Berghutkamp April 1975

“Back to normal!” En die +35 BT-Kaners wat hulle Aprilvakansie op ‘n nuttige wyse by die Berghutterrein deurgebring het, sal elkeen ‘n glimlag kry en terugdink aan Roelof wat telkens die begin van nog ‘n nuwe werkskof daarmee aangedui het.

Wat die toer betref, was dit egter alles behalwe “back to normal”. Dit was ‘n unieke kamp – in alle opsigte – en ons het ons gate uit geniet. Omdat ons min was, baie minder as op ‘n gewone toer, het ons mekaar goed leer ken – en elkeen se besondere talente ontdek. Anders sou niemand ooit kon raai hoedat Ina Vermeulen se kleintongetjie vibreer wanneer sy “dagha!” skree, of hoe vinnig en elegant Japie uit ‘n slee kan spring nie!

Al wat wel normaal was omtrent die toer, was dat ons (vanweë ‘n vergeetagtige sketsskryfster en tesourier) normale BTK-tyd laat vertrek het.

Al swottende aan die twee-uur-vraestelle wat Eugene aan ons uitgedeel het, is ons Helshoogte uit terwyl tegniese aspekte soos Kosmajoor, Lucifer, Broodoptellers, Klipsmeerders, Grondmengers, Sementgrawers en Gatgooiers die akademiese deeltjie van ons breine in werking gehou het.

Bo-op die pas het ons die bus verlaat en daarvandaan is die meeste van ons te voet verder – die uitsondering was Breda wat met vele gesukkel sy sweeftuig wou laat opstyg. Die stap deur die perskeboorde het meer geverg aan wilskrag as aan spierkrag, maar vir die steil stukkie tot by die Berghut van die Bergklub van Suid-Afrika, was albei baie nodig.

Onder die bome was daar lieflike slaapplekke, en dit was nie lank voordat die vuur gebrand het en ons vleis aan’t braai was nie. Dit was volmaan en die maan het blink en helder opgekom in die klofie waarlangs ons die volgende dag sou moes uit. Ten spyte van die skoonheid van die maan, was die steilte skielik baie aktueel in almal se gedagtes. Iemand het alles baie raak saamgevat deur bang-ongelowig te vra: “Moet ons daardie donker oor?!”

Dat almal maar net die minimum saamgedra het, was duidelik teen slaaptyd toe Sarina moedeloos sug: “Ag nee, nou het ek my kussing aangetrek!” Ina Smit wou weer weet of dit reg sou wees as sy maar ‘n brood as kopkussing gebruik.

Vrydagoggend, na ‘n kort Paasdiens, het ons die opdraand (toe meer steil as donker) aangedurf. By die plekke waar hande-viervoet-klim noodsaaklik was, het sommige duidelik bewys dat daar tog iets in die leer van die Evolusie moet steek. Verder sal ons maar niks sê oor die klim nie, behalwe miskien dat die uitsig baie die moeite werd was en dat mens ruum tyd gehad het om die persoon voor jou se hakskene te bestudeer.

Middagbrood bied ons welverdiende rus en yskoue water. Die paar van ons wat nog energie gehad het om na die volstruis te gaan kyk, kon maar net verstom staan oor hierdie onmoontlike rotsformasie. Ongelukkig was almal ‘n bietjie moeg – anders kon ons dalk oorweeg het om hom te ry.

Na ‘n voorstellingsparade is ons Drakenstein Piek uit – en al die “suffer” en sweet is ryklik beloon deur die fantastiese uitsig; nie alleen oor die asembenemende Duiwelskloof nie, maar ook oor die berge van die hele Boland wat onder ons uitgesprei gelê het.

Daarvandaan was dit afdraand, maar nie so salig as wat dit klink nie, want sonder ‘n paadjie het dit maar al vallende, rollende en glyende die berg af gegaan.

By die hutterrein aangekom, moes die kos en kookgerei nog opgedra word en nadat ons geëet het, was almal baie bly om maar net te kon gaan slaap.

Saterdag douvoordag wek Eugene se wrede “opstaan” ons uit die diep slaap van die regverdiges. Nog voor ontbyt jaag hy die manne af om ‘n vrag goed te gaan haal. Nadat die inwendige versterk is, is voortgebou op hierdie tema, en na tonne moeite en gellings sweet, was alles eindelik bo.

Later ken ‘n mens die paadjie met elke kronkel en elke klip uit jou kop. Dan word dit ook sommer makliker, want jy weet … as ek net uit die dennebos is, dan is dit nie meer te ver na die donker skaduweetjie van die denneboompie nie; en daarna net die Via Dolorosa, en dan is ek so te sê bo … Die paadjie het dieselfde gebly; al wat gewissel het, was die inhoud en gewig (daarby bedoel ek dat, as jou rugsak by die kombi 30lb geweeg het, hy halfpad die dennebos uit minstens 60lb weeg, en lank voor jy bo is, voel soos 10 sakkies sement).

Al hierdie aktiwiteite het gemaak dat ons die stort onder die denneboompie terdeë geniet het – ons wonder net nogsteeds wat Chappie se ma sal sê as sy weet hy en Marléne het saam gestort!

‘n Toerlid wie se naam nie eens op die toerlys verskyn nie, maar van wie definitief melding gemaak moet word, is Erna. Sy was die onderwerp van vele besprekings en grappe – veral toe Ina Vermeulen Sarina se flits daar laat afval het! Toe Hendrik se Sangbundel later dieselfde pad volg, het Roelof en Jat ‘n paar stukkies draad agterna gegooi sodat die brommers ‘n staander kon maak vir wanneer hulle wil sing. (Dit het natuurlik verklaar waar die klankie vandaan gekom het!).

Saterdagaand was Wraak-aand en na ‘n paar aaitems deur die eerste toeriste, onder andere een waarin Charl se sleepille vryelik deur die lugwaardin uitgedeel is, was daar ‘n uitkenningsparade. Volgens sommige was verskeie persone blykbaar in andere gereïnkarneer. Heelwat later het nog ‘n groepie eerste toeriste ware BT-Kaners geword.

Sondag het, soos elke Sondag op BTK, begin met koffie en beskuit in die bed. Na die oggenddiens wat deur oom Gys gelei is, het almal begin uitsien na middagete – en Elsa. Maar hierdie keer was die Elsa ons heeltemal oor. Ons het op ons mae gelê, op ons
rûe gelê, om die Elsa op te kry, maar op die ou end moes ons die res maar bêre vir aandete.

Kort na ete het almal die arms van Morpheus opgesoek, met Adriaan wat tevergeefs wakker gebly het om dalk ‘n afdreigfoto in die hande te kry.

Later die middag het die manne besluit om die slees beter in te rig en daarmee is ‘n volgende tema van die kamp ingewy: gate. Weens gebrek aan die gebruiklike wa-relings, is Moeder Aarde betrek. Riel het die probleem van hoe diep die slee moet wees of hoe ver die gat vir die voete moet kom, opgelos deur die graaf net agter sy slee te bêre “sodat verstellings maklik aangebring kan word”.

Adriaan het blykbaar gereken, hoe dieper hoe beter, en hy het sy slee so diep gemaak dat dit aanleiding gegee het tot die nuwe uitdrukking: “Jy maak jou naam Adriaan Dupisanie”. Roelof, wat dit gewaag het om in die dieptes af te duik, het die hulp van pikke en toue nodig gehad om weer bo te kom. (Nodeloos om te sê – die aand met dameskiet was Adriaan ‘n bachie!!).

Niemand weet natuurlik wie daarvoor verantwoordelik was dat die gat die volgende aand nog dieper was nie; maar almal het lekker gelag toe Sarina se kop skaars bokant die grasse sigbaar was!

Behalwe dat die gat die tema was van verskeie aaitems, het feitlik elke aaitem in elk geval (doelbewus of onopsetlik) in die gat geëindig. So was daar Roelof en Gottlieb wat die gat by Eugene wou koop om gaatjies in hulle kaas te sit, en toe self met vragmotor en al in die gat val nadat laasgenoemde van die bak afgeval het. Verder het die koperkapel weer tot vervelens toe en met verskeie variasies uit sy gat gekruip en selfs Jaco se aaitem van hoe en hoekom “sy haar” voortande laat trek het (“vir die dingetjies after die ball – julle wiet mos!”) het heel goed by die tema aangepas.

Net soos ‘n eggo uit ‘n gat, was dit verder die in ding om aaitems te herhaal. “Die toneel” is weereens opgevoer met Eugene in die hoofrol. Hierdie keer is ‘n intellektuele variasie bygevoeg desnieteenstaande derhalwe nietemin ondanks die feit dat die BT-Kaners nie akademies genoeg ingestel was om dit te kon waardeer nie.

Riël se wonderbaarlike geduld waarmee hy elke keer die “nuwe drop wat net laasjaar aangekom het” op die boonste rak van sy winkel gaan haal het, was niks in vergelyking met die geduld wat ons moes beoefen met die twee lastige brommers wat keer op keer begin het met: “Ons wil graag ‘n aaitem herhaal. Dit is Roelof/Marius se mond ….” Meer as “Doom” en vlieëslaners was nodig om ons van hulle te verlos.

Die hoogtepunt van die kampvure was egter die spannende vervolgverhaal wat oor vier aande aangebied is. Eers was dit Sinkplaat Burger en die B van die BTK met Riël en Sterretjie as die boewe K en T wat ‘n B-bom stel in Erna. Die manne wat die slee die volgende dag moes trek, kon getuig hoe realisties die spel was in die toneel waar die boewe Sinkplaat se motor (net Breda weet wat dit is!) verwoes het.

Daarna was Eugene en Riël Se en Ment in Sandsif Burger en die Steen van Drakenstein. Sandsif se metgeselle (wat nooit heeltemal kon besluit wie is wie nie) loop in die finale klimaks saam met die twee kamermade onder Sandsif se ystervuis deur, maar die kabaal was in elk geval so groot dat dit nie saak gemaak het nie. Ongelukkig was daar blykbaar ‘n fout in die draaiboek, want Sandsif se neef uit Engeland, Dagha-Mix Argus, hoe toe nooit op die toneel verskyn nie!

Ook by die bouery was die gat-tema goed en diep teenwoordig en veral die arme “dagha-mixers” het later gevoel dat hulle met ‘n bodemlose put te doen het. Terwyl die gatgrawers egter met hulle ondergrawery besig was, het daar bo-op snaakse pilaartjies verrys – volgens Jat en sy instrumente staan hulle glo tog op dieselfde hoogte!

Met groot ywer is daar klippe aangedra, aangesleep en aangery, en gemessel dat die sement so spat. Stadig maar seker, klip vir klip, het die fondament en voorste stoepmuur verrys. Daar was werk vir elkeen wat wou werk – al was dit dan net op die ander se senuwees.

Ten spyte van die harde arbeid, het die sports nie uitgebly nie. Saans vóór ete was ingrawery, en ná ete pitspoegkompetisies die gewildste aktiwiteite. En lank na “Nag, Dames” was daar altyd ‘n groepie wat nog om die vuur sit en ghitaar speel, sing, gesels en koffie drink het.

Die resultate van die bouery het nie uitgebly nie en teen die einde van die week kon almal met seer rûe van sement dra of stukkende hande van spit en messel, tevrede kyk na dit wat ons bereik het. Toe was almal dit eens dat al die harde werk, ja, selfs die werk tot laat met die ysige stort daarna, tog die moeite werd was.

Dit was met swaar harte wat ons al die goed weer teruggedra het, want ons het lief geword vir “ons hut”. Op die bus het almal vir oulaas malgegaan en gesing, en eers by Skuilhoek, toe alles verby was, het ons besef hoe lekker die kamp werklik was. En toe ons terugdink aan die fantastiese weer wat ons ondervind het, die feit dat daar geen ernstige ongelukke was nie, en dat alles met die werkery so goed gegaan het, het ons eers volkome besef hoeveel dank ons ook aan Hom verskuldig is.

Tinie Muller
(Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui