Weskus: Yzerfontein-Silwerstroomstrand September 1988

Getrou aan die BTK tradisie het ons weer ‘n uur laat vertrek. Aangesien enige pad buite Stellenbosch vir party van ons onbekend is (veral vir Pieta en Ernst) het ons soos ‘n karavaan van kamele tot by Yzerfontein in ‘n konvooi gery.

Kamp is opgeslaan en terwyl die res van ons die aand “deur” die mis verkeer het, het Jan en Anine (?) na ‘n 21ste verdwyn. Ons kos voorrade is dieselfde nag met tien sakkies appels aangevul te danke aan die pragtige sang van die BTK-Strandsangers.

Almal het rustig geslaap, maar Marianne Verster se slaap was minder rustig toe sy uit die hangmat tot in die badkamer onder die wasbakke verskiet het.

Die dag is entoesiasties aangepak met die vooruitsig van ‘n rustige tien kilometer stap, volgens Leon. Tydens ons eerste middagbrood het ons gou uitgevind dat daar nie net ‘n “BTK-tyd” is nie, maar ook ‘n “BTK-afstand”.

Na ‘n geploeg deur die los sand is ons entoesiasme ietwat gedemp, maar met “gamebreak” het die skerpsinnighede van die “Peanut-gallery” (soos Gerrit Kotzé se hare is op die rotse) gesorg vir “sports”. Die “sports” vir die Eerste toeriste het egter daar geeindig toe die “final countdown” begin het. Ha-ha-haa!

Die tien kilometer stap het na sewentien kilometer gerek en selfs die tawwes onder ons was bly om die boer se plaas (Rondeberg) te sien. ‘n Paar brawes was nie te moeg om nog die koue Weskuswater aan te durf nie. Die aand is daar net informeel geslee en na Oom Jurgens se “Nag Dames” is almal moeg-moeg bed toe.

Sondagoggend het die feetjies en kaboutertjies ons wakker gemaak. Oom Jurgens het vir ons kerk gehou en Hans moes as kateder dien en die kampvuur was ons “brandoffer”. Lisa (die vierde kuiken) het die manne gevly met hande vol blommetjies. Die res van die dag is rustig deurgebring, onder andere is “touchies” op die strand gespeel en die brawes het weer net voor middagete geswem! Ons het gesmul aan ‘n heerlike ete, moes werk vir elke happie poeding. Ernst het vir die oefening gesorg!

Die rustigheid van die Sondag is ietwat ontwrig met onverwagse reën wat begin uitsak het. Alhoewel ons nie kon slee nie, het die reën ons nie gekeer om te sing en te item nie.

Party se Maandag het buitengewoon vroeg begin toe hulle tentpenne vieruur die oggend deur ‘n wrede wind uitgeruk is. ‘n Verdere reënstorm het vir nat, slapelose oggendure gesorg. Ons het vol moed ons tente begin afslaan toe ons wreed ontwrig is deur ‘n verdere reënbui, maar die garage van die boer was ‘n droë heenkome (met sy stookketel en al).

So vinnig soos die reën gekom het, het dit weer verdwyn en is die sonbrandolie en “shades” haastig uitgepak! Alles was nou aan ons kant, selfs die strand was hard en het ons teen ‘n vinnige pas Grotte toe gevorder. Net voor middagbrood is die slotte se pas drasties vertraag toe Jaap moes terugdraai na “gamebreak” om sy verlore “boots” te gaan haal. Pieter het intussen al sy sleepille opgeëet! Tussendeur is die eerste toeriste weer herinner aan die “soetheid van die wraak”!!

Ons was net na middagete by Grotte en almal het luilekker in die son gelê. Aandete was nie sonder drama nie. Ernst se groep se kos het al begin verteer, toe Anine-hulle se kos in die bos beland!!!

Later die aand met die volmaan as getuie het vier-en-twintig eerste toeriste ook geweet. Cornell, alias k-k-k-kameraman, het verlig gesug toe daar nie meer ‘n geknor oor sy snor was nie. Daar is verder laat gekuier dié aand!

Dinsdag was die “cherry” op die koek met plate blomme en die verstommende krag van die reusebranders. Dié omgewing het as ‘n perfekte agtergrond vir ons groepfoto gedien.

Na middagbrood het ons vinnig gevorder tot by Silwerstroomstrand (ons eindpunt) wat toe nie so silwerskoon was nie, maar ‘n onidentifiseerbare groen slym/skuim opgelewer het.

Die motors is gaan haal op Yzerfontein en Rondeberg en Grotto en die ander het gewag op Silwerstroomstrand. Vandaar is ons na Melkbosstrand waar ons baie lekker gekamp het met lekker geriewe! Die aand het ons die laaste keer geslee.

Woensdagoggend was die groot oppak en almal het met ‘n tikkie hartseer afskeid geneem van nog ‘n lekker toer. Die Weskus sal altyd ‘n spesiale plek in ons herinneringe beklee!!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui