Paasnaweek – Du Toitskloof

Met oë wat vonkel van verwagting en vrolike harte het +28 BT-Kaners Donderdagmiddag hulle na die stasie begewe met die heerlike vooruitsig om in Du Toitskloof vir die naweek te gaan kamp. Die rooi nekdoekies en rooi kêppies het somar ‘n band van samehorigheid geskep en die nuwelinge laat besef dat hulle toeriste is.

Die trein het ingestoom en uitbundig het almal in die trein gebondel – net een swartskaap het makeer en dit het vir Beyons beroemde Voorsitter groot benoudheid veroorsaak. Een nuweling Popeye Swartkat het te baie te sê gehad en so die trein skoon mis gepraat. Gelukkig was die staatmaker Reep nog daar en aan hom is bevel gegee om die arme sukkelaar die aand met die motor te bring.

Op Hugenoot het ons weer uitgeklouter, ons goed is op die lorrie gelaai en met vrolike gesang het ons aangestap na die plaas van mnr Du Plessis waar ons die nag gekamp het. Die klompie het in die begin maar nog verlore gevoel maar in die vriendelike gesellige lig van die kampvuur het almal begin nader skuiwe na mekaar en mekaar se maat begin neem. Die warm gloed van die kole het ‘n warmte begin wek in die harte van die toeriste. En toe kom die maan agter die berg op, ‘n groot ronde maan met fantastiese wit lig.

Die aand het Einstein, ons ander chaperone, Reep en Frans, Sus en let wel Swartskaap Popeye by ons aangesluit. Die singery het somar toegeneem in volume met die aankoms van die eskadron van ou toeriste. Frans is ‘n haan om te sing!

Mnr Du Plessis en sy huisgesin het ons kampvuur besoek. Hy het meer dan een toeris se hart vir ewig gewen omdat hy hulle moeë liggame die middag verkwik het met ‘n Jan Groentjie. Bey het hom meesterlik van sy taak gekwyt deur aan die klein Du Plessistjies ‘n roerende stukkie kultuur aan te bied. Die voorwerp van sy toespraak ons Klein Pietie Roos. Met Einstein se gebiedende “Meisies gaan slaap” het almal gedwee die kampvuur verlaat want hulle het nog nie geweet wat daar gedoen word nie en hulle slaapplekke gaan opsoek.

Vrydagmôre was ‘n heerlike dag van sonnegoud en hemelblou en almal het lus gehad vir die dag se stap. Eens het ons vir ‘n paar oomblikkies saamgekom om te dink aan wat ons daardie dag herdenk, Goeie Vrydag en Bey het ons in die gees teruggevoer. Die tog oor die berg was heerlik en die blou berge het ons gelok om altyd verder te gaan. Party wat nog nie toeriste was nie het maar swaar gekry oor die berg en het met ‘ne Boegoeplaas aangekom waar ons die middag geëet het. Vandaar is ons verder die kloof in en almal het maar geswoeg onder die rugsakke en komberse en die kos wat na die kampplek moes gedra geword het. Na ‘n lekker kampvuur het almal maar gou gaan slaap want die dag was vermoeiend. Omring deur grootse berge het ons die nag rustig geslaap, aan slaap gesus deur die sagte musiek van die rivier. Die rus van meer dan een is gestoor deur die ontydige verskyning van reën wat hulle holderstebolder, die tente laat instorm het. Die son se strale wat oor die berge gly het nie die toeriste wakker gemaak nie maar wel die gedrup-drup van die reën op die tentseil. Die komberse was hoër opgetrek en die besluit geneem om nog lank in die vere te bly. Toe die nommer van die broodsnyers gedruk is was daar wening en knersing van tande. Die reën het gelukkig pad gegee vir ons vrolike optimisme en sommige glimlaggies sodat ons verder geen moeite gehad het nie.

‘n Klompie van die toeriste het gaan berg klim en Danie het dit baie interessant gevind om met klere en al in die water te val en vir ons ‘n swemeksibisie te gee. Op die top van die berg het ons weer vrolik gesing sodat die eggos weerklink het deur die stil môrelug. Three musketeers, Reep, Einstein en Piet Roos het die berge ingevaar om hulle familie te gaan opsoek en te vergas op ‘n blik groenvyekonfyt. Oor die tere saak sal ons maar ‘n sluier werp.

Saterdagmiddag was daar ‘n uitstappie na ‘n besondere mooi waterval wat ‘n diepe indruk op meer dan een gemaak het. Rykie en Kie het die kamp opgepas en ons Paarlse gaste geselskap gehou.

Sondag was vir almal ‘n wonderlike rusdag en die dag wat ‘n wonderlike dag van sonnegoud en hemelblou was is luilekker deurgebring. Soos nimfe en saters het almal in die heerlike swemgat baljaar en op die rotse in die son sit en braai. Daarna het gevolg die smaaklike dinner van Grietjie en die poeding van Idalette wat na almal se smaak te min was.

Sondagaand was ons laaste maar heerlikste kampvuur. Net gou is die sleetjies in die lang gras gebou en Einstein en juffrou Jooste het ‘n wakende oog gehou dat die “touring morals” nie te “free” raak nie. Die lig van die vlamme gespeel op ‘n kring van jeugdige gesigte wat met droom omwaasde oë in die gloed van die vuur gestaar het. Meer as een het lugkastele gebou wat op die opskietende vlamme hoog in die donker nag gedra is. Lank het die slaapliedjies nog weerklink in die stille lug. Almal was onder die bekoring van die vuur en die vriendskapsbande wat gesluit is en dit was baie swaar om “goeie nag” te sê – ‘n pragtige bewys van die sukses van ons kamp.

Maandag is die terugtog aanvaar – die keer baie makliker want die eetwares was almal reeds deur hongerige toeriste verslind. Party was so energiek om bo van die berg te hardloop tot onder op die plaas. Mevr Du Plessis het ons almal vergas op tee en koek. Vandaar na die stasie en om halfsewe het ‘n klomp sonverbrande maar doodgelukkige toeriste op Stellenbosch stasie afgeklim met die heerlike vooruitsigte van ‘n toer oor veertien dae.

I Odendaal

Gelees met re-unie by mej Jooste.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui