Sederberge September 1985

Dit is met groot afwagting dat ons klompie so vyfuur se kant Vrydagmiddag, 20 September by die Neelsie vergader. Na ‘n groot pakkerasie, hou die BTK by hul tradisie en ons vertrek eers na ses – gelukkig was dit darem nie hierdie keer Kobus se skuld nie! Riaan, Priscilla, oom Theuns, tannie Suria, Josua, Hannes, Jassie en Francois is vooruit om die kampterrein ‘n bietjie te verken voordat die ander opdaag.

Kobus bly egter maar ‘n ongeluksvoël, want tussen niks en nêrens gaan sy bussie sonder petrol staan. Eers laat die aand is almal verlig in die kamp en Priscilla se warm sop en brood is ‘n hoogtepunt! Teen die tyd begin die mense mekaar ken en ou verbintenisse is ontdek – dis nou Nelmari en Engela, hulle ma’s het blykbaar dieselfde kêrel gehad, of so iets! Almal is daarna maar gou bed toe, want ‘n lang dag het voorgelê.

Saterdagoggend is ons vroeg-vroeg gewek met die bekende: “Opstaan ons eet oor ‘n kwartier!” Met die innerlike versterk is ons die berg in. Dit was seker die interessantste en mooiste uitstappie van die toer. Die ruwe skoonheid van die rotse en skeure het ons almal voorwaar bekoor. Vir party mense was die uitstappie moeiliker as vir ander en dit was veral die gróót manne wat so hier en daar gesukkel het om deur nou gangetjies en skeure te kom. Die ouens moes ook maar kort-kort ‘n handjie bysit om die skoner geslag oor die moeilikste dele te help.

Net voor middagbrood het ons die Boog bereik en daar en dan moes ons vir die groepfoto “pose”. Dit was ook hier waar die eerste-toeriste hul éérste waarskuwing gekry het. Ek moet sê hulle gesigte het boekdele gespreek. Na middagbrood is ons met ‘n styl afdraand terug na die kampplek. Priscilla het ons met haar vrolike BTK-uitrusting ingewag en ons klomp kon nie gou genoeg in die rivier spring om ‘n bietjie skoon te kom nie. Na die baaiery was ons net reg vir die aand wat voorgelê het.

Na ‘n heerlike aandete was dit ‘n gewoel en gewerskaf om die sleë gebou te kry. Die nuwe toeriste het die storie beskou en daar en dan ook aan die werk gespring – Faan-hulle se slee was maar ‘n bietjie wankelrig, maar hy het gehou! Barry en Pieter Kriel het die aand opgevrolik met hul items.

Sondag is ons op die tradisionele wyse wakker gemaak deur die Feetjies en Kabouters, met koffie en beskuit in die bed. Dit was toe ook ‘n baie besondere dag, die dag van 22 September – onse eie Barry het verjaar en hy is op die BTK-manier behoorlik geluk gewens. Na die petalje is ons na die Stadsaalgrotte waar Johan ‘n baie mooi diens gehou het. Ons het ook die Boesmantekeninge gaan besigtig en party mense het baie tuis gelyk in die omgewing!

Middagete was ‘n absolute feesmaal met hoender en Elsa. Voor ons egter kon wegval aan die Elsa, het Piet ons eers die beroemde Elsa-oefeninge laat doen – ek gaan dit nie beskryf nie, want ‘n mens moet dit self beleef! Na middagete was daar ook ‘n bordspin en Louis het die ou speletjie “gewen”. Die res van die middag was ons eie en almal het dit baie rustig deurgebring.

Sondagaand se verrigtinge het eers laat begin, want Barry-hulle moes die bussies na die eindpunt neem – die Opel loop ook blykbaar nie te vinnig nie! Ons klomp by die kamp was egter nie een oomblik verveeld nie, want Piet het ons ingelig hoe ‘n mens nou eintlik met kanaries werk. Vir die eerste-toeriste het die gevreesde oomblik ook uiteindelik aangebreek en weer eens het die wraak sy slagoffers geeïs – soos oom Theuns seker sal getuig! Ek moet sê die groep eerste-toeriste het die hele storie baie braaf en heldhaftig hanteer.

Maandagoggend het ons vroeg-vroeg opgepak en letterlik in die pad geval. So gaandeweg deur die dag het die weer begin versleg en so teen die middag se kant het die eerste reën ons oorval. Gelukiig was ons al by die Maltese Kruis en ons het dadelik kamp opgeslaan. Die kosmakery was die aand maar ‘n deurmekaar spulletjie. Gelukkig vir groep drie het Kobus ‘n neus vir ‘n warm, droë plekkie en ons het ons kos droog-droog gaan gekry. Joyce was op ‘n stadium egter ‘n bietjie bekommerd oor die voorkoms van haar Toppers, maar soos die spreekwoord sê: eind goed, alles goed. Onnodig om te sê, maar ons groep het heerlik geëet. Daar was geen sprake van slee die aand nie en sommer vroeg was almal binne-in hul slaapsakke.

Dinsdag het nog reën en koue gebring en weg was ons hoop op mooi weer. So in die nattigheid het ons tent opgeslaan en na ontbyt het ons gou in die pad geval. Ek dink almal sal met my saamstem dat dit een van die koudste en natste dae van my lewe was. Ons kon nie veel van die natuurskoon sien nie, want die mis was te dig. Gelukkig het Barry nie baie langs die pad gestop nie en so drie-uur se kant het ons met groot vreugde die bussies bereik. Ek dink ons almal skuld Barry en Josua ‘n groot dankie omdat hulle ons veilig teruggebring het. Na ‘n kort beraadslaging het hulle besluit om ‘n dag vroeër terug te keer. Ek dink dit was tot die manne se spyt want hulle het toe hul damesskiet misgeloop! Ons sal maar later daarvoor moet opmaak.

Daar sal met baie mooi herinneringe aan die toer teruggedink word – baie dankie aan almal!

Madeleine Smit

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui