Sederberg Reünie en April Toer 1988

Paasnaweek was reünie-week, waar sestig jaar se BTKaners weer ‘n slag saam kom kampvuur hou het. Donderdag, 31 Maart, het almal en hulle tentjies van laatmiddag af met die Sederberge se stofpaadjies aangedwarrel gekom, en elkeen een van die plaas, Driehoek, se akkerbome geannekseer. Die vreeslike gedagte aan tweehonderd-en-dertig vreemde mense was een van die eerste dinge wat glad nie so skrikwekkend geblyk te wees het nie. Die mense was ‘n soort BTK-bekend, uitbundig en mal. Vrydag en Saterdag het daar daguitstappies na onder andere Sneeuberg, Tafelberg, Wolfbergskeure, Maltese kruis, De Rif, Disapoele en Duiwelsgat plaasgevind. Die mense wat in die kamp agtergebly het, het pouhokke gebou, uitgerus, en hulle sommer net verlustig in die idee dat daar ander mense is wat moet “swot”.

Kampvuuraande was seker die lekkerste, en die hoogtepunt was ongetwyfeld oom Theo se “floppera”. Hy was die “gay Cabelero” en die hele kamp se pragtige, magtige koning. Die “oumense” was nie skaam met hulle items nie, inteendeel, die deurlopende deurklokkie-tema het almal beïndruk. Een van die ander, baie gewilde aktiwiteite was natuurlik die etes – en dit was héérlik! Sondagoggend het ons ‘n diens sommer so onder die vallende akkers gehad, en teetyd het ‘n heerlike koek opgelewer. Die weer was egter teen hierdie tyd nie meer so sonnige self nie, en die effense reën was ‘n uitstekende verskoning vir almal wat lus was vir ‘n middagslapie. Die ouer mense het op hierdie stadium begin vertrek en die aand het maar natterig voorgelê. Maar asof dit nou ‘n lekker ou kampvuur sou keer! En was daar “aaitems”! Tannie Miems het lekker treingery en al die “pro’s” was op hulle stukke!

Maandag, 4 April, was die begin van die huidige lede se Cederbergtoer. Sondagaand se reën en die lae grys wolke het egter ‘n half mistroostige invloed op ons nege-en-twintig gehad. Maandagoggend het ‘n verskeidenheid van vrae en idees en voorstelle opgelewer, en almal is toe uiteindelik – nadat die wa en alles onder tartende nou-en-dan-druppels gelaai is – op pad. Nie stappende nie, maar varende (soos deur ‘n menigte modderpoele) met die bussies na ons eindbestemming. Dan is daar wolke, dan is daar son en dan is daar weer reën. Teen middagete was ons bo-op die Suurvlakte by ‘n skuur. Ons het sommer in die skuur, uit die wind, op die grond, en tussen uie en uie kratte uie, middagbrood gehou. En so tussenin nog gaan soek na verlore agtergeblewene toerlede.

“Stap nou”-tyd was eers teen half drie en ons het moedig agter oom Tjaain-hulle in die rigting van Apexpeak uitgevaar. ‘n Impromptu-toer, want die oorspronklike een was op hierdie stadium ietwat buite die kwessie. Hoër op in die berg het dit egter hoe later hoe kwater hoe donkerder hoe kouer geword. Tot ons later tussen sulke soplepel-druppels begin drafstap het, op soek na kampplek. Die weer het ons gelukkig ‘n rukkie gegun waarin daar maar half vinnig tent opgeslaan is, en die kosgroepies redelik aktief by hulle gasstofies betrokke was.

Hier teen die einde van aandete het die eerste van etlike storms ons getref, en binne oomblikke se skarrel was daar net tentjies in die wit van die weerlig. Nadat die eerste reën bedaar het, is ons uitgeboender sodat daar gou “dringend” ordentlikheidspraatjie gehou kon word. En tot die eerste toeriste se opregte teleurstelling moes die wraak tydelik uitgestel word. Ons het in ‘n bondeltjie aandgodsdiens gehou, en toe dit nie dadelik weer wou reën nie, het tannie Miems dit as haar vreugdevolle plig beskou om ons te vermaak (of eerder te “bedryf”).

Dinsdagoggend was half mistig, maar dit het die papkokers nie gekeer om van vroeg af luidrugtig met hulle houtlepels te verkeer nie. Dit was koud-koud-koud en nat-nat-nat en groep een se mattabellepap het ten spyte van lojale aanmoediging ietwat vloeibaar gebly. En op daardie heuglike dag het Jaco Moelich (alias Brand Louw) nog verjaar ook! Die son het darem weer naastenby geskyn toe ons na ‘n vinnige uitkenningsparade begin stap het. Bo-op die vlakte het almal hulle rugsakke gelos en Apex-peak uitgeklim. Dit was singstap en lekker, en bo gekom het jou asem behoorlik in die ruimte en rotse en ver in verdwyn. Die terugstap skuur toe was vinnig, en daar aangekom, het ons lekker nes geskop in die stof. Na aandete het ons in die hoek van die skuur ‘n vierkantige sleekring uitgelê en die nuwe toeriste is onder andere die aand gewraak. Die reën op die sinkdak het ‘n hipnoties-sluimerende invloed op die meeste mense gehad en na “nag dames” en ‘n stoftrek en skuiwery het almal, tot bedaring gekom.

Woensdagoggend moes ons omtrent ‘n soektog na die bussies in die digte mis loods, en is eers teen half tien weg. Modderpadlangs huis toe, na ‘n verrassingtoer met baie atmosfeer, lag en lekkerte!

Sketsskryfster

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui