Ceres-Tulbagh September 1961

Vrydag, kwart-oor-vier.
Groepies-groepies sit, staan, lê om die pakkamer. Enkele stemme oor die akademie, volgende jaar en ander koeitjies en kalfies. Hier en daar ‘n glimlag, ‘n kuiltjie in die wang, terwyl daar belangstellend in die nuwe sangbundeltjie geblaai word. Dan word die stilte verbreek deur die aankoms van die busse. Haastig word die laaste plekke in die bus gedêps. Op die manier het ons dan weer ons stywe boordjies en dasse verruil vir die rooi-nekdoekie, ons lenterokkies en sy vir kakie en rooi.

Neewat, maak ook nie saak as die stem al hees gesing word op die pad nie, die gesuis van die wiele en die geklop van die enjin doof tog alle vals nootjies uit. Die bus word ‘n arena: die eerste toeriste die prooi, die ou toeriste die jagters – die begin van die einde. Dan sleep die bus oor Witbrug, ons eerste kampplek. ‘Shucks’ ons het vir Piet Hugo vergeet!

Na net ‘n anderhalf duimpie op ‘n snytjie word Lukie se boekie verder ingewy. Enige voornemende slaapdeuntjie-neurie-sanger se poging word gou-gou uitgedoof deur ‘n “Soldaten, Kameraden” totdat die maan, skoon gefrustreerd, sy kop agter ‘n misbank verberg. Na afsluiting word weer in die kole getuur terwyl die gedagtes saam met “O du Stille Zeit” die toekoms inswewe na die kampvure wat nog voorlê.

Gedurende Saterdag se stap deur Mitchell’s pas luister ons na die gesprek van die Breërivier en die Wit-els waar hulle mekaar die jongste nuus uit Waaihoek en Rooikrans meedeel. Terwyl motors snorkend by ons verby sleep, glip ons gou weg om ‘n Heide of ‘n “Painted Lady” te besigtig of ‘n onbekende blom se naam te verneem. Net buite Ceres waag die gesigsrots ‘n duistere voorspelling vir die eerste toeriste.

Nogal ‘n mooi dorpie hierdie Ceres. Nadat die stadsklerk die goeie hoedanighede vir die dorp opgehemel het met brosjures en vleitaal, het ons besluit om nie ‘n erf te koop nie, maar ons liewers te bepaal by die minder duur artikels. Eben en Lawrie besluit toe om by die winkel wat alles van ‘n naald tot ‘n anker aanhou, ‘n “Admiralty Pattern” anker aan te skaf vir uitsleepdoeleindes. Nadat verneem is dat die winkel geen swaar gereedskapsafdeling het nie, en dat ‘n klip netso doeltreffend gebruik kan word, het ‘n verbitterde Eben sy koopmanie op sleepille en sigare bevredig.

‘n Dowwe slag. Die bal trek mooi, hy trek mooi – hy’s binne in die water in. Baie dankie vir die vriendelike omie met sy ekstra bal. Met egte rugby-uitjougees word die Bofbal dan voortgesit. Arme Ilse kon nie byhou by al die nuwe reëls nie en haar protes word kort-kort verswelg deur hewige woordewisseling tussen die spanne. Maklike speletjie hierdie: as jy nie raak kan slaan nie, dan kry jy net seer – dan kry jou span punte.

Die eerste slee-aand lewer heelwat skietprobleme op. Ingrid Sikkel het nie geweet wat beteken Flip se ge-slee skietery nie en sê sommer ja vir almal wat haar skiet. Dan wikkel die nag homself in sy mantel en jaag almal in die tente vir lampvuur. Die een end was gedurig in telefoniese gesprek met die ander end. Afgesien van die mense wat ingeluister het op die partylyn, het die spreeus so geraas op die draad dat die predikant homself nie hoorbaar kon maak nie.

Nadat die rusdag ingewy is met ‘n beker stomende koffie verskaf deur kabouters word Suzanne se “Breakfast in bed” verander in ‘n stortbad met die bykomende stortvloed van klanke. Bea besluit op ‘n sleemus wat sy oor haar oë kan trek as sy vaak word in die kerk. Jan Roos probeer die vaak uit sy oë keer deur aan die een oog, dan die ander oog met sy hand te verskuil – soos ‘n reier wat dan op die een been en dan op die ander een staan.

Die vloeiende boodskap van dr Smit van Wellington inspireer die gedagte om in die toekoms te loer. Wat sal ons wees – ‘n Ben-oni of ‘n Benjamin?

Terug by die kamp moes ons verneem dat ‘n boom amper in die kos geval het. Die middag word deurgebring met ‘n soektog na ernstige items, ‘n gesit met die rug op die gras en ‘n praktiese toepassing van die teorie dat ‘n Verwoerd net nat kan wees. Die aand lag die maan ons weer toe om die kampvuur. Die mededinging om die potensiële blik karamel was skerp en word toe gedeel deur vier mensekenners. Die res van die aand word relatief rustig deurgebring met ernstige items en ‘n gesellige verkeer op ‘n hoë intellektuele vlak.

Maandag lewer die langste stap op. Onbewus van die nuuskierigheid van die Skurweberge wat oor hul skouers probeer loer, lê Flip en Piet die kleur van pypies, skaamrosies, kalkoentjies en ander mooi blomme vas, terwyl die bonkige slot, Hendrik, hul hakskene trap en naderhand hul moedeloos agter laat in hul lot van meet en pas. Al met die Koekedourivier, deur protea, biesies en slangbos word ‘n voetpaadjie getrap totdat die “Highway” net voor Wakkerstroom menige moeë BT-Kaner se voete vleuels gee.

Die aand word knap by Hartebeesvlei ge-item om Oom Piet te “charm”. Ons het nog diepdenkend nagedink oor Rachel de Beer, toe die wolf voor die deur stilhou met sy ongeluk wat ‘n plek soek om te gebeur. Tot redding van Rooikappie het Sherlock Bones en Wild Bill Hiccoughs die wolf laat aanslkuit by die BTK en ‘n toer is na die maan. ‘n Verdere kamplot word gesmee wanneer die “Barman” die halsnoer van Thereza uit die wiegies van die groenteskillers wou steel, maar die vlammende bul van Porterville het hul almal weggedryf. Op die manier is weereens bewys: Wanneer ‘n mens in Griekeland is, …………… So het die Kokke die kondens op klassieke wyse ingepalm. Weens ‘n tekort aan elektrisiteit besluit Jan van Riebeeck om lig na Suid-Afrika te bring. Hy land met Lady Chatterley maar Herrie raak die herrie in en smyt die dinamiet in die doeanetronk. So begin die eerste episode van “Met kolle en beskawing”. Uit die skatkis van tradisionele items word vir oulaas die “Magtige Koning” opgediep, voordat nog ‘n kampvuur in herinnerings weggebêre word.

Die volgende oggend maak die son ons wakker met ‘n lag vir die dag. Toe ons egter deur die “poort” stap, trek die Witsenberge sy sleemis oor sy kop, terwyl die koue ons bymekaar hark vir gesamentlike sang. Nadat Tulbagh beset is deur BTK militêre mag word die een kafee geboikot weens ‘n tekort aan warm vleispasteie. Met die hulp van Enrie, Marietjie en ander ywerige winkelbediendes is dié kafee gou omskep in ‘n basaar van gonsende stemme en skaterlagte.

By Bloubank het 2/3 meerderheid sterre die kampvuur in plaas van lampvuur vir die aand bestendig. Nadat die vlooie feitlik almal uit die slees gehad het, het ‘n jeep by al die koeie in die omtrek stalbesoek gaan doen. Jan van Riebeeck besluit om nie hul lamp onder die maatemmer te verberg nie, en onmiddellik na die skat van Monomotapa te gaan soek. Skaars het die laaste note van ‘n heel laaste slaapdeuntjie ‘n rusplek in die eikebome gevind toe Hendrik se bulderende stem die reën vir ‘n wyle laat huiwer het en die tydelike behuisingsraad na hulle wapens laat gryp het. Om half-twee, nadat Jan vir Louise van verdrinking gered het en Almero hom soos ‘n gebuigde piesang in die lorrie slaap gemaak het, kon Jan homself in die kostent inrig, terwyl sy gedagtes seker teruggevloei het na ‘n droë pawiljoen ‘n paar jaar gelede.

Die twee lieflike, laggende gesiggies van die feetjies wat vir ons koffie in die slaapsak verskaf het, het ons gou laat vergeet van die son wat nog snoesig in sy miskombers toegewikkel, sy oggendslapie geniet. So breek ‘n mistroostige dag vir die eerste toeriste aan. Wie sal ooit Eben en andere se strenge gesigte vergeet, wat ‘n rilling tot in die murg veroorsaak, wat die oë na ‘n antwoord op die grond laat soek en ‘n spiertjie in die wang laat tril, terwyl die stadige rvetegetrommel ‘n creschendo bereik?

Natuurlik sal daar op oorstaandag ‘n klomp kafeevlieë wees wat soos pôpôs onder beskerming van Oom Hoon se “Habitual abode” die dorp sal binne seil, om te kan drink en vrolik wees. Op so ‘n dag word die tyd rusteloos en vlieg te vinnig, sodat menige swot voorneme ‘n nuwejaarsvoorneme word. Op hierdie dag word die hare gewas, die baard gekrap, die voete gepoeier, die naels gekou uit vrees vir damesskiet, terwyl die volkspele laer, onder leiding van M.J. en onder lyding van beblaarde voete, ‘n vonk word vir menige spitsvondigheid.

Jan se fluitjie op die regte oomblik, maar op die verkeerde tyd bring chaos in die kamp. Dan kwispel ‘n suur gesig in die rigting van ‘n selfvoldane glimlag, ‘n onderlippie word gebyt terwyl die produk van vanmiddag se pomp en se “organize” vinnig opgesoek word. Nadat die hoekie vir eensames dan weer liefde en harmonie in die kamp herstel het, kon die ou toeriste in ‘n warm slee weer heerlik die program van die oningewydes in twyfel trek. En het hulle daardie aand gesit! As hulle dadelpitte was dan het die kampvuur in ‘n oase verander! Ook maar goed M.J. het sy slee gaan wegsteek, anders het hy na so ‘n lang tydperk van afwesigheid sy slee dalk vol spinnerakke aangetref. Snaaks dat Hendrik nie kan besef dat ‘n mens nie ‘n gat vir ‘n ander moet val nie. O ja, dis mos daardie aand dat die sosiale verkeer op hoë kulturele vlak skielik onderbreek is deur die grasweduwees en raksitters se dappere poging om bande van liefde van die bevoorregtes te breek. Eben se Jean en Enrie se Judith het so ‘n konkretee deel van die plankslee uitgemaak, dat die uitslepers op die slees wat op sand gebou is moes toespits. ‘n Tweede verwoede aanval is geloods, waar Suzanne die plankslee vir ‘n swembad aangesien het en met ‘n sierlike duikvertoning soveel skade as moontlik probeer aanrig het. Weereens is hulle met twee kouse oor die kop teruggestuur.

Donderdag lewer sommer baie verrassings op, met sneeu op die berge, oud-BT-Kaners wat besoek aflê en natuurlik die “Yanks”. Asof gekonfyt in die saak het hulle saam met ons getou agter die pap aan. Nadat Jan Maltabella aan hulle verduidelik het waarom hy na dié pap vernoem is, het Oom Piet die egpaar in die “foreigh language” aan ons voorgestel. Die daaropvolgende “Drie hoera’s vir Oom Piet se Engels” is heelwaarskynlik verkeerd vertolk deur die los engeltjies, Kalifornië, VSA.

Die uitstappie na Sneeugat is met tradisionele BTK bewondering vir die natuur kort gemaak. Terwyl daar gepoog is om met ‘n lied die warmte van die son nader te lok, het ‘n nuuskierige sneeuwindjie van Groot Winterhoek ons amper in die polle laat wikkel. “Black sweet and white butter” het dit dr Steward se draad oor Proteas kort geknip, terwyl die eerstes met misnoeë die laaste plek moes inneem.

Die aand speel die wilde weste om die kampvuur af. Nadat al die dooie liggame van die toneel weggesleep is, het die dokter van Kalifornië tesame met sy wederhelf, nog ‘n “rory” op die maat van die gehoor se hande-geklap voorgedra. Ook Wilverdriet verdien ‘n sputniktrofee met sy besondere terrum-tarum-tarera-tragedie.

Op Vrydag verskyn die eerste gryshare op die slape van die toer. Terwyl die pad onder ons voete verbyglip, word die verlede in die toekoms gevou en die hede in ‘n dagdroom opgesluit. Wanneer ons oor die ou wapad stap, krag die “Climbers Hel(p)” ons behendig op die tere songebrande plekke. Middagbrood word gekenmerk deur tors verstrooide BTKaners, terwyl die son ‘n felle poging aanwend om die laaste neusvelletjies te laat opkrul soos droë blaartjies. Met oorlogsverf op die neus en wang word die laaste watervalryke klofie vaarwel geroep. Die geur van blom en struik laat die gedagtes hulle vurige perde inspan om met die geklop van die stewels teen klip en sand, te jaag oor wolke van herrinnerings, wat nou en dan ‘n venster oopmaak om berg en vlakte daaronder bloot te stel. Dan herleef menige kampvuur, ‘n middagbrood langs ‘n koel stroompie, ‘n bergreeks wat oorkruis word, ‘n blom wat ingewerwel tussen graniet en sandsteen sy kleur en geur oor die velde laat uitvloei.

Vir oulaas word die kookpotte gevul, met stomende groente en vleis, van die ysters gelig. Met die spesiale skiet en die lang diep slee in vooruitsig, sweef die panlied lui oor die kamp, terwyl die drie hoera’s vir die kokke, en die drie hou koerse vir die walaaiers die “spirit” vir oulaas laat opvlam.

Al was Toffie se items die aand te taai om te vang, sy glimlag en talent het menige skaterlag uitgelok. Bernard demonstreer op kranige wyse die potensialiteit van sy vlooi, terwyl Theo Louw se boerevlooi geweier het om terug te staan vir sy kollega. Die “serial” lei ons nog verder die binneland in, en gevolglik nog verder van die oorspronklike punt af totdat dit in ‘n dramatiese slot eindig. Die goor familie-items spoor Oom Piet aan tot groot uitsleepgedagtes, terwyl sommige moontlike prooie gehoop het dat die muur hom liewers so plat soos ‘n vatlap moes val.

Wanneer die rooi vlamme dan al hoe kleiner en kleiner word totdat die kole maar nog net gloei, en dan ‘n wit kim op die oppervlakte begin vorm, is die sagte “nag dames” van Oom Piet eerder ‘n plig as die offisiëls verdaging van die laaste kampvuur.

Terwyl die ervarings van die toer hul vlerke toevou en in die gedagtes gaan sit, dring die pyle van die dames “serenade” koortjie die hart binne. Die flikkering van die lamp, lok nog meer suiwer klanke uit die skadu van die woonhuis. Wanneer die witkim op die kooltjie homself loswikkel, en die oë dit volg terwyl dit opwaarts dwarrel, besef ons dat die tyd aangesluip gekom het en dat ons weer die vreugde mantel eersdaags sal moet omruil vir die toga. Dan word die kombers oor die skouers gedrapeer en die dameskamp binnegestap om die hart uit te sing: hul te vertel van die mooiste pieke en bergspitse, die skoonste en helderste strome, die verlange dat hierdie kameraadskap en vriendekring nooit ophou nie.

Die roep “opstaan” die volgende dag is ‘n trompetgeskal wat die nuwe dag luid aankondig. Die sand word haastig uit die oë gevee wanneer die “oggendbroders” die laatslapers uit hul vere lig. Vir Jan Roos beteken dit vir oulaas doek om die nek en fluitjie in die bek. Die komitee-foto’s word haastig geneem. Vir oulaas word rondgekarring in die verlore buro; ‘n nekdoekie word haastig met die hand platgestryk. Dan is ons weer gereed om die navruggie met ‘n glimlag te geniet. Al word Magriet uit die aarde gery deur iets op ‘n fiets; al brand die blaarwonde op die harde pad – met sang en skerts word die lang pad opgerol tot waar die wiele die las oorneem.

Wanneer die bus sy segetog deur Stellenbosch maak en “Nog ‘n Toer is verstreke” die flonkering van die aandster word, herleef die hele toer vir ‘n oomblik. De Hoek Estates, deel van miljoen skatte, word gesien as die eindpunt van nog ‘n toer vir ons nog ryker aan skatte. ‘n Toergroep, soos ‘n simfonie-orkes, maar elke lid met eie karakter bydra om die suiwerste klanke voort te bring. Dan is ons dankbaar vir Hom wat dit alles vir ons gegee het; tot Wie ons gebede verhef is; tot Wie vir ons gebid is met die woorde:

“Waar hul deur die natuur trek
saam met die geruis van die bergwind,
die geur van veld en blom,
hul meer en meer bewus mag word
van die genade van God.”

Pieter Venter
(vir Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui