George-Knysna Gala 1974

Vrydag:
Vir BTK-tyd is twintig minute laat glad nie sleg nie, en dit was twintig baie tevrede waryers wat, met Sarina al wapperende op die voorpunt, om twintig oor sewe uit Stellenbosch vertrek het.

Na ‘n rukkie het Trix se sombrero die stryd teen die wind gewonne gegee en was goed op pad terug Stellenbosch toe voordat hy teruggewen is. Nadat ‘n poging tot ‘n kussinggeveg veroorsaak het dat Ina bloedtand geslaan is, het almal rustiger geword en maar plat gelê om die koue wind te ontduik.

In Worcester se hoofstraat het ons gestop en roomys geëet en daarna was ons eerste stop by Riversdal waar ons sommer by die garage middagbrood geëet het. ‘n Oomblikkie van stilte is gehou vir die bus wat half-twee moes vertrek, en in die stilligheid het almal gewonder of hy wel sou vertrek.

Met George se berge wat stadig al duideliker geword het, was Heroldsbaai se afdraaipad skielik daar en gou-gou was ons by die kampplek – met Tokkelokkie om ons te verwelkom. Die kamp is gou ingerig en daarna het ons die stof van die pad gaan afspoel in die heerlike branders.

Voor ete was die verskrikte klein voëltjies in hulle nessie die enigstes om ons sang te waardeer, maar dit was heerlik om te sing, en toe ons later langs die see gaan stap het, het almal se harte saamgejubel, want Gala ’74 het begin.

Ten spyte daarvan dat die bus langs die pad deur ‘n stukkende band vertraag is, vang die busryers ons waar ons nog besig is om te beraam aan ‘n verwelkoming. Hulle tref dus ‘n leë kamp aan -net om deur ‘n “Hallo, hallo, hallo”, uit die boonste rakke (of is dit boonste walle?) verwelkom te word.

Die sloot boikot ons koningry, maar almal is bly om saam te wees en te gesels oor ‘n beker rooibostee.

Saterdag:
Stap binneland langs. ‘n Omgekeerde voorstellingsparade en Christine Krone, Mike Michau en Kobus Conradie bied probleme vir die koor. Middagbrood word in ‘n ontruimde huis gehou en floppies word deur die venster bedien.

By die pragtige klein Ballotesbaai is Soekie en Ronel die enigstes wat dit waag om te swem. Daarvandaan is dit ‘n pragtige stap rotslangs. Op een plek moet ons teen ‘n leer uitklim; en veral nadat Ina Smit die tou afgetrap het, sukkel dit om almal bo te kry.

By Victoriabaai luister almal rugby. Volgens die kenners onder ons was die telling op daardie stadium 1 – 0 in die Springbokke se guns – hulle het een Fransman uitgeslaan!

Neëntig BT-Kaners agter op die wa laat mens onwillekeurig aan sardiens dink en ten spyte van Koos se sukses met die “double clutch” gaan dit maar ‘n bietjie kwaai om die draai – daarvan getuig die gebuigde wa-ysters.

By Saasveld aangekom, kamp ons op ‘n rugbyveld. Die manne betrek die paviljoen en die meisies vaar die dennebos binne. Ten spyte van die dreigende reën kom Steven en sy tentekomitee niks verder as om uiters optimisties te sing nie.

Die aand om die kookvuur tel dit blykbaar in ‘n man se guns om BSc te swot, want dit kos vinnige toegepaste wiskunde toe Roelof aankondig dat Groep 3 sal spin. Steven ry Koos se minder subtiele pogings om in te grawe in die wiele en stamp hom letterlik van die reling af. Gottlieb en Deon ontstig egter alles deur die 1’s en 2’s te ontvoer, met die gevolg dat, toe die fluitjie blaas, slegs ongewilde 3’s om die vuur te vinde was.

Sleetyd en ‘n lewendige aaitemry met die “koperkapel” en “Dêd” in die hoofrolle. Koos met sy droogte in Egipte, sy springkane en koringkorrels, weerstaan aanslae beide van die spinnies en moedelose manne, maar toe hy darem kans sien om weer voor te begin sodat Danie die draad van die storie kan kry, en die springkane nog steeds in hulle duisternisse op die skuur aanstorm, besluit ons om ‘n “double feature” aan te bied. Dit het toe die gewensde uitwerking gehad.

Tydens hekeltyd moet Carina verduidelik hoe en waar sy gestort het – en wie die gordyntjies vasgehou het!

Uitkenningsparade en die eerste toeriste sukkel maar. Naomi beweer dis die Afrikaanse name wat haar onderkry en ‘n paar nuwe toeriste soos tannie Uys en oom Tinie sluit by die groep aan.

Na nader-sit en nag dames klink die stemme van die groepie om die gloeiende kole nog lank in die nag op voordat die stilte oor die kamp toevou.

Sondag:
Tentekomitee se optimisme was tydelik geslaagd, want die son skyn so warm dat die meeste mense al uit hulle slaapsakke was toe die feetjies en kaboutertjies met koffie en beskuit aankom.

Die oggenddiens word deur ds Blignault op die paviljoen gelei. As gevolg van die dreigende onweer, eet ons op die paviljoen – die kos, veral die hoender, is fantasties. Elsa de Luxe, wat in Esté se bad gemaak is, smaak besonder lekker – dalk is dit die “Palmolive-smakie” wat die verskil maak. Na ete word die probleem van Engelse bordspin opgelos deur die terme “bollow” en “hollow” in te voer.

Kort na ete gee die weer met ‘n geweldige donderslag sy ongeduld met die tentekomitee te kenne en begin dit met mening reën. Toe al die meisies met sopnat bondeltjies by die paviljoen aankom, moes selfs Steven ingee. ‘n Belangstellende skare het van die paviljoen af dopgehou hoedat Tentekomitee, in swembroeke geklee, met groot gespat van water die tente anderkant die doellyn opslaan.

Voor die paviljoen was die skottelgoed-opwasmasjien in goeie
werkende toestand. Willem en Marius trakteer ons op ‘n bordgooi-speletjie totdat Emile opmerk dat almal al “bored” is met die “uitspattige” speletjie.

Toe die ergste reën oor is, besluit ‘n paar van ons om, ten spyte van die swembad wat tentekomitee agter die damestente gemaak het, ander swemplek te gaan soek. Met Coert en Esté om die pad te wys, is ons “Gorge” toe. En ten spyte van die vriesende koue water was dit ‘n belewenis wat ons jammer was die ander nie wou deel nie.

Die sonsondergang het gepaard gegaan met die pragtigste kleure en wolkformasies. Miskien was dit die inspirasie vir ‘n skielike en onverwagte dameskiet. Groep twee spring dus ‘n spin vry en chaos heers.

Dié aand het ons ‘n unieke paviljoen-slee – met ‘n skare toeskouers wat tevergeefs wag vir die rugbywedstryd om te begin. Chris, Esté en die kerkkoor onder leiding van Ottilie sorg vir die aaitems.

Aangesien die slees in manskamp was, keer almal baie vroeg bedwaarts – vir sommige ‘n ietwat nat proses.

Maandag:
Opstaan – en Steven geniet dit vreeslik om die damestente te laat val. By die afwesigheid van gille neem hy hom teleurgesteld voor om dit môre nóg vroeër te doen.

Tydens ontbyt maan Marius die eerste toeriste om tog maar genoeg te eet – hy het glo op sy dag die fout gemaak om net ses snye brood te eet, en soos ons almal duidelik kan sien, ly hy vandag nog aan die gevolge van sulke dwaasheid.

Met “dis die tyd, dis die dag” in hulle ore, is die eerste toeriste saam met Jat en Marié vooruit terwyl die oues al singend agterna gekom het. Ek weet nie hoe dit in die voorste groep gegaan het nie, maar die agterste groep was baie vrolik en het die hele pad loop en sing.Na ‘n heerlike rus op die brug oor die Kaaimansrivier, is ons oor die heuwels Wildernis toe. Langs die pad skrik ‘n bul hom amper morsdood vir Ina Vermeulen. Toe die groen grasbedekte heuwels ons welberese Amerikaanse toeris, mnr Blommaert, laat opmerk, “This is definitely the most beautiful country I have seen in all my life” stem almal geredelik met hom saam. Die ooreenkoms met Switserland het spontaan liedjies uit “Sound of Music” oor die groen gras laat weerklink.

By Wildernis se strand het ons eers heerlik in die branders baljaar en daarna het omtrent al die ou toeriste ‘n beskaafde koppie tee in die kafee gaan drink. Ten spyte van die ongekende ekonomiese opbloei wat die BTK se besoek noodwendig aan die kafee moes bring, kon selfs Emile en Marius nie daarin slaag om enige afslag op die 60c-bal (gekoop uit oom Gys se sak) te kry nie.

Van daar af het dit dus al spelende in die pad af gegaan. Kosma Sarina wou net opsluit nog ‘n bal vir die meisies hê – sy was bitter ontevrede omdat die meisies net nie daarin kon slaag om die bal ‘n redelike tydjie in besit te hou nie. (Dit sê nie veel vir die mans se vermoë om nie vuil te speel nie!).

Uiteindelik het egter gebeur wat almal die hele tyd voorspel het gaan gebeur, naamlik dat die bal teen die hellings af en teen ‘n doringdraad vas is – stukkend. Daarvandaan het die gevolglik heelwat matiger gegaan tot by Ebb and Flow.

Na ‘n baie laat middagbrood – aangesien Koos met die wa en middagbroodsakke verbygery het, is kamp opgeslaan. “My komitee” het blykbaar gister se waarskuwing ter harte geneem, want die tente het wraggies al gestaan voordat daar nog enige druppels geval het!

Die middag is verder verwyl deur met die twee “geneemde” bootjies rivier op te vaar, te slaap, te sing, te bad, krieket te speel -en vir eerste toeriste om die nodige voorbereidings vir die Wraak te tref.

Net voor aandete het dit begin reën en dit was ‘n bra nat skiettyd. Gelukkig het die reën nie lank aangehou nie en was daar geleentheid vir ‘n opwindende pitspoeg-kompetisie. Hein, met ‘n lepel, was die vlagman wat die beroemde deelnemers moes afsit. Afgesien van die gewone liga, is ook meegeding in ‘n damesliga en ‘n “double league”. Vanweë die gebrek aan integriteit by die baanbeamptes is die uiteindelike wenners met moeite aangewys.

Ten spyte van die dreigende wolke is besluit om buite te slee en die weer het verder lieflik saamgespeel. Die eerste toeriste onder leiding van Josua het baie hard probeer. Groep twee as spinnies het hulle bes probeer om hulle in die wiele te ry of ‘n stok in die speke te steek of hulle die spoor byster te laat raak, en is in die proses amper in die rivier gegooi terwyl Ronelle uitgevind het dat om mond-tot-mond-asemhaling op ‘n “lyk” toe te pas, nogal kan boomerang!

Heelwat later die aand het ons almal as BT-Kaners saam koffie gedrink.

Dinsdag:
Stap padlangs van Ebb and Flow af see toe en daarna was dit sandstap om Gerickespunt Swartvlei toe. Ongelukkig was dit hoogwater en dus ‘n moeilike stap in die los sand, maar die skoonheid van alles om ons het honderd maal vergoed daarvoor. En dit was heerlik om, met die warm los sand tussen mens se tone en die diepblou see op regterkant, te loop en sing en te sien hoedat die BT-Kaners die eensame kus laat lewe.

Middagbrood is gehou by ‘n heerlike swemplek en die honger swemmers het die floppies wat die middagbroodjies, ten spyte van oom Tjaain se waarskuwings, vryelik uitgedeel het, baie waardeer. (Oom Tjaain, ons kan mos nie help as die brood stukkend gedruk is nie?!).

By die kampplek ondervind Koos kompetisie van ‘n plaaslike kafeetjie en dit lei tot ‘n baie effektiewe advertensie veldtog.

‘n Ligte krisis ontstaan toe ‘n ouderling ons kom aanspreek omdat die meisies wederregtelik in die “kerk” ingetrek het. Ons wonder nou nog; was dit werklik die broederlike ooreenkoms tussen oom Gys en die predikant wat die knoop deurgehaak het, of was dit Sakkie wat so belangstellend nadergestaan het?!

Ete word oorheers deur yslike bakke vol pampoen en dit verskaf blykbaar die energie vir ‘n jolige volkspele-sessie.

Die aand om die kampvuur vind ons eers uit dat Koos eintlik ‘n vliegtuig moes gewees het – hy neem Piet en Sarina tot so naby aan die hemel dat Piet naarstiglik ‘n peppermentjie begin soek….

Marius en Eugene volhard in hulle besluit om weereens die fabriek-aaitem te doen, en arme Pierre (die enigste wat eerlik genoeg is om te sê hy wil dit nie sien nie) moet dit ontgeld.

Woensdag:
Die rivier waaroor ons so erg gewaarsku was, was toe skaars kniediep, maar almal was bly dat hulle swemklere aangehad het toe dit kom by die “smoke-break” se baljaar in die branders.

Die son het warm gebak en ons het die seemeeue hulle grasieuse stil vlug oor die skuimende branders beny. Die strand het die pragtigste skulpies opgelewer asook interessante bottels en selfs “ration packs” (het Pierre werklik so min vertroue in die kokke?!) en ons was jammer om die kus te verlaat.

Ek wonder of, as die swane op Goukamma se groen gras sou kon praat, hulle ook soos die ou visterman langs die rivier verslae sou opmerk: “Sjoe, maar julle is darem baie!”

Nadat in die perdekampie kamp opgeslaan is, het die meeste van ons ‘n bad met ‘n swem gekombineer en daarna in die son drooggebak.

Die aand was dit chaos met skiettyd toe Roelof die fluitjie blaas, maar Sarina sê: “Bring julle borde en kom queue!” Na ‘n bietjie volkspele was almal ingestel op ‘n lewendige aaitemry. En Emile met sy stil trein-aaitem en sy pienk mannetjies het ons nie teleurgestel nie. Verder het Jozua ook uitgevind dat ‘n eienaar van ‘n viswinkel hom liefs nie aan sy klandisie se klagtes in verband met sy uithangborde moet steur nie.

Later die aand op die hangbrug het Gottlieb se ghitaar die musiek verskaf terwyl die beweging van die water die weerkaatsing van die maan in talle blink diamante opgebreek het.

Donderdag:
Oorstaandag – en dis lekker om later as gewoonlik op te staan. Ten spyte daarvan dat feitlik al die meisies ‘n voor-ontbyt swemmetjie geniet het, word hulle weer natgegooi – glo laat vir ontbyt.

Na die stap Buffelsbaai toe is almal in die regte gees en ons neem die restaurant oor – drink koeldrank en sit lustig en sing. Heelparty reken ook dat die ontbyt by die kamp bietjie karig was en bestel hamburgers.

Terug in die kamp na middagete verskaf Wouter se kano die meeste gewilde tydverdryf. Steven kan dit eenvoudig nie kleinkry dat ‘n meisie dit regkry om te roei sonder om om te val en hy nie.

Die aand se stew smaak fantasties, maar al Roelof se pogings om Pierre se “Orgie lekkery stews” fotografies vas te lê, misluk.

Met die komitee-aaitems word ‘n baie hoë standaard gehandhaaf. Sprokies is blykbaar die in ding, want die Walaaiers voer ‘n baie verwerkte Rooikappie op; die Waterdraers maak ‘n opera-floppera van Goue-lokkies; en die Kokke en Stokers voer Jors en die Goukamma-monster op. Dit was glo baie moeilik om die kedênsie se lot te beslis – dalk was dit net Sakkie as die lieftallige Goue-lokkies wat die beoordeelaars se harte gesteel het.

Die twee Van Der Merwes wat “besluit” het hulle verjaar vandag, word ietwat teleurgestel, want van die queue waarop hulle gehoop het, kom nie veel nie, maar van die bad in die rivier wel!

Vrydag:
Die oggendbrood-tradisie van natgooi is vanoggend voortgesit en as wraak-maatreël het “my komitee” die damestent dadelik laat val. Dit lei toe amper tot ‘n aantrekkompetisie tussen die mans en dames.

By Buffelsbaai is die kafee weereens ingeneem en toe dit later begin reën, het ons op die stoep sit en sing. Na ‘n ietwat nat groepfoto-nemery, het ons in die ligte reëntjie langs die see af begin stap. Alles was nat en grys – sekerlik in harmonie met die harte van die laaste toeriste vir wie dit die laaste BTK-stap was.

By Brenton-on-Sea se hotel het almal iets gedrink – al het die kelner, net soos in Tentekomitee se aaitem die vorige aand, eers bietjie gesukkel om te verstaan wat al die beduiery beteken.

Daarvandaan was dit ‘n pragtige interessante stap – op- en afdraandes wat elke keer na ‘n nuwe klein baaitjie gelei het. Na middagbrood het ons bo-op die rand nou ‘n redelike afgrond gestap en dit was heerlik om die lang trein khaki en rooi te sien terwyl die seemeeue klaend protesteer teen die versteuring van hulle rus.

By die Westelike Head het ons maar swemklere aangetrek aangesien geeneen van die verbyvarende bote kans gesien het om negentig mense op te laai nie. Dit was hoogwater en plek-plek moes ons tot by die middel in die water stap – sommige het verkies om te swem.

Van die karavaanpark af het die wa ons na Woodbourne geneem. Dit is ‘n mooi kampplek met as hoofattraksie baddens met warm water. Ons eet baie laat en dit veroorsaak spanningsvolle ingrawery – veral ná Ronelle se vals alarm.

Die aand in die slees was almal maar moeg en vaak en aaitems was skaars. Die pragtige aand met die ronde volmaan wat blink op die water weerkaats, het dit nie juis makliker gemaak vir die laaste toeriste om afskeid te neem nie.

Saterdag:
Na ‘n baie kort naggie – halfpad onderbreek deur Chris en Pierre se aanmaning om op die ander sy te draai – word ons op die absoluut belaglike tyd van kwart voor vyf gewek.

Nadat opgepak is, foto’s geneem is en die laaste toeriste gevuurpyl is, besef almal skielik dat die toer verby is. En met dankbaarheid jeëns God, ons Beskermer, ook op die toer, stem ons saam met Roelof toe hy uit Psalm 121 lees:

“My hulp is van die Here wat hemel en aarde
gemaak het.
Hy kan jou voet nie laat wankel nie;
Jou Bewaarder kan nie sluimer nie!”

Tinie Muller
(Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui