Hel April 1989

DONDERDAG:

Verduiwels! En toe vertrek ons weer stiptelik om vyfuur BTK-tyd. Dié dag met die helse konvooi (ek wil amper byvoeg met donder- en bliksemslae, maar kom ons laat dit eers!) – twee bussies én ‘n geleende pak-bôksie (dis nou die sleepwa en nie die Fiat nie hoor); Knersus se bakkie met die wit “canopy”; Cornell reg om te versnel in sy Charade, ‘n blou Golf “volgeladen met jonge meisjes; ‘n blou Passat wat sukkel om sy agterbene reguit te maak en laaste, maar helaas nié die stadigste nie, ook Frans van Wyk se bôksie-Fiat. Cornell Pretorius se speletjie van soek ‘n wit “canopy” en wen ‘n Datsun besorg toe darem aan hom en sy passasiers ‘n plesierrit deur Hermanus, maar vir die res van die konvooi was dit uit en uit ‘n geval van “Waar de hel is Cornell!?” Hierdie uitspraak het natuurlik eers plaasgevind na ‘n wedywering van watter pad die kortste is – Du Toitskloof of Sir Lowry’s pas. Uitslag: enkele minute en etlike sekondes verskil.

Ons arriveer op Pieter en Marelise van der Merwe se plaas, Spera, toe die aand nog vroeg en die maan nog byna vol is. Eers was dit Sonja Wend en Rita de Wet wat nie geweet het wat op hulle wag nie en kort daarna sou dit Wouter de Goede, Frans van Wyk en die arme Jan Slabbert wees wat nie weet wat wag nie! Altwee die bussies word afgelaai, die sleepwaentjie word uitgepak, herpak en wéér bekyk, Knersus se bakkie word deeglik ondersoek, die Passat kreun maar die antwoord kry ons ook nie daar nie …. skies tog! Die vraag: waar is die rugsakkos vir die volgende twee dae in die Hel?

‘n Verdoemde telefoonoproep ruk ons tesourier uit sy soetste drome (of was dit nagmerries oor heksies?) wakker en hy pak die reddingstog met ons kosbare voorraad (FFF ingesluit) tot op Robertson aan waar ‘n plegtige uitruiling vermoedelik plaasgevind het. Saam met hanekraai arriveer die twee bevoedselde Willows-boys weer op Spera. ‘n Sondebok vir die “fout” kan nie gekry word nie, maar muisneste is wel as moontlikheid geopper. Miskien moet die stoorman Rattex in die stoor sit! Al hierdie bespiegelinge is egter soos plaak weggeborsel met tannie Miems se nuwe tandeborsel wat spesiaal op Robertson gekoop is. Ai tannie Miems, ‘n gesoute stapper vergeet mos nie so iets soos ‘n tandeborsel nie!

En om alles te kroon, het die blou Golf vrede met al die krisisse op hierdie blou-bemotorde Donderdagaand en toe bring die “jonge meisjes” ‘n vreedsame aand op Vrede deur.

VRYDAG:

“Vrydag se Jungle was soet soos stroop!” – sowaar ja met kondens. Kort na oggendbrood vertrek die groep met ‘n vaart – rugsaktoere is ook nie meer wat hulle was nie – die vaart het sy ontstaan by Pieter se vragmotor gehad; en dit is dus te verstane dat die pas drasties aangepas is toe die wa eindelik tot stilstand gekom het. Byna op die drumpel van die Hel het ‘n pienk-en-geel-gedoente die wa tot stilstand gedwing en ‘n baie gretige Karlen Ackerman het vir haar en Oloff Nel én die pienk-en-geel-gedoente plek op die wa gebedel.

In die loop van die oggend het ‘n paar dinge vir my baie duister geword. Altyd hoor mens van die breë weg hel toe en die smal en moeilike weg hemel toe, maar sowaar, óf die duiwel het nie vir ses-en-dertig van ons tegelyk kans gesien nie, óf hy en Leon is kop in een mis, want sowat van ompaaie en terugdraaie, en swaar en moeilike weë het ons lanklaas gehad. Selfs Baap se “go straight”-strategie was nie oral en altyd suksesvol nie. Die “peanut-gallery” se grondboontjiegeit (overgeset synde pittigheid) moes selfs vir die duiwel effens laat glimlag het. Hy sou immers nou twéé “hothouses” by sy eiendom kon voeg. Middagbrood móés net eenvoudig ‘n lekker bedryf oplewer. Tannie Miems het die arme (sommiges reeds verpletter) Provita aangeval en verwoed beplak en bepleister met botter en konfyt. Die etery was ‘n blote formaliteit, want daar was belangriker dinge om te doen omdat daar water naby was – diep water. Die hoë rotse het aan enkeles ‘n voorsmakie gegee van die sensasie wat mens ervaar as jy in Suicide Gorge af “stap”.

‘n Lang middag het op bogenoemde lafenis gevolg, maar terselfdertyd was dit ook deurspek van volkspele alias stofopskoppers en vertellings deur tannie Miems wat die manne met die grootste monde en hardste stemme (Leon Verster, Knersus en Cornell) oopmond aan haar lippe laat hang het. Wat was Tannie se trick?

‘n Bakkrans lyk toe na die belowendste skuiling vir die nag. Die half-en-half verwagte donderbui het toe gelukkig elders geval en dit was dus ‘n droë aand – ons kon nie eens slee nie! Selfs die langverwagte WRAAK het tot die eerste toeriste se spyt nie plaasgevind nie en die “time-check” moes haastig-haastig aangepas word – ons noem dit sommer weer BTK-tyd! Groep 3 het die hele aand lank ‘n soektog geloods na hulle tweede rol film en pas nadat dit opgespoor is, het dit weer verdwyn – voorwaar ‘n gesogte item!

SATERDAG:

Ons móés vroeg op, want ons móés met middagbrood by die Gamkapoortdam wees sodat oom Andries Cronje ons kon oplaai. En wat ‘n blye dag was dit nie vir Johan van Zyl nie – hy het verjaar en voordat hy die fout enigsins kon regstel, was tannie Miems en haar vroulike trawante op hom. ‘n Klein entjie verder het die lieflikste groen grasperk ons uitgelok om volkspele te doen, maar onse Leon het vanmôre net van “go straight” geken. Later het tannie Miems dit darem reggekry om ‘n paar sprongetjies in te kry en haar strategie het goed gewerk, want sy het vir Leon Verster laat saamspeel. Net voordat ons die werklike Hel gekruis het, het ons vyf regte “mean” manne teëgekom – bewapen van die tande tot die tone. Gamebreak was weer ‘n nat een en die natste van almal was natuurlik ons meermin Miemsie! Twee van ons minder intelligente viervoetige wesens – dis nou donkies – het ons by die pad na die Hel verwelkom met ‘n lang leë staar. Pieter Smit en Gerrit Kotze het vriendelik gaan kennis maark, maar die vrypostigheid van ‘n gratis rit het vir esel se kind net te veel geraak en ou Piet het wel deeglik in die stof gebyt. Miskien het ou Langoor nie van die twee geel hemde gehou nie- hoe sal ons nou weet. Karlen se pienk rugsak het hier ook gesorg vir ‘n wysiging van “rooi en geel en groen amara” na “rooi en geel en pienk amara”. Leon se vele beloftes dat dit ‘n makliker pad is wat nou voorlê, het nie juis inslag gevind nie, want vorentoe het dit dan presies dieselfde gelyk as agtertoe! Plek-plek kon ‘n mens jou selfs verbeel dat dit die Visriviercanyon is met die kranse aan weerskante en klippe en sand oral.

Middagbrood was weer op die ideale plek – aldus tannie Miems, want daar was swemplek. Marguerite en Liesl Holtzhausen het mekaar deeglik daarvan oortuig dat die fyn modder ‘n helsame uitwerking op die vel het. Middagbrood was natuurlik nie by die dam nie en ‘n paar manne is solank vooruit om vir oom Andries geselskap te hou – en dit moes hulle ‘n goeie paar uur doen! Laatmiddag het gesorg vir nog ‘n lyfnatmakertjie, maar dameskamp is wreed ontwrig deur ene Cordier wat daar verbygestap het. Ilma Reyneke, wie het die grootste geskrif – jy of hy?

Toe ons eindelik die dam bereik, moes ons eers vir oulaas swem en dit is toe net hier waar Johnson se bottel soetwyn sy nek breek; kom ons sê maar as gevolg van bewerasies veroorsaak deur die koue damwater. Danksy oom Andries se geduld het ons darem nog ‘n wa gehad om op te ry en het hy nie gery nie. Oppad na Vrede kon ons ons verlustig in die gesig van die ondergaande son wat oor honderde heuweltjies verdwyn het in die weste.

Vrede se vreedsaamheid is donderend versteur deur ‘n skielike reënbui, maar dit kon nie die entoesiasme demp nie en tannie Miems het gesorg dat dit ‘n lekker bedryf bly. Intussen het die kokke en stokers die reuse-varktjops omtrent gaar getroetel en kort voor lank was almal weer buite met die gevolg dat die reën gedwee padgegee het. Vir sommige kokke was die borde net te ver en ‘n skinkbord het dus sommer vir vier borde ingestaan. Die “time-check” het toe ook darem die “final countdown” bereik en die wraak is voltrek. Nog ‘n paar BTKaners weet nou opreg ….

SONDAG:

Feetjies en kaboutertjies het hulle goed van hulle taak gekwyt en Kobus van Zyl se kerkdiens was iets besonders wat tot elkeen gespreek het. Teen hierdie tyd was die Hel-se hitte weer op ons en die kokke en stokers het wel deeglik bewus geword van hulle onbenydenswaardige posisie om die vuur. Danksy Baap Botha en kie se inisiatief het byna al die stookpakkie-draers én die Oros-mannetjies ‘n draai in die dam gemaak – vrywilliglik verplig natuurlik! Die gevolge van die ete was drieërlei van aard – ‘n teleurstellende pitspoegkompetisie as gevolg van ‘n uittartende windjie wat die pitte in die monde teruggedwing het; ‘n bordspin soos min – die arme verloorder is so verswelg deur die stapel borde dat g’n mens kon sien wie dit is nie; ‘n Sondagmiddag-siesta soos wat net die BTK dit kan doen – rustig! Voordat hierdie uiterste toestand van intense rustigheid ingetree het, is dit voorafgegaan deur Elsa-oefeninge soos gedemonstreer deur ons instrukteur Knersus. Die oefeninge was bepaald geslaagd, want daar het nie, soos die tradisie dit wou hê, bakke en bakke vol Elsa oorgebly nie. Om die eerlike waarheid te sê, daar het niks oorgebly nie! Laatmiddag het Jan Slabbert, Pieta le Roux, Hymli Krige en Johan Mostert by ons aangesluit.

Tannie Miems het hier rondom ingrawe-tyd besluit dat die bedryf darem net te rustig is en sy vra toe ‘n spreekbeurt. Haar toespraak, wenke of hoe ‘n mens dit nou ookal wil noem, se inhoud was (aansienlik verkort) die volgende: Die meisies het weggehardloop as die ouens hulle wou skiet en dan het die ou natuurlik agterna gehardloop. Haar wenke het egter geen uitwerking gehad nie en die skietery het meer afgeloop soos ‘n skietstilstand, dit wil sê sagkens. Die opinies het hulle taak se buro ernstig benader en teen die tyd dat almal in die slees was, is al die loslopers vasgetrek. Dit was die aand van die eerste toeriste, maar hulle het darem baie aanmoediging en voorbeelde van die ou toeriste gekry van hoe dit eintlik gedoen moet word. Die spinnies het ons later met paaseiers by die tee verras nadat hulle vroeër die aand die verwagte spinnie-amok veroorsaak het. Ook tydens hekeltyd het hulle heelparty netelike sakies op die lappe gebring!

MAANDAG:

Vandag moes Toorkop swig voor die aanslag. Dié het reeds om kwart-oor-sewe begin. Die drie dames wat die vrede op Vrede sou bewaar het, het deur die loop van die oggend ook vir Oloff Nel bygekry en ek kan raai dat Karlen tevrede was oor hierdie vreedsame oorgawe van hom aan sy griep. En toe doem daar voor ons Leon skielik ‘n pofaddertjie op. “Huh! Tannie Miems, kyk die ou pofaddertjie”. (Broek staan stil, jou baas bewe nie!) Tussen die drie van hulle is daar darem ‘n vreedsame skikking bereik en al die partye het ongedeerd daarvan afgekom (net minus ‘n bietjie adrenalien). Gamebreak het byna uitgeloop op ‘n verbete stryd om die sjokolade, want dit én alles wat lekker is vir middagbrood, was in Jan Slabbert se rugsak. ‘n Mens kan dit net sowel aangesien het vir Koos wat op die Gala saamgedra word! Hoog in die hoogtes wou-wou Ilma Reyneke moeg raak vir die pret, maar toe die res allerhande stoere volksliedere laat weerklink, was dit genoeg om selfs haar gejaagde asem te laat terugkeer. En eindelik – manjifiek! – “Oor ons ewige gebergte, sal die kranse antwoord gee ….” – ons is bo! ‘n Welkome middagbrood is afgesluk. Daar is nog so ‘n bietjie rondgeklouter en toe begin die aftog. Dit was half-drie. Af, af, af – en ver onder lê die twee leë sementdamme. Later trek die Grootbaas sy grys gordyne voor die son en die reënbuie sak in die vallei uit. Ons word ook natgespat, net om af te koel – en ver onder lê die twee leë sementdamme. Elke dan en wan rus ons. Tot dusver het alles nog net te goed gegaan, maar dit is toe net hier wat die “paw-paw die fan strike”. Almal wonder nou nog vir wie Cornell ogies gemaak het, want toe spring sy een ogie se lens mos uit en “come hell or high water” die lens moet gekry word, want daarsonder sal hy ‘n goeie kandidaat wees vir koning in die land van die blindes. Terwyl Leon vir die oogsoekers gewag het, is die res agter Sonja aan terwyl die twee leë sementdamme ver onder lê. Al die bosse van Toorkop is sowaar getoor, want almal maak ‘n mens op ‘n manier seer – dis stekels en haakdoring en sommer net harde, krapperige bossies! Intussen het oom Andries Cronjé sy vragmotor naby die twee leë sementdamme geparkeer en kon dit ons nuwe teiken word. Teen half-sewe kon Kosma eindelik die verrassing met die res deel – ‘n blikkie yskoue koeldrank vir elk! En sowat ‘n uur later kon die agterste ses ook deel in die lafenis. Cornell het toe nie sy lens gekry nie en die res van sy toer het dus altyd ‘n vaal kant gehad.

Op Vrede het die ontvangskomitee (Oloff Nel, Liesl Starker, Liesl van Antwerpen, Karlen Ackerman) ons verwelkom met ‘n “waar wil julle eet? Kan ons maar begin opskep?” Na hierdie spys en drank het almal weer kans gesien om saam met tannie Miems skeepsrot te wees. Jan Slabbert, as kaptein van die skip, het goed aan sy posisie vasgehou. Miskien as gevolg van die goeie samewerking tussen hom en die eerste bootsman? Wie was dit nou weer? Anine de Wet?

DINSDAG:

Rustig opgestaan en opgepak. Tienuur het mnr Nefdt ons opgelaai en by Seweweekspoort gaan aflaai. Intussen het Sonja Wend en Liezl van Antwerpen op Vleiland gaan tjappies soek. Gekry het hulle wel, nadat die winkelomie eers in Kosma se karakter ingeklim het met ‘n “Hierso Boetie, stempel maar self”. Seweweekspoort het vir sowat drie ure weerklink van al wat volkspele-liedjies en plek-plek het die stof behoorlik gestaan van die tiekiedraai. Na ‘n flukse agt kilometer stappie was dit tyd vir middagbrood by ‘n plasie in die middel van die poort. ‘n Donderstorm het die beplande swem kortgeknip en daar is vervaard opgepak en gery na Hoeko. ‘n Mens sou byna kon dink dat die Grootbaas ons uit die poort wou uit hê, want Hy het die emmers water net in die poort omgekeer, en nie een emmer nie, sommer ‘n hele paar! Op Hoeko het dit kort voor lank gelyk asof ‘n nuwe publieke vakansiedag geproklameer is – wasdag! Die aand het ons onder neonligte in ‘n skuur geslee. Die items was min en die gehoor moeg. Die hekels het darem ‘n paar slapendes laat ontwaak.

WOENSDAG:

Na oggendbrood is daar behoorlik skoongemaak en die blikwassers kon in ekstase toekyk hoe die bestuurslede blikke was – miskien ook ‘n paar tips kry! Nog ‘n toer is verstreke is so net voor elf gesing en steeds sal die BTK lank lewe (“come Hell or high water!”).

Sketsskryfster

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui