Langeberge April 1970

Darem maar ‘n opgewondenheid, so voor die toer. Seker ook die dat ‘n mens so op die laaste nippertjie so baie dinge vergeet. Dit was toe die wa vir die derde keer terugry koshuise toe, (en dit nadat ons in Verbruikers se agterplaas geëet het!) dat Reep opgemerk het: “Ou Rudolf jong, ons moet darem nou begin ry jong. Jy weet ons moet nog gaan kostent en pou-hokke ook opslaan. Vanaand pou ons nog sonder pou-hokke!”

Reep was die dag spraaksaam. In ‘n vertoulike onder-onsie, het hy vir Rudolf gevra dat ons tog nie die toer so lank moet slee nie. Hy raak so in ‘n trans! Wil lyk of die trans toe sy vrugte afgewerp het, of hoe Tertia?

Die groot groep moes met twee busse ry. Die eerste bus is vieruur weg maar die tweede het BTK-tyd, halfses, gery. Die reis was heel voorspoedig, totdat Elsie haar harde kop wou bewys en die agterruit uitgeslaan het. Daarna het dit natuurlik begin reën.

Op Riversdal het twee busse mekaar gekry en die konkelpad gevat na die kampplek op Tjoi en Sakkie se geliefde Keppies Vaaljapie, se plaas. So ‘n pad is genoeg om enige mens te laat verdwaal:
Ou Natie was die groot askoek,
Hy het dié bus se spoor gesny.
Laat die nag nóg pad gesoek,
en veertig myle ekstra gery!

By die kampplek aangekom, het dit gereën. Tot groot vreugde van die tente-komitee, het die waryers reeds die tent (en pou-hokke) opgeslaan. Party mense het hulle lyf kaf gehou, of dalk vark.

Tjoi, Sakkie en Willem Bonthuys het heerlik gaan bed maak in die kafhok. Ok maar goed dat hulle so eenkant was, want:
“Ons gaan kuier vir oom Keppies,
hy skink ons ‘n dop of twee.
Die volgende aand om tienuur,
kan ons nog steeds nie slee.”

Die volgende dag was Goeie Vrydag. Dit het nog gereën en was baie koud. Dis toe dat Nulda onthou van ‘n meisie wat nie wou kom toer nie, sy het gesê: “Dis te warm en droog daar!”

Hannes het vir ons die heel besondere sangdiens in die damestent gelei, terwyl die kokke moes swoeg om die hoenders gaar te kry.

Die middag was daar net nie ‘n beter plek as die slaapsak om die middag deur te bring nie. Ôk nodig, veral vir die ander ons wat ‘n “beauty-sleep” moes inkry!

Sondagaand is “chou-chou” aand. Iemand wou weet of dit nie dalk Tjoi-Tjoi-slaai is nie!

Party mense kan die aand net nie gou genoeg in die slees kom nie. Dit was wel snaaks toe Estie sommer so op ‘n kol Sarie Marais begin sing. By Estie kan ‘n kat dit ook nie lank binne hou nie, dit was ook nie honderd jaar nie, toe spring die diamante uit die mou.

Vir my en Coert was dit ‘n baie wonderlike en besondere aand, vol verrukking veral in die chaos wat daar geheers het. Die meisies het ge-ooo en die mans ge-aaa! Die res van die items was toe ook gebaseer op een of ander verlowing. Die aand sou ook nie afgerond wees as Coert nie die kosbare sjampanje oor Christine en Estie se koppe uitgegooi het nie. Wat ‘n seën!

Dis nie net Coert wat wyn rondgooi nie. Oom Keppies moes ook bedank word. Dit was doodstil in die huis toe ons gaan serenade, Stephan wou weet hoekom hulle nie die ligte flikker nie. Volgens Natie is dit baie logies, mens kan mos nie ‘n kers so vinnig opsteek en doodblaas en weer opsteek nie.

Saterdagoggend was dit vroeg roer vir die lang skof. Al gehoor van die tradisionele ou tente-komitee? Dis nou Niel Krige se soort wat die damestent laat val terwyl die dames nog skarrel om hulleself respektabelik te maak.

Dit was ‘n baie mooi stap met baie affies en nog meer oppies. Danksy Elsie-hulle se morele sangsteuning het agteros ook bo gekom.

Van die mooiste mooi blommetjies waarby ons verbygestap het, het op een of ander manier in Sias se lappies-skaapvelhoed beland. They-O vertel toe dat dít met die skape gebeur het die keer toe die Plascon-vliegtuig in die Karoo geval het.

Op Welbedacht aangeland, was dit weer die kwessie van die onregverdige kampverdeling. Die meisies moes sommer daar in die bosse intrek terwyl die mans ewe luiks in die varkhokke kon gaan kooimaak. Ja-nee, die weervoorspelling het mos gesê: Verspreide misbanke. Die gesnork van die manne die nag het omtrent geklink na ‘n fris varksnoet.
“Hier sit ons in die varkhok
ons sing en speel kitaar.
Die son skyn heerlik buite,
maar hier binne lyk dit naar.”

Die aand het rof begin toe die mans die meisies by die kookvure weggedra het om op toue se seil te sit en sing. Niemand het kon dink dat die aand sou eindig in ‘n boksgeveg nie – ‘n kitaarboks! Alles het heel onskuldig begin met die item van die Rary, Tey-O was natuurlik Rary. Siestog, sy verbasing was die grootste van almal oor die krag van hom, of was dit skokreaksie? Natie en Erna wás amper minus neuse en arme Sakkie se “kitaarboks” was heel in sy kanon.

Voor die afsluiting is nog twee manne geslaan tot Ridders van die knoop – Tjômmie en Coert.

Sondagoggend: Heerlike ou lekker lê en hard probeer om nie te dink aan jou heup wat maar nie ‘n holtetjie in die grond geboor kry nie, terwyl jy wag dat die feetjies opdaag.

Jurgens het die diens onder die bome gelei – ôk maar gerieflik om so baie tokkelokke byderhand te hê. Sal goed wees as hulle altyd “practice what they preach.”

Na die poeding – Elsa, en die ete, het meeste opgetrek om hulle te gaan reinig. Lekker die soort badplekke. Behalwe dat dit gemeng is, is dit van die soort waar jy net die klippe wegrol en die warm water stroom so in.

Die aand speel Dolfie vuil-uil. Hy lees nie bachelors af nie (ja mens, daar was nie minder nie as vyftien bachelors!). Dit het ou Sakkie sleg getref. Hy sê hy het nog so deur die lug getrek, toe skiet ‘n ander ou haar. Daarop het hy die volgende versie vir die liedjie bygeskryf:
Dolfie blaas die fluitjie,
die tyd dat hy moes skiet.
Ek korrel, warrel, skarrel,
maar, ek’s ‘n bachie tot my verdriet.

Die mooi stemmige program is weer afgesluit met ‘n serenade vir die baas van die plaas wat ook die kampvuur bygewoon het.

Die nagte op Welbedacht wás koud. Maandagoggend kon Tinks nie opkom nie, sy het dié nag so met oorgawe koudgekry!

Die busse het ons na die Korinthe Vetrivier skema geneem. Op pad moes hulle eers by Heidelberg aan. Darem snaakse goed die BTKaners. Mens kan hulle nie in ‘n dorp loslaat nie, of hulle koning al wat voorkom.

Met Hannes se blaasorkes vooraan, het die lang padstap ook omgegaan. Die arme Willem en Frieda het op die stadium nog nie geweet nie – selfs nie eers dat jy versigtig deur ‘n doringdraad moet sneak of hy steek jou vol gate.

Heerlike middagbrood met duisende groen gras in die skadu, volop water om te gooi en ‘n liewe omie en tannie wat net beskuit en koffie aandra. Elric het opgemerk dat dit nie in een van die ander se broeke gesit het om soveel te eet soos hy nie. Estie en Coert kon getuig waar die hoender van ‘n Elric aan sy bloomer kom – op die vorige plaas was ‘n hele paar kaalsterthoenders.

In so ‘n hete son pomp enige BTKaner se hart darem vir ‘n bietjie kaalvoetswem. Jurie was net die hero toe sy fluitjie blaas vir “mans terug en dames hier.” Dit was omtrent ‘n gepaddaspring in die padda-water. Die Tertia doen tog snaakse dinge, swem heel poedel-poedel, maar haar hoed bly op haar kop. Die riviertjie word verdoop na…

Hoe nader ons aan Palmyra gekom het, hoe mooier het dit geword, hoe haastiger het party mense geraak en hoe stiller sommige ander.

Na chocalate-tyd skil die groenteskillers dat dit klap – wonder waarom hulle so haastig was om by die kooigoed te kom, niemand het tog bed gemaak nie.

Die kos wou maar net nie gaar nie. Almal se senuwees was later klaar. Wat sou dit wees, dames- of mansskiet. Dolfie lees bachies af, tog blaas Estie die fluitjie maar, sy en Dolfie skree in ‘n koortjie. Ai, heerlike ou chaos, niemand wou skiet nie!

In die slees was daar gemengde gevoelens, maar wat, onder die soetheid van die wraak swig selfs die witstes.

Nadat Coert, Sias, Christine en Petrusa hulle onmisbare deel bygedra het, het hulle opgetrek – ja, tot Coert! Ai.

Dinsdagoggend staan Estie op met ‘n mond vol koorsblare. Sakkie kom simpatiseer met ‘n: “O vet pappie, het jy nou ‘n bek vol lippe!”

Hetta was die oggend maar vaak, sy het die vorige nag Sneeuwitjie gespeel in die bos tot so drie-uur toe! Sy was omtrent in ‘n trans na die wraak!

Nadat ons vir Mr and Mrs bedank en gevuurpyl het vir die lieflike kampplek, duisendes melk en volop gasvryheid, was dit weer “stap nou met hoera.”

Die wegspring se sing het eers verander in ‘n gebibber van die oggendbrode nadat ons ou liewe watervriend Gerrit, hulle een vir een in die water gegooi het. Later het die gesang oorgegaan in ‘n gesteun bult-op en ‘n gebrummmm bult-af.

Die meisies van die toer ook darem, sien skaars water of die klere waai. By middagbrood was dit weer net so. Dit gil en jil aanmekaar, maar hulle sê dis lekker, avontuurlik ôk as die slotte so op mens afgestap kom!

Wie het gesê Tey-O is nie verknog aan sy pyp nie? Dat mens darem soveel oppies en affies kon stap agter ‘n pyp aan! Reep was seker weer in een van sy spreekwoordelike transe, hoekom sou hy anders agter ‘n pyp aanloop?

Die aand speel die manne weer terroriste, arme Jurie het skaars ingegrawe of die manne ontvoer die meisie! In die slees is dit maar stil – tot die bachies was heel stil die aand. Behalwe vir Francois se “Weet julle wat” lewer die items ook nie veel op nie.

Na ‘n lekker lang slaap en vol bord pap, het ons gebaaibroek en gesool die kloof ingevaar. Net Niel en Anne-Marie kon nie saam nie, sien, hulle kook toe mos die sop. Esté was ook nie saam nie. Sy gooi baie dramas, g’n een kon egter by die oggend s’n toe sy en Anne-Marie besluit om maar die nuwe ring in die water te gooi nie! Senuwees!

Die middag was dit Sakkie se voorreg om ons te vergas op sy geliefde “Pink Panther” – heel middag aanmekaar.

Die aand was dit komitee-items, die gebruiklike patroon; almal probeer hulle bes, die kokke maak ‘n kop, die papmakers gaan hulleself te buite (Dolfie trek al glad ook aan!) en die walaaiers loop weg met die soete triomf!

Na ‘n groot uitpak, inpak en oorpak vertrek ons Donderdagoggend met rugsak en waterbottel om eers ons Snapsneesgesig maat, Hanlie, by die boer af te laai. So ‘n vark van ‘n swelsel darem.

Met die wegtrek wás die stap lank, maar boeta, teen elfuur was hy vrek lank en ek sal nie sê wat hy teen twaalfuur was nie. Om ôk soveel duisende voete te styg in die hitte van die dag!

Dit was so mooi, al die heide, en berge en so aan. Van alles was die kampplek nog die mooiste. Na ‘n karige middagbrood van twee snye elk, probeer Stephan om ‘n groepfoto te neem. Die padwerkers se dinamiet het blykbaar saam met die kamera ontplof en ons moes net koes vir die klippe.

Waar mens op BTK die energie vandag kry, weet nugter, maar die middag was ons weer soos bakkepaters die berg af na die stinkhoutbos toe. Dolfie het ‘n heel interessante lesingdemonstrasie gegee so van boom tot boom.

Die aand had ons ‘n “well” kampvuur en heerlike sop vir ete. Dit was ‘n belewenis, net ons daar in die groot veld met die vuur en die sterre. Sulke tye weet mens hoe klein jy is.

Vrydag was Tey-O se verjaarsdag. Dit was vir jou ‘n lang gequeue! ‘n Groot queue en ‘n groot ontbyt. Al die kos wat oor was moes geëet word. Ons is mos sommer net na een in die kamp en dan eet ons weer.

Lemoenshoek is uit verskillende oogpunte benader, diegene wat nie regtig kansgesien het nie maar ôk nie wou agterbly nie, verbeel toe maar vir hulle dat hulle “English Ladies” is en stroll toe maar die berg uit. Dit was dit werd! So ‘n uitsig vergeet mens nooit!

So ‘n stap vergeet mens ook nooit. Dit was baie mooi – so mooi, so dors en so honger. Oor bosse en klowe, as mens so honger raak, sien jy nie eers meer as jy op ‘n cobra slang gaan trap nie. Almal het egter geweet of gehóór wie dit was wat amper die slang vertrap het.

Gelukkig vir die goeie ou bosboustasie wat weer lig op ons pad kon werp en volgens die Jurgens – Dolfie tyd (twee namiddag) hom die eerstes halfvyf namiddag in die kamp aan! Menere, dán eet ‘n man sommer lag-lag vyftien snye brood en nog die groot aandete!

Die laaste skietaand het weer sy probleme opgelewer. Arme Marieta du Plessis was (soos gewoonlik) tussen twee vure en nog ‘n genuine ook. Ôk maar swaar as mens so ‘n mooi smile het! Dit was omtrent ‘n stryd wat almal darem oorleef het – Willem ook. Ja-nee, van die bokbiltong wat dié aand geskiet en gesny is, sal nog lank geëet word. Kyk nou maar na Antionette en Retief, Coralie en Chrisman (nogal albei Louw).

Party ander het ekstra lekker en warm geslee – iemand het mos wyn in die kamp ingesmokkel. Tjoi en Sakkie moes eintlik hulle s’n in ‘n blik kamoefleer en oral saamdra.

Ja, dit was ‘n heerlike aand, ‘n heerlike terugry Stellenbosch toe – ja ou broer, dit was ‘n lekker toer. Darem ‘n snaakse gevoel van grootsheid en hartseer en dankbaarheid wat ‘n knop na jou keel toe druk as mens na so ‘n besondere toer sing:

Nog ‘n toer is verstreke vir die ou BTK.
Ai die jare gaan so snel verby.
Eersdaags bied ons in afskeid mekaar weer die hand,
Soet herinnerings sal steeds by ons bly.

Estie de Beer
Elsje Hattingh
(vir Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui