Transkei-Wildekus Julie 1988

BTK-tyd is ook nie meer wat dit was nie – tienuur Saterdagoggend was die waentjie gehaak en die bus regtig gereed vir die lang pad Transkei toe. Dít was te goed om waar te wees en Charl se rugsak het vir die nodige probleempie gesorg. Die 24 uur-lange rit was maar koud en hard, maar so nou en dan was daar ‘n opwindende gebeurtenis soos die vyf minute sonder tannie Miems in die bus, die Milo (wat meer “lo” as “mi” was) en die doeanebedrywe op die Transkeigrens (dit was minder opwindend!).

Die verligting was groot toe die bus uiteindelik by Dwesa stop. Die ergste Transkei-stof is vir oulaas onder die koue storte afgespoel. Die res van die dag is baie rustig deurgebring, maar vir party was die aanskoue van die gewigtige koshopie wat moes saam gedra word, erg inspannend.

Die aand het al die oud-Paul Roosers hulle hoërskoolloopbane se wel? en weë weer beleef. Net na “Nag Dames” het OB en sy passasiers by ons aangesluit. Toe was dit “go strait” bed toe!

Maandagoggend en die week van pret en plesier lê voor. Toe die rugsakke eers gelaai was, kon almal darem dankbaar sug dat dit net ligter kan word!

Die oggend het ook die eerste van vele riviere opgelewer waaraan ons oorgelewer was om ingelewer te word. Almal was nog mooi entoesiasties so aan die begin van die toer om swembroeke aan te trek en deur te swem, maar hoe later, hoe luier! Sommer so met klere en al deur of bo-op ‘n survival bag is die riviere getem. Die ferri’s het ook al hoe gewilder geword. Kopbeen moes woes roei om almal te akkommodeer, maar later het hy maar net bekommerd staan en toekyk hoe sy bootjie misbruik word. Gelukkig het hy darem verlig geglimlag toe sy bootjie en die nodige “imali” aan hom terug besorg is.

Na die eerste dag se stap het tone weer oortyd gefunksioneer. Die ry pasiënte het drasties korter geword en die toeskouers al hoe meer entoesiasties (byna soos bordspin) toe Roché die spuitnaald vol methyolate begin trek. Met Fried Kroes as amptelike beenvatter is die delikate operasietjies vinnig afgehandel.

Toe ons Dinsdagoggend vanaf Shixini Point wegstap, het ‘n paar ouer toeriste vir hulle caddies gekry om hulle rugsakke vir ‘n kilometer of twee te dra – darem vir ‘n sent of twee! Intussen het Leon Verster die Xhosa-kindertjies se Afrikaanse woordeskat mooi opgeknap. Net jammer hulle uitspraak van “sleepil” het die poging om iets te kry, gekelder.

Tannie Miems se Volkspele-bedrywe was ook gelukkig aan die skaars kant, maar by Keimond het sy opgemaak vir die hele week. Selfs die bierbelastingontduikers het gedink dit te erg om waar te wees. Nie dat tannie Miems nie die heel week probeer het om iemand te laat verjaar nie! Roché moes sy ontwyk-tegnieke vervolmaak, maar op die ou end het die dames hom op pad terug Stellenbosch toe, op die bus gevang – duidelik kon hy nie vlug nie!

Dinsdag se roete na Mazeppa Baai was goed beplan: verby twee terrash’e. So op die gras met ‘n bier-koeldrank en CHIPS is elke verbyganger as ‘n moontlike sleemaatjie oorweeg. By Mazeppa Baai se terrash was die moontlikheid van ‘n warm bad ‘n wonderlike vooruitsig, maar die dames moes haar handdoek oor die skouer afdaal na die koue riviertjie, terwyl die mans maar vuil in die slee geklim het. Hoekom het nie meer aan ‘n privaat bad gedink nie?

Die aand was die aand van die groot wraak! Ja wel …. na koffie en koekies kon almal darem rustig verder slaap.

Woensdag se stappie was soos ou tant Siena. Ons wou nog by Cebe kom, toe is ons al daar. Sommer so ‘n lang gamebreak en middagbrood-sessie aaneen. Die Provita was skaars afgesluk toe dit begin reën. Vinnig is skuilings gebou en onwetend onwettig vuur gemaak – totdat die kampopsigters die verbrande stompe kom wegsleep en geblus het. Die rondawel was ‘n gewilde kuierplek en almal het later daar aangesluit vir ‘n paar items – sommer so staan-staan geslee!

Soos die hele toer, was die natuurskoon Donderdag puik: Dolfyne in die branders, romantiese sandstrandjies, groen inheemse bos teen die blou lug, seegroen riviermondings in die gladde wit sand en die mooi mense om dit mee te deel.

Net voor Kobonqala Point het die kaptein sy skip perfek geparkeer. Die groepfoto is hier by die k-k-k-k-wark geneem.

Die chipsvoorraad was vinnig uitgeput by die Seagull Hotel. Die veerpyltjies en snoeker het ook aftrek gekry voordat ons gaan tent opslaan het in die karavaanpark (los maar die karavaan-gedeelte!). Groep 2 se geselskap was baie gewild (of was dit maar net die vuur wat die deurslag gegee het?). Na ete het almal gesellig sit en kuier terwyl die boom wat Roché afgebreek het, stukkie vir stukkie as geword het. Veral die blare het lekker gebrand?!

Die laaste dag se stap is afgesluit met ‘n lekker rit oor die Keirivier. Net Jaap het kans gesien om ook dié rivier met sy swembroek aan te durf. Op Morganbaai was die beloofde warm storte erg koud en ter wille van oorlewing moes daar maar vinnig gewas word! Die hotel was ‘n gewilde kuierplek die middag, veral toe Pieta en Corrie agter die toonbank inklim om bestellings te neem.

Die aand was dit weer “Bring julle borde en kom Q”. Sonja en Anine het selfs gesorg dat daar Joyce was. Die laaste-aand slee was amptelik half twaalf verby en almal het vir oulaas in die
tente ingekruip om ‘n paar uur later weer uit te kruip.

Weereens het die BTK dekades se tradisies verbreek toe ons al vóór sewe-uur op pad terug was Stellenbosch toe. Nou ja, die terugrit was darem ‘n bietjie korter, maar glad nie slaap bly maar glad nie slaap. Net August met sy hanmatpatent kon ongestoord aan die slaap skommel.

Vieruur Sondagoggend het Dirk die bus langs die Neelsie parkeer en net sestien uur later het ons weer in die Dros gaan parkeer vir ‘n lekker pizza en foto’s kyk ….

…. en terugdink aan wonderlike oomblikke in ‘n wonderlike land!

Ansie Roos

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui