De Doorns-Worcester-Tulbagh April 1939

Op Donderdagaand, die 6e April, het ‘n opgewonde klomp BTKaners al singende, die strate afgestroom stasie toe. Op die stasie het dit gewemel van rooi nekdoekies. Ten spyte van die reën het die BTK-liedjies die wagtery vir die onhaastige trein veraangenaam. Dis – “By Genadendal …. Bey Genadendal”, “Sjeelslang”, “‘n Klomp lekker maats” en “Muss i denn”. Toe kom die trein en die klomp klouter in. Met ‘n gewaai, lawaai, gegroet, gesing, geskreeu en allerhande ander goed – trek die trein. Die BTK-toer het begin!!!

Op die trein het ons in twee groepe verdeel en die arme twee kompartemente moes hul ken om ons te bevat. Ou Bey se voete en Marie se kop het so nou en dan deurmekaar geraak maar dit het geen saak gemaak nie. Almal is voorgestel aan almal en was die Genadendaller tognie bly toe hy vind dat daar darem onder die blosende noointjies een ou Ilsetjie was nie. Dié aand is kennis gemaak met “Sir” Kellie, die Duitser met sy oulike velbroek en ou Bossie se “nonsense”. Die aand ook het almal kennis gemaak met die ou liedjies en tot laat in die nag het vrolike stemme “Im Wald” en “Morgen” en “Jol” oor die Drakenstein vallei laat weerklink. Toe is gegaan slaap!

Die volgende môre het die ysige luggie van De Doorns sommige byna laat besluit om huistoe te gaan, maar die treinkoffie het hulle weer moed gegee, en die pad na die kampplek op mnr Rabie se plaas, ‘n paar myl ten noorde van De Doorns was maar ‘n brekfis voor brekfis vir die gesonde, met-spirit-gedokterde voete.

Dit was Goeie Vrydag en die dag is stil deurgebring. Ons is die oggend op gasvrye wyse op tee, broodjies en druiwe getrakteer. Die diens is deur Bey waargeneem en kort daarna is sy sit getjap. Ook dié dag het ons kennis gemaak met “Wuppert” wat een van die populêrste BTK-liedjies geword het. So deeglik was die kennismaking dat Benade se hart gedurende die res van die toer in ‘n gedurige toestand van “wuppering” was.

Die volgende oggend het Coligny sy snor in paaiemente verloor. Dié dag, Saterdag, het ons ‘n lang skof gestap na De Wet-stasie, vyf myl van Worcester. Hier, terwyl ons al singende langs die grootpad tussen die berge gestap het, het meeste van ons besef hoeveel aangenamer dit is om te stap as te ry. ‘n Stukkie pad wat van die motor of die trein heel gewoon voorkom, het geblyk omring te wees van die pragtige natuurtonele – dit was waarlik ‘n aangename stap van De Doorns na De Wet hoewel die Harmoniek, te oordeel na hul “performance” op die lorrie nie so gedink het nie.

Dit is by De Wet waar Blackie se vinger en Bossie se hoed in die slag gebly het. Eersgenoemde as gevolg van die onverskilligheid by die guillotine en laasgenoemde as gevolg van die waaghalsigheid van ‘n proponent. Ten spyte van die twee groot rampe is Sondag stil deurgebring in die kamp. Die diens is op bekwame wyse deur Bossie gelei. Die glanspunt van die dag was die onverwagte kuiertjie van Esther Hammann.

Om die kampvuur dié aand het Witlies en klein Witliesietjie byna daarin geslaag om die melkprobleem op te los.

Maandagoggend was ou Herman-hulle weer orig met die tentevallery en Bettie en Kie. moes hulle haas om nie saam te val nie. Die paar myl Worcester toe het gou gegaan. Daar het ons die Blinde- en Dowe-skole besoek en baie interessante dinge gesien en gehoor. Die gasvryheid van die lede van die staf is baie hoog gewaardeer, en die tee wat ons by die Doweskool gekry het sal seker nog lank onthou word.

Die dertig myl na die kampplek is dié middag op drie maniere afgelê:

1.Deur te stap in die harde en nou teerpad,
2.deur aanhoudend in die veld in te vlug vir tallose
verbyvliegende oorhaastige blink-motorkarre, en
3.deur ‘n lorrie-rit wat met veel geskud en grondboontjies
eet gepaard gegaan het!

Die aand is gekamp op die plaas Verkyker +4 myl van Wolseley aan die Suidekant van die Breërivier.

Dinsdag het ons al langs ‘n pragtige dennebos gestap tot by Wolseley waar ons tee gedrink het by Tappies en toe verder gestap tot by Wit-Els waar ons heerlik geswem het. Stralend en skoon het ons by die rivier uitgekom en na ete verder gestap na Ceres waar ons in die park, onder dennebome en langs ‘n rivier gekamp het. Dié aand het Nig Jannie en Nig Bossie die nuutste dans uit die bosse van Ceres gedoen begelei deur ‘n mannekoor wat die klassieke liedere “Bey se sit se tjap” en “Coligny se snor se suit” in verskillende stemme gesing het. Na die skitterende vertoning het die danseresse elk ‘n ruiker droë blare ontvang en die dans is onder groot toejuiging herhaal.

Woensdag se oggendskof was tot by Koelfontein, ‘n plaas aan die voet van die Gydo-pas. Ons pad het gegaan via Prins Alfred’s Hamlet en pere. Mnr Wolfaardt het ons, nadat ons die vrugtepakkery besigtig het, in die pereboord losgelaat. Hierdie uitstappie het sy stempel onder andere op dr Erika se toon, Bettie se rok en menige maag gelaat. Teen die pas op was die pere opstandig en daar was “nou pax in bello”. Om die vermaarde digter se woorde te gebruik:

“Op Gydo-pas, op Gydo-pas
Raak die pere boos
Die peer wat was,
Op Gydo-pas.”

Bo-op die Gydo-pas in die Koue Bokkeveld wat volgens Dawid meer bok as koud – ag, ek meen meer koud as bok is, het ons kampopgeslaan. Die aand se program is deur die eerstejaars gereël (dit wil sê eerste toeriste). Dié nag is ons aangenaam verras deur ‘n serenade van die mans.

Donderdagoggend het ons in ‘n motreëntjie die kampplek verlaat, maar gou het die son uitgekom en vrolik op ons geskyn. Die lang end pad tot aan die voet van die Witsenberge was pragtig. Ons het deur ‘n populierbos gestap waar die grond besaai was met die allermooiste rooi, goud en bruin blare. Dit was net ‘n kort entjie tot bo-op die berg en toe – die gesig oor Tulbagh-kom en die omliggende berge en valleie was onvergeetlik. Effens mistig het dit voor ons uitgestrek gelê. Alle gedagtes van seer voete en blare het verdwyn en ons het stilgestaan en geniet. Ons konnie en wou nie wegkom nie.

Na ete het die lange tog bergaf begin en menig Harmoniet het al begin verlang na die lorrie. Die pad was stil, vaal en ver en Tulbagh wou maar nie naderkom nie. Maar toe hy kom kom hy met geweld want sikspens warmbaddens was aan die orde van die dag.

Op Tulbagh was ons kampplek op die Tentoonstellinggronde en Bey en sy maats het die geleentheid te baat geneem om ‘n puik opera op te voer. Die operasangers het groot sukses behaal met Prinses Antionette as Koning Jan se dogter, Fritz as oorwinnende held en Herman as nie-wiederkommende ridder. Dr Coertze het die aand afgewyk van die gewone “Nag Dames” en die mans moes maar mooitjies hulle komberse vat en gaan slaap.

Vrydagoggend het ons die museum en ou Pastorie besoek. Die museum was oorspronklik die ou kerk wat in 1743 deur van Imhoff daar gebou is, en dit bevat pragtige stukke ou meubels. Die middag toe weer oor die Winterhoekberge gestap – maar baie skraap-skraap want die bossies was glo hard. En so lopende deur bosse en strome het ons eindelik die kampplek bereik wat naby die “Imperial Cold Storage” was. Toe begin die poppe dans – of liewer die vlooie – om niks te sê van varkwalmpies nie.

Dan – die laaste kampvuur. Bossie se hoed het hier hoofrol gespeel in die opera. Die vermaarde bosdansers van Ceres het weer opgetree en die prys vir die beste toerliedjie is aan Hannah toegeken.

Tot laat het die BTKaners nog vir oulaas om die vuurtjie gesit. Maar “aan alles kom ‘n end” en nadat ons van die lekker poeding geëet het, het ons vir die laaste maal saam godsdiens gehou, toerliedjies en slaapliedjies gesing en “Nag Dames” gehoor.

Die volgende oggend toe die son uitkom het die moleste reeds begin. Oom Jannie en Fritz is in die ysige water gedompel en druipstert teruggedraf. Tente het geval. Alie se hê-hê is op sy sit geverg. Bey is deur die meisies besmeer met pere.

Speletjies is tot en met etenstyd gespeel, toe stap ons na Goudastasie. Die stukkie treinry was glad te kort. Die end van die reis was glad te gou daar, en met treurige harte het ons voor ds Louw se huis “Nou totsiens, geliefde BTK” gesing, en uitmekaar gegaan. Die BTK-toer was verby.

Marius de Villiers
(namens Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui