Die Agulhas September 1937

Die laaste paar dae voor die vakansie het alte stadig verbygegaan. Maar uiteindelik was Donderdag, 23 September, daar en het ons ons skrede Uitspan toe gewend, waar ons die lorries sou kry. Ons klomp was nog vreemd vir mekaar, maar die khaki-klere en rooi nekdoekies het ons reeds laat voel dat ons saamhoort. Ons het die stof van Stellenbosch van ons voete afgeskud en daarmee alle gedagtes aan hordes werk en eksamens. Ons het net gevoel:

“Dit is September weer, lente is in ons land,
Kom ons vier nog ‘n keer vakansie aan die strand.”

Toe ons oor Sir Lowry’spas ry was die gesig op die see wonderlik, want die son wou amper ondergaan, en het goudgeel op die water geskyn. Toe ons by Onrus kom het die paar wat met die koslorrie vooruitgegaan het, reeds tente opgeslaan, en ons het toe somar tuis gevoel. Om die kampvuur het ons verder met mekaar kennis gemaak en was dit ‘n plesier om te dink dat ons so ‘n klomp nuwe vriende sou maak. Sommige van die ou toeriste het gedink aan die laaste kampvuur van die Genadendal-toer wat op dieselfde plek gehou is, terwyl die res van ons vol verwagting was vir wat hierdie toer gaan lewer.

Vrydag kon ons Beyin om aan ons staplus uiting te gee, en het ons deur Hermanus en Voëlklip na die Mond gestap. Kort anderkant dr Con se huis het ons in die lang gras gekamp. Ons het die middag heerlik in die see baljaar, en dr Con se swemplanke het baie tot die pret bygedra. Die aand se vis was nie ‘n ongemengde vreugde nie. Sommige het besluit dat hulle eerder op die blikwas-komitee sou wou dien as op ‘n viskrap-komitee, as so ‘n iets tot stand sou kom. Magrieta en Johan Louw, Ida en Izak Smith het dié aand by ons aangesluit. Oom Coert en tant Elsie Grobbelaar het reeds van Stellenbosch saamgekom. Dr Con het ons dié aand met sy teenwoordigheid by die kampvuur vereer.

Saterdag het ons soos ‘n karavaan oor die wit sand gekronkel. Die swart brille en wit “tackies” was nie juis ‘n artistieke kombinasie nie, maar al wat saak gemaak het was dat ons gevoel het soos Philip sê: “Ons toer salig.” Die pragtige grotte en kelders tussen die rotse was ‘n ideale rusplek vir middagete, en ons kon na hartelus vanuit die hoogte aanskou hoe die woeste branders op die rotse stukkend slaan, en dan skuimend weer terugtrek. Ons het toe na ete die voetpaadjie verder gevolg en by Stanford Cove, ons kampplek vir die naweek gekom.

Die spinnekoppe was nie gediend met die idee dat hierdie verwaande skepsels dit waag om tente op hulle gebied op te slaan nie, en het saans dreigend op die tentdoeke rondgewandel. Hulle het dit selfs gewaag om manne soos Dawid en Piet aan te pak, sodat hulle nog lank daarna met die knoppe moes rondloop.

Sondagoggend het Philip vergeet dat hy oggend en nie middagkok is nie. Toe kook hy vir ons sop in plaas van pap. Maar dit het heerlik gesmaak as ‘n mens jou oë vir die gaar paddavissies toegemaak het.

Dit was ‘n baie mooi kampplek somar so by die see en amper tussen die rotse. Ons het in twee groepe na die Kelders gegaan om te swem en die eienaardige rotsformasies te bewonder. En ons, wat dit vir die eerste maal gesien het, was ook nie teleurgesteld met die Kelders waarvan ons al so baie gehoor het nie. Dit was heerlik om saans kampvuur te hou somar daar vlak by die see, sodat jy al die tyd die branders se gedreun hoor en die wit skuim in die donker kan sien. En die see-bamboesse het ook hulle deel gedoen deur gesellig in die kampvuur te kraak.

Maandag het ons die tog hervat en na +2 myl se stap, by Gansbaai gekom waar ons beroering gebring het in die klein dorpie met sy kliphuisies en vissersvolkie. Ons het die poskantoor en die kafee woes stormgeloop, en laasgenoemde byna leeggekoop. Op die stap het ‘n paar ooms uit hul lomerigheid ontwaak en ons verbaas aangestaar. Die dominee het gelyk asof hy bly was om nuwe gesigte te sien. Danger-Point Lighuis was die end van die oggendskof. ‘n Ideale matroos het ons rondgeneem, en ingelig in die geheim van ‘n lighuis se binnewerke. Die Danger-Point stempels op klere, hoede en nekdoekies, sal ons nog lank herinner aan hierdie interessante besoek.

Die middag het ons naby die see langs gestap tot by Uilkraalriviermond waar ons ‘n trop skape hulle weiveld vir ‘n kampplek ontneem het. Tot Johan Koorts se leed, waar die seevoëls se vreugde was daar weer visse om te krap voor ons kon eet. Die kokke het so woes gewerskaf dat ons eerste speletjies moes speel om ‘n voldoende aptyd op te doen vir die maal wat sou volg.

Dinsdag het ons koppe net Elim toe gestaan. Ons sou vir die twee-en-twintig myl endpad wys dat ons ware toeriste is. Dit was ‘n pragtige end pad oor groen heuwels, deur landerye en velde met wilde blomme. Dit was ‘n lang skof en by die middag-rusplek anderkant Baardskeerdersbos het dit geblyk dat oom Koerasie nie ‘n werklose op toer sou bly nie, soos ons al Beyin vrees het. Voor ons dit besef het was die middag se end afgestap en het ons by Elim uitgekom, met sy Hotnotshuisies almal dig opmekaargepak. Die park waarin ons gekamp het, was waarlik ‘n Elim, met sy stroompies water, hoë bome en groen klim-op. Nadat ons die Duitse worsies soos hongerige wolwe verslind het, het ons kampvuur gehou – so tussen die hoë dennebome, en deur die takke die helder lug bo – waaruit daar egter nou en dan so ‘n paar fyn druppeltjies geval het. Die Duitsers was die aand ons gaste by die kampvuur en toe hulle die Duitse liedjies so vrolik saamsing het ons gewonder of dit hulle nie baie ver laat dink nie, en het ons hulle opoffering bewonder. Daardie aand het Witlies haar verskyning in ons midde gemaak en die eiendom van die BTK gebly tot die end van die toer.

Woensdagoggend het die Duitsers ons op hulle stasie rondgewys onder andere deur die worsfabriek. Daarna is ons weer met die groot pad deur velde vol sewejaartjies, kus toe. Die Fry’s het ons ‘n kampplek aangewys, selfs nadat Bey so ‘n fout Beyaan het om die ou bantoe met een been te vra waar die ander een dan is. Dit was ‘n heerlike kampplek, en die feit dat die kruitwater ‘n walm gehad het, het gladnie afbreuk aan die plek gedoen nie.

Donderdag het ons daar oorgebly en heerlik uitgerus. Ratelrivier sal vir ons altyd met veel pret assosieer wees.

Woensdagaand het dié wat vir die eerste maal toer vir items gesorg. Die kampvuur binne ‘n kampvuur was ‘n groot sukses, en die groot hane het ‘n kans gehad “to see yourselves as others see you.”

Donderdagmiddag het ons die heerlikste koffie nog die toer gehad, en toe dit eers in was het ons die geheim gehoor – naamlik dat Bey se kam saam met die melk ingeroer was.

Donderdagaand was die aand van die opera waarin Steve (Philip) en Rigoletto (Frans) albei Isolde (Ida) om die hand gevra het en waarin Heine by sy beminde se tentjie van die waliefie gesing het, en verklaar het dat hy sou vrek as sy hom nie hoor nie. Die end, soos operas betaam, was dat die hooffigure aldrie lyke was. Dit was ook dié aand wat Johan Koorts ‘n nuwerigheid op toer ingevoer het, naamlik ‘n Engelse slee.

Vrydag het ons weer al langs die sand gestap en die wind het met ons gewedywer om te sien wie die meeste energie het – hy of ons. Dit was ook net koud toe ons by Brandfontein kom. Ons het skuiling in die ruim strandhuis gesoek, en die verlate kamers het weergalm van vrolike toeriste-stemme. Tot die tente-komitee se vreugde was dit te winderig om tente op te slaan en mev Lourens was so vriendelik om op sy eie verantwoording vir ons sommige van die kamers te laat gebruik. Na ‘n heerlike aandete het ons gou ingekruip – opgewonde by die gedagte dat ons môre by Agulhas kom – die ligtoring waarvan die strale al lankal vir ons wink.

Saterdag se stap was wonderlik mooi – die pad het ‘n verskeidenheid gebied van endjies oor die sand, deur plate blomme, oor gladde klippers en deur lae bossies. Onverwags het ons op Agulhas se ligtoring afgekom – die eindpaal van ons toer. Ons het sowat ‘n myl daarvandaan kamp opgeslaan vir die naweek. Mev Viljoen het ons ruim voorrade van vleis en groente gebring en boonop vrugte en lekkers present. Die tente-komitee het al begin lui word, want dié aand moes ons eers penne inslaan om te verhoed dat ons die nag met tent en al wegwaai.

Sondagoggend het ons laat geslaap. Oom Koerasie was verplig om op die tente-komitee se nommer te druk, en hul die tente te laat omdraai want die wind het woes gewaai. Dit was ook net koud, maar die geograwe het ons verseker dis net omdat ons op daardie punt so naby aan die Suidpool is. Ons het ‘n geweldige middagmaal ingepak – van die poeding sal ek liewer niks sê nie, want die brandewyn bottel van oom Koerasie se medisyne-kissie was leeg, en na ons poeding ingehad het, het almal somar gaan lê. Daarna het elkeen sy gang gegaan – geslaap, gelees, briewe geskryf en piesangs gesteel. Ons het later almal ‘n besoek aan die vuurtoring gebring en allerhande interessante informasie omtrent die vlagpale, die hout-vrouefiguur aan die toring self van die opsigter met sy matroos-uitspraak gekry. En almal moes tot op die verste rotse – die meer suidelik punt van Afrika – klouter.

Dit was dié aand te stormagtig om buite kampvuur te hou – toe vergader ons in die twee grootste tente. Nie te lank nie of dit het Beyin reën en sommige was verplig om te gaan slootjies grawe en tente toemaak. Toe hulle die lamp neem laat hulle hul tent in die donker en agterblywendes het gekla dat hulle daarna nie meer die aand geniet het nie, weens die donker – maar dit betwyfel ons sterk. Die ingesetenes van die ander tent het hartlik liedere gesing en veral “Ruwe stormen mogen woeden”, het besonder gepas geklink. Die “cocoa” wat ons die aand in die bed gekry het, het salig gesmaak.

Ons het toe al alles gehad wat op ‘n toer moet kom – wind, voete met blare, sonnige dae – maar nog net nie reën nie. En dit kry ons toe Maandagoggend om die toer mee af te rond. Ons het maar tot kort anderkant Struisbaai onder ons seiltjies gestap, toe ons die lorries gekry het. Deur groen koringlande en beplante heuweltjies het die pad gekronkel. Heelparty van ons het vir die eerste maal vir Bredasdorp, Napier en Caledon gesien. Toe oor Houwhoekpas en Sir Lowry’spas terug na Stellenbosch. En die vrolike gesing van die toerliedjies in die lorries het getuig, dat almal die regte “spirit” gekry het.

Dit was ‘n besondere toer – buitengewoon omdat ons al langs die kus getoer het. En hy sal altyd ‘n besondere plek in ons herinneringe hê met sy blou see en bruin rotse, die heerlike seeruik, die geluid van brekende branders snags; en bowe-al die nuwe vriende wat ons leer ken het.

Hannah Murray
(namens Sketsskryfster)

DIE SEPTEMBER AGULHAS TOER

Daar was toe ‘n toer in Septembermaand weer
‘n Meer “classy” toer kon jou hart nooit begeer
Die klomp was so gaaf hulle wou net baljaar
Ja glo my ou maatjie die spirit was daar.

Ons was daar so rondom die vyftig tesaam
Oom Dirk en ou Bey het glo vooraan gestaan
Oom Coert en tant Elsie twee baie gawe ouens
Ons kamp – en ons kosmoeders Ida en Rose.

Ou Frans sorg vir lampe en Philip vir die pap
Gawe Moolman het soms ook ‘n tentpen gekap
‘n Hele klomp meisies smeer lekker die brood
Jou Koorts doen toe “sweet-all”, Theo Pauw werk hom dood.

Daar was ook ses aandkokke, ai, hul was “great”
Ons monde ‘t gewater van puur lekkergeit.
Jeanette help Frans sopkook en sing Klaradyn
En Piet die laai lorrie tot Sheila verskyn.

Ou Blackie moet blikke allenig blink skuur
Want Dawid se slee wag vir hom by die vuur.
Ou Stil Stras skuur heeldag aan een enkel pan
En klein Jannie Moolman’s so lui soos groot Jan.

‘n Puik komitee het die groente geskil
Magriet moes vir June en die res van hul dril.
Party wat niks werk het, het visse gekrap
En ten spyte van blare ‘t ons salig gestap.

KYK DIS SEPTEMBERMAAND

Kyk, dis September weer,
Lente is in ons land.
Kom ons vier nog ‘n keer
Vakansie aan die strand.

Koor:
Laat alle boeke tuis,
Laat sorge agterbly,
Jeug en lentetyd gaan snel verby,
Ja hulle gaan verby.
(Gaan snel verby.)

Lente is in ons land,
Velde vol blommefleur.
Bloue branders aan die strand,
Windjies met blommegeur.

Koor
Laat alle boeke tuis,
Laat sorge agterbly,
Jeug en lentetyd gaan snel verby,
Ja hulle gaan verby.
(Gaan snel verby.)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui