Kleinmond April 1944

Tyd spring so snaaks rond. Dit was of die toer in ‘n dag verbygegaan het, en nadat ons teruggekom het en elkeen weer vasgemessel staan in sy eie plekkie in die samelewing, voel dit soos jare terug, nie net ‘n week nie.

Maar vanaand is ons hier om terug te dink. Terwyl ons kyk in die vlamme van die vuur – want vuur is soos water altyd eenders – kan ons ons oorgee aan die kole se magnetiese skyn en amper nie weet watter kampvuur dit nou hierdie is nie. Is dit nie dalk die eerste kampvuur onder die dennebome by Dennegeur, toe ons nog almal vreemd gesit en mekaar oor die vuur betrag het nie. Of die volgende aand se vuur, waar ons ons hande warm gemaak en al meer bekend na mekaar begin lag het; waar die dames nadat hulle deur Martin gebiedend “goeie nag” gesê is, met jaloerse oë die mans nog so lank en nog so lekker sien sit en gesels het nie ….

Of is dit nie miskien Kleinmond se vuur nie, die vuur wat ons net maar afskeid van kon neem, die vuur wat die reën ons maar nie wou toelaat nie. Ag tog, die koue onherbergsame stoep waar ons kampvuur gehou het, en die mense om die twee hoeke wat maar nie wou saamsing nie!

Tussen oom Dirk se Dood en die strandhuisie se slaapplek het ons maar min vuur gesien. Oom Dirk se jodium was al wat op Kleinmond gebrand het.

By Onrust was die Vuur van Goeie items waar Koos Badenhorst – per spesiale guns uit Hades opgeroep – en die vryheid self met haar kaalvoetjies vir die BTK kom vermaak het.

– En altyd verder. Is die volgende vlamme nie dalk die van die vuur op Houwhoek nie; kan julle nie nog proe hoe lekker daardie aand se kos gesmaak het en hoor hoe helder die gelag om die vuur geklink het nie. Die vuur het vlammetjies aangesteek in party mense se oë. Daar was oë wat baie geblink het, daardie aand.

En om die vuur by Elgin het ons al gevoel: dis die laaste kampvuur toe die slaapliedjies weg weerklink. Ons het nie eens meer omgegee as Martin sê: “Sit dan tog regop in jul sleë mense!”

Maar daar was darem nog ‘n vuur. Na al die stap en al die gly, en al die skoen-rinnewerende klippers van die bergpad, ‘n regte koffievuur by die Tweede Waterval. Lank lewe Johann Pauw!

En na al die vure verby is, bly daar tog nog iets.

Mense kan nie soveel dae in ‘n kring sit en saam na dieselfde vuur kyk sonder dat daar iets agterbly nie. Dié prentjies wat ons in die kampvuur gesien het, sal ons sien in al die vure wat ons weer na kyk, en dan sal ons die vriendskap onthou.

Helene Oosthuizen
(vir Sketsskryfster)
-15:06:1944-

“ONERVARE BT-KANER”

Dit is met leed dat ek terugdink aan die ondervindinge wat ek opgedoen het tydens die afgelope vakansie, as gevolg van my handelwyse op advies van ‘n veelmenende vriend.

Aan my is gesê dat die BTK ‘n gulde geleentheid bied vir jong manne wat na liefde soek, om oorvloediglik ondervinding op daardie gebied op te doen. Dit is miskien hier van pas om te sê dat ek onder baie streng toesig groot geword het as gevolg waarvan ek nie toegelaat was om in aanraking te kom met die skoner geslag nie – ‘n voorreg waaraan die meeste jongmanne van vandag al van jeugdige leeftyd af deel het. Dat ek op hierdie stadium al ‘n besondere aangetrokkenheid gevoel het tot die Eva’s geslag, sal dit my miskien tot skande strek as ek melding maak van die lugkastele wat ek almal voor die toer gebou het.

Ek het sonder versuim my naam ingehandig. By die laaste vergadering wat voor die toer belê is, moes ek verneem dat my naam op die Blikkewaskomitee verskyn. By die uitlees van my naam het ek so half skamerig, half selfbewus geglimlag by die gedagte dat ek skaars by die BTK aangesluit het of ek dien al op een van die komitees. Ek het natuurlik nie die vaagste benul gehad van die pligte wat hierdie komitee van my moes nakom nie.

Ek het met gemoë kennis geneem van die verbod teen afparing tydens die toer en het daar in die baie kanse gesien wat ek sou hê om met baie dames in aanraking te kom sonder om ‘n indringer te wees.

Spoedig na die aanvang van die toer het ek ervaar dat daar so iets as ‘n sleëry is. Ek het wonderskone idees daaromtrent gevorm en was derhalwe onaangenaam verras toe oom Dirk die tweede aand die herkoms daarvan verduidelik het. Ek het my egter voorgeneem om in omstandighede maar die beste daarvan te maak, maar toe moes ek tot my leed verneem dat ons nie voor aandete vir sleë mag skiet nie, en nog alleen nadat ons eers ons borde klaar gewas het. Die komitee waarop ek gedien het was egter van soveel belang dat ons konvenor dit goed geag het om elke aand net na ete ‘n vergadering te belê, by welke geleentheid dan “roll call” gehou is alleenlik om dit vir my onmoontlik te maak om te bank. By die tyd dat ons vergadering saans verdaag is, was dit nie meer moontlik om te skiet nie. Derhalwe het ek eendag genoeg moed bymekaar geskraap om die wet te oortree en sommer een môre vroeg vir my ‘n nooi te skiet vir die aand se sleëry. Daardie aand sou die lewe nou regtig vir my begin. Ek was daardie dag ook besonder opgeruimd en daar het ‘n soort van opgewondenheidder bekwame leiding van dr Jurgens en Anne Spies, wat hulle self as “bachelors” bestempel het, en aan wie se toedoen ek daardie aand toe die lewe vir my so pas sou begin, my aan my slee moes onttrek.

Weë die BT-Kaner wat op die advies van ‘n vriend vir die eerste keer op toer gaan om denkbeeldige ideale te verwesenlik! Weë hom as dr Jurgens of Anne Spies voor sy slee te staan kom en sê:

“Manne, hoe lyk dit;
Wat sê julle?”

DANKIE MAATS

Hoe sal ek dit nou sê, dat ek seker kan wees julle begryp my reg? Moet ek sê dankie dat julle dit alles vir my moontlik gemaak het – dat die sterlig my saans aan die slaap gestreel het, dat die koel kus van die dagbreek op my ooglede my soggens gewek het tot die besef van alles wat die nuwe dag bied en belowe …. Of moet ek sê: dankie dat ek kon stap: vinnig stap en voel hoe die rooi warm bloed vinnig deur my are bruis en my hygend met polsende lewe klop, hoe ek net van een ding bewus was dat ek jonk en sterk is; of dat ek kon drie tel – sonder om te dink, en my liggaam die sonlig kon inneem tot die absolute versadigingspunt terwyl ek die een voet voor die ander sit, met ‘n gevoel van tevredenheid, vol loom luie genot …. Of sal ek sê dankie dat ek my moeg en nat gesweet kon neervly teen die eerste die beste rug; of dat ek by enigeen kon stap en voel ons het iets gemeenskapliks; ons wonder wat lê agter die volgende bult; en dit is nie nodig om te praat as ons by die vuur sit of deur velde, oor hoë berge, stap nie.

Of, moet ek julle bedank vir die lekker bly gevoel wat ek agterna, na die toer, gekry het as ek een van julle op straat raakloop of by ‘n konsert sien?

Nee wat – daar is te veel dinge, te min woorde; ek kan dit nie sê nie. Ek sal maar sê, Dankie maats. Julle sal mos verstaan as ek net sê: Dankie, Maats!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui