Berghut strafkamp in die berge September 1977

Vrydag:
Dit was dringend noodsaaklik dat almal om vyfuur daar moes wees, want ons sou mos met rugsakke stap vanaf La Motte-bosboustasie tot by die hutterrein. Om ‘n lang storie kort te maak, ons het ongeveer half-ses vertrek; net ‘n paar BT-Kaners in ‘n kombi geprop. Iemand het tereg opgemerk-gevra of dit nou ‘n toer is, of ‘n versameling hutuitstappies. Net die tyd sou die nodige antwoorde verskaf.

Gelukkig het ons heelwat nader as La Motte-bosboustasie begin stap, want die son was reeds onder toe ons bo teen die berg aankom. Die wind het sterk gewaai en al die tekens het gedui op ‘n lekker koue, reënerige nag bo-op die berg.

By die hutterrein het die misvlae sterk tussen die swart-gebrande dennebome deur gedwarrel. Afrikaskop was heeltemal toe onder die mis en die fyn druppeltjies het hulle gou-gou op jou klere kom tuismaak. Tussen die sinkhut en die fondamente van die berghut het ‘n lang, swart seil stuk-stuk oor groot, lang voorwerpe gewapper. Op die terrein waar die hut moes verrys, het twee-en-dertig rooi staalpaaltjies in eensame afwagting gestaan …

Later, toe dit al donker was, het die twee “medics”, Tinie en Japie, by ons aangesluit. Dit was weer lekker om tussen jou vriende te wees en ‘n klompie onthou-jy-nogs en kwinkslae het kort-kort die groepie laat skater. Almal het ook ‘n draai by die slee gaan maak wat aan Adriaan onsterflikheid besorg het. Op Breda se versoek is dit die Adriaan du Pisanie-gedenkvisdammetjie gedoop, want sien, die paddavissies het heerlik in die eens magtige slee rondgeswem.

By aandete was dit Tekkies wat die kalklig gesteel het. Hy kon nou wel nie plek kry in die kringetjie hutbouers wat so styf langs mekaar by die vuur gesit het nie, maar het die hele aand daar eenkant staan en skimp vir ‘n ou gaatjie by die hitte. Sommige van sy sê-dinge was boonop nog snaaks ook, veral dié woorvoor hy nie self aanvanklik so hard gelag het nie.

Die helikopter wat die dakbalke en laagborde opgevlieg het, het onder andere ook vir twee tente gesorg. Die kostent, kompleet toegerus met staal kookbakke, is gou opgeslaan, maar vir die damestent moes die tentpale nog gesaag word. Daar was dus heelwat werk – Tekkies het dus kort na die aanvang van die opslanery soos ‘n groot speld verdwyn.

Dit was nie sommer sulke tentpale nie, en die meisies wonder seker nou nog hoekom die manne elke aand na afsluiting kort, bemoedigende woordjies by elke paal gefluister het, en gesing het dat die “paaltjie in die middel van die tent tog lekker vas moet staan”, en met ‘n “goodnight paaltjie” gegroet het.

Saterdag:
Saterdagoggend het die misreën en sterk wind menige lekker rustige opstane in die wiele gery. Dit het gelyk of die weer ons nie genadig wou wees nie, want die mis was nog net so laag soos die vorige nag.

Na ontbyt is al die mans en Tinie af om die voorrade onder te gaan haal. Onder, waar dit minder beskut was, het die wind omtrent met ‘n mens gemaak net wat hy wou. Met almal se sakke vol kos en ysterplaatjies (wat bedrieglik swaar was) is die bekende terugtog weer aangepak – sonder die kool en die wortels.

Gedurende die oggend het eers Michael, Ingrid en Irma aangesluit en later het die twee boesemvyande, Tobie en Adriaan, hul opwagting gemaak. Laasgenoemde twee is aangesê om vier bome te gaan vel, sodat daarvan ‘n stellasie vir die nokring gemaak kon word. Dié taak het hulle met die gebruiklike entoesiasme aangepak. Genoemde feit het vir almal voor- en nadele ingehou. Die groot voordeel was dat hulle uit die pad was. Die groot nadeel: hulle was saam weg. Nadat hulle die vier bome afgekap het, waarvan die laaste een onbruikbaar swaar was, (net vir die lekker “timber”) is hulle gelukkig gestop.

Intussen, terug op die beesplaas, (“meanwhile, back at the ranch”) het die ander manne die gate op die regte plekke onder aan die stutbalke geboor en gebeitel. Die sterk wind het so ‘n bietjie gaan lê, en die mis het tydelik gestyg. Die kragopwekker het die manne laat sukkel en na gepaste woorde laat soek, met die gevolg dat daar minder uitgerig is as wat beoog was.

Na verskeie dreigemente gedurende die dag deur ‘Gene, het ons darem toe tog geslee. Dit was nou wel ‘n tentslee, maar ons was gerieflik min en het maklik in die tent ingepas. Rotjie het oudergewoonte almal laat skater, hierdie keer deur die karretjie wat vir sy naeltjie-robot gewag het om groen te word. Pierre het in ‘n “lekker geweldadige” item vir Tinie bewys dat die plat hond darem meer byt in hom het as die gebleikte luiperd, al is dit nou net-net. Nadat Wagonwheels en sy jonger boet, Kuikenmis, aan Juffrou grys hare besorg het, was dit hekeltyd. Vrae en antwoorde is soms wreed deur Adriaan se harde gesnork onderbreek. Die vraag wat almal nou nog aan die wonder het, was: “Tinie, hoe werk jou klep?”

Toe die manne moes gaan slaap, het die gebruiklike ritueel hom by die tentpaal afgespeel …

Sondag:
Die tradisionele feetjies en kaboutertjies, hierdie keer in die persone van Francois, Lou-marie en Anneke, het weer daarvoor gesorg dat dit Sondagoggend lekker was om wakker te word. Die weer het effens opgeklaar en die son het selfs geskyn.

In die kamp het alles stadig gebeur: wakker word, opstaan en stort. Teen tienuur se kant het almal in die sonnetjie by die sinkhuis plaasgeneem om na ‘n boodskap deur een van ons belowende jong tokkelokke, naamlik Breda, te luister. In sy boodskap, wat ook nie sy gebruiklike humor vrygespring het nie, het hy treffend die liefde van God vir Sy kinders aan die hand van die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore penning verduidelik.

Na die diens het die gemeente, helaas, weer in sonde verval toe die pakkie kaarte oopgemaak is, en “gecheat” en “geboef” is. “Boef” was aanvanklik nuut en sou eers later sy finale ingang vind. “Cheat” het egter groot hoogtes bereik. Die beste speler was ongetwyfeld Adriaan, want het hy dan nie die meeste kaarte en pakkies van verskillende soorte bymekaar gemaak nie?! Die spel kon net nooit einde kry nie, want niemand kon by Adriaan se “cheat” verbykom nie. Met so baie kaarte kon hy redelik seker wees van sy opponente s’n!

Intussen het die spanning opgelaai vir die Sondagmiddagete. Op dié strategiese tyd kom Abré en Minette toe daar aan. Begerige oë het die bewegings by ‘n staalbak onder in die stroompie met groot belangstelling dopgehou …

Met die spanning omtrent breekpunt, breek middagete eindelik aan. Met die voorgereg (hoender, rys en ertjies) agter die blad, het Rotjie sy “squad” laat aantree vir losmaakoefeninge.

Met groot omslagtigheid is die oefeninge verduidelik – daar is veral gepoog om dit binne die vermoë van almal te plaas. Die moeilikste oefeninge is eers heel laaste gedoen toe ons met albei arms en bene oop en toe gespring het! Sommige het selfs gesukkel. Daarna is die groepie verbasend gedwee na ‘n ooptetjie in die veld gemarsjeer. Toe ons in ‘n oop linie langs mekaar aantree, was die stategie duidelik – dit sou ‘n wegspring in die beste Le Mans-tradisie wees. Dit was ‘n chaotiese resies en toe die ywerigstes voor in die ry gaan staan, moes hulle uitvind dat die bak Elsa van agter af bedien word. “The moral of the story: Wie eerste is, sal laaste kom.”

Na die pynlike proses van Elsa eet, en die nog meer pynlike proses van “seconds”, het almal op ‘n hopie in die son gaan lê en herstel, met die rustige klanke van ‘n ghitaar in die agtergrond. Toe Breda eers sy John Denver-liedjies opdiep, was die kombinasie van ‘n maag vol Elsa en rustige musiek, selfs vir die mees energiekes te veel.

Sondagagtermiddag het “boef” sy indruk op spelers en toeskouers gemaak. Die vier spanne, naamlik Japie en Pierre; Rotjie en Deon; Breda en Adriaan; en Anneke en Minette, het sake uitgespook om die beste boef te wees. Japie en Pierre se onverstaanbare briltekens was blykbaar die briljantste, want hulle het die meeste gewen. Daarenteen kon Breda en Adriaan mekaar net nie vind nie, en daar was gedurige misverstande. Adriaan het veral probleme gehad om die uitstaande middelvinger, waarmee hy ‘n teken gemaak het, so natuurlik moontlik in ‘n kopkrapaksie te kamoefleer. Toen ons nog so besig was om te “boef”, het Tinie, Irma, Michael en Ingrid kom groet – hulle het akademiese verpligtinge gehad. Later die middag het Roelof opgedaag en moes hy eensaam ‘n koning teen die massas, wat op hom afgestorm het, aandurf.

Sondagaand se items het gewissel van stemmigheid tot onstuimigheid. Terwyl Breda en Deon hul bes gedoen het om met die beproefde resep van snarespel rustigheid te bring, was daar ook ‘n Rotjie en Adriaan in die gehoor. Adriaan het almal lam gehad met die manier waarop hy vir Rotjie “aan ‘n tak gehang het”. Die voorlees van ‘n I.L. de Villiers-skets deur Breda het darem weer rustige nadenke gestimuleer. Vir die slot-item is die “geliefde” ou grys merrie met sprankelende nuwighede uit die gryse verlede opgediep en aangebied. Selfs ‘n ordentlike beker water in Rotjie en Breda se gesigte, kon nie verhoed dat hulle die item op verskillende tye herhaal nie. Die afsluiting was heerlik omdat ons die een gesang na die ander gesit en sing het. Dit was toe reeds duidelik waar dié toer se krag in die gemeenskap van Christene gelê het.

Maandag:
Maandag sou ‘n chaotiese dag wees. Op dié dag het ons gewens dat ons maar liewer vir bouers as vir dokters, predikante, ingenieurs en voedselwetenskaplikes geleer het. Maar moenie die storie vooruit loop nie …

Roelof en Breda, alias Sol en Gobelé, het begin om die stellasie te bou waarop die nokring sou rus. Vir dié kontrepsie is eers ‘n paar groot dennebome in die hande gekry. Ons moes in elk geval eers vir André en die wasters, oftewel wassers, wag.

Met groot vertoon en bewende hande, is die eerste stutbalk staangemaak. Dit is selfs gekoning. Die oomblik was groot. Ywerig is die ander pilare een vir een opgelig. Die opgewondenheid het hoog geloop totdat iemand met die oog gekorrel het of die dakhelling darem reg is. Tot ons ontsteltenis was die binneste en buitenste pilare ewe hoog! Behalwe vir die agt voorste stoeppilare, was al die pilare 15cm te kort.

Toe volg een van die kenmerkende meningsverskille. Uiteindelik het die drie hoof-moontlikhede uitgekristalliseer:
1. Laat sak die vloer;
2. Laat sak die dak;
3. Koop nuwe balke.

Oor die tweede moontlikheid was Adriaan openlik ontevrede en tereg baie bekommerd – dan sou die vensterrame mos bokant die dak uitsteek! Die beste raad was maar om die argitek, oom Paul, te gaan skakel om sy raad te volg.

Intussen het ons toe maar al die ander pilare ook regop gesit en gehoop die plan van aksie vereis nie dat hulle weer moes afkom nie. Roelof en Bedraad het lustig verder gewerk en interessante bokstories oor ‘n ene Tiger Tredoux verkoop. Later het hulle met hulle plant-intelligensie-laggies ‘n bron van groot plesier geword vir al die omstanders. Met pynlike noukeurigheid is die stellasie – presies op hoogte – 100% waterpas voltooi. Toe moes die nokringlêplek natuurlik met dieselfde pynlike presiesheid met 15cm laat sak word. Met groot moeite en omhaal het ons met die nokring teen die pale opgeklim. Almal se kragte is tot die uiterste beproef, en te einde laaste, was die nokring bo. Ons het net so bly hang tussen hemel en aarde, met Breda, Roelof en André bo-op die nokring, is die geleentheid met ‘n koning ingewy. Nadat hulle werk voltooi is, het Roelof en Breda ons verlaat, en die kamp was weereens sonder ‘n kampvader.

Toe Eugene opdaag, het hy kenmerkende nuus gebring. Al die pilare moes afgehaal, en nuwe gate moes geboor word. Altesaam sou daar dus ses gate wees. Gelukkig het ons twee gate gekry wat saamval. (Met so baie gate wat dit ook nie heeltemal toevallig nie). Die nokring moes natuurlik weer 15cm gelig word – die derde aanpassing van die dag!

Daar is toe besonder ywerig gewerk en skemeraand het die pilare almal weer gestaan. In die laaste bietjie daglig is die eerste lang balk opgesit; na donker, die ander een. Marius, Stephanie en Helmien, wat toe net daar aankom, moes baie beïndruk gewees het met die swoegende werkers, so spookagtig in die helder lamplig. Die wind het sterk gestoot en die werk was gevaarlik.

Die groepie se moreel was hoog en daar is ywerig gereed gemaak vir die laaste tentslee van die kamp. Die items was min, maar Hannetjie se taroem-taroem-tara-prins het almal vermaak, veral toe hy karplaks-ssslurp in sy heldin se arms geval het. Verdere verveligheid het ‘n hopie bo-op Marius se slee tot gevolg gehad, wat veroorsaak het dat, in die buurslee, Pierre se “lilo”, sy laaste windjie uitgeblaas het. Voor slaaptyd was daar natuurlik eers die paaltjie.

Dinsdag:
Vandag het ‘n hele aantal kampeerders ons verlaat: Adriaan, Ilse, Marike en Hannetjie. Die hoofklag van ‘n gedeelte van dié skare, was dat daar nie genoeg werk vir almal was nie. Adriaan het darem nie weggegaan sonder om weer sy naam te verewig nie: dié keer as die naam van die hut se manspouhok, soos Karen voorgestel het. Die ander pouhok sal Elna heet.

Daar is voortgegaan om die lang balke op te sit. Dit was moeilike werk want ons toerusting was baie primitief – twee houtraamwerke waarvan een uiters mankoliek was. Die werk het egter fluks begin vorder en rigting gekry. Handlangers Annelie en Annelize het hulle staal getoon. Marius het intussen die waterpyp, wat net so gedrup-drup het, gaan regmaak.

Die oggend, net na tee, het ons ‘n bekende en welkome geluid gehoor. ‘n Alouette-helikopter van die Lugmag het die terrein, wat vir hom toe al bekend was, kom opsoek om te sien hoe die werk vorder. Terwyl ‘n paar van ons huiwerig die groot staal naaldekoker van naderby gaan bekyk het, het die ander net gekaptein voor en gekaptein agter. Dit was immers baie belangrik dat goeie verhoudings gehandhaaf word. Nadat die bande weer verstewig en nuwe verbonde gesluit is, is die drie-stuks van die Lugmag weer daar weg.

Jaco het die agtermiddag saam met Karen, wat op ‘n voorrade-ekspedisie was, daar aangekom. Dit was toe sy beurt om ‘n eensame koning die hoof te bied.

Toe die balke klaar op was, het ons begin om die “fuzzy”-planke aan die stoep se kant op te sit. Weereens is daar tot laat in die nag gewerk. Die maan het vol opgekom en die wind was skielik ook nie meer so sterk nie.

Met skiettyd is daar besluit om buite te slee. Dit het aanvanklik van iemand ongekende teenstand gekry, waarskynlik omdat die gehegtheid aan die heerlike, warm en windstil tent gegroei het, maar later het die verlangde gemoedsrus darem gekom. Dit was damesskiet, en Stephanie (alias Phestanie) en Helmien het hul kans waargeneem deur drie mans, naamlik André, Pierre en Deon, te skiet.

Dit was die aand van Dakbalk Burger. Dakbalk het juis vroeër die middag opgedaag by die plek waar hy twee-en-‘n-half jaar gelede, in die nou reeds beroemde, eerste Burgerstorie, die rol van die held vertolk het. Van die destydse Sinkplaat tot die huidige Dakbalk, het dinge egter weinig verander. Die verhaal was soos gewoonlik baie aktueel. Die twee skurke het die gewraakte onderste 15cm van die balke gesteel, en ‘n plakkershut daarmee opgerig. Presies hoe die storie verder ontplooi het, was vir niemand heeltemal duidelik nie, want die twee skurke, Rotjie en ‘Gene, het hulle rolle heeltemal oorspeel sodat die storie doodgeloop het. Dakbalk Jaco het darem die finale spykers in hulle plakkersdoodskis getik.

Die wind het later die aand heeltemal gaan lê en ‘n stille rustigheid het op die sleekring toegesak. Uit ‘n wolklose hemel het die volmaan tussen die dennetakke deurgeskyn, en afwisselende lig- en skadukolle op die grond gegooi. Dit is sulke tonele wat menigeen al met heimwee na hutterrein laat terugdink het.

Woensdag:
Woensdagoggend het ons besluit om voor ontbyt aan die werk te spring. Die dag was volmaak – vroeg warm, wolk- en windloos. Alle vooruitsigte was daar vir ‘n goeie dag se werk. Daar is egter gou ontdek dan ‘n mens nie met ‘n nuwe stuk werk moet begin terwyl jy nog deur die slaap is nie.

Dit het so gebeur: Die agterste lang “fuzzy”-planke is gemeet op die agterste buitenste balke. Dit klink logies, en ons het inderdaad in ons slaap ook so gedink, want dis waar hulle vasgesit moes word. Ons het egter vergeet dat die lang dakbalke ‘n ent oorhang. Gelukkig het ons nie so ywerig gesaag nie, anders was daar baie meer as die twee “fuzzy”-planke te kort gesaag. Na die gebruiklike hewige plannemakery, wat gewoonlik uit soortgelyke krisisse ontstaan het, is besluit om twee nuwe planke te gaan koop. Daar is toe besluit om eers ‘n laat-ontbyt te eet.

Net daarna het Rotjie se stryd met die masjientjie, wat in die vorige nag se laat werkery verkoue opgedoen het (hy het aanmekaar gehoes), begin. Nadat die ou petrolmodel sy woordeskat tot die uiterste toe beproef het, is besluit om ‘n vonkprop aan te koop. “Gene, wat op daardie stadium al weg was om die planke te gaan koop, is deur Neels ingehardloop om die nuus van die vonkprop (met die vreeslike naam) oor te dra.

Intussen het ons rustig die orige “fuzzy’s” opgesit. Jaco is in die middag daar weg nadat hy, soos hy dit gestel het, net lekker begin gees vang het vir die werkery. Later is begin om die daksparre op te sit – ‘n werkie waar veral Rotjie, met sy spoedsaagtegnieke, beïndruk het.

Die aand se items sal altyd onthou word as dié keer toe Rotjie kampvuur gehad het, of liewers, kampvuur geslaat het. Eers was daar die tandeborselitem van hom en ‘Gene wat ons almal in horisontale posisies laat krul het van die lag. Rotjie was baie onakkuraat met die borsel en dit het gelyk of sy jong stoppelbaard meer aandag as sy tande gekry het. Die vuil streep tussen sy oë, het in elk geval behoue gebly as stille getuienis van die feit dat hy nie gewas het nie. Rotjie, wat die hele aand baie energiek was en omtrent nie in sy slee kon bly nie, het besluit dat die brandhout darem ‘n bietjie min was. Hy vloog toe met die byl tussen die jong denneboompies in en al wat ‘n mens kon sien, was stof en arms en bene en takke wat val. Soos ‘n Don Quichot van ouds, het hy blykbaar die vuurmaakhout vir ‘n gevaarlike windmeul aangesien en die vyand met al sy krag beveg. Toe die stof uiteindelik bedaar het, was daar genoeg hout vir die res van die kamp se kampvure. Almal in die sleekring was weer in die kenmerkende krullende, horisontale posisie, met dié verskil dat daar byna geen geluide meer kon uitkom nie.

Na die afsluiting was daar die gebruiklike ritueel.

Donderdag:
Donderdagoggend het ons weer vroeg, voor ontbyt, begin werk. Voor dit egter gebeur het, was daar eers Eugene se oggendstort, wat vermelding verdien. Wat dié andersins normale ou insidentjie bestaansreg in die skets gee, is:
1. Die feit dat hy sonder ‘n enkele kledingstukkie aan sy lyf gestort het, en
2. Die feit dat die dames, veral Karen, vroeër opgestaan het as wat hulle veronderstel was om te doen.

Dit was weer ‘n geval van “toe sy sien wat sy gaan sien, toe kyk sy maar weg”. Of het sy? Te oordeel aan die blos op haar wange, toe die insident later aangeroer is, sal ‘n mens seker nooit weet nie.

Toe ons die oggend begin om die dak te lê, heer vasgesit is, het ons ander die daksparre vasgekap.

Gedurende die oggend het Annelie en Gerhard opgedaag. Tydens die reuse-koning wat hulle te beurt geval het, het Lou-Marie haar voet ernstig teen een van die vensterrame gesny, sodat sy en Karen af is om steke te laat insit. Toe hulle by die dokter se spreekkamer kom, het die verpleegster hulle net een kyk gegee, en besluit om maar liewer die wit laken van die ondersoektafel af te haal. Dié aand sou daar gewraak word en daar is tereg opgemerk dat dit die bloed van die bloed-en-bene is.

Die middag het nog ‘n krisis opgeduik. Die daksparre was te kort en kon nie meer inpas nie. Toe moes ons agterkom dat dit die gevolg van ‘n vroeëre fout is. Die span deskundiges, toe al ervare op die gebied van foute herstel, het na lange beraad besluit om maar weer ander sparre te gaan koop.

Laat in die agtermiddag het “Die Burger” se verslaggewer, mnr Malan, opgedaag. Hy was duidelik uitgeput van die bietjie klim, maar het oral met sy kamera begin rondloop. Hy het die eienaardigste maniertjies gehad en kon, tipies nuusman, stil-stil opduik waar niemand hom verwag het nie. Dan kon hy weer net so skielik verdwyn. Hy sou die BTK in “Die Burger” kry, of so het hy gesê …

Nog later het Joos saam met ‘Gene daar opgedaag. Hy moes seker beïndruk gewees het met ons laat-werkery, alhoewel ons al daaraan gewoond was. Rotjie het sy groet beantwoord met: “Ek hou my mond toe, en ek hou hom heel.”

Net voor sleetyd is ‘n klompie manne af om die ekstra balke te gaan haal. Mnr Malan is teen alle vermaninge in, saam om ook sy deeltjie by te dra. Soos Neels later vertel het, het hy ten spyte van sy moegheid, vasgebyt.

Eers is die man van “Die Burger” in die middel van die sleekring ‘n plekkie gegee, waarna ons al ons beste items (oud en nuut) te voorskyn gehaal het. Dit was darem nie elke dag dat die pers by die BTK verteenwoordig is nie.

Vir Rotjie was dit darem ‘n bietjie te vinnig om die Parmantige Smartiaan uit die vuis uit te vertel, en hy moes kort-kort sy storie aanpas wanneer hy in ‘n doodloopstraat beland het. Marius en ‘Gene het egter die Koperkapel al so baie ge-item, dat daar geen probleme was om iets op te dis nie. Mnr Malan het rustig in sy slee gesit en die petaljes geniet …

Na afsluiting, en ‘Gene se harde, duidelike “Nag dames”, was daar nog steeds geen beweging uit die persbank nie. Mnr Malan het net gesug en hom dieper in sy slee ingewikkel. Niemand het juis geweet wat om te doen nie. Intussen het ons in spanning gesit en wag, want daar moes nog gewraak word, en dit was al oor twaalf. Toe ‘Gene later opstaan en sy slaapplek aanbied, was die antwoord ewe ongeërg: “… slaap sommer enige plek in die veld.”

Só gou het ‘Gene darem nie moed opgegee nie, en verduidelik dat die manne net op sekere plekke slaap en dat hy nie self die plek sou kry nie. Teen sulke oorredingsvermoë kon geen vlees en bloed bestand wees nie, en is mnr Malan teen wil en dank daar weg.

Die wraak het verder sonder voorval verloop. ‘n Mens was net bang dat daar dalk gesê sou word dat “die man van ‘Die Burger’ nie weet nie.” Dit het ons gelukkig gespaar gebly. Half-twee het die laaste klompie nog by die vuur gestaan en sing.

Vrydag:
Ons het weer vroeg begin want daar was baie werk. Dit sou nog ‘n lang dag word …

Terwyl Deon en Marius daksparre vasgeslaan het, het Pierre en Neels fluks met die bedekking gevorder. André, afgedank deur Marius omdat hy nie bevredigende saagwerk gelewer het nie, het Joos met die stoepdak se sparre gaan help.

Mnr Malan het orals rondgeloop, die koppie uitgeklim en die werkery uit alle hoeke afgeneem. Later het hy met Marius ‘n onderhoud gevoer oor die ontstaan van die hele projek. Marius was duidelik op sy senuwees oor dié eerste onderhoud, want “hy is nie ‘n ou vir sulke dinge nie”. Die onderhoud het lank geduur en ‘Gene is ook later nadergeroep om die inligting te bevestig. Solank hy net nie sê presies waar om die hut te vind nie, was alles blykbaar in die haak.

Intussen is daar gewerk én gewerk. Die manne op die dak het nie eers vir koeldrank afgeklim nie. Teen middagete, eers omstreeks half-drie, het ons terdeë besef dat ons nie op die beplande tyd gaan klaarkry nie. In die agtermiddag is daar dus baie hard gewerk. Marius en Rotjie het vreeslike planne vir sleetyd gehad. Arme Minette, wat spesiaal vir sleetyd opgekom het, moes hoor dat daar beplan word om deur sleetyd te werk. Toe is besluit om tog te slee: Die mans sou op ‘n aflosbasis met Minette slee, terwyl die ander op die dak werk. Gelukkig is die plan later laat vaar.

Die dakskroewe was kort-kort op. Stephanie en Helmien het na middagete saam met Joos Franschhoek toe gegaan en alle beskikbare skroewe, wat enigsins die doel kon dien, gekoop. Almal was op die dak en het net skroewe ingedraai. Toe dit begin donker word, moes Neels net rondspring met die lampe. Met die werkery om elfuur se kant klaar (vir die dag), was almal vodde. In stilte het die bedremmelde groepie gesit en eet terwyl Rotjie en Marius se ja-speletjie die lagspiere geprikkel het. Daarna was dit die ongelukkige Rotjie (‘n logiese keuse onder die omstandighede) wat die padda uit die waterpyp moes gaan haal. ‘n Rukkie later was almal in die bed.

Saterdag:
Vir oulaas is daar vroeg opgestaan, want daar was nog baie werk. Die hele groep was gou op die dak en net die noodsaaklikste werkies, soos byvoorbeeld die masjientjie aanskakel, is op die grond afgehandel.

Sulke onbelangrike gebeurtenisse soos middagbrood en koeldrank, het gekom en gegaan. Tussen al die bedrywighede deur, het ‘Gene en André vergeet dat hulle Tom Newey om half-tien onder moes ontmoet. Eers omtrent half-tien val dit hulle toe by. Na ‘n dolle jaagtog om hom by die helikopterlandingsplek te kry, vind hulle dat hy reeds weg is. Eers nadat hulle Paarl toe geskakel het, het hy weer gekom en wel in die persoon van Newey se langhaarseun. Laasgenoemde het ‘n wyle bo vertoef, sakies deurgekyk, en is toe weer daar weg.

Behalwe vir ‘n paar onproduktiewe stadiums, is daar aanmekaar gewerk. Jy het net gesien saagsels waai. Die elektriese saag was naderhand stomp, maar dit sou in elk geval nie meer by die handsae, wat die manne soos besetenes hanteer het, kon byhou nie.

Rotjie het die laaste blokkies bo by die nokring ingesit. Hy was billik onstoke omdat hy geterg is dat hy laaste klaarmaak. Hy kón mos nie anders nie!

Sesuur is die laaste spykers ingeslaan. Die hele span het in ‘n lang ry bo-op die dak plaasgeneem, en die hut al in die rondte gekoning. Daarna het hulle kringetjie bo by die nokring gemaak terwyl ‘Gene bedankings gedoen het. Met die sing van die lastige, maar pragtige, “nog ‘n toer is verstreke”, was die taak afgehandel. Hierna is daar ‘n groepfoto geneem.

Net toe almal van die dak af was, het ‘n eienaardige ding gebeur. Dit was ‘n volmaakte, windstil dag met geen teken van enige onweer nie, totdat daar skielik uit die valleitjie duskant die Vratjie, ‘n bondel mis soos ‘n reuse-brander aangerol gekom het. Die punt daarvan het vinnig na die hut aangekruip en oomblikke later was dit koud en mistig, met ‘n ysige noordewind. So amper asof die natuur wou sê: “Julle was nou lank genoeg hier.” Die verdwaalde koue frontjie het egter net so gou weer verdwyn as wat hy gekom het.

Die meisies het hulle tent laat val en is met hulle bagasie daar weg. Laat het die manne, soos pakesels gelaai, gevolg. Onder gekom, vind hulle dat Rotjie se bakkie ‘n papwiel het. Marius en Neels het in Franschhoek ‘n pomp gaan haal en met die afgaan sommer die meisies by die landingsplek afgelaai. Een growwe-brood en ‘n pakkie vrugte-pastille is verorber. Bo het die manne vir Koos oopgebreek en beroof. Dadelik daarna is die slaapsakke opgesoek want almal was pootuit.

Die groepie moeë BT-Kaners het eers omstreeks half-twaalf by hulle koshuise aangekom. Vir hulle was ‘n uiters inspannende, maar tog bevredigende week van harde werk agter die rug. ‘n Tydperk waarvoor hulle slegs aan die Hemelse Vader vir die ryke ervaring, dank verskuldig is.

Deon van Niekerk
(waarnemende Sketsskrywer)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui