Keisie-Koo September 1968

Die bus vertrek Vrydag, 27 September. BTK tyd vieruur, met ander woorde, half-vyf uit Stellenbosch. Die oponthoud was te wyte aan ‘n soektog na Retha en tydens die proses is Dan gevind. Polla het ons “groot” bus verwar met die Pretorianers se “klein” bussie en dus amper in die Transvaal gaan BTK.

Die eerste toeriste het kliphard begin name leer en ‘n ander klompie het “gesprekke” aangeknoop met motoriste agter die bus. Die meeste van hulle was maar toe en kon nie juis die draad van die gesprek volg nie, al het Estie hoe hard probeer.

Retha daag toe gelukkig saam met Coen-hulle op, maar die ongeluk tref ons toe weer op Robertson waar die arme bussie ‘n papwiel kry.

Toe ons halfnege op Montagu aankom, het die waryers gelukkig al kos vir die hongeriges gehad. Die wind het sterk gewaai en ons is almal elfuur in ons slaapsakke. Dit reën nooit op Montagu nie, behalwe half drie daardie nag toe ons nattigheid op ons gesigte voel neerkom. Daar is inderhaas ‘n damestent opgeslaan en die meeste het ingetrek. ‘n Paar het egter eerder die weer trotseer as die harwar in die tent.

Saterdagoggend het dit nog gereën toe ons opstaan, maar toe ons stap, skyn die son. Wilma het egter wakker geword met duitse masels en kon nie verder saamstap nie. Sy het darem gebly om twee dae later haar een-en-twintigste verjaarsdag op die BTK te vier.

Na ‘n steil klofie uitgeklim is, het Natie besluit dat die bopunt van die kloof net die regte plek vir ‘n groepfoto is. Dan het ongelukkig so ver eenkant gestaan dat Koosie besluit het Natie moet maar die kamera vinnig links swaai nadat hy die knoppie gedruk het om darem vir Dan ook in te kry.

Die reën het weer gekom op pad maar vir die toeriste wat aan “swaar Transvaalse mis” gewoond is, was dit sommer niks.

Die Safari voor die Slotte het die snaakste ontdekking gemaak dat dit eers die jong BTKaners was wat agter gestap het, en nou dit die oues is. Toe is tot die gevolgtrekking gekom dat dit dieselfde BTKaners is!

Middagbrood is in ‘n lieflike kloof gehou en daar is voor ete duisende “nagmaalbroodjies” geëet – veral deur Natie.

Na ete is ‘n groep op in die kloof en ‘n klompie luies het onder in die son bly bak. Elmien, een van laasgenoemde, het tydens ‘n gesprek opgemerk dat die ding van buite slaap is dat daar altyd poeletjies en plassies orals vorm. Erica se klip waarop sy gesit het, het volgens haar al hoe harder geword, en Koosie s’n volgens hom al hoe natter.

Toe die klomp af kom, het George benoud van bo af laat weet dat hy die vrede nie vertrou het; die res het op ‘n stadium weggeraak. Natie laat weet toe dat hy net die stadium moet soek, dan sal hy hulle kry.

Ons kamp die aand in die Keurkloof; en tydens sleetyd het Estie en Dieter met vuur gespeel – eintlik het hulle net om die vuur geloop en Dieter het amper die verkeerde gammatjie gehang.

Sondagoggend is almal kerk toe op Montagu en het daarna die natuurtuin besoek. Na ‘n heerlike middagete is ‘n klompie op ‘n uitstappie na die ou tolhuis en fort.

Die aand se skietery was baie deurmekaar en Johan Murray het sommer deur die toe badkamerdeur geskiet na hy verneem het dat daar nog iemand daar is.

Stoffie (Gerda) kon die aand in die pan nie die verskil tussen haar mond en George s’n sien nie, en volgens hom moes sy net die linkerhadse een probeer.

Die voorsitter het die aand sleepille aan die spinnies gelewer en toe Estie met geweld die regmatige deel wou gaan haal het sy en Karools ewe groot geskrik. Hy het net harder geblaf as sy.

Maandagoggend het ‘n yskoue wind gewaai met opstaantyd en die dames het al springende die koue probeer verdryf, met Johan Murray tussen hulle. ‘n Vyftal het saam met die wa gery tot op Montagu waar die mense ons vreeslik aangestaar het. Marietjie Roos het darem opgemerk dat ons van die beter klas boemelaars is. Montagu se poskantoorpersoneel was nie baie vriendelik nie en ons moes maar sonder tjappies verder.

Die pomp by middagbrood was sonder water en op die koop toe was daar ‘n familie beeste in een murasie, wat vir Ilse ‘n groot skrik op die lyf gejaag het – met George se hulp van agter die beeste.

Daar is darem water verder aan gekry, maar daar was ook duisende steekvlieë wat ons besig gehou het.

Na ‘n lááng stap deur die bossies hou ons “smoke-break” by ‘n dam, waar baie tot ergernis van party op grassies blaas. Een van die ‘party’ sê hulle klink soos ‘n vark wat ‘n mens van voor af ‘n keep ingesny het en nou van agter af slaan dat hy deur sy vel moet spring.

Verder op pad was daar duisende drade wat nie platgetrep mag raak nie, en by nog ‘n “smoke-break” het Ilse ‘n skilpad onder haar ontdek toe sy opstaan – sy sê sy het maar net om die bos geloop.

Die water by die kampplek was ongelukkig alles “die mense se drink water” maar daar is darem op moontlike en onmoontlike maniere gebad en selfs gestort.

Net voor ete het groot geskiedenis plaasgevind toe die “wat” amptelik ingelyf is.

Of ‘n skilpad nie genoeg is nie, was daar Dinsdagoggend ‘n spinnekop onder Ilse se slaapsak wat groot konsternasie veroorsaak het.

Na ‘n stukkie padstap het ‘n oulike dogtertjie ons kom nooi om by haar ma, ‘n oud-Denneoorder, te kom tee en koeldrank drink. Dit het baie lekker gesmaak en die res van die pad kon aangedurf word.

Die dam by middagbrood was nie van die skoonste nie, maar die koeldrank het goed gesmaak.

Op die kampplek by Oakville het die weer begin opsteek en tente is opgeslaan. ‘n Baie deurmekaar damesskiet het gevolg, en die eerste toeriste het ‘n koue wraak deurgemaak – seker oor Neels se o gé maan nie wou skyn nie.

Woensdag was ‘n koue oorstaandag en almal is vol verwagting met die Blue Bird “dorp” toe – die dorp was toe ‘n klein winkeltjie met heerlike groot bont suigstokkies.

Natie se siekte is dié aand in ‘n item gediagnoseer as achloorhidri – too little Jews (juice) in the stomach.

Donderdagoggend het ons tjappies gekry by ‘n winkeltjie, en Tinus ‘n paar skoene om sy nattes te vervang. Toe ons later by oom Ploegwieletjie opdaag het hy ons van appels en droë vrugte voorsien.

Ons stap die middag verby die Keeromdam na die verkeerde kampplek onder ‘n klomp akkerbome. Driekwart van die toeriste was die aand siek en/of olik en daar is sommer om die kookvuur geslee en afgesluit.

Vrydagoggend se spyskaart was groot – pap met regte melk, wors, appels en vla, en bokkies as ‘n nagereg en nagedagtenis. Na ete is teen nimmereindigende koppies aan die een kant van die Keeromdam uitgesukkel, maar die beloning het bo gewag – ‘n pragtige uitsig op ‘n sneeubedekte Matroosberg. Dit was ‘n onvergeetlike gesig.

Tydens middagbrood was dit baie warm en almal kan ook maar net met akkerdoppies kom queue vir koeldrank.

In De Doorns is tjappies gekry by die poskantoor alhoewel die woorde waarmee ons ontvang is, nie so heel vriendelik was nie (“Daar kom die klomp alweer met hulle be…….. nekdoekies”).

Die aand in die kamp was daar slegs nege-en-twintig toeriste oor. Die kondensies het aan die blikwassers gegaan vir die flukste komitee, en aan die eerste toeriste vir hulle item La Rooikappuchine – óóó gé maan.

Saterdag: Ons word wakker met sonskyn, blou lug en sneeu op die berge om ons. Na oggendbrood het die groot skrop plaasgevind. Die BTK wekker is vir oulaas afgelui en rondgegooi.

Tien minute voor vertrektyd is daar gou ‘n kaalvoet “paddle” in die rivier gevat. Daar is met swaar gemoedere van die kampplek afskeid geneem en ‘n groepfoto van die bittereinders is by die Bird geneem.

Die voertuie het vertrek met elf op die wa en sewentien in die bus. Die reis was voorspoedig en die wa en die bus was amper gelyk terug by Skuilhoek. Almal sug van verligting oor die kiste wat reeds skoon is, en met ‘n sak oor die skouer gaan een vir een sy eie rigting, want …………… “nog ‘n toer is verstreke”.

Marietjie Heyns
(Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui