Rooi-Els Kamp

02 – 06 Desember 1937

In vrolike stemming wag twintig BT-kaners voor die Uitspan tot alles in gereedheid is, sodat die lorrie hulle na Steenbras kom vervoer. Daar aangeland, begin ons dadelik aanstap om sodoende nog voor sononder by die kampplek te kom. Die lorrie moes egter omdraai om met die motorpad by Rooi-Els te kom. Tant Elsie Grobbelaar, ons kampmoeder, sou ons dan ook eers daar ontmoet.

Opgeruimd en vervul met gedagtes van wat die kamp gaan oplewer, het ons al langs die see gestap. “Al brand die son ook warm van bo en word ons neuse rooi ….”, tog het dit ons nie gehinder nie, en veilig word Rooi-Els bereik. Almal klim dan ook nog vol verwagting die heuwel uit om die lorrie bo te ontmoet, maar wat ‘n teleurstelling! Net die kale vlaktes, maar g’n voorwerp naby wat naastenby soos ‘n lorrie lyk nie. En ook net één rots in die hele omtrek waarop al twintig kon klouter uit vrees vir slange in die gras. Daar was seker nie een wat nie aan die moontlikheid van ‘n nag op die rots gedink het, sonder slaapgoed of kos nie! ‘n Oorblywende toebroodjie is dan ook gretig deur die klomp verslind, dit wil sê elkeen moes + ‘n krummel gekry het.

‘n Paar mans het egter aangestap en die lorrie voor ‘n onoorkoombare sloot gevind, en nog sonder verlof ook om in daardie deel te ry. Na veel gesukkel, egter, het die lorrie tot op Rooi-Els gekom, en die goed is afgelaai. Die twee kissies rooi pruime wat dr Joubert aan ons gegee het, en seker bedoel was vir ‘n lekkerny na middagete was die enigste bereikbare kos, en dit het dan ook gouer uit die kissie verdwyn, as wat dit seker daarin gekom het.

En toe vir die afdra van komberse, rugsakke, tente, eetware, kiste, ensovoorts. Seker nie een van die kampers sal dit lig vergeet nie. Een vir een het die bondeltjies deur die lug gevlieg om êrens in ‘n doringbos vas te steek, en met groot moeite weer uitgehaal te word, om verder die heuwel af te rol. Tot halfnege die aand het die mans nog van die goed afgedra, en is deur die dames as heldhaftige ridders beskou.

Nou ja, na die tente eindelik opgeslaan was, en elkeen se honger bevredig was, is die bed opgesoek. Maar met watter vrese en bewing aan die kant van die dames! – want gerugte van slange en ongediertes het nie op dowe ore geval nie. En Botha is dan ook afgevaardig om naby te slaap.

Die son was al lank, lank op, toe een vir een hulle verskyning maak na ‘n swem in die rivier. Die papkoker was te fluks na almal se sin, want hy was al lankal klaar terwyl almal nog slaap.

Vrydag is lui-lekker deurgebring, en toe kon ‘n mens eers behoorlik die wêreld beskou. Tussen groen heuwels lê die kampie langs die rivier wat al kronkelend sy weg na die see baan.

Dit is Vrydagaand – ete is verby en almal sit rustig en gesels -toe daar meteens die klanke van ‘n viool deur die stille aandlug swewe. Teen die massiewe rots-oorhang, wat donker omlyn teen die lug silhoeëtteer, staan die speler. Bo skyn die sterre al, en onder kabbel die water van die stroom saggies oor die klippe, terwyl die paddatjies hulle liedjies sing, en die biesies aan die waterkant ruis.

Met die wegsterf van die koue het ook die werklikheid teruggekeer, en het ons besef wat ‘n voorreg dit was om sulke aangename ure deur te bring. Na ‘n genoeglike kampvuur het almal weer gaan inkruip, om weer die volgende oggend vir die eerste keer wakker te skrik toe die son al wie weet waar sit.

Saterdagmiddag was dan die georganiseerde tennis-toernooi, wat net goed afgeloop het, maar ongelukkig het tyd ontbreek om die “grand finale” af te handel. Intussen het ons kampvader, dr Coert Grobbelaar en Chris Murray aangekom, en almal is toe terug kamp toe. Die aand het Piet Roos, Dempsey en Joan Verloren van Themaat hulle ook by ons genoeg, en het net betyds gekom vir ‘n worsbraaiery om die kampvuur.

Een onvergeetlike insident het Saterdagaand voorgeval, toe Sondag se poeding in wording was. Die kokende water was net op die jelly gegooi, toe daar skielik ‘n padda blitsvel deur die lug kom, om kaplaks(!) in die kokende vloeistof te land – die arme padda was gouer styf as die jelly. Botha was net besig was om die padda vir sy slang te voer, moes maar ander kossies soek! Die padda was vir hom te glibberig.

Sondag het almal egter smaaklik geëet aan die nagereg – Jelly “a la Padda” en die middag het Hans ons weer vergas op musiek. Rustig en stil was dit onder die skaduryke bome en dit het ‘n mens onwillekeurig laat dink aan ‘n buitelandse toneel. Sondagaand was ‘n gesellige aand by die dames se tente – na die mans al gaan slaap het – toe Jan van Riebeeck ons besoek het?!!

Maandag is die terugreis aanvaar, alhoewel nie in dieselfde stemming as wat ons gekom het nie. Die paar wat met die bootjie gekom het, het dit ook baie geniet.

En daarmee was die werksaamhede en plesier van die BTK van 1937 dan ook afgesluit, en vriende wat ons vir goed verlaat het, sal alleen met soet herinneringe aan hulle laaste kamp kan terugdink en sê: “Vaarwel, ou maats, vaarwel!”

S Naudé

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui