Drakensberge 1987

Die “sports” het al op die toervergadering begin waar ‘n man van Natuurbewaring die sleepilvoermasjien bekend gestel het. Na berekeninge is gevind dat dié masjien se voertempo van leeg ná ‘n uur hopeloos te onekonomies is vir ‘n rugsaktoer!

Verder is ook besluit: Twaalfuur Vrydag voor Bethlehem se polisiekantoor. Nou na, vanuit soveel rigtings, soveel stories! Donderdagaand, nege-uur het die amptelike BTK-vervoer en Johan van der Vyver se kombi van die stoor af vertrek. Saam met Chris de Burgh en Chris de Burgh en Chris de Burgh het die lang pad voorspoedig gekrimp. Kobus Stoeder se bussie was egter tien kilometer buite Senekal heel moeg gery en Kobus moes terug duimgooi (gelukkig is hy nie melaats nie!) Senekal toe om olie te gaan haal. Intussen het Johan se kombi al nege-uur voor Bethlehem se polisiekantoor parkeer. By die inligtingskantoor het Jannie T. die dame aan diens laat bontstaan om vir Danie T. (eintlik sy bed) op te spoor. Die soektog was onsuksesvol en ons is toe, toegerus met drie kaarte en vele inligtigingstukke, verwys na Mike’s Kitchen vir koffie en beskuit. Die beskuit was verskaf deur die O.K. oorkant die straat!

Vanuit Malawi en Pretoria het die getalle aangegroei (en min of meer in dieselfde verhouding die aantal wagte voor die polisiekantoor ook!) totdat Barry tevrede was dat almal, behalwe dié wat later sou aansluit, wel daar was. Toe nog net die laaste stukkie: Witsieshoek toe! Dit was ‘n interessante pad. Eers die mooi natuurskoon van die Golden Gate en toe die entoesiasme van die adverteerders in Qua-Qua.

Die middag het ons ons gerieflik tuis gemaak in die klaskamers en saal van die plaaslike Teologiese skool, met manskamp agter die verhoog en dameskamp bo-op die verhoog. Internasionale sportbande is gesmee toe die besoekers ver by die tegniek en beheer van die plaaslike sokkerspan afgesteek het. (Ter versagting – hulle was darem tien meer!) Na die aand se gebruiklike “hot dogs” en koffie, het ons nog vinnig hekeltyd gehou. Oelof Nel was heel onkant gevang toe hy moes verduidelik wie soos Anneline Kriel lyk. Na “Nag-dames” het almal in die luuksheid van die klaskamer gaan nesskop.

Saterdagoggend toe dit nog baie donker en baie koud was, het ons opgestaan en reggemaak vir die dag se stap – Mount aux Sources. By die punt waar ons moes begin stap, het Albi en Marna pas ontwaak! Sommer die nag daar in die motor deurgebring. Dis merkwaardig dat Theunis en Ria wel die Teologiese Skool die vorige aand in die donker kon opspoor, nie waar nie Albie? In elk geval, min of meer vasgevries het ons die kontoerpaadjie na die leer aangepak. Net bokant die leer het ons gamebreak en ordentlikheidspraatjie gehou. Byna het die Babelse verwarring

‘n Babelse verleentheid veroorsaak. Albie en Marna het klaarblyklik ‘n goeie nagrus gehad, want hulle het geen perke op die Tugela-rivier geken nie. Elke beskikbare gevriesde poel is gereüneer tot voordeel van Ernst se groep wie se billie toe ‘n deksel gehad het.

Die uitsig by die amfiteater was ongelooflik. Daar het Danie T. skielik groot bewondering vir sy ouma-grootjie se kaalvoete gekry. Ons het middagbrood daar gehou en toe is ‘n entoesiastiese klomp saam met die moedelose Barry tot by Mount aux Sources se baken. Tannie Miems het nie van haar tuisgebakte koekies saamgeneem nie, dus was die teleurstelling maar groot. Die res wat bokant die leer gewag het, het later stuk-stuk begin terugstap na die hitte van die bussies.

Toe ons daar aankom, was Naas Botha net besig om die bal te stel. Dit was hoog, suiwer en oor! So hangende aan die vreemde Tukkie se motor het ons die Noord-Suil-stryd met die een oor gevolg.

Toe almal uiteindelik onder was, het ons terug gery Witsieshoek toe. Op pad het Johan van der Vyver en Kobus Stoeder Qua-Qua se bestuurders foutloos nageboots. Toe die verkeerslig rooi slaan, sien jy net stof staan soos hulle slap links oor die sypaadjie koers kies. Selfs dié haastige draaie was nie genoeg om die sokkerspan betyds vir hulle kragmeting terug te hê nie!

Die aand, na ‘n lekker stukkie gesing, het die dames weer hulle klaskamers beset terwyl die manne in die saal versprei het. Ek sou ook eerder die sang van Ernst C. en Louis N. bo die saag vanuit die klaskamer langsaan verkies – al beteken dit dan ook om op die nagmaaltafel te slaap. Daar is dan ten minste genoeg plek vir die billie om in te pas!

Sondagoggend het die feetjies en kaboutertjies koffie en beskuit in die bed bedien. Ons kon ‘n bietjie later opstaan en het toe Kerk gehou in die saal. Nog steeds het die kampers en Transvalers stuk-stuk aangesluit. Daarna was dit vinnig opruim en Monk’s Cowl toe. Die middag was almal heel bedrywig: die tente is opgeslaan en kos is uitgedeel. Met hartseer oë het elkeen na sy hopie voorrade gestaar wat net groter en swaarder geword het. Veral die rogbrode was ‘n gewilde item wat jy nié op jou hopie wou sien beland nie!

Die aand het Piet Muller, Knersers, Tannie Miems en Tannie Miems se papier ook aangesluit. Net daarna het die Stokers! begin uikyk en Barry het die fluitjie geblaas vir min of meer die eerste en laaste slee van die toer. Die eerste toeriste kon op ‘n goeie afstand vanuit die Batchie-slee sien hoe die dinge gedoen moet word – dis nou sleebou en item! Die wraak is ook afgehandel en na ‘n beker “Hot Chocolate” was dit “Nag dames”!

Maandagoggend het almal gesteier onder die gewig van die rogbrode en tente. Net voor ons begin stap het, het daar ‘n onverwagse wending in Groep 5 se strategie gekom. Betsie Murray het Hennie Botha se verkoue oorgeneem en hulle moes dus ongelukkig terug Pretoria toe. (Ek skat die week in die Champagne Castle Hotel was toe darem heel aangenaam) Uiteindelik was ons op pad na Stable Cave!

By middagbrood het Tannie Miems se sports al begin toe sy en Albie elkeen ‘n billie in die hande gekry het. Oom Tjaain het toe nog mooi stil gesit. ‘n Rukkie na middagbrood het die gebruiklike eerste-dag-verdwaal begin. Die hou-links-dis-makliker-paadjie was toe die draai-om-of-soek-roete! Jy is vergewe Leon Verster! Terug op die regte pad, was dit nog net so vyftien minute tot by die grot, maar na veertien minute en etlike sekondes was dit eers gamebreak! Die plek was ideaal vir volkspele maar selfs Tannie Miems was te haastig om by die grot uit te kom.

Dit was toe eintlik ‘n bakkrans en tent opslaan was onnodig. Die mans het egter baie harder werk gehad: Die water is van o-o-o-onder in die vallei af gehaal. Hulle is darem beloon met water om in te bad. Van die dames se kant af het dit fyn beplanning gekos om met ‘n beker water skoon te kom!

Die aand is daar nie geslee nie. Elkeen het maar nes geskop waar dit hom gepas het. Die gesellige aand is amptelik afgesluit met hekeltyd, aandgodsdiens en “Nag dames” en nie-amptelik met nog so ‘n ou enetjie oom Theuns!

Dinsdagoggend was die mans darem nog almal met ons. Die wind het nog steeds stormsterk gewaai en byna die noodlot tot gevolg gehad toe Albie agter sy billie aan is. Hy het wyslik besluit dat groep 1 net so goed met vier billies kan regkom. By gamebreak het almal uitgeput neergesak, maar Tannie Miems was weer knaend aan die probeer om iemand te aktiveer. Groot was die verbasing toe oom Tjaain ewe skielik opspring en haar kolskoot met ‘n beker water tref. Oom Tjaain moes toe net rats rondspring om sy verdiende loon te ontduik. Nou ja, toe elkeen besef hy kan nou niks natter nie het hulle besluit om vrede te maak. Jannie T. se kommentaar op die geveg: Doop ‘n Ouma!

By middagbrood het ‘n paar dames vinnig gebad voor ons die steil pad na Leopard Cave aangepak het. Heel bo was daar ‘n lekker lang knie-knakker. Tannie Miems en haar papiere het dit goed genut. Net voor Barry wou sê “stap nou” het al die dames eers bymekaar gekom. Jannie T. het homself vermom, seker om sy keuse van Oelof Nel voor te stel.

Die res van die pad tot by die grot was oor grasheuwels. Toe almal skielik stop en afsaal was daar geen grot in sig nie.

Ons kamp toe maar bo-op die grot! Dié keer was daar oorgenoeg water vir ‘n slegte, koue bad . Die mans was verheug oor die goeie posisionering van mans- en dameskamp, want met die baddery bo die waterval, was dit nie meer nodig vir seepsmeer onder die waterval nie.

Die volkspele-sessie van die middag is voortgesit na ete. So stuk-stuk het almal verdwyn om nie-amptelik te gaan slee. Die volkspele het geëindig toe Tannie Miems, in Barry, Ernst en Jannie se slee geklim het. Die getalle het aangegroei en daar in die koue het ons gelê en wag vir ‘n item. Jannie het dié keer vir Tannie Miems genader om almal ‘n bietjie op te warm. Toe die plat hond en die “bull dog” so bo-oor almal baklei, het Piet M. gesorg dat hy vir Tannie Miems goed opwarm met sy plakkie.

Toe alles rustiger word het ons in verwondering gelê en kyk hoe die maan opkom – ‘n grootse ervaring! Hierna het almal genael vir hulle tente om so gou as moontlik in ‘n warmer slaapsak te spring.

Woensdagoggend het Knersers gou ‘n T-hemp opgeveil, maar toe rogbrode aangebied word, het hy dit maar eerder laat vaar. Gelukkig het Tannie Miems en die slange en spinnekoppe ‘n goeie nagrus in die …. sloot gehad, sodat sy darem die skok van die skielike verjaardag kon verwerk! Wasn’t it a sad and solemn occasion, Ouma Miems?

Toe ons begin stap, toe stáp ons. Reg of verkeerd solank jy net nie soos die slotte algehele wantroue in Oom Bethel en Barry plaas nie. Na dié ompad het die slotposisie taamlik gewild geword. Toe ons uiteindelik op die kontoerpaadjie kom het die kilometers vinnig verby gevlieg met gamebreak en middagbrood in die enigste twee klofies wat water gehad het. Op ‘n stadium het Swannie, Sarel R. en Albie S. se knieë en enkels lam geword. Wie het dan op daardie stadium voor julle gestap? Goed Dankie T., ek weet dit was nie ek nie! Toe ons op die nekkie kom het die hele dag se stap agter ons uitgestrek gelê. Van daar af het ons Rolux Magnum gespeel deur die lang grasse tot by die rivier.

Ons het eers verby al die lekker badpoele gestap tot waar daar net rivierklippe was, voordat ons afgepak en tent opgeslaan het. Die dames het gou in manskamp gaan bad voordat daar kosgemaak is.

Die aand het ons weer nie geslee nie – almal het net op ‘n hoop gesit terwyl Danie T. ons vermaak het met sy tande (of liewer, sy kadawer se tande). Die sewe dwergies was ook heel aktief.

Donderdag was daar baie variasie op die tema. Die gewildste keuse was Champagne Castle, terwyl party die heeldag gebad en tee gemaak het en Leon Verster (leier), Cathy Rabe en Danie T. (slot) Gatberg gaan klim het.

Aan die voet van Champagne Castle het almal vir oulaas goed gerus toe Barry-hulle water gaan haal het. Van daar het die láng, steil klim voorgelê – glo net ‘n skamele twee kilometertjies! Gamebreak was ‘n wonderlike belewenis! Om plat te sit was nog nooit só aangenaam nie. Daarna het nog net Gray’s Pass voorgelê en toe was die pad GELYK! Hier en daar was blertse sneeu, maar die gevriesde rivier het nie geweet wat hom tref nie. Die waaghalse het eers braaf die dikte van die ys bepaal en toe was almal by. Die ys is my ys, die ys is jou ys …. dit was iets om te beleef: sokkie, volkspele, koning, treintjie en val! Piet M. en Knersers het gou hulle reënbaadjies aangepluk en die pikkewynduik vervolmaak!

Daarna het ons aangestap na waar die rivier na onder stort! Daar het ons dinge gesien en ervaar wat geen foto kan vasvang en geen woorde kan beskryf nie. Na lang stiltes van bewondering en waardering het ons middagbrood bokant die gevriesde waterval gehou. Ewe skielik was die twee bottels sjampanje ook uit en oop en ons kon drink op Anna Brand se 21ste verjaardag.

‘n Splintergroepie onder leiding van oom Bethal het solank begin terug stap kamp toe, terwyl die res na Champagne Peak toe is. Die sneeu het meer geword en Annie en Willem C. moes meer en meer koes. Heelbo is daar ‘n sneeuvrou? gebou met Tannie Miems se rooi mus op.

Mean while, back at the range …. Dit moes min of meer in dié tyd gewees het dat Albie vir Swannie geroep het om die daguitstappie mee te maak en die natuurfrats te aanskou. Almal was al skoon gebad en die kos was al min of meer klaar toe dit donker word. As dit nie so koud was nie, sou ek gedink het dit is Kersfees, met al die gaslampies in die bome (sodat die spul in aantog nie sou verdwaal nie). Al was dit hóé donker sou ek beslis nie weer berg-op nie!!

Hulle was toe darem al in die rivierloop toe Barry die flitse te voorskyn bring. Whalla! So stuk-stuk het hulle darem in die kamp aangekom. Die aand het Knersers, Danie T. en Danie T. se tande ononderbroke vir twee uur lank geitem terwyl die (noot) kreet van toe af begin funksioneer het!

Vrydagoggend het Jan-Louis, Pieter, Wessel en August vroeg aangestap om solank August se motor padwaardig te kry vir die terugtog. Toe moes ons nog al hulle orige sleepille ook saam dra! Die res het ‘n bietjie later geslaap en toe vinnig op, ontbyt geëet en tent afgeslaan om omtrent ‘n halfuur vir José te wag. Toe ons almal gereed was en Andrew gou sy stewels gepolitoer en gepoets het, het ons begin terug stap na Monk’s Cowl.

Ons het vir oulaas middagbrood byna in Monk’s Cowl gehou. Albie het ook vir oulaas vir Tannie Miems laat hardloop met behulp van die krappie. Tannie Miems het self nie op haar laat wag nie:

Danie T. en Knersers se snorre het twee gekom. Soos een man was die stokers bymekaar: Dit is nog net x uur, y minute en etlike sekondes! Soos net ‘n getroue Naas-ondersteuner dit kan nadoen het Tannie Miems braaf verklaar dat óns nie bang is nie!

Philip H. het as amptelike fotograaf vir die groepfoto opgetree. Nou ja, die geleentheid moes seker baie uniek gewees het om jou driepootstaander vyftig kilometer daarvoor saam te dra!

By Monk’s Cowl het almal gou onder die stort deur gedraf voordat ons terrash toe is. By die Champagne Castle Hotel kon ons darem ons nekdoekies laat stempel in die rondaweltjie voordat ons moes verder soek na ‘n terrash wat sy naam werd is. By die Nest Hotel het Bethal fluks rond gedraf om almal tevrede te stel.

Op oom Theuns en tannie Leonie se plaas was oom Bethal-hulle al ywerig aan die vleisbraai. Daar het die stokers vir tannie Miems gegryp en aangesleep manskamp toe. Van ons aan die kleinhuisie: dit is nog net etlike sekondes!!!

Johan van der Vyver en sy kombi het net na ete gery. Die res het hulle reggemaak vir die laaste SLEE!! Piet, Knersers, Danie T. en Loen het gebatch en die hele aand se vermaak verskaf.

Tydens hekeltyd moes Swannie sy waarneming as ooggetuie beskryf. Hy het maar net ‘n nootkreet gegee!

Saterdagoggend het Barry ons mooi beskaafd wakker gemaak – die tyd was minder beskaaf! Na ‘n koffietjie en beskuit het ons in die pad geval. Die bussies wat meer suksesvol as André R. se Golf. (Ek sou ook gaan staan het as ek daardie vrag moes dra!) Op Bethlehem het die inwoners weer ‘n interessante dag beleef. Piet en Knersers en die Ester Lategan-koffertjie het vir oulaas hulde aan Albie gebring en toe is daar by die fontein gamebreak gehou. Die game was op, toe moes hulle maar koffie maak. Intussen was Leon Verster se poging om geld in te samel onsuksesvol. Miskien moes jy eerder jou hoed gebruik het.

Na étlike ure het almal darem veilig op Stellenbosch aangekom.

Die toer is afgesluit met ‘n gewag voor Mike’s Kitchen en ‘n gewag in Saint Geran. Die gaskunstenaar is desperaat nader geroep om ons solank besig te hou terwyl die kombuispersoneellid sy storie moes ken met die skielike bestellings. Nou ja, daar was ten minste ‘n pepermentjie vir elkeen.

Ek dink almal stem saam. Dit was puik – ‘n stukkie van jou lewe wat niemand sal kan verander of wegneem nie. Dankie aan die sestig wat dié toer so spesiaal gemaak het!

Ansie Roos

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui