Mosselbaai April 1962

Heroldsbaai was ver en die busse was stadig en kort voor lank was die son onder en ons magies leeg. Al raad is om rem te trap, uit te klim en net daar, terwyl die motors verbyflits, aandbrood te hê. Die water is gou-gou aan die kook gesing en met die holplekke gevul, is ons spoedig weer op pad.

Terwyl ons petrol op Heidelberg ingooi, gee Eben en Lukie ‘n demonstrasie van die BTK-verwerkte “twist”. Die een bus bly hier agter om die Bloubaadjies se besware teen die remliggie uit die weg te ruim. As gevolg hiervan is dit drie-uur voor ons almal, in die lekker maanlig op Heroldsbaai se Break, in ons slaapsakke kan klim.

Die volgende oggend gaap die inwoners die slagveld van slapende BT-Kaners verslae aan. En soos een ou tannie gesê het: “Raai, die kinders slaap dan in sakke!”

Na die laat nag is dit bitter moeilik om wakker te word. Die oggendbrode se hande is afgekap en ten einde raad koop Marietjie Gerber ‘n paraffienblik water teen 2½c om die dames in staat te stel om hul oë oop te kry.

Die Perd kom uitgelate aangegalop om ons sy splinternuwe vrou te wys. Ook Koos Oos en sy Lucia is welkome besoekers. Ters bring ‘n baie passende boodskap en die res van die dag word deurgebring soos alleen ‘n oorstaandag deurgebring kan word. Heroldsbaai se swemwaters geroof Johan Winckler en Elsa Rossouw amper geheel-en-al van hulle velle.

Die feit dat die kampvuur op die Strand gehou is, verbly menige slee-grawer se hart. As een van die inwoners die BT-Kaners sien reageer op die opdrag, “Klim in julle slee!” kom hy verbaas verneem of ons dan regmaak vir die nag!

Die Bestuurder van die Hotel en Hennie Aucamp is vroeg reeds op om toe te sien dat niemand anders die dames sien opstaan nie!

Terwyl die Wa-laaiers sukkel om die vreemde vragmotor gelaai te kry, sidder en beef die tannies in die venster by die aanhoor van die manne se aandoenlike serenade:
“Hier by jou venster in die dag”

Vol lewenslus trek ons weg in lieflike sonskynweer. Ons verdwaal ‘n slag of wat en moet uiteindelik ons lyf behoorlik Tarzan hou voor ons by Middagbrood aankom. Die son begin vat-vat aan ons uitgebleikte velle terwyl ons die middag langs die see af stap.

Die Groot Brakrivier noodsaak man en muis om deur diep waters te gaan voordat ons by die kampplek kan uitkom. Sommige van die Tawwe Tienies, Oom Theo inkluis, laat van die meisies toe om letterlik op hul kop sit terwyl hulle hul deur die rivier dra, Hester se groot gewig was ongelukkig net een te veel vir held Deon!

Na Stoffie ‘n paar benoude oomblikke deurbring in ‘n soektog na sy hoed, ontdek hy dat dit agter sy rug hang!

Die aand om die kampvuur word Groot Plat Brak na die aankoms van Piet Venter – dis ‘n feit soos ‘n pers koei!

Elsa Rossouw is die Eerste Toeris wat dit regkry om die meeste regte name aan die vermommings tydens Uitkenningsparade te heg. Nadat die dames gaan slaap het, lewer die slotsak ‘n paar groenmielies op vir die bittereinders om die kampvuur!

Die reën dwing Piet Hugo en sy manne vroeg op. Die Papkokers en Oggendbrode vorm ‘n skare feetjies en verras ons met “breakfast in bed”. Tokkelok Dallie van der Walt lei die Oggenddiens en as gevolg van die nat hout, is die Sondagete ietwat vertraag. Die interessante variasie op die tema van broodpoeding kompenseer geheel-en-al vir die laat ete.

Terwyl ons die aand soos hooggerysde mosbolletjies by kampvuur slee, berig Flip Nel dat dit lyk asof die reën verby is.

Maandagoggend word die afstand Mosselbaai toe aangedurf. Hendrik Pepler en sy skoene verdrink amper in die Klein Brakrivier. Selfs die reën by middagbrood kon die BTK-gees nie demp nie en sing-sing word die nattigheid weggelag.

André Brand en die vragmotorryers, net drie-en-‘n-half-man sterk, slaan met groot geweld en gekners van tande die kostent in die sterk wind op.

As kampvuur die aand Grotvuur word, is dit iets unieks vir die toeriste. In die maan se breë ligstreep oor die water lyk die aanrollende branders soos die sierlike spronge van ‘n hekkiesnaelloper waar hulle, kort onder ons, hul te pletter slaan op die rotse.

Om jouself hoorbaar te maak bo die gedruis van die branders is omtrent onmoontlik. Van “items” was daar dus nie veel sprake nie, maar nogtans neem die “Serial” ‘n aanvang met Bertm, oftewel Bartholomeus Dias, en Porty van Portugal as hoofkarakters.

Gewapen met reënjasse, aanvaar ons Dinsdagoggend die tog “Vreesbaai” toe. Al agter Oom Theo aan, kronkel ons eers af na die Tonnelgat toe, onder langs die see. Ons kan maar net met verwondering staan en kyk, terwyl die refrein, “Herr, du bist würdig zu nehmen Preis und Ehre” deur ons koppe maal.

Weer voorwaarts – eers langs die teerpad en dan deur blomryke veld. Die mans kon doneer by middagbrood elkeen die water wat hul saamgedra het, net om uit te vind dat die kosbare boorgatsous druppelsgewys weglek deur ‘n gaatjie in een van die koffieblikke!

Nege myl lê nog voor, maar innerlik versterk, bereik ons die kamp voor skemer. Sommer gou-gou word ons daaraan herinner dat die binnelandse berge hul winterskleed ontvang het, en selfs die vyf lae klere en drie komberse wat Danie as teenmiddel aanwend, verhoed nie dat hy die aand bibberend en bewend deurslee. Dis seker die besondere lang stap, die vaak en die koue wat Komitee-items van ‘n swakker gehalte as waaraan ons gewoond geraak het, teen gevolge het. Regter Duke bepleit die Turk se saak so oortuigend, dat hulle die blikkie kondens inbuit.

Woensdagoggend is die feetjies weer vroeg doenig. Ons gaan “serenade” by Vleesbaai se “koning”, en daarna ontbloot ons weer ‘n slaggie ons blanke liggame aan die flouerige strale van die son. Ons toermaats wat minder goed gedeel is met iets om hul warm te hou, kry dit maar bitter om die branders uit te toets!

Blykbaar het die manne ‘n onversadigde lus vir hoenderstew, want dié wat op die werf ronddwaal, word al te vriendelik nadergelok deur Lukie- een Lawrie-gemaakte hoenderluide. En Vleesbaai se honde dink duidelik dat Bea-hulle spesiaal ‘n smaaklike nagereg vir hulle voorberei het!

Kobus Koch en sy eerste-toerisies lewer die aand uit pure benoudheid ‘n puik program. Johan van der Merwe het glad drie broekspype aan die bewe!

Party dames is darem maar onnosel! Waarom dan nou met bed en bagasie onder ‘n geut gaan stelling inneem vir die nag? Na die harde bui reën wat ons nagrus verstoor, moet Katinka-hulle net spook om hul lugmatrasse op Moeder-Aarde te hou!

Vir die luies van hart, is die reënerige weer ‘n bron van groot vreugde – “Oom Hoon wéér oor!” Neef Hans help ons om van baie van ons oortollige energie ontslae te raak voordat die yweriges onder ons wegtrek Fransmanshoek toe. Die koffie en beskuit wat Braam-hulle op pad geniet by die gasvrye Vleesbaaiers werk soos ‘n verdowingsmiddel op hul entoesiasme in en hulle vorder niks verder as die naaste rotse nie! Corrie en Ingrid val in hierdie selfde kategorie – waarom sal ‘n mens jou onnodig vermoei as Tannie Gallie vetkoek aanbied?

Vanonder Anneria se ouma se hoed, het Braam op sy Inry-slee ‘n “birds-eye-view” as die Plat Hond en die Groot Brak mekaar uiteindelik die poot van vriendskap reik.

Die laaste stap van die toer lê ons in lieflike sonskynweer af. By Gouritzrivier aangekom besluit menige BT-Kaner op die leuse: liewer bang Jan as nat Jan, en soos wafferse matrose word daar heen en weer geroei totdat almal droogvoets aan Avondrust se kant van die rivier staan. Hier word ons op koninklike wyse onthaal en koekies verdwyn op half-barbaarse wyse soos mis voor die môre-son. Of ons nou hierdie koekies of die geweldige aandete moet blameer, weet ek nie, maar Bernard-hulle se panpoeding is vir hulle nou eenmaal te veel en word toegeslaan op Danie se bod van twintig natgereënde sleepille!

Alhoewel die hotel-eienaar sy saal vir Stoffie aanbied sodat ons die aand kan omdans, word die toer op eg-BTK-wyse afgesluit met ‘n lekker lang slee en menigvuldige items. Ongelukkig wag ons tevergeefs op die magtige klimaks in die lewens van Bert en Porty.

‘n Gideonsbende dames hou vroeg Saterdagoggend die serenade-tradisie hoog, voordat ons vir oulaas met die see se geruis in ons ore, salig wegdommel.

Die terugkeer is maar weer, soos altyd, vuil, vaak, hartseer dat die toer verby is, en teësinnig om huis toe te kom in ‘n mistroostige koshuiskamer. Oortuig daarvan dat dit eintlik ‘n maand se vakansie en ontspanning was wat in ‘n week opgesluit is, land ons aan voor die bekende ou BTK-pakkamer.

Steph Naudé
Lawrie McFarlane
(vir Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui