Sederberge April 1981

27 Maart – 03 April 1981

Nouja, van Hel-toe-ganery kom watervloede en ons begin so vier-en-twintig uur voor die toer konsentreer op dié deel van die toerprogram waar staan: LW: TOER ONDERHEWIG AAN VERANDERING!

Donderdag luister ons al van sewe-uur elke uur nuus oor die radio en stories trek rond, vergaderings word gehou en daar word rondgebel na alle oorde. Ai, waantoe nou? Maar laatmiddag versprei die goeie nuus oor die Akker: “Pak julle sakke mense.”

Wie wil saam die Sederberge met ons klim?
Wie wil ook die liedjie saam met ons sing?
Hoor hoe die kranse antwoord gee:
Roep jul: kom jul mee!

Vrydag: Stellenbosch na Algerië:
Daar volg ‘n tweede aanpassing, dié keer aan die bus se remme en daarmee saam volg verdere veranderings aan die vertrektye. Ons toer toe eers op die Kaapse-voorstedelike-Tafelbergroete, (om die regte bus in Pinelands te gaan haal), maar ‘n volgende verandering is geprogrammeer, want iemand het ewe fluks die bus klaar teruggestuur Stellenbosch toe.

Met die bus se finale vertrek halfses, reken ons die kombi moes so twee uur vroeër reeds op pad gewees het, maar by die volgende robot moes almal eers lag, want woerts, hier trek ‘n geel SR-kombi onder die bus se neus verby. Die bestuurder loer so uit die kant van sy oog en stop amper reg in die middel van die straat.

Uiteindelik is ons in elk geval op pad Sederberge toe. By Algerië maak die bus moleste, maar na ‘n rukkie staan ons koud-koud om die vuurtjie en koffie drink en maak solank hekels bymekaar en snuif die Sederberglug in.

Saterdag: Algerië na Driehoek:
Vroegoggend is dit klaar ‘n uitgemaakte saak dat hierdie toer minder rustig gaan wees. Dit sou miskien beter gewees het as party mense met reënjasse by oggendbrood verskyn het.

Deon laat waai met die grondpad af en waar ons uitdraai uit die Sederbergpas, hou ons eers voorstellingsparade. Van Neels wil die ‘gallery’ weet: “Hier’s die kabouter, maar waar’s die feetjie?” en Heila moet hoor: “Heilo of te not, sy gaan nog steeds swem!”

Ver bokant, by die eerste Sederboom, hou ons ordentlikheidspraatjies en ons koning mekaar amper by die afgronde af, want rotsblokke lê gestrooi oor die paadjie. Middagbrood is by Uilsgatnaalde. Dan’s dit tussen Sederbome en reuse wabome met die jeeppad af na Driehoek.
Die oggendbroodjies en walaaiers kom bymekaar vir urelange samesprekings en sluit ‘n kompromis, maar persoonlike vetes word nie daaronder gedek nie. Dis algemene kampbedrywighede van tentpaaltjies inkap en gate grawe en water skep, badplek ondersoek, nesskop en …. “Stem HNP! Manne, kom bou julle slees!”

Vanaand item die eerste toeriste so tussen die akkerblare deur en Mike Schutte met sy hangmagie sukkel met ‘n te slim gehoor. Na ‘n swak item is Piet Kriel se bydrae: “Hulle maak gereed om ‘n biblioteek in hulle naam in te bou.” (Sal ons meneer Du Pisanie se naam na Adriaan biblioteek verander?)

Daarna volg WRAAK-aksie en selfs Werner se pruikkamoeflering help nie dat hy nie as eerste toeris herken word nie en almal loop deur. Dan lekker tee en koekies. Wonder of daar ‘n ooreenkoms is tussen dit en die tee en koekies in die Gat as ‘n mens klaar bloed geskenk het?

Elfie word gehekel oor die walaaiers se oë wat haar vanoggend uitgekyk het, maar al wat sy kan onthou, was Gustav se waterige blou ogies. Nouja, hy’s tog wel walaaierkonvenor ….

Sondag: Oorstaandag:
Na die feetjies en kaboutertjies ons wakkergemaak het, hou oom Kobus boskerk en praat oor vrede, terwyl die kokke en stokers Elsa brou by die kookvuur.

‘n Rukkie later sluit Tobie, Braam, Mariëtte en Lientjie by die toer aan en lewer verslag oor die Matie-Tukkie Intervarsity. Dan: “Mmiddaghoender!” Ons los maar ‘n hol kolletjie oop, want Elsa is op die spyskaart. Die walaaiers wil nog probeer wegkom met ‘selfservice’, maar dan kom die kokke en stokers selfvoldaan met hulle Elsa-liedjie:

“Hiers ‘n blik Elsa dik
Skep vir elkeen nog ‘n sluk
Walaaiers probeer maar weer
Jul kan ons tog nooit keer!”

Ilse het gesorg vir genoeg om te eet en te min om te vreet, maar dit keer gladnie die groen grappe nie en hulle besluit amper om ‘n stokery op te stel met gegiste Elsa.

Vanaand is dit: “Stem PFP! Manne kom bou julle slees!” Met “Manne kom klim in julle slees!” is die dames ontevrede, want hulle wil ook spesiaal genooi word. Op die ou end word hulle sommer in hulle slees ingedra.

Maandag: Driehoek na Sanddrif:
Die rusdag is verby en daarmee ook die vrede waarvan oom Kobus gister gepraat het. Die oggendbroodjies en walaaiers breek gelyktydig die kompromis en verskeie skermutselings vind plaas.

Ons vat die pad teen Gabriëlspas uit, met die son reg in ons oë, dan met ‘n lekker stappaadjie deur die vaalgras en sandveld bo in die Wolfberge sonder dat dit voel of jy hoog in die berg is, maar by middagbrood bewys die Wolfbergboog die teendeel.

Ons skuur vir amper twee ure deur die Wolfbergskeure en net daarna sak ons reguit af ondertoe. In plaas van Huppelkind se wip en trap te seil oor die polle, is dit ‘n knikkende kniekop knak oor die klippe.

Ons slaapplek by Sanddrif word eers ingewy deur walaaiers Mossie en oggendbroodjies Heila en Jacomi wat mekaar hewiglik molesteer en ‘n modderdrif bou dwarsoor mekaar se lywe. Persoonlike vetes! Miskien het die oggendbroodjies hier die oorhand gehad, te oordeel aan die straf wat hulle daarvoor gekry het.

Ons slee in NP-slees en die dames word alweer nie genooi nie …. blykbaar tradisie …. ag nou ja! Die ‘bachies’ item aanmekaar en Isobel kry ‘n Napoleonstort. Sy is ‘n oggendbroodjie.

Dinsdag: Sanddrif na Driehoek:
Die môre breek so ‘n uur vroeër as gewoonlik aan vir Heleen, met ‘n flits in die oë en ‘n stem in die donker, maar sy merk geen onraad nie. Die oggendbroodjies smeer al fluks brood voordat hulle agterkom dis stillerig by die papkokers se vuur en eers ‘n uur later hoor hulle Deon se wekkertjie lui. Die walaaiers lê en grinnik in hulle slaapgoed.

Die bus laai ons anderkant Dwarsrivier af en ons stap met ‘n maraton-pas met die pad af tussen die wabome deur. Ons tonge hang ver uit. By ‘n onverwagse stroompie word almal eers gevraagd of ongevraagd afgekoel en Deon se rooi BTK-beker byt die spit af. Dan’s dit met bewerige kniekoppe teen die steiltes uit en jy wil net in ‘n hopie neersak as ‘n kokkewiet bo iewers roep en jou oortuig daar is iets die moeite werd daarbo, waaroor hy so vrolik fluit, en jy sukkel maar aan.

Ons loop nog een oomblik en opkyk na Sneeuberg, (en is so in die stilligheid bly ons hoef nie vandag nog daar ook op te klouter nie) en die volgende staan die Maltese kruis ewe rustig voor ons en wag in die valleitjie. By Sneeuberghut hou ons middagbrood. Onder by die punt van die jeeppad wag ons vir die bus, terwyl die manne gou in vriesende water swem en grappies vertel wat vanaand se hekeltyd onverstaanbaar maak vir die meisies. (Hulle is in die bol gekwik.)

Dis vanaand dameskiet en ons sleemaatjies moet maar sonder sleepille bly, want Koos het niks voorrade nie. Deon kul vir Tobie sodat hy nie vanaand vir die derde keer kan ‘bach’ nie, want hy’t kampvuur, maar hy is heeltemal tevrede.

Francois en Gerhard met hulle Sanlam-item laat ons almal eers ‘n bietjie verbaas regopsit tot voor die laaste sinnetjie. Haai, toe is dit al die tyd net ‘n groepspolis vir OK!

Die walaaier-kliek se storie bly waterdig, al is Gustav se oë daar rond en Heleen probeer verniet uitvind watter een was vanoggend nege minute oor vyf by haar slaapplek. ‘n Hofsaak is die enigste oplossing. Vanaand sing die mense nog lank om die vuur en kom sowaar agter hulle ken darem nog party van die aandliedjies.

Woensdag 1 April: Oorstaandag:
Tien mense gaan klim Tafelberg en verdien eervolle vermelding: Wessie, Gerhard, tannie Elsa, Eldie, Elfie, Werner, Danie Schneider, Riaan, Charl en Johannes. Die kombi vol passasiers trek na Clanwilliam en vir Frits is dit die laaste sien van die blikkantien. Wie sal dan nou ook blikke was as hy eerder kan swot?

Die wind en wolke steek op en dis onplesierig, om in manskamp se lekker poel te swem. Daar’s beslis byvoordele, want Neels is sowaar in die koue water …. Ilse het ‘n privaat salon geopen! Na Tobie eers duidelik voorwaardes stel aan Kosma, kook hy en Lynelle sop. Die kombi is terug vir middagbrood met kiste Coke en Jaco doen vier-en-twintig uur diens in ‘n halwe middag by Koos!

Jukskeistryde duur voort en ontaard in ‘n akkergeveg net om besig te bly. Die manne ‘queue’ by die gratis salon vir ‘n warm bad onder die boom in die boendoe deur Mesdames Heleen en Isobel.

Daar word bredie gekook met ‘n gerantsoneerde houtvoorraad, wabome wat Francois, Paul en Pieter iewers in die berg gaan uitpluk het en stukkend gekap het met ‘n kragvertoning (Mike Schutte?) waarin die byle vernietigend rondgeswaai is.

Dis vanaand komitee-items en die oggendbroodjies verdien ‘n kondensie toe hulle die walaaiers laat deurloop met: “Ek’s ‘n dapper oggendbroodjie; kyk hoe swem ek deur die waterslootjie ….”

Later volg die hofsaak wat heelwat tyd in beslag neem, want daar’s te veel regsstudente en staatsfilosowe om enige rigting te gee aan die gebeure. Op die ou end is die regter se uitspraak dat Heleen so kranksinnig is, dat sy verlos moet word van haar taak as konvenor en dit word aan die vyf walaaiers oorgedra om die res van die toer brood te kap en saag in die kombuisbus.

Donderdag: Driehoek oor Duiwelsgat na Algerië:
Ons was veronderstel om ‘n stukkie met die bus te ry tot aan die voet van die berg, maar die bus is befoeterd so vroeg in die môre. Die volk murmereer kliphard saam met ‘n opgewonde klomp patryse en dit kos mooipraat van Deon se kant om ons aan die stap te kry. Dan gaan dit met ‘n wip en ‘n trap oor die polle tot by die swart kuil met soet water wat nooit opdroog nie en almal die skoene uitskop. Langs die pad stop elkeen ‘n paar brame in die kies, pluk sangboekies uit en dan is ons reg vir die opdraande jeeppad. Voor ons twee keer vinnig asem wegsluk is ons bo en amper by Sneeuberghut vir middagbrood.

Ons stap al met die heide-paadjie verby reuse proteas en kromgetrekte Cederbome al op die sandsteenrantjies langs tot by Duiwelsgat met sy heel anderse kransformasies en groen afgronde en Nerinas met fyn goue sonvlekkies in die rooi.

Vyf minute verder staan die bus en wag in die Cederbergpas, maar hy staan ook maar sommer net. Gustav, Ernst, Braam en Piet draf tien kilometer kamp toe om die kombi te kry om die bus se battery te laai. Dis nogal voordelig om ‘n mobiele BTK-kombuis te hê en die groenteskillers laat nie ‘n minuut verlore gaan nie en skil sommer net daar langs die pad groente. Die bus tap energie uit ‘n transportyer en ons is alweer op pad voordat die drawwers hulle goeie daad vir die dag volvoer.

Almal het heelwat energie te spaar vir vanaand se slee en is nog nie uitgeput nie. Dit gaan tot so halfvier se kant met Johannes wat koffie maak, Piet wat tjoppies braai en met ‘n singery, kitaarspelery en slapery gaan die tydjie verby. In dameskamp is daar nog ‘n laatnag serenade (vroegoggend) en dan raak als vir oulaas rustig.

Vrydag:
‘n Goeie begin vir ‘n laaste oggend: Die walaaiers smeer vanoggend broodjies en los ‘n briefie: “Dankie oggendbroodjies vir ‘n bakgat toer”. Die feit dat Gustav en Wessie net 50% saamgetoer het (bus- en kombibestuurders) en die feit dat hulle beslis glo ‘n 100% bakgat toer gehad het, is miskien ook te danke aan Bessie se ‘boots’ wat haar voete die eerste dag vodde geskaaf het.

Ons kannie te vêr wees van die Heltoer nie, want Neels maak Mossie die Hel in, sodat hy amper moord pleeg met twee jukskeie onder luide toejuiging bo van die bus af. Die gevolg is Neels is nat en koud en bemodderd genoeg om wakker genoeg te wees om die bus terug te bestuur. Voorheen sou dit onmoontlik wees, gesien in die lig (of duisternis) van gisteraand se laat slee met Louise. As haar skoolkinders op Springbok darem moet weet wat hulle juffrou in haar vrye tyd doen!

‘n Rukkie later is ons terug op Stellenbosch en dis net afpak en dankie sê vir al die komitees wat so lekker saamgewerk het. Oom

Kobus moet erken die papkokers was ‘n bietjie slap!

Fransie van Niekerk
(Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui