Hel Maart 1986

Laat Donderdagmiddag, 27 Maart, het dit woel al begin woel, maar volgens BTK-tradisie is die 3 bussies (met Barry, Ninkie en Riaan aan die stuur) eers oor ses weg, in plaas van die geskeduleerde vyfuur. Dit het baie voorspoedig gegaan tot ‘n sjarmante, absoluut gesofistikeerde blonde bom van ‘n polisie-vrou vir Ninkie van die pad af laat trek het.

Eers het sy gevra hoekom die bussie so vol was en toe waarheen hy op pad was. Die wind was uit haar seile toe Ninkie antwoord: “Op pad Hel toe.” (Dit is seker hoekom die bussie so vol was.)

Na ‘n hele paar uur se ry kom ons toe op Pieter se plaas aan. Daar is ons baie warm ontvang. Die tee, koffie, beskuit en toebroodjies het klaar reg gestaan en daar was ‘n lieflike gastehuis vir die dames alhoewel party sommer buite geslaap het.

Vrydagoggend het dit soos ‘n bynes gegaan. Na oggendbrood is die voorrade uitgedeel en almal het gou nog hul laaste ou goedjies ingepak. Voor ons ry het die walaaiers hul eerste waarskuwing aan die ET’s gerig. Daarna het Pieter ons met sy vragmotor na die beginpunt geneem. Die oggendbrood was blykbaar nie genoeg vir Danie nie. Hy het dit toe maar met ‘n lekker vars padda aangevul. Daarna het ons uiteindelik begin stap. Nadat ons seker 100 maal oor die rivier moes gaan, was dit uiteindelik “gamebreak”. Jaap het van die geleentheid gebruik gemaak om eers te swem. Nadat ons nog ‘n paar maal die rivier gekruis het, het ons middagbrood gehou. Die uitsig oor die vallei was asemrowend. Na middagbrood het dit weer van klip tot klip gegaan.

In die Hel is ons deur ‘n sandstorm begroet. Almal was vol sand, maar nie eers dit kon ons gees demp nie, want ‘n paar honderd meter verder het ons op ‘n lieflike stuk gras gerus. Die wat nog krag gehad het, het ‘n bietjie volkspele gedoen. Dit was net om ‘n foto te neem om vir tannie Miems te wys. Die plaas waar ons sou slaap behoort aan ‘n huursoldaat uit die Kongo, aldus Ernst. Daar was geen water na die stofbad nie, maar dit het niemand gepla nie. Na ete en ‘n kort preek het ons gaan slaap, elk onder sy eie boom of bos.

Saterdagoggend hou ons oggendbrood op die sementstoepie. Tone was ook vroeg op hul pos om te lap en te plak waar nodig. Arme Jeanette se voete het die meeste deurgeloop. Nadat ons die Kongo-man bedank en gekoning het, was ons weer op pad. Ons stap verby nog Hel-bewoners en teken ook die besoekersboek. Die asemrowende uitsig na die opdraend het alles die moeite werd gemaak. Die finaliste vir die mej. Lorelaai-kompetisie word ook aangekondig. Hulle is: Lea-Ann, Joyce en Priscilla, Lee-Ann, 1ste prinses, Joyce, en die wenner was Priscilla.

Na die pittige sêgoed van die “peanut-gallery” pak ons die veelbesproke leer aan. Priscilla het darem toe nie donkie-ore gekry nie. (Wonder of sy dit nou al vang?) Na baie sig-sag-stap is ons uiteindelik die Hel uit – wat ‘n verligting.

Ons hou toe middagbrood en ordentlikheidspraatjie en stap tot by die vragmotors. Op Roux-pas aangekom groet Gerhard sy vrou met ‘n soentjie, almal “Q” en volg sy voorbeeld.

Ons stort heerlik – in warm water – en bewonder Gerhard se lieflike Kaaps-Hollandse huis. Die eerste ingrawe was iets om te aanskou. Die ou gesoute manne het met vertroue ingegrawe terwyl die ET’s maar gevoel-voel het. Ek wonder hoekom was Fanie so bek-af oor die feit dat hy moes batch.

Na die slee-bouery is hulle (die ET’s natuurlik) uiteindelik ge-WRAAK. Dit het hulle ook net-net oorleef.

Sondagoggend is almal deur feetjies en kaboutertjies wakkergemaak. Die weer het opgeklaar en die res van Sondag was heerlik. Oom Bethel het ‘n diens gehou en die oggend is lui-lui deurgebring.

Joyce en haar kokke se middagete was uit die boonste rakke – en die Hel-poeding was die “cherry” op die Hel. Barry het later selfs op sy rug gelê en eet en almal het ‘n vinger in die “pie” (of was dit ‘n lepel in die poeding) gehad om hom te help voer.

Towerkop was Maandag op die program en dit was geen grap nie. Die steiltes het ons behoorlik klaar gehad. Die uitsig van bo af was betowerend – geen wonder hul noem dit Towerkop nie. Ons herinnering is eers deur ‘n groepfoto verewig voor ons die aftog aangepak het.

Met ingrawe-tyd grawe Danie by ‘n meisie in, maar Barry spring hom voor en skiet haar, en Riaan batch vir die soveelste keer. Die slee was ‘n ernstige gedoente met die seekat-van-glas-plaat-verwyderaars en so aan.

Dinsdag na middagbrood het ons in ‘n yskoue poel geswem en Jaap het die swem die meeste geniet. Met die terugstap stop ons tien tree van die eindpunt af vir “game-break” maar wie kla nou?

Daardie aand was die ingrawery iets uit ‘n ander wêreld, want voor Barry die fluitjie blaas moes die slee’s eers gebou word. Hoe dit werk weet ek nie maar selfs die meisies het help bou. Verder was dit mos laaste aand en ons het tot laatnag geslee en die items was uit die boonste rakke.

Woensdag, dit is die laaste dag en na oggendbrood word daar tente afgeslaan en ingepak. Na ons vir Joyce geluk gewens het met haar verjaarsdag, moes ons vir Gerhard-hulle groet. Die oggend stap ons deur Seweweekspoort. In die kloof wat Pieter vir ons gaan wys het, het ons geswem, maar die water was baie koud. Terug op Gerhard se plaas het ons gou droog gaan aantrek en toe in die pad geval. Riaan het gery asof die duiwel op hom was en het dus natuurlik eerste op Stellenbosch aangekom. Hulle het die res met ‘n baie oulike liedjie verwelkom.

Daarna was dit afpak, wegpak en groet. Nog ‘n puik toer was verby.

Sariaan (namens die Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui