Riviersonderend Oktober 1974

27 September – 05 Oktober 1974

Om ‘n lang storie kort te maak, dit was ‘n lekker toer. maar miskien moet ons tog die lang storie vertel en dan begin ons sommer reg by die begin.

Getrou aan die tradisie van die BTK moes iets weer laat wees. Die keer was die wa betyds, maar Sam laat. Die busryers het dit nog beter getref. Eers lol die bus se ratte en daar moes toe ‘n ander een gehaal word (ek dink die ruil was die moeite werd!). Dit het die busryers die geleentheid gebied om eers ‘n hors d’ oevre by die koshuise te geniet. Op die bus word daar eers naastiglik name geswot (veral deur die eerste toeriste – hulle weet nie!) – al wat lastig was, was toe die meisie wat gisteraand ‘n blou bloes aangehad het, die volgende dag netjies in kakie was, nog nooit so iemand gesien nie!

Ewenwel, by die kampplek was dit maar ‘n vaal klompie waryers, vaal van die honger, wat die bus welkom gekoning het. Hulle was maar te bly om saam met die busryers ‘n “midnight snack” te geniet.

Marius was nogal baie opgewonde na sy besoek aan die boer vroeër die aand. Ek wonder ….!

Saterdag:
Vir sommige het dit maar swaar gegaan (veral die wat nie gewoond is aan agtuur-klasse nie), om so vroeg op te kom. Maar sing-sing het ons opgetrek McGregor toe vir ‘n kultuur-historiese toer onder leiding van ‘n gids deur die skilderagtige dorpie. Na dese was almal instaat om enige huis te dateer; kyk net hoe laag sy dak is, hoe ver sy vensters uitmekaar is en as daar ‘n skaapboudgeweltjie is, is dit eenvoudig. Ons was net klaar met die eintlike toertjie toe die eintlike gids aankom.

Met McGregor se “tjappie” op ons nekdoeke is ons verder met die bus tot amper bo-op die pas. Van toe af moes ons voetslaan terug Stellenbosch toe.

By middagbrood het Gottlieb en Piet Otto ons op ‘n duikvertoning getrakteer en Koos van Antwerpen het jou wrintie-waar met sy hoed op sy kop dit in die water gewaag. (Die haarsny was glo die R5 werd!).

Groot was die vreugde toe ons Greyton instap en ontdek dat daar ‘n kerkbazaar is. Melkterte is amper heel-heel ingesluk. Vra maar vir Pierre, Amanda, Hennie en Hans. Maar Genadendal was nog ‘n ent met die stofpad aan.

Om alles te kroon is die eerste slee sommer ‘n tentslee en soos gewoonlik chaos, warm en nat. Die dames wat so naarstiglik ‘n lekker lêplekkie uitgesoek het, moes tot hulle spyt ontdek die nag dat dit toe nie so wonderlik was nie. Die wasgoeddraad was Sondag vol. Hans se tentekomitee het toe darem die dam drooggelê.

Sondag:
Na kerk is ons toegespreek deur mnre Beukes en Joost oor die geskiedenis van Genadendal en toe die wag vir hoender en Elsa de Lux. Dit was die moeite werd!

Die middag neem mnr Barley ‘n klompie van ons deur die verlede van Genadendal en die aand end hy dit af met ‘n mooi skuifie-vertoning in die biblioteek se kelder.

Die aand was uitkenningsparade, maar gits! Nie een eerste toeris was goed genoeg vir die kondens nie. Maar swak! Wat het daar in oom Bethal-hulle se hoekie aangegaan dat hulle so gelag het?

Maandag:
Maandag is wraakdag. Stilte. Eerste toeriste soek aaitems en prakseer. Ou toeriste bedink moord.

Willem en Piet gaan by ‘n plaas in om Boskloof te bel en moes toe maar weggaan sonder om van die heerlike warm koek te kry.

By middagbrood duur die apartheid voort. Rika moes toe maar net mooi wag totdat Piet klaar was met sy koeldrank.

Tot die eerste toeriste se ontsteltenis word hulle aaitems die aand wreed onderbreek:
“Goodbye toeris, it’s hard to die,
when all the birds are singing in the sky.
Together we’ve climbed hills and trees,
skinned our hearts and skinned our knees,
We will kill you if we please.

We had joy, we had rain,
we had seasons full of pain.
But the rain and the pain,
will kill you all the same.”

Buite het die donderweer dreigend voortgedreun. Vrees.

Dinsdag:
Sommer vir afwisseling begin ons die dag toe met ‘n lang bult. Blaas-blaas en hyg-hyg. Bo-op kon Willem en Chris nie wag dat Wouter met die pyp met eksotiese tabak kom nie.

Sing-sing word die afdraandes en bulte(?) aangedurf.

Middagbrood op oom Soois se plaas. Heerlike koffie en appels. Sommige mense, soos Stoffie, kon darem nie verdra dat ander mense so heerlik kan rus nie en die tuinslang was darem te aanloklik.. In Kaaimansgat word daar vinnig besluit om van kampplek te verskuif. Daaroor het Willem gejuig, want nou was daar geen kompetisie vir Koos nie. (Hoekom het Willem gedurig deurmekaar geraak met Koos en Tone?).

Die aand het die manne waarlik geleer watter ding ‘n spinnie is. Hulle was beslis nie siek van verdriet nie.

Marius en Eugene se koperkapel het ‘n diep indruk op Richard en oom Bethal gelaat. Hoe kry Don Pedro dit reg dat sy perd skielik ‘n motorfiets word en dan weer ‘n perd?

Vra vir Stoffie en Tinie hoe dit is om half twee in die oggend op ‘n swaai te ry?

Woensdag:
Algemene bad-, was- en branddag. Die dames wou beslis seker maak dat hulle skoon sou wees vir die minister.

Van vroegmiddag af word die “stew” gestook, want ons wil die minister met “stew” beplak.

Dat die nuwe Erebosbeamptes baie ywerig is, is bewys toe Gerrie ‘n vermeende wilddief vasgetrap het. Is die hondegeveg deel van die toepassing van sy gesag?

Die spinnie onder leiding van Rika was in ‘n gevaarlike bui, en menige man se sleepilblik het amper in die slaggebly. Hulle was nie getem voordat Rika deur ‘n paar manne vasgebind was nie.

Tannie Martina se koekies het darem afgegaan.

Donderdag:
Dit was moeilik om uit die slaapsak uit te kom, want dit was warmer binne as buite. In die slees het dit glo 1½” gedou.

Hoera vir Sam en die wa en die bult! Dis ‘n warm dag en die sonnetjie skroei. By middagbrood is die koue swempoele ‘n welkome lafenis. Vra vir Stephanie en Eugene hoe dit is om treintjie te ry in die geut af.

Die watermanie het ons gepak, want by ‘n “smoke-break” kon Koos nie die versoeking weerstaan nie en ontketen toe ‘n groot geveg. Selfs oom Bethal moes deurloop.

Die aand moes Marius tot sy ontsteltenis ontdek dat hy vir die soveelste maal by ‘n spinnie ingrawe. “But never mind about that now dear…!”

Dié aand is dit komitee-aaitems. Die ander komitees kon net nie met die kokke en stokers kersvashou nie en moes gedwee toesien hoedat hulle die kondens wegdra.

Vrydag:
Met Jan aan die spits (ek wonder of hy ons nie soms om die bosch gelei het nie?) stap ons Boesmanskloof deur tot by Nuwebergbosboustasie.

Tot Tineke en Sam se ontsteltenis besluit Baas Bosch toe dat die dames- en manskampe andersom sal wees as wat hulle bespreek het.

Die aand moes ons toe weer ons intrek in die tente neem vir die laaste aand se slee. Jaco en Eugene het ons toe vermaak met grappies uit ‘n ou Ritgem en daarin geslaag om die tente te laat rondkruip.
“Pa, ek wil ‘n roomys hê!”
“Bly stil en drink jou bier!”

Saterdag:
Nadat al die orige komitee-foto’s geneem is, pak ons die laaste skof Stellenbosch toe aan.

Ten aanskoue van almal het die kokke en stokers by ‘n “smoke-break” die kondens gedrink en getrou aan die tradisie is die kondens in die middel van die proses geskaak en na ‘n hewige wedloop en stoei weer terug verower.

Sam het ons agter in Jonkershoek kom haal en singend vaar ons die Eikestad in. Vuil en dankbaar.

“Loof God, omdat hy goed is,
en goed is sonder end.”

Jat du Toit

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui