Voorsittersverslag 1943

Geagte BT-Kaners,

Dis is vir my ‘n plesier om verslag te lewer van die klub se werksaamhede gedurende 1943. Dit was vanjaar die klub se veertiende verjaarsdag en ‘n mens kan met reg sê dat almal sy kinderskoene ontgroei het. Aan die einde van laas jaar met die publikasie van die Handleiding by die stigting en werksaamhede van ‘n klub vir Bergklim en Staptoere aan ‘n universiteit of kollege is alreeds ‘n gewigtige stap vooruitgeneem, en dit sal seker nie geheim verklap wees om te sê dat ons miskien groot planne in die mou voer vir aanstaande jaar nie. Daarby moet ek net twee dinge sê: die een is “Dankie” en die ander is “Asseblief”. Dankie vir die belangstelling wat julle die afgelope jaar of jare reeds in die werksaamhede van die klub toon, en as die Bestuur vir die van u wat nog op Stellenbosch bly, in die toekoms vra om u kragte weer in te span dat ons ‘n verdere stap vooruit kan neem, asseblief onthou ons reken op elke lid van die klub.

Van die werksaamhede vanjaar kan ons verslag lewer onder die volgende hoofde:

TOERE:
In April is ‘n toer Ceres-Tulbagh onderneem. Die roete was grotendeels ‘n nuwe en het tewens ook geblyk ‘n mooie en interessante te wees. Veral die dag in die Winterhoekberge deurgebring het die toer vir ons van groot waarde gemaak. Sewe-en-tagtig persone het aan die toer deelgeneem.

In September is daar weer oor ‘n splinternuwe roete getoer – van Robertson oor Montagu, die Koo, en De Doorns na Worcester. Die dagstappe was enigsinds lank – feitlik elke dag twee-en-twintig myl maar die swaarkry was blykbaar die moeite werd en dit wys dat dit nog gedoen kan word.

Albei toere vanjaar was sonderling in dat die vervoermoeilikheide so akuut was. Die vragmotors met ons bagasie kon nie meer die hele roete by ons bly nie en ons moes van aparte karweiers gebruik maak om ons goed van een kampplek na die ander te neem. Met die oog hierop het ons ons gereedskap heelwat moes uitbrei met die aankoop van seile ensovoorts, wat die uitgawe van oor die £20 meegebring het. Verder was daar ook ‘n ernstige tekort op die laaste toer maar dit is genoeg om te sê dat die klub darem nog nie insolvent is nie.

DAGUITSTAPPIES:
Dit was weereens ietwat ‘n teleurstellende jaar wat deelname aan Saterdaguitstappies betref. Daar was ‘n aantal persone wat baie gereeld (byna elke Saterdag) gaan bergklim het, maar aangesien daar gewoonlik te min mense was om die prys vir ‘n lorrie te betaal, moes die entoesiaste vir bergklim onder die BT-Kaners dikwels met fietse of te voet die eerste deel van die uitstappies maak. Desnieteenstaande, of miskien juis om die rede, het groepies van ons lede na feitlik al die bergspitse in die omgewing geklim – na Victoriapiek (5 200vt) en Dwarsberg (5 000vt). Sneeukop (5 214′), Haelkop (4 600′) en die Katedraalpieke (5 000’) sowel as die Pieke, Stellenboschberg, Simonsberg en Duiwelskloof.

GALAWEEK:
Die bestuur het nie sy weg oopgesien om vanjaar weer ‘n toer te organiseer nie. Daar sal vanjaar soos in die verlede slegs ‘n afskeidskamp gehou word en wel by Wit Els in Mitchellspas.

SANG:
Daar is vandag ‘n poging gemaak om ‘n nuwe uitgawe van die BTK-liedjies te besorg maar tot dusver is dit nog nie verwesenlik geword nie. Ons hoop egter om vroeg in aanstaande jaar ‘n nuwe Sangbundel in die lig te kom stuur.

Tenslotte: Daar is weer ‘n paar van ons ou maats, getroue BT-Kaners wat vanjaar ons geledere verlaat. Ons wil nie veel vir hulle sê nie, maar ons dink aan die woorde van die “Prophet”: When you part from your friend you grieve not; for that which you love most in him may be clearer in the absence, as the mountain to the climber is clearer from the plain.”

Ons maats wat ons op toer en op menige bergpaadjie goed leer ken het, ons groet julle, maar ons sal julle nie vergeet nie.

Dankie
Diens willig

Voorsitter : 1943

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui