Wat beteken die BTK vir my?

As ek vannaand terugdink aan die kamp, dan vergeet ek al die baie bogpraatjies, al die baie spontane opwellings van gedagtetjies (wat ek soms nogal nie anders as uitgesproke geestig kon bestempel nie), al die heerlike en eerlike pogings om te lag (sommige het geslaag, ander nie), al die baie kleingeweervuur en aanvallery, en al die aanvallighede, die enkele bestrawwing en die ongetelde vermanings aan die nie-kwaad-bedoelende komiteetjieslede – alles vergeet ek, want ek wil vanaand nie meer lag nie, ek kan nie vanaand so lag soos gisteraand nie.

Vir eers al omdat ek nou by ’n tafel sit – en daar lê werk op hierdie tafel.
Ek is alleen, en terug in ’n omgewing waar ’n mens jou bestaan regverdig deur te werk, – en deur te babbel van spraakverwarringe by Babel nie, of van die wonderbaarlike, afgeronde produkte van aspirant BT-Kaners nie, of van die onbeholpenheid van kokke, kokkesse of kokkette nie. Nee, dis alles anders hier.

Ek voel nie ongelukkig nie, nee, ek besef alleen ek mis vanaand die kring of hoek gesigte om die kampvuur met ’n paar tydhoudende knikknieë in die agtergrond; ek mis die lekker vals singery met soms ’n vertraagde basklank so tussen die gewone volstemmige sang in. Ek het my hekelregte prysgegee. Alles wat julle saam met my kan opnoem wat bygedra het om ons almal op hierdie manier geheg te maak aan mekaar – alles het reeds vasgegroei in die deel van ons lewe wat ons oor ’n paar jaar ons verlede sal noem, of ons wil of nie.

En nou sit ek hier. Êrens in my kamer het ek al my toerklere, ensovoorts, weggepak. Ek sal hulle nie baie gou weer sien nie. Maar ek sal tog moet dink aan die nuwe kring waarin ek opgeneem is, waar ek so baie gekry het, so onverwags. Ek het nie geweet wat die BTK vir my kon beteken nie… Maar kan ek dit dan nou weet?

As ek hierdie vraag wil beantwoord, dan voel ek dat ek ’n stuk ontledingswerk sal moet doen. Ek besef dat nog geen wetenskaplike, geen filosoof, geen psigoloog of welke geleerde die vermoë en of eienskap van die mens wat hom mens maak in die hoogste sin van die woord. Die gevoelslewe, die denkvermoë, die gedagtewêreld in sy komplekse geheel, die kennis, die strewe en aspirasies en die liefde van die mens.

Ek erken ronduit dat ek ontspanning gaan soek het op Gordonsbaai. Ek ek het dit gekry. Maar ek het nog baie meer gekry as dit. En hier lê die analitiese moeilikheid.

Ek het nog altyd geweet – soos ’n mens weet dat twee maal twee vier is – dat die mens behoefte het aan gulhartigheid, aan vriendskap, aan vriendelikheid, dat hy elke dag na bewyse van liefde soek. Ek het dit lankal agtergekom – in die eerste plek glo by myself -, en met my kundige wysheid en kennis nog altyd probeer om aan ander te gee soveel as ek kon. Selfs het ek al probeer gee wat ek nie eens gehad het nie.

Hierdie is ’n gebied van die lewe waar van geen vaste sisteem sprake kan wees nie. ’n Mens kan nie vooraf bepaal dat jy vandag vir ou Frans 10% gaan liefhê, en vir die hoeklede 10,5% nie. Vir al die ander lede sal die volgende hoeveelhede genoeg wees: beginnende by 15% van ou Grové af op tot by Curie, teen ’n gemiddelde styging van .75% per persoon.

Nee, dit alles onmoontlik. Julle stem almal saam dat dit tevergeefs is om hier syfers te gebruik. ’n Mens is soos jy is, of jy is soos jy gemaak word. Jy bly jou lewe lank ’n skepsel – in die oorspronklike sin van die woord. En tog bly jy nooit dieselfde nie.
Elke mens moet elke dag altyd anders wees. Jy is dit eenvoudig, en daarmee is dit klaar. Daar val nie oor te twis nie. Die enigste wat stabiel bly, wat ’n onomstootbare vastheid kan hê, is die beginsel wat ten grond lê van die mense se lewe, en wat weer op sy beurt uit die lewe groei en binne perke verander, elke dag ’n baie klein stukkie. Hierdie is ook ál stabiliteit wat ooit nodig kan wees.

Dit spreek vanself dat ’n mens heeldag in aanraking met ander mense is. Dus is jy elke dag anders teenoor jouself en teenoor almal met wie jy in aanraking kom. Of bly ’n mens tog maar soos jy is?
*******
Ek weet dat twee maal twee vier is. Ek het dit al gesê. Maar ek kan hierdie rekenkundige feit nie so besef soos ek nou weer opnuut besef dat geen mens sonder ander mense kan gelukkig wees nie…
Hierbo het ek al geskryf soos ek oor die kamp dink, en ek sal dit nie verder verduidelik, of probeer om dit meer onverstaanbaar te maak nie. Ek kan nie anders dink oor so ’n groep geBTKade BTKaners nie.
Hiermee neem ek dan afskeid van die BTK, en ek verseker julle van jy getroue belangstelling. Verder wil ek swyg…

Heinz Winckler
Sketsskrywer

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui