Montagu Oktober 1943

24 September – 05 Oktober 1943

Die Worcester trein was ‘n uur laat en propvol. Toe hy die Stellenbosch-Stasie intrek het ons hom ‘n hele ruk aangekyk, almal besig met die interessante probleem, waar gaan vyf-en-sestig khaki-stuks inpas? Die vraagstuk het plek gemaak vir een veel meer persoonlik en aktueel: waar de drommel kom ekke in? en ons het oor onwillige ooms en gesette tantes en uitbundige skoolkinders ingeborrel. Let wel: die laaste gang en orige hoekie het ons volgestaan. Al kon ons nie saam sing en saamry nie, toe die pieke uit gesig raak, het ons gevoel, die Septembertoer val weg.

Op Worcester het ons die middag oorgestap na ‘n Robertsontrein en die lange sat treinreis het halfvyf eers geeindig toe ons van Robertson stasie die pad inslaan na ons kampplek by die gewilde badplek aan die Breërivier. Die breë stil stroom en wit sand, die roes-knaeserige koppie aan die oorkant het ‘n mens laat voel die toer kan maar heeltyd daar oorstaan. Stap nou verder as jy die son en die swemplek, die sand en die blou by en om jou het.

Die ou-toeriste het die aand vir ons ‘n program gereël.

Vir die oggenddiens die volgende dag het ons ingestap na Robertson. Ons het op die gallery gesit. En onder andere die Tien Gebooie agtermekaar probeer onthou.

Die res van die dag het ons die son en die rus stil in ons laat insak. Ons het rede gehad om aan die lui middag Maandagoggend terug te dink toe ons met ons bagasie onder die seil, kyk hoe die water afstroom. Kort-kort het ‘n emmer water eenkant van die seil afgeloop – en die “antiwaste” gesindes het dit nuttig gebruik om borde onder te was.

Water in die pap.
Water by jou nek af.

Blikkewas in die pappery – maar nou was die gees ook daar. Ons het onder daardie blinknat bloekomboom bietjie lekker gesing.

Toe dokter sê stap, het ons ons seiltjies en ons hoede – eintlik ontwerp vir son en dekorasie, nie aldag gebou om die elemente te trotseer nie – omgord en sing-sing en sjlif-sjlaf die eerste pragtige dagstap van die toer aanvaar. Versterking in die lyn van die skaarse Nestles sjokolade is by Robertson opgedoen en toe was dit net die lang nat teerpad Ashton toe voor ons en die vaal reën om ons. Hy’s ‘n lang pad, daardie pad. Maar gelukkig is daar by Ashton ‘n stasie, en ‘n stasiewagkamer, en in die wagkamer ‘n vuurherd wat seker maar selde gebruik word, soos alle vuurherds in stasiewagkamers. Maar daardie Maandagmiddag het hy sy dag belewe. Vir ons klomp sousnat toeriste was dit ‘n seën.

Daar was gou ‘n groot vuur aan die brand waarom ons in terasse gestaan het. Die stoom het van ons nat klere opgestaan [‘n algemene mosie van wantroue in toerseiltjies, wat hulle waterdigtheid betref!] verysde hande en toutjies-toutjies hare het weer normaal geraak … ‘n Oasis in die woestyn was daar die wagkamer op Ashtonstasie.

Montagu was nog ver en in die weer was daar van deurstap nie sprake nie. ‘n Spoorwegbus is dus vir ons vervoer bestel. Solank as wat hy die eerste vrag toeriste weggeneem het, het die wat op die tweede besending moes wag, die geleentheid gehad om die Koo koöperasie vrugtefabriek te besoek. Ek het ‘n idee dat party besoekers drome gedroom het van ingelegde vrugte in onbeperkte hoeveelhede en souvenir blikkies van hulle geliefkoosde konfyte. Ons het darem rou geelwortels gekry.

Aangekom op Montagu, het ons onderdak in ‘n groot dubbelverdieping saal gebly: dameskwartiere bo opsolder was gerieflik en ruim; daar was ook twee groot vensters.

Met warm klere aan en die vooruitsig op ‘n warm beker sop; met droë voete en mnr Graham voor die saal se klavier het ons in die saal gesit en gevoel dat reënt of nie reënt nie, ‘n BTK-toer darem maar ‘n gesonde saak was.

Die mense van Montagu – het ons later uitgevind – het berigte na “Die Burger” gestuur oor die deurnat Stellenbosch studente. Terug op Stellenbosch, en ook op pad is ons met innige simpatie bejeen.

Teen die môre was mooiweer reeds bestel maar omdat vervoer oor die nat paaie moeilik was, het ons die toerplan daardie dag gewysig: ons is die oggend padlangs deur pers vygietapyte na die warmbaddens. Met ons klomp in die warmbad was daar skaars plek vir ‘n paar seuntjies en ander besoekers. Ons het baljaar en “vissie” gespeel – Annette Pauw kon tot vandag toe nog twee blou oë van die punt oor! – en net-net ons Dokter probeer onderkry. Teen ons sin moes ons uit, om betyds te kan terugwees vir middagete op Montagu.

Die mense was veral geïnteresseerd in die love-birds net buite die baddens en dit is opvallend dat juis die aand die ou-slee-skiet gewoonte nie amptelik hervat is. Die pad van die baddens terug draai seker deur een van die mooiste klowe in die omtrek, Badkloof. Kranse en die rotsformasies indrukwekkend.

Danksy Martin en Magriet was daar vir ons na die Lovers Lane stap, ‘n heerlike middagmaal. Sommer ‘n Sondagmiddagete.

In die namiddag het ons ‘n ent terug gestap met die Ashtonpad wat die vorige dag so toe onder die mis was, na Keurkloof. Dit is onregverdig teenoor hierdie kloof dat hy nie ‘n bekwame plek het om al die mooi van daardie middag vas te lê nie.

Met die terugkom het ons die eerste die beste kafeetjie bestorm. En dit gedokumenteer – hulle ken nie Coca Cola in Montagu nie.

Daardie aand was daar ‘n geseënde verrassing. Dr Coertse het in oorleg met die lede van die bestuur op die toer aanwesig besluit om die verbod op Duits liedjies op te hef. Ag, om weer “Wenn alle brünnlein fliessen” te kan sing sonder om letters en vyfde kolom te voel.

Dieselfde aand was daar die spokerige episode van die “bebloede mes”. Al kon ons so duidelik as nog iets sien dat daardie bloed net ‘plain Jain” was, kon mens nie help om grillerig te voel as mens na Hans se oë bokant die laken gekyk het nie.

Woensdag se stap het ons uitgerus en perdfris, lus vir die stap, gepak. Concordia was die mikpunt maar ons het g’n idee gehad waar hy gelê het nie. Ons was al myle der myle in daardie Koovlakte in, met sy koppies koppies koppies en ‘n pad wat anderkant elke bultjie net so ver vorentoe strek as agtertoe, toe ons met stygende belangstelling begin verneem het “kyk, maar waar is Concordia?” Die mense langs die pad het gelag, na ons voete gekyk – hulle was al stowwerig en gesê: “Ver. Waar daardie blou berg daar linksvoor doodloop? Daar.” In die woorde van die onsterflike Tjokkeletjie. “Baie ver, pa. Honderd myl ver pa.”

En werklik daardie vyftien myl voor ete het vir elkeen van ons myle ver gevoel. Ek vrees die BTK het die Woensdag bedel-bedel deur die land gegaan. Glad te dikwels “water” (met ‘n stille hoop dat simpatie vir knakkende knieë en rooi neusies die koffiekan nader sou bring!) gevra. Ken oom vir die soveelste keer deur ‘n klomp lastig geval vir water, het die besoekers na sy dam verwys. Daar was eende in.

Toe ons eindelik egter tot ‘n middagpouse kom, moes oom Dirk sy toorkassie uithaal en ons moes teen wil en dank na mekaar se stories – oor die ‘lifts’ oppad, en die koffie bedel, en die seervoete, – luister. Die dames het swemgeleentheid gehad, en was verfris, ja gelyk die môre-dou.

Die mense in owerheid oor ons gestel het hierdie middag halte die sielkundige oomblik aangevoel vir ‘n groepportret. Dit is ook so. Ons was die vuurdorp van die BTK deur – werd om gekiek te word.

Teen daardie oggendskof was die middag se pas niks nie. Toe ons bo kom, het mnr Ben Burger se plaas, Concordia, met sy eike en populierbos onder links in die dal gelê. En daar heel ver, voor was die berge waar oor die toerpad ons weg sou lei. Sommige van ons het mankend by die kampplek aangekom. Ek dink veral aan die broeders Graham en Chaaina. Die soet goue Oros was ‘n godedrank.

Daarnà kon ‘n mens weer groenteskil asof jy net gou die oggend Eerste Waterval toe was.

Kampvuur die aand het nie lank geduur nie. Daar was besoekers. En twee-en-twintig myl is nie sodanig min nie, veral nie met die vooruitsig van nog twee-en-twintig myl vir die dag van môre nie. Oom Dirk het egter ‘n besonder interessante praatjie gegee oor die opvallende rotsformasies wat ons by Montagu aangetref het.

Donderdag. Dit sou weer ‘n lang stap wees. Ons is betreklik vroeg vort en die wat die vorige dag agter geraak het, en die diepe swart van twee uur agter die voorpunt te wees, leer ken het, het met manmoedige pas afgesit. Ter inspirasie het mev Burger – gesëende vrou – ons pere langs die pad gegee. Teen die berg uit die oggend het ons die pad soveel moontlik kortgesny met bergpaadjies sodat ons teen half-twaalf reeds elf myl padlangs gedoen het en aangesien die plek daar die bes geskikte was vir middagete, het ons net voordat ons die pas uit was, geëet.

Etenstyd was Chaaina, Piet Grobler en twee dames egter op soek. Soos van legendariese figure is van hulle gepraat – oor die berge het hulle verdwyn: steeds kortpad!

Die pas oor die berg, na ete, het ‘n mens laat besef dat dit September was. Die berg was ‘n kantdoek van wit daisy bossies en onder in die lang vlakte was daar geel plate veldblomme op die bruin veld. ‘n Praglandskap. Op die rante was die berge blou waar die pad weggeraak het.

Die vlakte is mooi. Die vlakte is lank: die geslote rye van die oggend het langer en langer uitmekaar gerek. Jy het ons kruppel en mank sien aansukkel in verskillende stadia en grade van uitputting. Soms het jy gekry die wat sommer openlik uitgepaas was en wat met woorde van nie altyd baie oortuigde aanmoediging, weer op die voorpad en op die voet gebring moes word.

Toe skielik – so lank verwag dat die onverwags was – was ons by “Stinkfontein”. Offisieel eintlik “Vredelus”. Ons het op ons bagasie neergeval, stokflou. Later het iemand êrens onder die goed ‘n brood in die hande gekry en daar was ook melk. Met verloop van tyd het die eerstes voldoende herstel om nuwe aankomelinge met geroep te verwelkom. Veral Chaaina, hy vat die kortpad, is luidkeels toegejuig.

Met die sonsak was dit bitter-bitter koud. Die oom van die plaas mnr Theuns Hugo, het sy hande diep in sy broeksakke gesteek en vertel dat die sneeu party oggende duime dik lê. Links voor op Matroosberg was nou nog sneeu. Moeg, mank, koud – daardie was ‘n aand!

Gelukkig het die huismense ‘n klein stoorkamer ontruim – Hierin het net dames stelling ingeneem. En ons het warm badwater gekry.

Ons was baie bly. Hier kan egter ook genoem word ‘n daad wat in die Annale van BTK behoort verewig te word: te meer die swem van Jos P Theron en Giel Hough in die plaasdam daardie middag. Ons wat daar was en die skraal wind gevoel het, ons groet julle!

Wel koud of te nie; ons kampvuur daardie aand was nie volmaak sonder die BTK geheiligde Witties nie. Met Jos as Swalensky was die ou besie meer “gume chamze” as ooit. Ter inligting: sedert haar laaste omwandeling, die volgende puntjie van dieët – voortaan sal dit wees pure lanterns, nie meer grondboontjies nie. Die skurk en die wenteltrap is opgevoer. Die diepe Tragiek het ons aangegryp. Ons het lekker gelag.

Die dames het daardie aand inmekaar gepas soos blokkies in ‘n jigsaw puzzle.

Die volgende oggend was die natuurlik álà Stinkfontein tradisie koud geryp en koelerig om op die oggendbrood te dien. Maar soos Martin en die Prophet sal sê – ons het gesmeer asof dit vir ons geliefdes was.

Ons het die dag seker een van die aangenaamste stappe van die toer gemaak – kortpad oor die berg na mnr Rabie se plaas op De Doorns so nog twee-en-twintig myl padlangs. Die oom van Stinkfontein het ons self tot bo-op die berg geneem en gesê: “Kyk nou loop jul so, dan kan jul nie verdwaal nie.” Ons sê Dankie, mnr Hugo! Met middagete onder die brug was geeneen eintlik moeg nie. En die veldpad was geurryk, kleurryk en vry. Betreklik vroeg die middag was ons by ‘n ideale kampplek onder eike, vier myl buite De Doorns.

Die ewig energieke Marius is dadelik weg om pos en sigarette vir die mans en die gemeenskap te kry.

Ons program is die aand deur eerste toeriste gereël. ‘n Item van Zackie – BTK de luxe, wat dr Coertse BTK nagmerrie genoem het, is opgevoer wat sy merk op BTK-tradisie sou laat.

Wel Saterdag was die laaste lang stap. Dit was lank. Ons is vrolik-vrolik uit De Doorns, versterk met acidrops en derglike sakies. Die son was van agter en die gruispad lok-lok voor. Die son, sê ek terloops, van agter.

Helfte van die toeriste het stuk-stuk die middagete plek onder die brug gehaal. Party het aangekom toe die laaste draai van die voorstes alweer die pad gekies het. Selfs Dokter se voete was die dag seer. Na ete het ons net geloop om kampplek te haal. Op mnr De Wet se plaas naby Worcester, met die berge soos ‘n magtige amfiteater daaromheen, was die bagasie.

Ons het gaargebak daar aangekom, verskroeid en verskrompeld van die hele dag se braai-son van agter.

Party mense het gemeen dat oom Dirk alte goeie goeie goed uit die botter aan ander mense se verbrande bene smeer.

Items was die aand puik. Daar was die hartroerende geval van Sinbad, Sonbad en Swembad strewend na die hand van (ekskuus, die hele) Tjokkeletjie.

Daar was die BTK oor ‘n Twintig-jaar item – die slag met mej Schietekat Zoo een lief vrouw! en Ka, teen hierdie tyd beroemd vir haar wonderlike Italiaanse aria: Die Gjeelslang. Juf Kath Krige was op haar stukke.

Die aand toe die kamp stil was en die maan geel was bokant die bamboo-bos (asof uit ‘n Chinese skildery) langs die kamp, het die dames die mansserenade van die vorige aand beantwoord.

Sondagoggend het die nuwe “de Luxe” idees sy weerklank gevind. Oggendbrood dames het brood en pap in die bed bedien. Gerief waardig van ‘n Ruskamp vir Gekroks! Dit is waardeer. ‘n Dag wat so goed begin het, moes goed hou al het die wind gewaai. BT-Kaners van Worcester wêreld het ons verseker dat dit net maar ‘n breeze, ‘n koelluggie was teen wat hulle gewoond was, maar teen die middag moes selfs hulle erken, dis wind, en groot wind, dié.

Dr Coertse het die diens waargeneem en oor Die Mens gepraat.

Ons laaste kampvuur. Nog ‘n toer verstreke. Totsien, geliefde koffieblik ….

Maandag se stap het reg teen genoemde wind in begin. Met tussenposes was daar ‘n druppel of twee ook. Maar die pad was net ‘n hanetreetjie en ons was uitgerus. Aangekom op Worcester, het ons by Louise Gie-hulle gaan tee drink. Hoe ons almal in daardie sitkamer ingekom het weet ek nie. En wat mnr Gie gedink het toe die klomp stowwerige wesens daar inkom, weet ek ook nie. Ons het eers bietjie stram en kriewelrig tussen soveel ordentlikheid gevoel, maar heerlike tee en koek (ook seconds) het ons vuil kolle en vladderende neusvelle laat vergeet.

Hierop het gevolg ‘n werklike interessante besoek aan die Voortrekkermuseum wat mnr Gie goedgunstiglik vir ons oopgesluit het ten spyte van die feit dat dit ‘n amptelike vakansiedag was. As blyk van waardering het Babs hier haar blikbeker – van bepaald antieke fatsoen en voorkoms! – hier agtergelaat.

Middagete het ons op die grasperk by die blindeskool geniet en voor ons vertrek tyd gehad vir ‘n kort besoek aan die klaskamers en werkkamers daar.

Toe stasie toe en jool-jool-jool op die platform totdat ons stokflou was, en die trein koers gevat het Stellenbosch toe.

Half-sewe was ons terug daar. Ons het eers almal by die Uitspan saamgaan eet en toe was ons weer uitmekaar.

Rykie van Reenen
(Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui