Skoonste Kaap April 1990

SATERDAG:

Ons vertrek stiptelik een uur laat vanaf die stoor. Op pad na ons bestemming het daar ook eers ‘n belangrike uitruiling – of is dit ‘n omruiling – plaasgevind. Toe die drie eerste toeris-dames, Anine Steyn, Odille Jacobs en Suzanne Joubert by Muizenberg in die bus klim, sê oom Jurgens Hendriks, ons toervader, net: “Nee wat, dan draf ek maar verder.” “Ek sal julle iewers inloop …. of …. inhardloop!” Vir tannie Helen Hendriks was dit maar ‘n “bedrukte” besigheid, want ons chaperone moes toe haar eie drie woelwaters sowel as die ander sewe-en-dertig in toom hou.

By Kaappunt se parkeerplek aangekom, wou die busbestuurder nog probeer om die laaste bult tot by die punt ook aan te durf, maar ou Mike se waarskuwing dat daar geen draaiplek bo is nie, het hom maar onder laat parkeer. Rita de Wet mag nou wel die nuwe hoofbestuurder van die busdiens wees, maar kyk, met haar vermoë om ons versadig te kry, is daar ook niks mee verkeerd nie. Die oggendbrood het, happie vir happie verdwyn soos ons van Indiese na Atlantiese na Indiese …. oseaan gekyk het. As gevolg van die vroegmôre vertraging het die bus ons toe sowat vier kilometer vervoer en in die middel van nêrens is ons toe finaal afgelaai en kort daarna het ons vir die eerste keer Leon Verster se “stap nou” gehoor.

Met die ysige Atlantiese oseaan links van ons en die sonnetjie skroeiend van bo het dit byna soos ‘n Weskusgala gevoel! (Dis nie ‘n skimp of ‘n voorstel nie hoor!). En verskeie BTK-vissersmanne het toe ook ‘n paar kleef …. ek bedoel kreeftipes bygeleer: gebruik ‘n sykous met aas in en dan kleef die kreef daaraan vas. Oom Jurgens kon sy plek as toervader net mooi weer volstaan toe dit tyd word vir die peanut-gallery se pittighede.

Middagbrood was op ‘n groot grasperk voor ‘n strandhuis, maar glo dit as julle wil, daar was geen volkspele nie, want tannie Miems was nie daar nie. Hier het ons ook die strand verlaat en kon ons ons oë oophou vir ander dinge – ek praat nou van diere en natuurlik later ook die bus.

Die gesaghebbendes het net een kyk gegee by Schusterskraal, ons beplande slaapplek, en toe besluit daars ander plekke om vuur te maak wat meer in ons kraal sal pas. Dus: Imhoff woonwapark in Kommetjie sit toe vir drie nagte met ons geselskap. Die eerste toeriste se senuwees is genadiglik met rus gelaat, want daar is nie geslee nie en ook nie gewraak nie, dus net ge-item en gelag. Net voordat Knersus (Tersius Carinus) en Cornel Pretorius die aand hul suite gaan inwy het, het hulle die dames probeer trakteer met ‘n serenade, maar ai, hulle Sarie-advertensie het ‘n duidelike afname in verkope voospel.

Die dag se opwinding was vir Rita nie genoeg nie en sy ontdek toe maar na “Nag dames” dat Sondag se beskuit en vla verder saam met die bus getoer het en eers weer Maandagoggend by ons sal wees. En die wraakkoekies is die derde passasier op hierdie gewraakte reis.

SONDAG:

Die feetjies en kaboutertjies kon toe net koffie in die bed bedien. Ons kosma se vindingrykheid het van die Weetbix beskuit probeer maak, maar sy het darem melk daarby gegee – nie die ware Jakob nie, maar naby genoeg. Die boskerk met pastoor Hendriks van Muti-gemeente aan die woord het ‘n voltallige opkoms gehad en die gemeentelike deelname was uitstekend. Die gemeente is egter so platsak dat hulle nie eers kollektebordjies besit nie en dit sal dus by ‘n latere geleentheid opgeneem word. Om hierdie rede betaal die Kweekskool ook maar pastoor Hendriks se salaris.

Die gebruiklike groot Sondag-middagmaal het op tyd verskyn totdat enkele van die pitte kort daarna op kompetisie basie uitgespoeg is. Teen hierdie tyd het tannie Helen darem al genoeg eetgerei vir haar gesin geleen gekry en kon selfs hulle deelneem aan die koekoefeninge. Hierdie oefeninge is soortgelyk aan die tradisionele Elsa-oefeninge, maar weens die rondreisende vla is die deelnemers verplig om sekere oefeninge heftiger uit te voer om die koek af te kry. Cornel moes ook maar geduldig, gedienstig en gedwee sy takie as bordspinwenner verrig.

Na al hierdie bedrywe was die siesta nodig en slegs enkeles het verdere dramas beleef. ‘n Paar het die weskuswater aangedurf en ander het na wat verneem word die noedels laat boomklim. Ons het die aand noedelslaai geëet.

“Manne as julle manne is, kom bou julle slees!” Dit was seker die mees mobiele sleekring sedert die ontstaan van die BTK. Alle beskikbare motorsitplekke het in die sleekring verdwyn tot die vreugde van die sleemaatjies. Selfs die stuurwiel het verskyn in verskeie items. Hans en Colyn en Lisa Hendriks het bewys dat hulle eendag gesoute BTK-akteurs sal word, maar swak kroegmanne, want as jy darem ‘n dubbele bier en brandewyn bedien ….

En eidelik beleef die BTK toe weer ‘n behoorlike drama met Knersus, Leon, Ritz de la Bat en Cornel as akteurs in die Murder we wrote-serial. Die verdagtes was Rita de Wet van De Wets Slow Foods, Dolk Stemmet van die busdiens, Vuurtoring du Plessis van die BTK en pastoor Hendriks van die Muti-gemeente.

Teen die tyd dat “nag dames” aangebreek het, het nog sowat tien eerste toeriste opreg geweet.

MAANDAG:

En weer het ons in die bus geklim, ‘n ent gery, afgeklim en gestap. Marianne Bester het egter vinnig besluit dat daar maklike maniere is om pad te gee uit hierdie pyn en lyding en toe skep sy vir haarself ander pyn en lyding met ‘n vasgehaakte heup. Oom Jurgens besluit daar en dan dis tyd vir ‘n bietjie pret en hy en Marianne ry toe op hulle duime terug Kommetjie toe. Dit was werklik ‘n dag van pragtige uitsigte. Bokant Kommetjie het ons by ‘n fort gekom wat reeds in + 1875 gebou is. Vandaar het ons ‘n pragtige uitsig oor Kommetjie en die Slangkopvuurtoring gehad. Elke keer as die mis vir ‘n oomblik gelig het, kon jy oor die turkoois water en seebamboes kyk tot waar die visskuite op die horison lê. En dit is toe nou ook op hierdie dag dat Leon sy verlore kondukteurskêps optel en hy nie-amptelik as hoofkondukteur van Dolf Stemmet se busdiens verkies word. “Kaartjies asseblief.”

Toe ons laatmiddag met dapper en stapper by Imhoff instroom, was dit dan ook die kondukteur wat ons weer op die bus laat klim het. Dié slag op ‘n tjappie – en terrash – jag (hoe’s daai vir ‘n tongknoper?). Met almal se sleepilvoorraad weer aangevul, het ons die aand uitgesien na “Bring julle borde en kom queue”, maarwatnou “groepswoeps” vir julle, aldus die kondukteur. Tussen die baie baie sleepille deur is daar ook baie baie items op die sand gebring. Jetaime en Jou moergh het deurmekaar geraak en horlosies wat die sondes aftik, het die wysers soos waaiers laat werk. Dis dié dat die rook partymaal net in sekere rigtings getrek het.

Knersus en Cornel se baie ingewikkelde verduideliking in verband met “films”, “filmspoed”, ensovoorts het ons tot die gevolgtrekking gelei dat ‘n mik-en-druk-model nie altyd die beste is nie. Diegene wat verdere inligting verlang, kan gerus by die twee eksperts gaan kers opsteek.

DINSDAG:

Groot oppak by Imhoff, maar gelukkig stap ons weer net met dagsakkies. Op die kondukteur se aanbeveling het die busbestuurder ons aan die voet van Constantiaberg afgelaai. En daar vier ons toe eers die tweeling se verjaarsdag (Chris en Carina Maré). Na hierdie heuglike gebeurtenis pak ons toe die minder aanloklike opdraend voor ons, maar Leon se belofte van die pragtige uitsig oor Houtbaai het ons gedwee laat klim. Tot by Chapmanspiek se baken was dit ‘n gestoom en gekreun wat spontaan in ‘n “O, maar dis mooi!” oorgegaan het, toe ons die uitsig sien. Die fotograwe het nie geweet hoe hulle dit het nie, want wat moet jy afneem en wat nie. Aan alle goeie en mooi dinge is daar ook ‘n einde en die kondukteur het besluit dat die afgelope drie dae se warm weer uitgekanselleer word met ‘n stukkie stap deur die gebrande berg. “Verbrands!” En met die gedagte dat daar by Steenberg net ‘n tuinslang is, is ons met swartgallige gedagtes agter die kondukteur aan. Voorstelle vir roosterbrood vir middagbrood is by die kosma ingedien, maar met ‘n swart kyk is die voorsteller se hand in die as geslaan. Met ons kombinasieslot, Knersus en Cornell, was ons moeilikheid te wagte en waar daar ‘n rokie is, is daar mos ‘n vuurtjie. So was dit toe ook en elke nou en dan moes hulle met ‘n “Hallo Hennie” vir Hennie Breytenbach weer op die regte pad help.

Voordat ons aan die anderkant van Constantiaberg af is, het ons eers ‘n vinger in die olifant se oog gaan druk. In die kleine grotjie het die patriotisme sterk na vore gekom en is Die Stem gesing en was daar selfs plek vir ‘n paar klein kultuursprongetjies (dus volkspel). Manne, maar hierdie grot is hoog hoor. Ons kon selfs afkyk op die helikoptertjie wat daar ver onder sy toertjies uitgehaal het. En van hierdie duiselingwekkende hoogte was dit al die pad afdraend tot by die plaas Steenberg. En tot onder het ons gehuppel. En voor ons ons oë kon uitvee het ‘n ridder op ‘n swart perd vir Ulrike Lotz ontvoer en haar sowat ‘n uur later weer veilig (en skoon) terug besorg. Die rondreisende vla het die aand ook sy eintlike bestemming in sewe-en-dertig mae bereik en na ‘n vinnige episode van murder we wrote was dit Nag dames. Hekeltyd wou ons kondukteur gerieflikheidshalwe oorslaan aangesien hy die kosma se houtlepel gevrees het na ‘n uitlating van hom tydens die pouhok se opslanery.

WOENSDAG:

En vandag is toe eindelik die dag waarop die gróót rugsakke uitgepak word, want Tafelberg moet ons oor. En Thelma Junius het sommer dan en daar besluit dat sy, soos sy die vorige drie dae gemaak het, weer met haar plakkies sal loop. Dis beslis nie ‘n geval van die beste voetjie voorsit nie, maar eerder die vuilste. Elkeen gelaai met ‘n tros druiwe uit Steenberg se wingerde en ‘n rugsak op die rug, is ons weer teen Constantiaberg uit – ietwat stadiger as gistermiddag se aftog. Teen gamebreak was die sakke darem behoorlik verstel en verrek. Middagbrood eet ons toe by die Constantia Nek Hotel, of eintlik oorkant die Hotel by die busstop. Maar Dolf Stemmet het met ons die draak gesteek en net nooit opgedaag nie. Die enigste uitweg volgens die kondukteur was ‘n kortpad teen Tafelberg uit, maar moenie bekommerd wees nie, ons kry ‘n sementpad daarbo …. “Die pad was swaar en steil en ek bedoel steil en toe ons die sementpad bereik en almal ‘n sug van verligting slaak, toe word die pad nog steiler. Dis hoekom die pad daar is. En toe kry ons ‘n dam aan ons regterkant, en nog een en nog een ….

Na die vyfde een toe kry ons ‘n geboutjie en nog een en nog een …. En tóé eers kry ons die hut …. ook nie. Dis die verkeerde hut. By die regte een het ons wel uitgekom. “Mense, waar was julle?” Soveel van karakter sien ‘n mens min. Die plekkie staan reeds van 1905 af, maar toe ons daar inwals, toe lewe die plek weer. En glo my, die aand het die plek gelewe! Na die kosmakery is daar geitem. Knersus is in die k-k-k-kraai-c-c-crow’s nest gesit sodat hy sy stem kan verloor, maar ten spyte daarvan dat die hut later soos ‘n skip gevoel het, het die c-c-crow’s nest sy stem behou. En toe word die verhoog omskep in ‘n reuse kermisbed.

DONDERDAG:

Eers nog ‘n uitsig en wat ‘n uitsig. Sandy Bay is verwoed gesoek, maar net Bakoven en Clifton kon opgespoor word. En toe die groot aftog tot in Kirstenbosch. Ons was bepaald nie so mooi soos die blommetjies nie, maar die mense het wel na ons gekyk, miskien omdat ons nie meer so mooi was nie, of dis dalk oor ‘n paar BTK-asters ….

Drie-uur was ons terug op die Bos en kon ons sing: “Nog ‘n toer is verstreke ….” Lank lewe die BTK en die Kaap.

Sonja Wend

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui