Wildekustoer Julie 1981

10 – 19 Julie 1981

Ons gaan vêr ry
tot in die Transkei
Hordes wil saam
maar moet maar bly,
want net vyftig kan gaan
en so kon ons uiteindelik ons ry kry.

Vrydag, 10 Julie:
So vertrek ons dan ook die oggend die gebruiklike wyletjie later uit Stellenbosch as wat beplan is. Almal se paspoorte of Identiteitsboekies is “nie op die bus nie, in die bus” en ons laat Stellenbosch agter. Ons is ‘n ordentlike getal twee liter bottels ryker.

Soos die kilometers minder word, word die mense meer en toe ons die laaste vars lot op Cradock koning en oplaai, skop almal nes vir die laaste skof se dood-alia en ons ry die donkerte in Umtata toe.

Saterdag, 11 Julie:
Vieruur is ons op Umtata. Hauwk! Groot plek met banja liggies, en nog te donker om veel mense te sien. Al wat nou belangrik is, is dat Port St Johns drie uur se ry ver is en, vir die busbestuurder-aan-diens, dat so ‘n enjinkap darem lekker warmte verskaf.

Met die ronde-bergies wat stadig sigbaar word in die oggendlig, kreun die bus om die laaste Transkeipad-haarnaalddraaie en ons draai af in die Munisipale Kampeerterrein van Tweedestrand in. Oë word gerig op besittings en horlosies, nie noodwendig in dié volgorde nie, want almal is ook maar goed deur die mis. Toe ons stilhou staan daar vyf vars mense reg om ons te verwelkom. Deon, Betsie, Alet, Ilse en Pierre. (Pierre al ‘n goeie twee weke met ‘n af arm, van Rugby sê hulle, maar ons wonder maar net. As Welkom deesdae al nader aan Stellenbosch kan kom, kan ‘n man seker arm-af ook raak.) Hierdie vyf mense het reeds ‘n week se Transkei-grond onder hul stapstewels, maar ook net daar, want Tweedestrand se Munisipale Kampeerterrein het warm storte!! Met hierdie ontdekking word die bus vinnig ontruim. As daar darem twee sulke wonderlike gedagtes soos skoon en slaap in ‘n man se kop is dan gebeur die dinge vinnig. Die kampterrein word verdeel, die wasblokke se skoorstene trek rook en die vensters stoom toe. Die res van die dag hou net middagbrood, dalk-dorp-toe, spuitgat-vir-die-wat-wil en slaap en veral slaap in. Erens tussen-in word voorstellingsparade gehou en kos uitgedeel en ons hoor kreune van marshies wat onnodig plomp is en blikkies kos wat oorbodig vindingryk is. Maar kosma Ilse en haar kosdogters weet: ons gaan nog bly wees …. Ons eet ons laaste grootpot kosse en Deon waarsku vir oulaas teen die twee- en vierbeen honde wat so kos steel. Ons gaan kruip almal dadelik in, want môre is ‘n lang dag. Dit was toe ons eerste en enigste klam aand gewees. Vir sommige tentloses was die wasblokke ‘n uitvlug, vir meeste Klaas Vakie se towerstoffies, want hulle het eers in die oggend met die wakkermaakklanke van “Oh, I love the Rainy Night” besef waaroor Johan so kla.

Sondag, 12 Julie:
Vandag ry ons totdat ons nie meer kan nie en dan stap ons. Ons vertrek halfnege vanaf Tweedestrand. Die ou grote bus het moeisaam op die pont by die Umzimvuburivier geklim; Umzimvubu beteken plek waar die seekoeie bad (dameskamp? – Red.) – hulle sou darem gegiggel het as ons ou grote die pont mistrap. Ons koop nartjies en dit sing en dit kyk rond en uiteindelik word die terrein rowwer en ons weet ons is nou naby ons stap. Ons groet vir Wessie en Gustav en die bus en stap, sing en gesels op ons eerste kennismaking met die Wildekus-heuwels. Dis padlangs tot by ‘n klompie bome teenaan die kus vir middag-vita. Groep drie gee net daar geboorte aan hul aai, aai, aai en met branders in ons ore eet ons gou sodat ons kan gaan uitvind waar raas dit so. Ons loop na ete deur die bome en snak na ons asems en gryp na ons kameras. Die see slaan teen ‘n plaveisel rots vas en die sproei van die branders skiet die hoogte in, maak ‘n reënboog en sak neer, en begin dan weer van vooraf.

Teen middag sien ons die enigste waterval in Suid-Afrika wat direk in die see in val. Ons slaap die aand langs die bo-loop, maar daar gekom ontdek ons ‘n Transvaalse toergroep wat stelling ingeneem het in die holtetjie wat Deon vir ons be-oog het en ons gaan verder af om ‘n ander plek te soek.

Uiteindelik word kamp verdeel en die dames kry ‘n mini-stonehenge (min wetend dat daar ‘n mini-moeras in skuil) en die manne die res van die wêreld vol. Die rugsakke is ook skaars af toe droog daar al ‘n rooi slaapsak teen die oorkantste rant in die laatmiddag sonnetjie. Eerste dinge eerste soos hulle sê. Dadelik begin stofies stoof en kokke kook en die vyf groepies skuil in, om, onder en agter die klippe langs die rivier. Toe groep vyf in ‘n rekordtyd aankondig dat hulle al poeding eet sak ons moed tot in ons leë mae maar nie vir lank nie. Op die ou end wag ons toe almal vir groep vyf om klaar te eet – hulle’t hul sop omgeskop en die spyskaart toe maar van agter af benader en troos in die poeding gevind.

“Bring julle borde en kom queue” is vanaand na die chaos van die koskokery aangekondig. ‘n Paar dames besluit die klipkringetjies is hul fort en beland toe ewe bedremeld binne-in die buro. Ons sleë vanaand om ‘n parafien lanterntjie en Anton (eg eerste toeristies) wil weet of ons dan gaan skinkborde kry aangesien die terrein so grasserig afdraende is en ons dan nou moet sleë. Braam soek weer vir Neels-Neels-Neels in sy afwesigheid dat die berge so antwoord gee. Arme Mike kry nie sy af-oor met die potlood daaragter nie en die arme Jonas se kruiwa tjie-tjie te stadig. Dis besonder bedrywige batchies wat al wat item is ondersteun. Marelies het Deon se toervergaderingwoorde van lig, droog en warm ter harte geneem en net haar bekfluitjie saamgebring. Uit dameskamp kom aandliedjies tot laat nag toe.

Maandag, 13 Julie:
Die gebruiklike “o-o-o-opstaaaan” word ingelei met ‘n krulhoring-skulp. Ons eet muesli en is vroeg-vroeg die heuwel op. Ons neem vir oulaas foto’s van die waterval en sien ons eerste en enigste slang van die hele toer. Anton Olivier stap vandag kaalvoet en die toontjiedokters het pasiënte. Ons eerste game-break is by Cathedral Rock waar ons toe sommer Ringvergadering hou en van toe af begin die soetheid van die wraak in die lug te hang en die vyf eerste toeriste (manlik meervoud) word al groener en groener. ‘n Walvis (die ouens meen sy kalf) het in die baatjie kom baljaar, midde in ons ringvergadering. Pierre sluit toe ook vyf minute later dat die Walvis al weer daar is, al verskil was dat net Pierre hom die keer kon sien. Wessie en Gustav sluit by ons aan en Bessie is weer haar bes-ondere self. Sjokolade verdeling word ‘n studie-onderwerp: tien maklike lesse hoe om ses-en-sestig blokkies sjokolade onder tien minder maklike omstandighede te verdeel.

Met middag-vita wag daar ‘n groot hoogte op ons. Ons maak ons tuis aan die voet daarvan langs die blink, diep poele. ‘n Paar dapperes durf die waters aan en toe word die billies sommer dubbel-doelig aangewend vir harewas. Ons help ‘n toergroep deur middel van mondelinge morele ondersteuning die hoogte uit en maak ons reserwe kragte, welke op provitiaanse of sardiniaanse wyses beskikbaar is, bymekaar.

Met middag game-break is ons by Mbotyi. Waarskuwings word gehoor teen dooie rotte in watertenke en asof dit nie erg genoeg is nie ontdek die kosmammies dat groente al te lekker in ‘n waterbottel week – (dan kla hulle oor rotte) ‘n ontwaterde ertjie lyk nie te wel in ‘n waterbottel nie.

Die dames verhelder die enigste afdak stoepie in die omtrek sonder om twee keer genooi te word. Lyntjie, Hana en Alet raap toe mos die manne in die see se handdoeke op en steek dit in die bosse weg, salig onbewus daarvan dat dit vreemde manne is. Piet en die Frisbee Clan speel met hul bord op die strand. Die sonsondergang oor die rivier is pragtig en gou is ons klaar geëet en reg vir die wraak en die sleëry. Vanaand is die batchies oudergewoonte bedrywig en hopie die slees, hoopvol op soek na sleepille en pret. Die wraak geskied toe mos so eg, so reg, so sleggg en oom Tjaain vermaak ons met ‘n grepie uit die verlede. Lank na “nag dames” word daar nog marshies gebraai en oudergewoonte met die regte mense politiek gesels.

In die nag lyk alles mos anders en ‘n swarte sien toe mos sin in ‘n af-arm-man se rugsak, en Mugabe – Retief sien toe net soveel sin in ‘n klopjag en daar gaaaaaaat hulle. Swarte nooit weer gesien nie, rugsak wel en swarte se jas – was dit maar glo eerder sy bas!

Dinsdag, 14 Julie:
Vandag stap ons Mntafufu (Mmtafoef!) toe en sal ons toe nie verdwaal nie, maar Deon is een, twee, drie ‘n bakgat leier dié en ons is gou weer al singende en mars-fluitende op die regte heuwel. Frikkie met sy NUSAS T-shirt (waar gaan ‘n mens nog ‘n T-shirt met langmoue vir R2,00 kry?) en Estie word telkens deur interessanthede in die hutte agtergehou. Net na middagete kom ons by ‘n algemene handelaar aan wat uit is vir middagete – en dan sê hulle die beskawing was nog nie hier nie! Die dames van die land wil gans te graag gefoutou word en daar vind ons toe die kandidate vir mej Afrika-Swart. So stap ons verby ‘n paar nedersettinkies en kry op pad baie bessie-oog kindertjies met winter-neusies en hol handjies. Hoe nader ons aan die beskawing kom hoe meer uitgebreid is hul woordeskat, maar dit waai, en dit sing, en dit “sweats-sweats” al die pad. ‘n Paar lang heuwels later is ons by die Mntafufurivier.

Mntafufu bied geen beskutte badplek nie, maar van die dames het toe maar die beste van ‘n sout saak gemaak en die rivier aangetree. Die aand eet ons “meal-in-one” en besluit toe dat ons alles sal beproef en net die goeie sal behou – “meal-in-one” sal nie weer saam toer nie. Groep vyf se ertjies sneuwel getrou in die vuur.

Die batchies, nadat hulle in die donkerte ‘n batchie-bad gaan vat het, skitter in elke item. Dit wissel van Rooikappie tot krokodiljag en elke keer is ogies en agtergrond by om die grap te verduidelik. Ons sing lank en lekker om die kampvuur tot laat.

Woensdag, 15 Julie:
Vanoggend om nege uur tydens laagwater beproef ons toe al daai plastieksakkie-teorieë en gaan kieliebak-hoogte deur die Mntafufu-mond. Die dames trek vinnig agter ‘n heuwel aan en ontdek toe dat die mans nie so vinnig aangetrek het nie. Hekelgoed word opgeraap. Ons stap teenaan die see en gaan ‘n steilte af na Agatha’s Terrace toe. Daar gekom hoor ons die towerwoorde kafee, koeldrank en koud en toe die dames ‘n “hoe vêr” uitkry ken sommige manne toe mos nie die verskil tussen honderd en vyftig meter en net om die draai nie. ‘n Transvaalse knapie kom asof gestuur en gaan koop vir die tannies koeldranke.

Padlangs Umzimvuburivier toe sing ons heerlik. Ons hoor iets van meningitis en gee nie eers om nie, want die Hotel is net oorkant die rivier en die Hotel het bier. Arme swarte met sy roeibootjie roei en roei, want vyftig mense pas nie dadelik in ‘n agt-man bootjie nie.

Ja-a, die bier was toe ‘n reusje plesier. Sabet hik al die pad Tweedestrand toe en beskuldig Wessie daarvan dat hy mosj ….(hik) weet sy kan nie bier dri ….(hik)nk nie. Ons vleis is toe nie waar dit moet wees by die Kaap St Hermes nie en ons koop varkworsies, maar daar was gissings oor die worsies.

Op Tweedestrand word die storte ambisieus genader en koue water of de not, die “three day’s dirt” moet af. Die dames word verras toe Ilse dameskiet aankondig – hulle bargain toe mos op môre se dorptoe ganery. Sleepille is maar min en Heleen besluit toe dat ‘n sleepilblik opsigself dan iets moet inhou en vat haar swartsak met vier verdwaalde lekkertjies slee toe. Ons word meer geleer van vleislyste en van slees wat van suiwer tot mees suiwerste gaan en “nag dames” kom gou. Môre hou min in en ons liggame hou van wat op hulle wag.

Donderdag, 16 Julie:
Vroeg-vroeg word ons wakker en kyk vas in wit tande wat “washing-washing” die wêreld vol. Eers is ons verbaas, want die bekende hier rond is “sweats-sweats”, maar gee bondels vuil klere dankbaar weg. Die bus vertrek nege-uur Port St Johns toe. Van die manne gaan klim Eagle’s Nest, telegramme en poskaarte word gestuur net om te sê: leef nog; hou bad en bed reg. Ons koop mandjies en mandjies, en matte en spiese en kieries. Alet wys ons hoe eet ‘n inheemse ‘n avokadopeer – skil hom soos ‘n lemoen en knaag hom, een hap mosbolletjie, een hap avokadopeer. Mosbolletjiepryse word vergelyk en “souvenirs” word gekoop vir al die geliefdes tuis. Ons gooi diesel in die bus en die joggie bel eers Umtata toe om te hoor wat diesel deesdae kos.

Ons middagbrood en die middag is oop vir die wat wil doen wat hulle wil en vir ander wat nie wil nie en so eet ons tee en “scones” by die Restaurantjie of slaap of swem of besigtig die spuitgat.

Vanaand is groepitems en dameskiet. So eg in die kol is SANLAM toe met hul groepsversekering. Sabet sing vir ons van grondboontjies en van kinders van die wind als in een asem en die familie Hill reis en gaan dood en verreis. Op die ou end is die Transkei skou die wenner van die mees oorspronklike item. Heelaand wil die batchies dan ook by ons weet waarom die elke-moontlike-positiewe-byvoeglike-naamwoordste ouens dan vanaand batch.

Vrydag, 17 Julie:
Ons neem afskeid van Pierre en Ilse; oom Bethal, tannie Audrey en Kie. stap vandag saam. Ons stap verby Derdestrand, neem ons groepfoto by sugarloaf en Deon ver-as ons met ‘n hoogtetjie wat ons eintlik nie wou gesien het nie. Op die rotse en die strandjies tel ons skulpies op en gou is die swartetjies by om te help en hulle verbaas ons met hul skerp ogies wat al die mooiste en rooiste skulpies raaksien …. gevolg deur ‘n “sweats-sweats” natuurlik.

Middagbrood bevind ons ons by die Umgazi Hotel. Daar span ons toe uit en maak deeglik gebruik van hul fasiliteite; alles behalwe hul water, dié is glo ‘n bedreigde spesie in hul vloeistof-familie …. Braam besluit net daar opnuut dat hy ‘n ongeskikte mens nie sal verdra nie.

Die volgende riviermond is propvol en met een delikate turkoois Umgazana Trading Co. roeibootjie aan die oewer …. Dié keer is dit een vir vyf-insittendes. Knapie van ryk-pa-in-Oos-Londen-vandag bied sy kragvolle hulp aan in ‘n vinniger model en Umgazana Trading C. se arms word gespaar. Bo-op ‘n heuwel ontmoet ons vir Johnson en Johnson Waterdraers Onbeperk wat vir 10c ‘n bottel water sal volmaak. Ons laat ook nie op ons wag nie en dit hol heen en terug met water van niemand weet waar af nie. Johan Schutte wil vir Frikkie skiet, want sy kreefies wat hy met soveel sorg in ‘n varswatersakkie aan die lewe probeer hou het, het dit nie gemaak nie. Estie en Frikkie het toe besluit om hulle te “begrawe”, want mens kook blykbaar nie ‘n dooie kreef nie, hy ly te min.

Ons kamp vanaand onder die moerasbome teenaan die Umgazana-rivier. Dis langaandslee, alias deurnagslee en die vleise word gelys. Die batchies koek vanaand in een hoek saam en Koegies is aan die voortou. Alet se Jontue werk wondere en sy slee saam met twee medics. Gustav word les bes gehekel oor die feit dat hy so rustig geraak het – ag, ons dink egter dis die heel Bessie beste so. Nag dames is toe ook glad nie die laaste woorde nie en daar word tot lekker laat gekuier.

Saterdag, 18 Julie:
Vandag is halfpad stap tot by Isilimela waar die bus wag en ons sal daar middag-vita. Toe die son oor die Umbazana-rivier opkom, sien ons twee moerasbome waarin wit voëls, koppies nog onder die vlerk, soos vreemde vrugte lyk. Dis die koudste oggend wat ons nog gehad het en ons heuwel opwaarts en afwaarts en hou game-break op ‘n hoë koppie waar ons uitkyk op hutjies wat soos bosluisies aan die heuwels klou. Die vrugtelekkers lok menige platneusie en gou is klein, kleiner en kleinste daar. Francois se vaderlike instink kry die oorhand en gou-gou sit junior op sy skoot. Ons kan nie besluit wie se oë die grootste is nie – krulkoppetjie oor die vonds tussen sy vet vingertjies of Francois oor die knapie tog net nie moet skrik nie.

Hoe nader ons aan die Sendingstasie kom hoe meer uitgesproke raak die swartetjie. Lyntjie kan dit nie oor haar hart kry om haar rugsak op sulke dun beentjies te sien stap nie en verlos ‘n behulpsame enetjie. Oral sien ons ook net swart varke – soos Anton sê: Varkasem maar jy’s swart! Gou-gou loop ons een hoë wit ry en een kort swartetjie terwyl ons woorde uitruil en skatte opbou.

Middagbrood is ons by die Sendingstasie. Ons rus en eet lekker in die koelte van die baksteenmure van die opstalle. Daarvandaan ry ons per bus Mpande toe en Les en Francois draf (en byt?) in die stof agter die bus aan. By Mpande is staanplek en oorpakplek en swemplek en ons besluit dis voorwaar die heel mooiste vakansie-hou plek vir eendag. Heleen open getrou haar saloon en Ernst verbaard en dis voorwaar ‘n skoon gesig om te aanskou. Na aandete pak ons die bus en sing in ‘n groot kring voordat ons ry. Dis Les se laaste toer en ons gaan hom onthou.

Ons vertrek net na ses en drie uur later is ons op Umtata waar daar belê word in een van die kafee’s. Die bus is vol mandjies en punt hoedjies en koppe op skouers en skouers teen skouers.

Deon lê daar in die paadjie, een van vele en as ‘n mens jou voet nie versigtig genoeg neersit nie haal ‘n hand dit onge-erg van ‘n gesig af en sit dit êrens neer. Queenstown is ook gou naby en hier skud Jan die laaste Transkei-stoffies op die ritme van Joe se bandspeler af en vermaak ons met egte Transkeise “e’ new-wave”.

So ry ons die grens oor en begin onsself woordeloos instel op ‘n vakansie wat verby is en ‘n semester wat voorlê. Stellenbosch kom al nader, en met bruin gesigte en blink oge, na ‘n puik, suksesvolle toer, land ons uiteindelik die middag tussen die akkerbome en berge om te kom vertel en te deel dit wat net die BTK vir ‘n mens kan gee.

Lynelle Pieterse
(waarnemende Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui