Tuinroete Gala 1967

Die lugkolletjies tussen die donker eksamenwolke het uiteindelik op Donderdag 23 November sommer yslik groot geword en alle donkerheid laat verdwyn – gala het aangebreek; en dit is ‘n nuwe gala: die tuinroete gala, of soos Dieter op die braaivleis gesê het, die “honeymoon”-gala.

Die bagasie is al die vorige middag gelaai en twintig-voor-nege het die bus vertrek met ons toerleier-busbestuurder aan die roer van sake.

Na ‘n vullende middagbrood op Riversdal is weer in die pad geval, want ‘n lang skof moes nog afgelê word.

Victoriabaai is teen laat-middag bereik en van ‘n plato waar die kampplek was, was die uitsig oor die baai pragtig.

Met die donker het die reën ook gekom en die tente-komitee het werk gehad. Teen daardie tyd het die tergende geur van die wors honger BTKaners se monde laat water.

Die reën het kort-kort opgehou en daar is buite gepan. Dit was maar donkerig by party panne en toe Ettienne wors in sy mou kry, het Elsabé gedink hy voer iets in die mou. Hy het egter gou die aap uit die mou gelaat en daar kon rustig verder gepan word.

Ongelukkig het Prieur die rus versteur deur die blikwassers van ‘n takie vry te skeld, en ons toerleier is derhalwe met ‘n hou oor die kop beloon, en dit met ‘n pan. Na ‘n geweldige stoeiery is die pan aan die blikwassers besorg.

Vrydagoggend het dit met opstaan tyd nog steeds gereën en dinge was effens deurmekaar. Ter illustrasie: George en Lex se “tóóne” na ontbyt het vir party soos “opstááán” geklink aangesien Prieur se “opstáán” vroeër die oggend onhoorbaar was.

Die walaaiers het nog gelaai en die res het solank bult-af begin kronkel. Daar was ongelukkig weer ‘n modderige “bult-op” aan die anderkant en die “loop-terwyl-jy-gly” effek is pragtig deur menige BTKaner gedemonstreer.

Al langs die treinspoor en deur die treintonnels het ons pad geloop. Teen die hang by Wildernis tussen nat bosse deur is ons verder.

Nieteenstaande die bewolkte toestand het Elmien by ‘n “smoke-break” op ‘n huisie se stoep haar Coppertone-versameling te voorskyn gehaal. Daar word mos gegala!

Die hoogtepunt van die dag het aangebreek toe die oorkant van die rivierwal met ‘n pont bereik moes word. Nadat ‘Afrika’ in ‘n geheelbeeld besigtig is en party Afrika-strate se probleme ‘opgelos’ is, was die kamp die enigste doel voor oë.

By Ebb en Flow is uitgespan en die ‘krokodil’ in die rivier is deur baie swemmers geïgnoreer. Ander het die warm storte verkies om die stof af te was.

Toe die groenteskillers sugtend hulle werk afgehandel het, moes hulle tot hulle groot verdriet uitvind dat hulle 70 lb patats geskil en gesny het in plaas van 40 lb! Erica moes net vlug vir haar lewe, want hulle het ‘n Ericatjie met haar te skil gehad.

Teen skemer het die reën weer begin uitsak en daar is weer haastig tente toe getrek. Die reën het egter nie die manne van hulle ingrawe-neidings beroof nie. Die klomp spinnies was later die enigstes wat rondgeloop en gesing het:
“Die spinnies is tog alte bly
Want die spanning is reeds klaar verby!”

Peet was die ander aktiewe BTKaner – hy was heen en weer oor die kookvuur as hy net ‘n fluitjie sien.

Saterdagoggend: Die son het geskyn! Half-elf is die seesand bereik. Dit was ongelukkig hoogwater en ons moes deur die sagte sand aansukkel. Nie-amptelike “smoke-breaks” is kort-kort gehou.

Na ‘n baie lang middagbrood by Gerickepunt is die laaste entjie na Swartvlei aangebreek. Vir die eerste keer dié toer kon daar buite geslaap en geslee word. Daar is sommer ook in die slee’s geslaap na die lang stap.

Sondag was ‘n warm oorstaandag en die varswater teen 2½c per blik het dorstige kele verkoel.

Na ‘n groot Sondagmiddagete is koelteplekke opgesoek om die middagslapie in te kry voor die diens wat deur ‘n ou BTKaner, ds Kobus Kellermann, waargeneem is.

Na aandete het die stappery op die strand weer in ‘n tipe rugby-wedstryd-sonder-bal ontaard, maar met die terugstap was almal stil. Halfpad terug is een groot duin beset deur singende BTKaners wat in Gesange en Psalms hulle Skepper loof.

Maandagoggend: ‘n Rekord vir ‘n gala – daar is half-agt gestap. Dié riviermond moes ook oorgesteek word – hierdie keer met bootjies. Die walaaiers wat die laaste bootjie volgemaak het, is van ‘n slymerige bad gered alleen deur die feit dat ons kameraman met sy toerusting saam met hulle aan boord was. Wim se wraaklus het dit ontsien.

Na Peet en Estie se “ons stap nou” wat sommer daar deur hulle getoonset is, is die pad na die sand teen steil trappies aangedurf.

Lang rooi en kaki slange het deur die sagte sand op pad na Buffelsbaai gekronkel. Moeg is middagbrood op ‘n groot rots gehou terwyl die hoogwater onder dan die rots se tone lek. Buffelsbaai is bereik en gou was byna almal in die see.

‘n Baie deurmekaar damesskiet het chaos veroorsaak voor aandete en die kokke het die aand baie uitsleepwerk gehad. Oom Bethel en Pieter het net voor ete by ons aangesluit om die toer verder mee te maak.

Dinsdagoggend is Brenton-on-Sea-“halfwegstasie” ongelukkig bietjie vroeg bereik om ten volle daarvan gebruik te kon maak. Tot by middagbrood is ‘n paar honderd voet bo die see gekronkel. Bo is teen loodregte kranse van duisende voete na benede gekyk,
“The sun in heaven was shining gay
All things were joyfull on that day
The seabirds screamed as they wheeled around
And there was joyance in their sound.”

The Heads het die mooiste natuurskoon voor ons laat oopvou, en die pad het na Brenton-on-Lake gelei. Die BTK moes egter deur diep waters gaan om daar te kom, maar dit was die moeite werd. Die kampplek was pragtig, ten spyte van die “bushlice” in die gras.

Woensdag: ‘n Oorstaandag vir eerste toeriste om te herstel………… Knysna is op verskeie maniere binnegeval – deur bootjies oor die meer en ook van oor die treinbrug. Wim en Willempie moes hulle bene dra om voor die trein oor die brug te kom!

Donderdag se eerste skof moes per bus afgelê word en ongelukkig moes twee van die vensters dit ontgeld. Almal het saamgestem dat ‘n lelike ding daar sy kop uitgesteek het.

Na ‘n moeilike stap moes die middagbrood sonder botter geëet word. Al wat in die bottersak was, was ‘n stroopblik! (‘n Leë een).

Na middagbrood moes ‘n dik bos deurkruis word. Terwyl die manne besorgd omkyk, het hulle gewonder hoe die kaalvoet meisies op dié slegte pad gaan vaar.

Oom Bethel het van hom laat hoor: “They say that in the army die pad is baie sleg, maar in die BTK, daar is dit baie erg!” Die aand op Nutzi het nog ‘n lelike ding sy kop uitgesteek – ‘n Tweede damesskiet.

Vrydag: ‘n Lang stap vir die meeste en ‘n lui stap vir die luies het almal op Plettenbergbaai gebring waarna per bus na die kampplek langs die Keurboomsrivier vertrek is.

Saterdagoggend het die oggendbroders gesorg vir ‘n vroeg-oggend gesamentlike baddery in die rivier. Die effek was baie goed. Die strand is per bus besoek waar strybal en “wolly-ball” voorwedstryde was – die B.A’s teen die B.Sc’s. Voorwaar ‘n slag!

Sondag: Die tente is afgeslaan en alles opgepak. Tydens sleetyd is aan vier pare die kysformuleer voorgelees vir “solank het duren willen.”

Almal se harte was swaar toe daar van ses-en-dertig toeriste afskeid geneem is. ‘n Reëntjie het begin uitsak, maar aangesien die tente weggepak was, het die meeste maar bly sit. Daar is laat geslee en sou moes vroeg opgestaan word. ‘n Paar bitter einders het dus besluit om deur te sit. Daar is egter nie gewonder wat sommige van hulle daartoe geïnspireer het nie; veral nie in Paul se geval nie.

Maandagoggend half-vyf moes geroer word. ‘n Lang pad het voorgelê. ‘n Vakerige klompie het die sang aan die gang probeer hou, maar gou het die oë begin toeval.

Op George moes die bus herstel word en ‘n massa “iets” in rooi en kaki het die hoofstraat binnegeval. Een tannie kon dit nie meer hou nie, en moes aan ‘n BTKaner vra: “Can you tell me what you are?”

Gelukkig vir George was die bus na ‘n rukkie reg en was sy inwoners ontslae van vir ons ‘n wonderlike groep studente wat elke keer maar weer terugkom na Matieland – net om the B T K.

Marietjie Heyns
(Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui