Keisie-Koo September 1989

Nou-ja, dit is weer sulke tyd en die BTK pak sy wa. Hierdie keer is ons op ‘n mini-gala op pad na die Koo-vallei waar ons ook dié deel van die Boland wou beleef.

‘O, koud is die windjie en skraal’ was ‘n flou beskrywing van die snerpende wind wat ons deurmekaar gewaai het agter op die wa. Toe ons eindelik (in die donker) op Geelboslaagte afklim, was almal maar koud en gevries, maar gou het die stokers ‘n lekker vuur aan die brand gehad.

Almal was nie te laat in die bed nie, behalwe die “peanut-gallery” wat solank geoefen het vir die volgende dag.

Saterdagoggend is almal, slaggereed vir die dag se stap, agter op die wa en neem Henry ons na die beginpunt van die Bloupuntwandelpad. Die natuur was onbeskryflik mooi en dit het gelyk asof die blomme spesiaal vir ons so mooi lyk. Die slotte het ook vir die nodige sang gesorg.

Teen middagbrood was ons bo-op die piek van die berg en wat ‘n uitsig! Daarvandaan kon ons vyf dorpe gelyk sien.

Cornél het weereens ‘n konsternasie veroorsaak deur sy kontaklens te verloor. Die aftog het ons knieë laat bewe totdat ons eindelik game-break en ordentlikheidspraatjie onder in die kloof kon hou.

Dié aand slaap ons op Baden, ‘n warmwaterbron, en kry die ou dames geleentheid om te spin. Dit was ‘n rustige slee (Tannie Miems het nog nie by die toer aangesluit nie) en Kobus Stoeder het die spinsters rustig en tevree gehou.

Die items moes in stilte geskied aangesien dit vanaf tienuur stiltetyd in die kamp was. Ritz en Leon se Tommy het ons weer laat skaterlag.

Feetjies en kaboutertjies het ons Sondagoggend verras. Oom Jurgens het ons harte geraak met sy preek. Die klein dogtertjie wat as voorbeeld gebruik is in die preek, het haar potensiaal ten volle besef en nie eens die aanmerking oor vroulike motorbestuurders kon haar afsit nie.

Na die oggenddiens het nog ‘n groepie BTKaners aangeland – insluitende tannie Miems. Wat ‘n verrassing toe klein Joyce uit Tosca (volgens Karlwim is dit net suid van Moskou) ook onder hulle is. Eindelik is ons kosma ook hier en het Rita gou aan die werk gespring.

Na ‘n ligte middagete is ons almal weer op die wa op pad na Doringkloof. Ek weet nie waar Leon sy knou gekry het nie, maar iewers het sy afstandmeter gebreek. Die beplande agt kilometer kloof het skielik baie langer geword. Dit was later stikdonker terwyl ons nog op beespaadjies (wie het gesê dat ‘n bees net so hoog soos ‘n mens is?) moes rondkruip. Leon het later op ‘n strategiese draaipunt gesit en bekfluitjie speel om sodoende rigting aan te dui. Uiteindelik het ons op ‘n grondpad gekom waar die barmhartige boer ons ingewag het en begin het om die agterste mense met sy bakkie aan te ry na die wa.

Waardevolle inligting om te onthou as jy riviere in die donker kruis, is dat klippe wit vertoon in die nag, en water swart. Moet net nie die twee verwar nie, né Jan?

Jackie het ook geleer dat ‘n mens moet klou as die boer deur die rivier jaag, anders val jy dalk af!

Dit was ‘n vrolike klomp BTKaners wat baie laat in die kamp gekom het. Die vure was reeds aangesteek en met flinke organisasie in die donker (dankie tog vir komitees) was die kamp gou ingerig.

Almal het kom hitte soek om die vuur toe daar meteens ‘n skreeuende meteoor deur die dennebome aangevlieg kom – die ‘foefie slide’ is ontdek!

Karlwim, Gerrit en Fanie se ‘dominee items’ het groot vermaak verskaf, veral toe die ‘nurse’ ook nog die regte implemente byderhand gehad het.

Na hierdie besige dag het nog elf Maties opreg geweet!

Maandag was ons oorstaandag op Protea. ‘n Heerlike vooruitsig was die trekkerrit teen die berg op. Agter op die sleepwa – ingerig met genoeg appels, lemoene en komberse – het ons dié rustige rit ingewag. Die uitsig was asemrowend veral toe ons al hoër begin styg om die sneeu op die Matroosberge ten volle te begin geniet. Agter op die sleepwa het dit jolig gegaan hoewel die windjie ysig koud was. Tannie Miems het ook almal se harte probeer warm maak met haar hartjie-brilletjie. Tannie Leonie Verster (ons eregas op die toer) kon maar net haar kop skud. Die wat nog genoeg energie gehad het, het die laaste piek uitgeklim en van daar ook die mooi uitsig gaan geniet. Die wind was ysig koud, maar ons het lekker gesing.

Op pad terug was daar weereens ‘n verposing en kon ons elkeen ‘n glasie Muskadel klink op Dirk se ‘verjaarsdag’. Nog ‘n verrassing was die bosse proteas wat ons kon pluk. Die gesegde op die toer was dat daar ‘n vrou in elke blom is, maar tot tannie Miems se spyt moes sy uitvind dat sy vergelyk word medt ‘n dooie Waboomknop.

Terug in die kamp kon jy in die tou gaan staan voor die enkele stort of ook gaan swem in die dam. Hier het tannie Miems maar lelik klei getrap.

Die ‘foefie-slide’ het ook deurentyd vir vermaak gesorg – en vir die wat Leon en Karlwim se item se “punchline” kon hoor daar bo – ek dink die halfde daar bo het wel ‘n ongeluk gemaak.

Vir Dinsdag het Leon beplan om padlangs na Simonskloof te stap, maar ons het op die ou end padlangs berg-op gestap en by die mikrogolftoring geëindig. Op die ou end was ons bo-op die berg in plaas van onder in die kloof. Vandaar was dit “bundu-bashing” totdat ons die kloof bereik het. Die stap deur die kloof was pragtig terwyl die Keeromdam soos ‘n spieël in die laatmiddagson geblink het. Dié aand slaap ons in ‘n akkerbos naby die dam. Almal was redelik moeg en oom Jurgens se “nag dames” was baie welkom.

Woensdag was ons laaste toerdag en daar is vroeg geroer in die kamp. So teen half-nege het ons begin stap. Gamebreak was ons by die Witwater en het ons die koue water na regte waardeer. Bo-op die berg, met ‘n pragtige uitsig oor die Hexriviervallei en De Doorns, het ons middagbrood gehou. Die aftog na ons eindbestemming was vinnig en toe reeds kon ons die heimwee ervaar van “Nog ‘n toer is verstreke van die ou BTK.”

‘n Vinnige besoek aan ‘n kafee en ons neuse staan in die rigting van Stellenbosch. Nog ‘n heerlike toer is verby en goeie vriende is gemaak wat lewenslank sal bly.

“Lewe lank, lewe lank BTK!”

Jakobie

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui