Ceres – Tulbagh September 1931

Dis nou al ‘n heeltemal gewone iets om aan die begin van elke weekvakansie so ‘n vyftig-, sestigtal BTKaners op Stellenbosch stasie in die trein te sien klim. Maar hierdie keer moes menige buitestaner sekerlik sy kop geskud het vir die klomp, want daardie Donderdag nog, en al dae tevore, het dit gereën en gespat soos dit net in Matieland moontlik is. Nietemin is ons weg, en kom die namiddag op Wellington aan.

Van reën was daar g’n sprake nie. Ons het maar aangestap vir ‘n paar myl tot aan die voet van Bainskloof, waar ons die nag deurgebring het. Soe, maar die eerste nag was koud en die slaap maar hard, want ons moet almal maar eers ‘n bietjie gesout word voordat ons ons kan verbeel dis verebeddens waarop ons slaap.

Hiervandaan is ons oor Bainskloof tot by Breërivier. Die van ons wat nog nie vantevore oor die berg was nie en ook die ander, was dit eens dat hier nou vir jou een van die pronktonele van ons land is. Die groue, gryse rotse daar ver oorkant die kloof, die watervalle daar onder, die groen bosse hier bokant ons was met een word pragtig.

Die aand by Breërivier het ons twee man sterker geword. Jurgens van Rensburg, dieselfde wat as klein “seuntjie” op die Knysna-toer roem verwerf het, en Hans Scheffler het by ons geledere aangesluit.

Die volgende dag het ons oor Mitchell’s Pass gegaan. Wat van Bainskloof waar is, geld hier eers reg, ja dubbel en driedubbel. Laat die namiddag kom ons toe op Ceres aan en slaan ons tente in ‘n mooi groot denneboompark op.

Die aand het die vonke gespat, letterlik en figuurlik. Dr Curt Grobbelaar wat met ‘n hoë mate van taal- en kultuur-ywer besiel was – ‘n bietjie misplaas soos ons gemeen het – het duidelik en onoorwonde sy opinie omtrent sommige van ons minder ernstige liedjies te kenne gegee. Ongelukkig het sy vuur hom maar weinig gebaat, want dr Jurgens wat as kampvegter vir die ander sy opgetreë het, het die volle steun van ons almal gehad. Nietemin het ons die volgende (Sondag) aand mooi na dr Curt geluister toe die burgemeester van Ceres ons kom besoek het, en vir hom gesing “In Stellenbosch bloei weer die bome”, maar daarna “For he’s a jolly good fellow.”

Maandag is ons oor Gydopas nadat ons almal op Prince Hamlet by ‘n vriendelike dame ‘n lekker koppie tee gekry het. “Want sy’s ‘n lekker dame”, was al wat ons haar kon teruggee. Soe, maar die son was warm die namiddag, veral vir die klompie wat by die lorrie moes bly om ons bagasie plus ‘n halfdosyn kreupeles te help oor die pas. Die aand het ons uitgekamp op die plaas. Hier het ons ook ‘n taamlike konsertjie kon lewer, party items waarvan ons besonder geniet het. Dis ook hier dat ons vir die eerste keer offisiëel van die “Bachelor’s Club” gehoor het. Tussen hakies, dit was uiters nodig dat hulle vir ons moes sê dat hulle “bachelors” was, anders sou jy dit nooit gedink het nie.

Die volgende dag oor Witsenberg na Tulbagh toe, waar ons voor dr Greyling se pastorie uitgekamp het. Van nou af het ons elke aand konsert gehad. Hierdie aand onder andere die hewige verhaal van die sieke Vader Abraham en sy jobstroosters afgespeel. Seuntjie het ons ‘n inspirerende toespraak gegee en ons aangeraai om tog altyd jonk en toerlustig te bly.

Die nag het dit effentjies beginne reën, en die hele Woensdag was maar nie al te droog nie. Nietemin was ons die dag besonder bedrywig. ‘n Korfbalspan is opgetrek om teen die Tulbaghse span te speel, terwyl die mans ‘n voetbalspan bymekaargeskraap het en vir die Tulbaghers kaf geloop het. Hier mag ons nie vergeet om melding te maak van Gussy se rol as sangdirigent, wat hy skitterend gedoen het; want ons het gemaak of dit ‘n regte “Intervarsity” is, en net in plaas van “They” het ons “Tulbagh” gesing.

Woensdagaand toe reën dit darem somar paddas en knopkieries. Dr Greyling was so vriendelik om ons ‘n ou saal te gee vir ons konsert en vir die dames om in te slaap, terwyl ons plek in leë kamers van die pastorie gekry het.

Die volgende oggend was die weer oor en die namiddag is ons vort na die Winterhoekberge. Op ‘n plaas aan hulle voet het ons kampplek gekry. Dié aand was daar net soos ‘n jaar tevore ‘n georganiseerde koorwedstryd. Vooraan was die Afrikaanse koor, gelei deur Villebors, deur die Duitse koor, – ag nee, ons mag mos nie praat van Afrikaanse, of Duitse, of Engelse of Portugese kore nie, dr Curt sê dis kore, verder hoef ons nie onderskeid te maak nie – nou ja, dan, tweede was die “Einstein”-koor en derde Gussy se koor. Eervolle melding word gemaak van dr Valkhoff se Hollandse koor en dan nog van die Hoipoloi.

Vrydag was die hele klomp met uitsondering van ‘n paar enkeles bo by Sneeugat. Hier het ‘n deel die dag deurgebring, terwyl ‘n ander deel Groot Winterhoek bestyg het wat sy top goeie seweduisend voet bokant seevlak uitsteek. Bo-op die berg was ‘n klomp geskrifte van vroeëre klimmers. Ons het ons name ook by die lys gevoeg, en Abraham het so ‘n kort beskrywingswoordjie daarby geheg.

Hier en daar het nog kolle sneeu gelê, en vir ‘n rukkie lank het ons ‘n soort van geveg ook gehad. Andere weer het geweet om op hulle hurke te gaan sit op die afdraende en oor die sneeu te seil.

Streepsgewyse is ons die namiddag die berg af, en toe die meeste terug is by Sneeugat, gaan ons weer terug kamp toe. Maar dit was laat voordat die laaste paar stappers die kamp bereik het.

Saterdag en Sondag was maar bietjie oninteressant vir dié wat heeldag in die kamp gebly het. Daar was nie eintlik baie anders te doen nie.

Maandag is ons Tulbagh Road toe. By Tulbagh het ons eers weer vir dr Greyling gaan dag sê, en toe ‘n besoek aan die ou kerksmuseum gebring. Hier kon ‘n mens die hele dag deurbring, maar ons moes verder. Die namiddag klim ons toe weer op die trein en die aand kom ons op Stellenbosch aan.

T Scheffler
(vir Sketsskryfster)

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui