Bainskloof April 1943

22 April 1943

Dit was toe weer vakansie en daar was toe weer getoer.

Die middag van die 22e April was dit ‘n gedoente by die stasie. Behalwe al die ander passasiers was ons tagtig jolige toeriste ook daar. Orals het vrolike groepies op die berg bagasie gesit. Ja, ons sakies was mooi agtermekaar en ons het kleingeld gemaak van die tyd solank ons vir die trein gewag het.

Jos en Charles was natuurlik nie gretig dat die trein moes kom nie want die persone wat hulle kom afsien het was interessant en volop. Eindelik het die trein opgedaag en ‘n algemene verdringery en pleksoekery het plaasgevind. Die ou spreekwoord wat sê “soort soek soort” was ook weer waar in die geval, toe ons klompie toeriste soos sardiens saam gedruk was op een van die trein se bruggies. Die grapmakery was voortgesit en die ou geliefde liedjies het een na die ander hul verskyning gemaak.

Toe die trein haas wou vertrek het ons almal weer die bagasiewa ingestroom. Hier het ons plaasgeneem op alle moontlike en onmoontlike voorwerpe. Die reuk van ons olielampies was in ons neuse en ‘n volbloed BTK-gees in ons harte.

Dit was hier in die bagasiewa dat die tortelduifie met die lang asem ontwaak het en hy het die hele toer deur gekoer en was veral baie welddiens (?) wanneer Charles hom beetgepak het. So het ons al singende by Wellington aangekom.

Van die stasie af het ons reguit Bainskloof toe gepeil. Dit het die brawigste BTK-gees geneem om ‘n mens tot bo-op Bainskloof te bring want die wind het gewaai en dit was donker! Die wind was ‘n opregte lawaai – enige Suidooster wat sommige van die ligtere toeriste laat vastrap het in die harde pad.

Nadat ons half flou gesukkel was het die lorries ons eindelik kom oplaai.

Ons was regtig bly om die vriendelike kampvuur ingerig te kry en was dankbaar toe die tente opgeslaan was. Met baie vaak in ons oë en nog meer wind om ons heen het ons dit darem reggekry om ‘n paar liedjies te sing en eindelik kon ons gaan slaap. Om te sê dat ons almal geslaap het is om nie suiwer waarheid te praat nie. Die mense wat in tente geslaap het kon net sowel buite geslaap het, want as gevolg van tentpenne wat uitgeruk het, het die los tentklappe so rondgewaai dat mens meer buite die tent was as binne.

Een tent het sonder opdrag geval en die arme dakloses het toe maar so onder die blote hemel en die sterre voort geslaap.

Die tentekomitee het daardie nag penne gekap soos min.

George moes sy preek vir die volgende dag toe maar spaar vir Verkyker, mnr Coetzee se plaas, want daar is skielik besluit dat ons nie op Bainskloof sou oorbly nie. Net gou was ons paar sakies bymekaar geskraap en was ons weer in die wapad. Ons het vir ‘n lang distansie al langs die Bergrivier gestap wat ‘n hele end laer as die pas deur die klowe kronkel. Aan weerskante van die pad het massiewe rotsblokke teen die lug vertoon. Langs die pad kon ‘n mens elke nou en dan jou dors les by kleine watervalletjies wat van die grou rotse neerstort.

By ons halfwegstasie op pad na Verkyker het ons dkie middagete geniet en hier kon mens al van ‘n paar persone hoor. Ek wonder wat my hinder. Daar’s ‘n blaartjie op my toon. Ja nee nege myl op ‘n teer pad teen die wind op, tel op ‘n ou voetgoete.

Op Verkyker die aand was ons verbaas om te sien dat ‘n paar verdwaalde hoenders in een van die bome plaasgeneem het. Die kampvuur van daardie aand was sover agtermekaar! Die tone wat naaste aan die vuur was het eintlik gekriewel van pure strelende warmte. Die kampvuur van die volgende aand was weer so in die haak dat Truda nie kon help om lekker te verjaar nie en selfs die hoenders moes ook eindelik hul stellasie verlaat. Ons was aangenaam verras om die Ballanese afgevaardigdes wat vir Truda kom gelukwens ook by die kampvuur te hê.

Ons het die buite slapery op die dennenaalde baie geniet maar ongelukkig moes ons die eerste nag vlug na die tente toe, as gevolg van die reën. Omdat ruimte maar skaars was was stywe ledemate ‘n algemene kwaal die volgende dag.

Dit was aangenaam om ou BT-Kaners soos Barlo, Colyn, Triena en Willie by ons te hê, waar ons die paar dae oorgebly het. Ons sal vir Colyn en Withies nie gou vergeet nie en Withies sê sy sal die bos nooit vergeet nie.

Hier op Verkyker waar ons langs ‘n stoor vol nie gekamp het, was Tienie in sy noppies. Dit was duidelik dat sy beker van geluk onervloeiende was.

Verkyker is seker ‘n oorblyfsel van die sprokieswêreld want raai, daar tussen die bossies in die waterslote het ‘n paar nimfe, wonderskoon van lyn, daagliks hul verskyning gemaak.

Toe ons die Maandagoggend verder gestap het na Wolseley, was dit asof die hele omgewing verfris van die vorige dae se reën en die oggend sonskyn alles toegelag het.

Met tintelende lewe in ons are het ons al singende voortgestap en net gou was ons in Wolseley. Daar het soveel van ons as wat kon die kafeetjie ingestorm en die “choclate hy’t lekka gesmakie”. Dit was hier dat die “Jan skirmienagees” ontwikkel het, toe ‘n gammat met swak knieë in die pad af gedans het.

By Tappies se huis het ons heerlike tee gedrink en die vriendelike glimlaggies van sy (familie) was genoeg inspirasie vir die harde myle wat voorgelê het.

By die Witbrug het ons geëet en ook geswem in vriespunt water. Die hartroerende liedjie oor blare op die tone was hier al weer hoorbaar en oom Dirk se toormiddeltjies het vinnig minder geword.

Dit was opmerklik dat net eerste toeriste se voete dikwels hul verskyning by die toorkassie gemaak het. Van die Witbrug af het ons oor Mitchell’spas na Ceres gestap. Dié nag het die tente verrys in die dennebos by Ceres. Hier was weer geswem in nog kouer water, maar die keer in ‘n opregte beskaafde swembad waar daar vastrapplek was maar Johannes het amper te vas getrap.

Die Shadowpool was baie mooi om na te kyk maar na verneem word was die skielike kennismaking met sy water in die vroeë oggend nie so aangenaam nie. Party mens was al moeg van op die koue grond slaap en het toe in die hout huisies in die bos ingetrek.

Om die kampvuur die aand het ons uitgevind waarom Esther en haar vriendinnetjies so op hul eie ry – natuurlik die onderwerperes Meg Theron se skuld. Daar was ook ‘n ontsagtelike groot vrou in die kamp. Sy het glo aan Elephantises gely maar dr Poddivitsky het haar gou van haar kwaal genees.

Die volgende oggend het ons oor Prins Alfred Hamlet gestap. Die bestuur het glo in aangename feestelikheid op die stadsaal se trappies gehou. Die geweste half in die vorm van bully beef was ook teenwoordig. Ons moes die middag die Gydspas uitstap en dit was makliker gesê as gedaan want kyk, dit is ‘n omgekrapte pas daardie! Tappies met ‘n blikkie bully beef agter sy ribbes het gesweet dat hy stap aan die voorpunt.

Ons het die middag gekampeer op Paardekloof, die plaas van mnr Van Dyk, die appelboer. Die weer het bietjie onseker gelyk en die reën het ook net gewag totdat die lekker tamatiesop verdwyn het toe dit begin toesak het.

Die volgende oggend was die aantrekkery ‘n bietjie klammerig en het klein dammetjies water al begin vorm in meer as een tent. Soos ‘n klomp natgereënde hoenders het ons klompies-klompies bymekaar in die tente gestaan en kyk hoe die reën al harder en harder val, en hoe die dammetjies dreig om die rugsakke en kombersrolle se plekke in te neem.

Gelukkig het mnr Van Dyk ‘n groot skuur gehad waarheen ons almal kon verkas. Net gou-gou het ons vir ons ‘n sit- of lêplekkie reggekrap, en dit was nie te lank nie of ons sing al weer asof ons nog geen druppel op ons lyf gevoel het nie. Dit was ook nie te lank nie of ons het daar ‘n klomp appels bygespring en toe ons sien dat dit te lank sal neem om hulle te sorteer was daar ‘n groot gesmullery aan die gang. Daar was gulde kanse vir lekker slee in die skuur en party mense het hulle amper vergryp daaraan.

‘n Arme varkie het sy laaste dag daar gesien maar het by nie gesmaak nie! Na die ete het die eerste toeriste gewys wat hulle kan doen en oom Kaspaas en die bal het grootliks figuur. Die slapery die aand was ‘n ware nagmerrie. Dit was ‘n gedoente om tot ruste te kom in een van Kaïro se strate, en daarna was dit net;
Oi, oi, oi
Dis ‘n skaapvel kooi
Swak matras en vol van vlooi
Hier en daar ‘n pluisie waar ‘n vlooi in woon
Ook maar koud en gladnie skoon
Maar ons slaap daar lekker in
Ja ons slaap so na ons sin.

Esther het glo uitgevind dat mnr Van Dyk ‘n “bachelor” was en het begin om haar flikkers te gooi, maar daar oom Dirk altyd op die psigologiese moment op hulle afgekom het, moes sy die ou sakie maar daar laat.

Na ‘n droomvolle slaap in ‘n koue bed moes ons opstaan en die nog kouer oggendlug tegemoet gaan.

Nadat mnr Van Dyk bedank was vir sy vriendelikheid is ons met lorries na Tulbagh. Daar was ‘n groot aanloop by die Drostdy Kelders met die gevolg dat selfs oom Dirk amper onklaar was. Ons het kamp opgeslaan op Mount Rouge die plaas van mnr Van Der Merwe.

Die omgewing van ons kampplek daar is soos ‘n mooi prentjie wat baie lank helder sal bly voor ons geestesoog. Dink maar aan die skilderagtige berg met die landerye en vrugteboorde in kleurvolle herfstinte aan sy hange, die aand met sonsondergang.

Die besienswaardige Sneeugat bo in die berge het ‘n klompie van die toeriste die volgende oggend weggelo die ander het spontaan geseil. ‘n Klein klompie toeriste wat in die rigting van die Kelders gestap het, het baie vrolik teruggekeer.

Saterdagoggend is ons toe weg van Mount Rouge af en het koers gevat in die rigting van Gouda. Hierdie keer het almal verby die Kelders gestap. Voordat ons voete nog goed warm gestap was, was ons op die mooi plaas Mount Pellier, waar ons die laaste ete op toer saam geniet het. Jos was heeltemaal tuis hier want dit is glo die ou stamplaas van die Therons. Dit was aangenaam om te sien hoe vriendelik ons hier ontvang was en ons het heerlik uitgerug vir die laaste skof na Gouda. Waarom het Jos ons so uitasem ingehaal langs ‘n veldpaadjie?

Op Gouda het ons net gou die enigste hotel se drankies en geroosterde brood vankant gemaak, terwyl ons vir die trein gewag het. Op die trein het ons weer lekker gesing en van Wellington af hiernatoe het ons “Intervarsity gebou”. Met die sing van “Tant Koek se hoenderhaan” en “Oom Theron se hoenderhen” is die kompetisie beeindig en was ons amper weer in Stellenbosch. In die uitspan het ons vir oulaas saam geëet met groot “seconds” in sekere kwartiere.

Die afskeidsgevoel was sterk aanwesig toe die bagasie begin verdwyn het van ds Louw se huis af, maar waarom van ons dan treurig voel as ons nog kan sing:

“Septembermaand is die lentemaand
Dis die maand om te gaan toer.”

Jennychu Buisson
(Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui