Wemmershoek-Franschhoek-Villiersdorp-Rawsonville-Du Toitskloof April 1940

Reën moet mens hê. Dis goed om te gebruik vir koffiewater (Hoe’s daai vir logic?). Dit help ook om die “spirit” te verskaf. Hierdie slag was dit dan ook so en die koffie en “spirit” was volop.

Maar wag dat ek die ding van vooraf begin. Die hele affêre het op die 26e April so rondom vieruur bo by die Jan Marais-park begin en via Idasvallei oor Helshoogte in twee seksies gevorder tot kort anderkant op mnr Blommaert se plaas. Onkel (?) was daar en nog honderd-en-vyf ander.

Theo Pauw met sy tente en Pavis (?) met sy lawaaiers het vooruitgegaan met die vragmotor. Die oop Chevvie was nie baie lus vir die toerdery nie en het op die styl plekke só agteruit gebeur dat Eva se hart doer onderdeur die sole van die nuwe stewels wou sak!

By die kampplek aangekom het Theo Pauw op sy volgelinge se nommers gedruk en hulle het die dertien tente waaronder wie oom Dirk se dode, of, bewoi (?) oom Dirk se twee dode was, bevloog. Die dames was nognie so mooi touwys of tentwys nie en, het Onkel (?) se kop (of wat ook al) vir ‘n tentpen aangesien.

Dit was nie honderdjaar nie of die stappers was oor ou Watermeyer se hoogte – en tot oom Dirk se groot vreugde was daar al ‘n paar seer voete. Ons het ‘n bietjie wyd om die kampvuur gelê en kon dus nie altyd bykom by die liedjies wat Colyn uitgesit het nie. Ten spyte daarvan het die honderd-en-ses stuks tog lekker gesing en oor die algemeen is op hierdie toer gesing soos weinig van te vore.

Saterdagoggend het die eintlike toer begin – ‘n lekker tien myl stap na Wemmershoek waar ons die naweek gekamp het. En wat een kamp was dat! Tot ons blydskap was daar voldoende swemgeriewe -later meer as vroeër. Die mooi omgewing het sommige persone tot joernalistieke ontboeseminge gedoop en die BTK-HOERA, ‘n pennevrug van “wie weet nie”, het ‘n eerste beskrywing gemaak.

Dié aand het ons ‘n lekker lang kampvuur gehou en Jan Rabie, wat ‘n onbedwingbare afsku vir kampe ontwikkel het, was prominent in die “piektjer”. ‘n dogtertjie van een van die besoekers het “Juffrou Stones” vir ons voorgedra. Dit is interessant om op te merk dat hierdie gediggie deur klein Neels se pa, Spesiaal vir ou Neels (ook ‘n vroeër toeris) geskryf is. Dieselfde aand het “Dêd-jong”, onder beskerming van die Strand se Pauw, Hoffie Louw en ‘n dosie vuurhoudjies, in ‘n nuwe gedaante sy verskyning gemaak.

Sondagoggend het na reën gelyk en Colyn het nie eers goed kans gekry om die diens klaar te maak nie, of dit was sulke tyd. Ons het egter nie ons vrolikheid laat demp nie en hoe harder dit gereën het hoe harder is daar gesing.

Aanvanklik was die reën maar buierig en die middag het elkeen maar op sy eie manier deurgebring – deur te slaap, jukskei te speel of briewe te skryf. Maar later in die dag het die reën in alle erns neergestort en ten spyte van Theo Pauw se heldhaftige pogings kon daar nie met slootjies graaf voorgebly word nie. Na ‘n aandete waarna daar nie juis van ‘n kampvuur sprake was nie, is so ‘n dertigtal inwoners van die nie-weerbare tinte na die Hollandse Meule van mnr Diepening vervoer, waar hul die aand geslaap het. Ander het in oom Dirk se Dood die IIe vergader, terwyl die moediges – toegemaak onder seile – om die kampvuur gestaan en sing het. Toe is daar gegaan slaap maar baie gou moes ‘n vragmotor weer na die meul ry met ‘n koue en nat klompie BTKaners wat so byna-byna in hul tente begin ronddrywe het. Met opgetrekte knieë en ‘n doodse vrees dat die noordewind die meul onder hul sou omwaai, het die meisies probeer slaap terwyl Frans, Bettie, Piet BTK en Dawid, heerlik in hul weelderige “woonstel”, saam met hul “ryk pal”, dr Fransie, geslaap het.

Maandag het nat en koud aangebreek en die wat nog by die kamp geslaap het, was ook verplig om met “sakkertjies en pakkertjies” na die meul oor te trek. Stap was buite die kwessie en die skuur agter die meul was by dié tyd vir ons beskikbaar. Die Transvalers was dié môre sommer baie plesierig en al wou weet wat oom Kalie daar maak en verder is daar so ge-Jan Pierewiet dat Tappies en Jeanette, wat noodgedwonge as gevolg van ‘n swaar verkoue gesamentlik in die bed moes hou, dit later byna nie kon hou nie.

Bettie Malan se kokery het die atmosfeer met rook verpes maar toe dr Coertze, ons kaptein, so kort voor die middag sy vertraagde aankoms van stapel laat loop het, is die rook weg gehoera!

Maandagaand is sommer ‘n puik kampvuur in daardie einste skuur gehou. Daar was sewe spoke, ‘n radioprogram, liedjies en, les bes, het die Shakespeariaan se totale balkonnetjie binne die skuur, Theo Pauw en sy trawante geïnspireer tot die opvoering van ‘n magnifieke opera. Dr Fransie se kritiek oor “Ons eie boek” wat baie gunstig was, het egter in die Bergrivier, wat toe reeds knie-diep van die vorige dag se kampplek gevloei het, weggespoel.

Dié nag is die slapers tussen ons die skuur en die meul verdeel. ‘n Warm en gemaklike slapie, is die Dinsdagoggend met drie hoera’s van die vriendelike mnr Diepening afskeid geneem. Met Piet wat oorgenoeg tyd gekry het om tot blakende gesondheid terug te keer is die ses myltjies na Franschhoek gou afgestap.

Van Franschhoek het ons met gehuurde vragmotors die dag wat ons agtergeraak het, oor Franschhoekpas na Villiersdorp, ingery. Op Villiersdorp het ons onder stortreën aangekom en het ons intrek in die ruim Landbousaal geneem.

Philip McLachlan was so bly om ons te sien dat hy somaar gou vir Villiersdorp bymekaargeskraap het om die middag die BTK op die voetbalveld te ontmoet. Tappies het die manskappe met ‘n Rom-Rom op die veld gelei en Alie het die singende Matie-massie op die pawiljoen, as dirigent voorgegaan. ‘n Drie deur Christie Lochner en ‘n strafskop deur Pavis skuins oor die binnekant van die regop paal het saam met ‘n weldeurdagte gebruik van die fluitjie van Onkel, die oorwinning besorg. Só maak ons geskiedenis deur ons hele grote land.

Die aand is die oorwinning in die skuur gevier en daar is gesing soos weinig te vore. Die singery in die “regs makeer” toon, met lepels en borde-begeleiding, sal seker nie gou vergeet word nie. Dié aand is weer lampvuur gehou. Mussoline en Ali se “vloeg” wat nog steeds “seet” het teruggekeer en ons het ‘n kykie gekry in die toekoms van pastor Möller en sy goeie vrou, Jeanette.

Woensdagmôre het dr Coertze so ‘n slaggie skuins geloer na die met sneeu bedekte berge en die bewolkte lug en ons weggestuur op ‘n lekker dag se stap van ongeveer sewentien myl na Kweekkraal. Op ‘n heerlike kampplek onder Eikebome, het die nuwe toeriste ons die aand om die kampvuur op ‘n uitstekende program vergas. Johan Pauw het dr Fransie só goed nagemaak dat dr Fransie later nie geweet het of hy in sy slee of langs die vuur was nie. Theuns Human en Helene Theron se Fordkar met sy afsakwiele het ou Onkel ‘n onrustige rit tot konsternasie van “laaif-bob” Leeuwenink verskaf. Maar toe kom die ding! Dit was: “Lag Here” en na hulle weg was het die meisies begin konkel.

Hulle het besluit om te serenadeer maar moes lank wag en loer vir die mans om in die bed te kom. Die inleidende lied “Mussi denn” was heeltemal verdoof onder die kwits-kwits en gekraak van droë takke, maar ten spyte van alle teenspoed het dit suksesvol afgeloop.

Donderdag was Hemelvaart en ons het dit stil in die kamp deurgebring. Die son het heerlik warm geskyn terwyl Ali die diens waargeneem het. Daarna het elkeen sy eie weg gegaan tot etenstyd toe ons die heerlike jellie-poeding en vla gekry het.

Die middag het gou verbygegaan met uitstappies in die Kloof op; lemoene eet, liedjies oefen en gekskeer.

Vroeg reeds die aand het die kampvuur begin – so vróég dat Marie Loening (?) en dr Fransie flitse in hul slee gebruik het om lig op die onderwerp te kry. Soos altyd op die toer was die items die aand van ‘n merkwaardige hoë gehalte onder andere voordragte deur dr Fransie, liedjies deur die Hollandse blok, ‘n ballet-dans deur Antsi en haar maats op die maat van Ali se Loe-la-la-laai en wat ‘n klimaks bereik het in ‘n koorsang deur al die meisies gelewer.

Om tienuur is die laaste slaapliedjie gesing en gou was daar stilte in die kamp want Vrydag het daar ‘n lang skof voorgelê.

Vrydagoggend, nadat dr Fransie sy verjaarsborsel gekry het, het ons tog oor die berge begin – elke nou-en-dan het ons stilgestaan om terug te kyk op die vlakte met Brandvleidam in die verte. Bo van die steil Pweasberg (?) het ons ‘n pragtige uitsig gehad oor die plaas en die vallei met die rivier wat kronkelend in die rigting van Rawsonville tussen die berge deurgeloop het. Die streep vrolike gesigte en rooi nekdoeke berg-op en berg-af was so mooi dat dr Fransie ‘n hele fliek film gebruik het en van Letta meer wou hê.

Die middag het ons op die plaas Dwarsberg geëet en vandaar is ons oor Rawsonville na ons kampplek op “Gevonden” die plaas van mnr Hennie de Wet. Dr Fransie se verjaarsdagsjokela het lekker gesmaak na ‘n stap van byna twintig myl. Die laaste kampvuur was ongelukkig maar kort omdat die brugstap van die toer nog voorgelê het. Owen se verslag van die voetbalwedstryd, Martie en Elsa se slee en die giggelende gesang van Marena en haar volgelinge, Bettie, Rina en Marie, was ‘n paar van die items. Gou het ons gaan slaap – so gou dat sommige van die meisies nie die serenade van die mans gehoor het nie.

Saterdagoggend vroeg is ons van die kamp weg. Vir ure aaneen het ons deur die pragtige Du Toitskloof gestap omring van hoë massas berge wat elke nou-en-dan verberg is onder dik lae, wit mis. Die natuurskoon was onbeskryflik mooi – ‘n uitstekende klimaks vir ons toer – hoë bosse en bome in alle skakering van groen en geel; donker kolle skaduwee en dansende ligstrokies en helder bergriviere wat in volle vaart verbygestroom het, was oorgenoeg beloning vir die seervoete en moeë ledemate wat opgedoen is.

Oor Witpoortjie is ons met die blywende indruk wat Du Toitskloof se prag op ons gemoed gemaak het, met ‘n steil paadjie af na Keerweder, die plaas van mnr Retief. Na ‘n haastige aandete is ons met lorries terug na Stellenbosch. Daar is seker nie ‘n tree van die een-en-twintig myl tussen Paarl en Stellenbosch waaroor ons nie gesing het nie. Trouens uitstekende gesamentlike sang het die toer gekenmerk, al was dit nie noodwendig saans om die kampvuur nie.

Ons honderd-en-ses stuks het op Stellenbosch teruggekom hoog voldaan met die BTK en met onsself. Honderd-en-ses Maties het verfris teruggekom vir ‘n nuwe kwartaal nadat ons mekaar en ons mooi omgewing beter leer ken het.

Marius de Villiers
(Sketsskrywer)

(Met medewerking van Pavis)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui