Gamkaskloof-Kango Grotte September 1956

Soos altyd het ons weer voor Hamelhof bymekaar gekom en hoewel ‘n paar byna agtergebly het, het ons darem almal Vrydagaand veilig op Kogmanskloof aangekom.

Omdat die een bus gebreek het moes ons ‘n myl of wat Montagu toe af stap waar ons die eerste poskantoor stormgeloop het en die arme inwoners van die dorp byna uitgeboer het. Hiervandaan is ons toe met die busse tot op Ladysmith vanwaar ons in die bloedigste hitte tot op Hoeko gestap het. Daar is ons deur oom Kosie Jordaan verwelkom wat eers elkeen se hand wou skud en toe sommer weggetrek het met ‘n Bybelvasvra en onder andere wou weet wat in Galasiërs 5:22 staan. Ons toekomstige predikante was egter die een so dom soos die ander en eers nadat Vincent-hulle met groot lawaai verkondig het dat Flip ‘n tokkellok is, het hy ‘n moedige poging aangewend om oom Kosie se vrae te beantwoord. Ongelukkig was gehoorsaamheid nie een van die Gawes van die Heilige Gees nie.

By Langenhoven se geboortehuis het oom Kosie ons eers almal weer laat afklim om ons “innerlike wese te versterk”. Hier was selfs die predikant aanwesig om ons behoorlik “in style” te verwelkom. Omdat die kampplek op Hoeka ongeskik was, het ons toe op Amalienstein sewe myl verder gekamp – ‘n pragtige plek onder akker- en populierbome met honderde vlieë en muskiete. Louis Heyns was egter die enigste wat die vlieë waardeer het – dat dit nou ‘n hulp kan wees as ‘n man eers ‘n meisie vir slee wil skiet.

Sondagoggend het Koos vir ons ‘n besondere diens gehou. Hierna het ons geëet en na ete was daar vir almal wat wou gaan luister, ‘n konsert in die pad, gehou deur die kleurlingkinders van die omgewing.

Heerlik uitgerus het ons Maandag deur die pragtige Seweweekspoort gestap. Met middagbrood is daar heerlik in yskoue water geswem en die gille kon wie weet waar gehoor word. Natuurlik het daar toe ook net op die kritieke oomblik ‘n donkiekarretjie verbygegaan.

Die aand is daar op ‘n baie ongerieflike terrein geslee maar ten spyte daarvan het Koos tog goed vir sy Harem gesorg en was daar vir elke spinster soos dwarsdeur die toer ‘n plek in sy slee. Dit was ook die komitee item-aand en die kendens is deur die waterdraers gewen. Die groot sports van die aand was egter die water wat in ‘n stroompie uit die vol dam eers vir Nico en Seunget en daarna vir Hannes-hulle uit hulle slee verjaag het.

Die middag het die vuilstes onder die meisies besluit dat ‘n was noodsaaklik is. Met ‘n groot geleende bad is hulle toe die heuwel uit om saam met die bye by die kuiltjie te gaan was. Luella en Dalena is onder andere gesteek maar selfs dit kon skynbaar nie die klomp se energieke skoonmaak proses stuit nie.

Die volgende dag stap ons toe deur die Hel. Omdat die pad byna onbegaanbaar vir die busse was, het Koos meer as een klip uit ons weg gerol. Christa het verder met ‘n gevoel van verligting besluit, dat as die pad Hel toe so sleg is, maar min mense daar sou uitkom.

Omdat dit so broeiend warm was het ons die heerlike swem met middag des te meer geniet, soveel so dat Leonie selfs gesê het dat as dit so is in die Hel, gee sy glad nie om nie! Die res van die dag was ‘n swaar sand stap, deur sandstorms en al langs die rivier waarvan ons die water nie mag gedrink het nie. Ook hier het die besondere natuurtonele opgemaak vir die moeilike pad en die kwaai dors.

Woensdag het ons oor Swartbergpas gestap en hier het die son ons saak weer ‘n keer van ‘n kant af bewerk.

Donderdag het ons omtrent ‘n myl van die Kangogrotte af oorgestaan op ‘n pragtige kampplek onder stokou wilgerbome. Dieselfde dag is die Grotte besoek, waar die gids se vergelykings van die stalagmiete en stalaktiete met enige denkbare besitting van Van Zyl en sy familie, veel pret verskaf het. Deur die skoorsteen het alles goed gegaan en sonder enige ongevalle het almal veilig anderkant uitgekom. Met die terugtog kon ons toe almal op ons tyd die prag van die Grotte geniet.

Dit was ook dieselfde dag wat ou Elzine so ‘n geweldige skok opgedoen het, want sy was nog besig om ewe vriendelik met Flip, deur die luggat agter in die tent, te gesels, toe sy met ‘n benoude “Hy trek sy broek uit” omgevlieg het.

Dit was oorstaandag dus natuurlik sommer ook inlywing en damesskiet soos altyd. Nico wou so graag ‘n skiet gehad het dat hy reeds met middagbrood in die water geduik het, net daarvoor.

Elzine het die aand bes onder goed gekorrel en nie minder as drie mans raak geskiet nie, wat sy toe ewe vrygewig uitgedeel het aan die vele minder gelukkige meisies. Hierdie toer kon selfs Leonie nie by Peter en Kirsten kers vashou wat skiete betref nie. Net jammer Kirsten was die aand so doof, of was dit omdat hy kerse in sy ore gehad het? Vir die arme eerste toeriste, gewapen met reënjasse en swemkeppe, was die inlywing so ‘n antiklimaks dat hulle toe maar mekaar begin natgooi het en Lünchen seker nou nog wonder of dit dan al is!

Die volgende oggend het dit gelyk na reën, maar dit was sommer net skrikmaak druppels want teen die tyd dat ons die Robinsonpas bereik het, het dit reeds begin opklaar. Die pragtige stap van agt myl was glad te gou om en moes ons almal weer in die bus in bondel om tot by die Gouritzrivier te ry. Hier het ons gekamp op mnr Muller se plaas Melkhout-Esschenbos tussen duwweltjies en doringbossies maar tog op heerlike sagte gras.

Die laaste oggend het eindelik aangebreek en ons het almal met ‘n trae gevoel ons rugsakke gepak en dit nader gesleep na die vragmotor. Die laaste busrit het tog veel pret verskaf, veral toe ons moes uitvind dat Koos se lieflingsnaam vir Lucia “sny se swart varkie” is.

‘n Groot verrassing het vir ons op Stellenbosch gewag – die koffie water was reeds op die vuur. Nadat daar koffie gedrink is, is al die hongeriges saam kafee toe waar ons heerlik vir oulaas saam gesing en geëet het.

So eindig een van die BTK se heerlikste toere.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui