Visgat-Canyons Paasnaweek, Maart 1964

Donderdag, 25 Maart:
As mens die spul BT-Kaners die middag by die pakkamer aanskou en aangehoor het, sou jy nooit sê dis maar net vir ‘n naweek wat hulle gaan toer nie. Daar was oorgenoeg “spirit” vir ‘n volle toer. Veral aangesien dit so ‘n unieke toer met nuwe ervarings sou wees het niemand daaraan gedink dat oor so ‘n kort rukkie die toer verby sou wees nie.

Die lorrie is natuurlik die oggend al weg en daarop het dit net “roaring” gegaan. By Wellington het Willie Hewitt vir almal melk gekoop, en hulle kry toe sommer paas-eiers verniet.

Die eerste bus vertrek dan ook – tjok en blok vol – net ‘n kwartier laat, wat voorwaar ‘n prestasie is vir die BTK. Hierdie bus se insittendes is toe so op hulle kop dat hulle in Ceres dwarsoor die straat ‘n toutrek-wedstryd organiseer tot groot vermaak van ‘n oom wat glad vir hulle 40 sent betaal. Daarvan word natuurlik sleepille gekoop vir die reis verder.

Die groot bus het ‘n uur later van die Akker vertrek met Eben aan die stuur. Hier swot almal baie fluks die nuwe toeriste se name op. Daar is ‘n hele paar ou BT-kaners se jonger familielede wat in Ouboet en Ousus se voetspore kom volg, soos die drie McFarlanes en Kiesie se sussie, Bonnie.

Na die Gydo-pas is die pad beslis ietwat ingewikkelder, en nadat een nou bruggie net-net nie ingesak het toe die bus oorry nie, moes almal by die tweede een uitklim.

By die kampplek op die plaas, Visgat, aangekom, begroet die eerste busse se raserige spul, die klaaropgeslaande kostent, brandende kookvuur en die hoop bagasie die moeg gerydes.

Een van die dames is toe so fluks om gou-gou al haar goedjies mooi netjies uit te pak en te rangskik by haar slaapplek. Nie lank daarna nie, of hier kom die houtkappers met ‘n yslike klomp hout daar verby en jy sien net hoe die netjiese Milady’s Boudoir in chaos omskep word.

Middernag word daar nog heerlik geëet aan die aandbrood en -wors, en na die afsluiting om die kookvuur gaan almal maar inkruip.

Almal lê net heerlik en wegdommel na droomland – met gedagtes vol van die aangename paar dae sonder enige akademiese of ander kwellinge, wat voorlê – toe die stemme van ‘n pragtige mannekoor die lug vul. ‘n Serenade op die eerste aand? Hoe mooi! Maar spoedig sluip daar ‘n jazz-element met soveel geweld in dat daar glad nie owerheidsweë opgetree moes word. Maar ag, nou ja, almal se smaak is natuurlik nie eners so daai tyd van die nag nie, né.

Vrydag, 26 Maart:
Dié oggend hou Eben self die kerkdiens. Hy het glo maar gepaap voor die tyd, want hy ontduik mos altyd die BTK-prekery so netjies.

Andries en Alet kook heerlike sop vir middagbrood, en net daarna, wie sou daar uitslaan? Hamlet, die Waternimf, en al die pad van die Transvaal af. Dis nou regtig ‘n voorbeeld van ‘n ywerige BT-Kaner – of sou Annette Smit se teenwoordigheid dalk iets daarmee te doene kon hê?

Na middagbrood word die wa gelaai, en die vier myl na die Canyon self gestap. Die lorrie kry egter so swaar oor die slegte pad dat daar spesiale padmakers moet saamry.

Eben en Eefke stap slot, en toe hulle ‘n motor met mense ontmoet wat ook bietjie daar rondtoer, sê tannie ewe gepas: “Ag, die pad kan gerus na die Hel toe gaan.”

Die kampplek word lekker vroeg bereik, en almal kan toe eers die pragtige disas bewonder en afneem, en in die swempoel swem – party van die manne het ook sommer heel besondere en moderne swemklere aan.

Die aand speel die Drama van die Groot Miskiet toe mos om die kookvuur af. Eben skiet vir Kiesie, maar Guillaume is heeltemal onbewus daarvan en neem toe stelling in langs haar. Ewe vriendelik lag en gesels sy natuurlik toe met hom sonder om hom te waarsku. Die omstanders wat bewus was van die agtergrond-geskiedenis kon Guillaume se gevolglike onthutsing toe Eben se fluitjie blaas, terdeë geniet.

Saterdag, 27 Maart:
Eindelik breek die dag der dae dan toe ook aan. Na ontbyt het almal gou hul wapenrusting vir die reis gaan aantrek en toe eers bymekaargekom vir die groepfoto. En wat ‘n unieke groepfoto! Almal is geklee in baaikostuums, met ‘n hemp, trui of rugbytrui bo-oor, en tekkies of “boots” aan, en verder bewapen met ‘n lugmatras of binneband; en tot die rugsakke is elkeen van ‘n binneband voorsien. Dit was werklik ‘n veelkleurige gesig om te aanskou en een wat mens nie maklik sal vergeet nie.

Toe word die swemreis begin. Wat ‘n heerlike ondervinding is dit nie om so al swemmend en drywend in Die Canyon af te beweeg nie. Weerskante is die loodregte driehonderd-voet hoë kranse, versier met rooi disa-stippels, en plek-plek is dit so nou dat mens een-een moet beweeg.

Elke nou en dan is daar stroomversnellings en watervalletjies waarlangs dit beter is om maar jou lugmatras te dra, en eers af te klouter voor jy verder vaar. Natuurlik is daar altyd diegene soos M.J. wat verkies om vanuit die hoogte neer te duik op hul lugmatrasse, en die gevolge is dan beslis nie so aangenaam nie.

Nog ‘n paar verliese is gely soos Johan Steyn se tekkies en Adéle se romp en sokkies en beker wat weggespoel het; en dan die twee brode wat op een of ander manier in die een rugsak verdrink het.
By die middagbroodplek was almal darem bly om ‘n slaggie uit die water te klim en weer landbewonders te wees. Dit lyk toe ook werklik soos die Franse Riviera of Miami Beach met al die gebaaikostuumde figure wat uitgestrek op lugmatrasse lê en “tan”.

Die terugtog is toe darem gelukkig nie stroom-op nie, maar bo-op die rand van die Canyon langs. Daarvoor was die tekkies, sien.

Terug by die kampplek is yslike vlamme van ‘n veldbrand skielik sigbaar, en al wat man is, waterdraer of te nie, storm toe weg in daardie rigting. Wat is hul teleurstelling toe natuurlik groot toe hulle aankom en die brand was reeds geblus gevind.

Dié aand is daar regtig baie en goeie items. Leon het glo naderhand maar al die lampe doodgemaak, so het dit ge-spark.

Sondag, 28 Maart:
Die feetjies het seker aan uitputting na die vorige dag se oormatige swemmery gely, want hulle was dié oggend so laat dat hulle netsowel sonbesies kon wees.

Arme Marié, Jeanne en Marlena word toe nog deur verwoede natgegooide laatslaper-mans onder luide gegil in die water gedompel. Asof hulle nog nie genoeg van water gehad het nie.

Die aand is daar heerlike boontjiesop, maar Rita Erasmus gooi toe ‘n stukkie Peanut-butter-botteljie-glas daarin om te kyk of sy dit weer in haar eie sop kon kry. En dit gebeur toe ook so.

Daar word toe ook as panpoeding heerlike room opgeveil wat van die middag se vrugteslaai en room kom.

Om die kampvuur vertel Oom Theo toe baie interessant van die ontstaan, ou gebruike en gewoontes, en ontwikkeling van die BTK. Veral, die Irish-Stew-liedjie was ‘n “hit”. Dave, veral, het baie mooi geluister, want hy het glo so besonder lekker geslee.

Maandag, 29 Maart:
Almal is vroeg op en wakker, en nog steeds is dit net die allerlieflikste weer wat die BT-Kaners begroet. Die tente-komitee voel veral baie op hulle kop, want hulle het alweer niks gewerk nie.

Terwyl die dames die kampterrein mooi skoonmaak, was die houtkappers en waterdraers die vleiskis, en nou is dit weer Hettitia wat in die water gedompel word. maar wat, na die vorige dag se swemmery was dié ou nattigheidtjie niks.

Die vier myl stap terug na die busse is ook gou verby, en almal koop toe eers heerlike innerlike versterking in die vorm van droë perskes, pere en appels. Gawie le Roux se Jazz-groepie oefen toe ook weer (vir nog ‘n serenade) en wel “Poor old Jo” op cha-cha-cha ritme. Nadat die groot bus uit die sand gehelp is, vertrek die ou spul terug.

Die lorrieryers is natuurlik vroeg reeds weg, so haastig dat Marlena en Botter glad afgetuimel het – gelukkig darem sonder noodlottige gevolge.

Met die busrit terug klim almal by die bruggies af, en waar daar pad te make is, geskied dit met Theo Louw as bekwame ‘supervisor’. Dit is vir hom natuurlik baie uitputtende werk, en almal waardeer sy bereidwilligheid en hulp.

By Ceres se swembad word daar gestop vir middagbrood. Soos gewoonlik wanneer die BT-Kaners iewers in die openbaar verskyn, al die mense monde oop van pure verbasing by die aanskoue van so ‘n barbaarse lot mense.

Maar die kindertjies in die swembad het dit toe so geniet toe Marié Malan, Alet en nog ‘n paar sommer met klere en al begin swem. Gelukkig was die tannie van die swembad so gaaf om vir hulle droë klere te leen terwyl hulle s’n by die vuur droog word.

Terwyl almal in ‘n groot kring om die vuur staan en sing, sit Marié, Dave, Lettie en Corrie die “finishing touches”! aan hul liedjie-item en toe hulle dit voordra, is dit ‘n groot sukses. Janee, sulke digters en digteresse moet tog maar waardeer word, né. Die middagbrode word toe op skinkborde ewe ‘grand’ bedien. Raak die BTK dan nou beskaafd, of wat?

Terug in die bus is Theo Louw en sy groepie net so fluks en hulle item dat dit gons, en gou-gou is die laaste paar myl afgelê.

Ai, wat ‘n heerlike en onvergeetlike toer om aan terug te dink! Jan en Piet en Leon kon beslis niks beter uitgewerk het om by ‘n rykdom van BTK-herinneringe te voeg nie.

Marié Blignault
(Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui