dak oor ons koppe gehad, maar die grond was ongelyk en klipperig en daar was geen water nie. Almal het hulle laaste druppels bymekaar gesit en die rantsoene is uitgedeel – ‘n glasie vanaand en ‘n glasie vir môreoggend.

Sondag se middagbrood word toe maar aandete, want hoe maak jy Smash, FFF en ontwaterde groente gaar sonder water. Hans Scheffler het gedink dat hy sap uit sy Lux-liquidbottel kan sluk sonder water, maar onse leier het amper begin “bubbles” hap. ‘n Rustige nag was dit nou nie juis nie. Ons was dit te wagte, maar toe die gogga in Annabelle van Zyl se oor inkruip was die herrie behoorlik los. Louis Tredoux se 70% alkohol sonbrandroom het die gediertetjie op die ou end of bedwelm of laat vrek en Annabelle kon verder rustig slaap.

SONDAG:

“Oh, what a beautiful morning” en toe Hans boonop terugkom met ‘n vreugdekreet: “Ons het op die roete geslaap.” “Hierdie grot is op die kaart aangedui” was ons dag gemaak. Oggendbrood het bestaan uit ‘n skyfie komkommer, ‘n glasie water en almal se orige sleepille – en dit was voorwaar ‘n stewige ontbyt. (Verbasend hoeveel sleepille saamgedra is.)

Tussen Rifberg en die vleitjie (waar daar water was) het daar egter nog ‘n paar “bergies” gelê en so tussen die mis deur moes ons mooi korrel. Teen elfuur was daar geen mooier gesig as ‘n troebel waterpoeletjie nie en kort voor lank het die gwaffies rustig saam met die FFF in die pot geprut. Noem dit maar ‘n “brunch”. Almal het ook hulle name in die boekie op Pieke geteken voordat ons eindelik die aftog in Langrivierkloof begin het.

Francois du Plessis en Jaap Nel het solank vooruit gegaan en vir oom Bethal en Piet Müller gevra om ons met Landrovers te kom haal, maar toe mis ons hulle sowaar met ons kortpadstappery en boontjie kry sy loontjie. Ons stap toe tot by die hek voordat hulle ons ingehaal het. En met die Landrovers tot oorlopens toe vol, kom ons op Stellenbosch aan.

Die aand is die “marathon” afgesluit met pizzas in Mama Roma en ‘n klip vir Hans – die afsluiting van ‘n skitterende toertjie wat gerus ‘n instelling kan word.

Sonja Wend

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui