Citrusdal September 1938

Studente op ‘n Staptoer

“OPVOERINGS” Openbaar Onmiskenbare Talent

Het u al van die BTK-klub op Stellenbosch gehoor? Ek moet erken dat dit op bloot ‘n naam was, die Berg- en Toerklub van die studente aan die Universiteit. Maar nou dat ek terug is van ‘n tiendaagse staptoer met die Klub, waarby ons goed oor die honderd myl te voet afgelê het, bruin verbrand en met die herinnering van die berg en dal en jeug en skoonheid in my gemoed en die lustige liedjies nog in my ore, is dit my ‘n genot om van die deeglike organisasie, die hartlike broederskap en die gesonde toon van die BTK te vertel. En daarby van die skoonheid van ons land.

Ek het van hier met dr Ver Loren van Themaat, dr Erica Markötter en ‘n veertigtal wanderlustige studente per trein tot by Graafwater gereis. Daar het ons in die vroeë môre per lorrie na Clanwilliam gegaan en die dorpie laat opskrik met ….

Wenn die Soldaten
Durch die Stadt marschieren,
öffnen die Mädchen
Fenster und Türen.
Ei warum, ei darum,
Ei bloss wegen Tschingderassa-Bummderassa-sa….

Tot in die agterplaas van ‘n winkel, waar die koffieblik gou gehang het bo ‘n knapperende vuur.

Na die koffie het ons staptoer begin. Die eerste skof was maar vyftien myl. Maar ons het ‘n bietjie vinnig weggespring, en my ou ledemate moes eers regkom na die wintersit in die studeerkamer. Die rus by Pakhuis was baie welkom. Daar het ek onmiddellik kennis gemaak met die doeltreffendheid van die BTK. Die klub het alles wat nodig mag wees. Op stap dra ons net onsself voort; Die lorrie wat agterna kom – en desnoods ‘n swakke of kleinmoedige vriendelik meevoer – bring al die benodigdhede. Van tente tot die goed voorsiene medisynkassie, is alles in orde. Gehawende voete bring die “dokter” volmaak in orde vir die stap van die volgende dag. Die komiteestelsel laat alles gemaklik verloop. So is daar die tentkomitee, die waterdraers en houthakkers, die groenteskil-komitee, die blikwaskomitee (onder laasgenoemde het u dienswillige dienaar gesorteer – so ‘n soort adellike job, wat as spesiale onderskeiding deur buitestaanders beskou moet word!). Alles is reeds druk aan die gang. Wie vry is bring sy bed vir die nag in orde – liefs onder die blote hemel, al lê daar môre ‘n bietjie ryp op jou kombers. Na ‘n maal wat smaak soos nooit een tuis nie, gaan almal rondom die groot kampvuur sy plekkie opsoek en dit met komberse klee om te beslee. En dan klink ‘n skat van liedere lustig gesing. Ek het nog nêrens Afrikaners so hoor sing as die BTK-kamp nie. En wat ken hulle ‘n magdom van liedere! Hulle het hul eie bundel. En mense wat nog nooit ‘n woord Duitse grammatika geleer het nie, sing hier met suiwer aksent ‘n dosyn of meer Duitse liedere, benewens natuurlik ook baie Afrikaanse, Nederlandse en Engelse kampeerliedjies.

Maar dan hoor jy: Item, item! En ‘n hele program volg. Voordragte, kort vertellings, maar veral komiese voorstellings, altyd weer afgewissel met dawerende sang. So het onder andere dr Ver Loren heel interessant vertel van sy ondervindinge gedurende die Tweede Vryheidsoorlog, dr Markötter oor ‘n Kraft durch Freude-reis na Noorweë, ds A Louw van die rampokkerlewe in Amerika. Nederlandse verse is voorgedra. En selfs operas (of “droperas”) is opgevoer. Wat ‘n oorspronklikheid van teks en ook van kostumering! (waar jy alleen eet-, slaap- en stapbenodigdhede het as garderobe). Maar ‘n laken as kleed en ‘n kombers as mantel, ‘n pajamabroek met wit broekie daaroorheen, ‘n bietjie poeier en kryt op ‘n mooi gesiggie – et voila ‘n Middeleeuse ridder, Hitler in persoon en ‘n ware Parisienne! Ja, ‘n Oosterse prinses of Aladdin met sy lamp verrys hier in ‘n oogwenk. Die skaduwees om die kampvuur voltooi die res. En die teks, saamgestel deur geheimsinnige groepies onder ‘n rots of boom, skyn sommer ingegee deur die natuur; die sangwysies van die operas ontstaan soos dié waarvan Heine sê dat die voëltjies hom dit voorgefluit het in die bos. Spontaan kom dit en geestig en altyd in die gees wat almal dra en wat steeds weer roep om geesdriftige applous. Ek wil ons dramatici uitnooi op so ‘n BTK-toer. Wie weet of ons dan nie die Hertzogprys weer sal kan toeken nie – so nie vir drama nie dan beslis vir opera.

“Ek het honger. Bring my kos!” word deur ‘n sultan aan ‘n geëmansipeerde haremvrou gesing op ‘n wyse Caruso waardig ….

So gaan die uurtjies snel verby, en dis elfuur as die BTK-leier die persoon aanwys vir die aandgodsdiens. Dan rys die lied van die vadere op in die klare nag:

‘k Wil U, o God, mijn dank betalen,
U prijzen in mijn avondlied ….

Haas tasbaar is die gevoel van dankbaarheid. Dank vir die heerlike natuur. Dank vir ons jonkheid om dit te geniet. Dank vir die plesier van die nag. En bewaar, Heer, bewaar in U sorgende liefde almal wat ons dierbaar is. Vader en moeder, wat soms so sware laste dra dat ons op Stellenbosch mag wees en, ná die studie, hier in die verkwikking van U hoë berge, liewe Heer.

‘n Sagte stilte volg. Almal staan op. Dan, in nou aaneengeslote kring, rondom die nagloeiende kampvuur, ‘n enkele slaapliedjie nog –

Schlafe, mein Prinzchen, schlaf’ ein.

So wiegel ons na die komende rus ….

Voordat jy nog besef het hoe hard die eerste nagrus op die grond was, staan jy op, ‘n volslae BTKaner nou, om die reis verder voort te sit.

DIE SENDINGSTASIE WUPPERTHAL

Van Pakhuis het ons weer ‘n berg bestyg en die middagbrood geëet op Heuningvlei, ‘n buitepos van Wupperthal. Van daar deur ‘n mulle sandbedding tot op die nek. Sommige het lankuit in die sand gaan lê en rus. Van bo af is die daling daarna so skerp dat die meisies dit geriefliker gevind het om agterstevoor die sendingstasie te benader – soos ná die gulle gasvryheid aldaar hul gedagtes agterstevoor gewerk het by die vertrek!

En toe al singende die hoë berg tegemoet. Maar die sang het verstom, want dit het steil en baie warm geword. Eindelik was ons bo op die wêreld. Die pad na Eselsbank lê voor.

Dis maklik om hier een van die mooiste watervalle verby te loop. Maar ‘n bietjie links van die paadjie oor gelyk veld kom jy meteens te staan voor ‘n geweldige afgrond, met uitgekartelde rotshoogtes aan die oorkant, en in die kloofskeur stort ‘n silwere rivier seker ‘n honderd-vyftig voet na benede. En wat ‘n heerlike verfrissing was die oponthoud daar voordat ons die verdere styging in die hoogtes, al met die regeringsvoetpaadjie, na Sanddrift onderneem het. Op pad het ons by die hoewe van ‘n ou grysaard aangekom, geheel afgeslote van die wêreld op sy klein lappie grond tussen hoë bome. Hoe het die studente hier nie gesing nie! Op sy oumans-gesig het verbasing, bewondering, skuheid en verlange in die plooie gekom: hy het in sy lange jare nog nie soveel lewe gesien nie! Verder teen die hange het die liedere weerklank op weerklank gewek. Selfs die paar bokkies het na ons gestaar soos na nuus uit ‘n ander wêreld. Vir ‘n oomblik. Dan het die sang al verder en verder geklink. En oor die grysaard en sy bokke het die vergetelheid weer neergesak. Wat die kluisenaar daar in die gebergtes ontbeer aan die grote wêreld? Wat het ons gemis dat ons niks geweet het van die dreiging van ‘n wêreldoorlog totdat ons weer ‘n koerant in die hande gekry het toe die koerante al geen nuus meer gehad het nie en alles weer pais en vrede was?

By Sanddrift het ons tente gestaan, en van daar het ons een van die wonderlikste uitstappies van die toer gemaak na die Wolweberg.

DIE BTK-TEMPEL

Bo op die Wolweberg is daar geweldige klowe. Hier was geen lopende water te sien nie; net opgedamde plasse in reusebekkens. Eindelik het dr Ver Loren ‘n stroompie bergwater ontdek, wat ons vir die koffieketel verkies het bo die wywater van die gode …. Dit was ‘n grootse dag in die natuur. In die kampplek was nog die stille wyding te gewaar.

Die volgende dag was ons vroeg weer voort. Langs mooi stroomversnellings gaan dit na Uitkykpas. Van daar het ons diep afgedaal langs ‘n sigsag-pad na Algeria onder die berge. Daar was nog net tyd om in die heerlike rivier te spring. Tente is opgeslaan op die toegestane ruimte by ‘n kerkhof.

DIE SPOOK

Algeria is ‘n regeringspos met pragtige boomplantasies teen die berge. Ook sederbome slinger teen die hoogste kranse op. Van Algeria het ons afgesak na die Olifantsrivier, na Kriedouwkrantz, en gaan rus op die plaas Alpha, waar onder andere nog enkele Boesmantekenings te sien is. Eindelik na die mooi sitrusplaas van mnr Visser, Heksrivier.

Reeds van ver het die soele windjie ons die betowerende geur van lemoenbloeisels toegewaai, en daardie nag het ons in geen spookgebied geslaap nie, maar in die romantiese sfeer van sagte lente en liefde.

Dit was die einde van ons staptoer. Ons is per lorrie daarvandaan deur Citrusdal oor Grayspas (Piekenierskloof) na die Swartland met sy wye landoue in purper aandgloed. Eindelik ‘n hele dagreis per goederetrein na Stellenbosch. Die traagheid van hierdie treinbeweging was in ooreenstemming met ons dralende gemoed, wat maar nie tot die laaste werkskof van die jaar wou terugkeer nie …. nie hierdie gelukkige broederskap wou laat opbreek nie.

Ja, van so ‘n gesellige BTK-toer is die afskeid swaar. Jy moes dit maar een keer meegemaak het om dit te besef. Dan verstaan jy dit ook waarom ou BTKaners telegramme stuur na hul vriende in die berge. Vir die student is daar seker geen beter geleentheid vir die uitbreiding van sy vriendskap nie. Hier leer jy mekaar ken soos nêrens anders nie. Daar is volop werk vir elkeen. Karakter word soms op die proef gestel …. en gestaal. En hier is nog egte lewensvreug te haal. By gesonde oefening in die vrye lug en by gesellige verkeer. En dan is daar die gasvryheid wat jy oral ontvang. Mense buite jou eie lewenskring met wie jy op toer kennis maak en wie jy leer waardeer. En daar is jou eie mooi land waarmee jy só intiem bekend raak.

Wat my hierby miskien die meeste getref het, is die natuurlike, eenvoudige, christelike atmosfeer en die ongedwonge vrolikheid van die BTK. In teenstelling met die gedwonge te-moet-vrolik-wees wat ‘n mens soms by Europese studente op toer opmerk, is hier die spontane vrolikheid van ‘n onbedorwe jeug, van ‘n aard wat nog geensins blasé is nie. Miskien moet die suiwer toon ook daaraan toegeskrywe word dat daar vir elkeen soveel prakties te doen is op toer. Maar die kern van ons jongmense is nog gesond. Die chaperones het sowat niks te doen nie. By die BTK is hulle ‘n luukse-artikel, in sover hulle dit onthou waarvoor hulle eintlik meegekom het.

F E J Malherbe

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui