Franschhoek – Elgin – Gordonsbaai April 1931

Donderdagmiddag, 2 April 1931 verlaat ‘n groep van drie-en-vyftig stappers die populêre plek van aankoms en vertrek – die Uitspan.

‘n Veronderstelde eenheid maar in werklikheid groepies van vreemdelinge bestyg Helshoogte. Die Hoogte, getrou aan sy naam, het dan ook ‘n paar toeriste goed laat besef dat die middagson hier bietjie sterker brand as in die laer dele van die vallei.

Heerlik en verkwikkend was die water, verversings en rus by die huis op die Hoogte dan ook.

Die Hoogte af, tussen koel bome deur en in die skadu van die pragtige Simonsberg, (die beste kant van Simonsberg word nie aan Stellenbosch vertoon nie) was die stap weer aangenaam en die omgewing inspirerend.

Ten slotte het dit tog geblyk dat die Bergrivier brug vergenoeg van Stellenbosch is om ‘n mens moeg te maak en aan etlikes seer voete te versorg. Vir die eerste halfdag was die skof bepaald te lank.

Kamp was daar die aand nie. Tussen bome, bosse, klippe sand en heerlike waterstroompies het ons geslaap. ‘n Fris waterstroompie het die skape van die bokke geskei. Die mans was natuurlik die skape. Ons was nog vreemdelinge net, “Die medikus was populêr, want voetjies was verniel. Sy kombinasie van jodium met rou wonde het musikale klanke na die tente toe laat styg, totdat teerhartige ou maan, wat smart nie kan aanskou nie, sy aangesig met hande moes verberg.” Voorwaar ‘n teerhartige uitleg van die maansverduistering wat die aand plaasgevind het.

Die nagrus was aangenaam.

Goeie Vrydag – die trek van die dag was ongeveer twee myl. Ons wa het dit egter goed gevind om die trek wel die moeite werd te maak. Hy het omgeslaan.

Die Vrydag is egter goed deurgebring met rondlê, swem en eet, om nie die ander lekkergoed te noem nie. Maties is mos altyd tuis onder akkerbome!

Die dag het daar egter ook ‘n wanklankie plaasgevind. Twee paartjies het met verlof van bevoegde outoritente gaan appels soek op ‘n naburige plaas. By die appels het hulle ‘n bloutjie geloop. In hoever hulle bymekaar bloutjies geloop het sal die geskiedenis nog moet leer. Die wanklank is egter nie die “vanishing stunt” wat uitgehaal is nie, maar die vervelige gepruttel van sommige medetoeriste.

Die aand was dan ook die eerste kampvuur in die werklike sin van die woord. Om die vuur het nou die een groot familie saamgesmelt in die sing van liedjies – toerliedjies. Voordragte is ook gelewer, en een moet hier genoem word naamlik die optree van ons chaperone – mevr Donald. Sy is een van ons. Ons besef dit en ons waardeer dit baie.

Saterdagmôre …. Franschhoek toe. Daar was weer ‘n kafee, winkels, hotelle om die toeriste in gees te laat lewe in die Uitspan, Costas, ensovoorts.

Die wêreld was vol sonneglorie, vol helderheid en warmte, by Franschhoek en sy Pas. Heerlik vir sy weelderigheid het die vallei gelê. Daar was berge, heuwels, bosse, aanmekaar; en tussen groen, loerende wit huisies. Dit was blou van berge, hemelsblou, en groen fluweel van dennebome; met sagte golwing van die heuwels, die naakte skerpheid van die kranse wat in die hemel skeur, en sagte ritme van die verre berge.

Meer droog en eensaam onderkant, daar het die toeriste in klompies afgedrentel, verspreid, teen orders – blinde volgelinge van ‘n blinde leier. Twee het onsterflike roem verwerf op hierdie plek. Hul het met onbekende vaart na ondertoe gestorm, die kranse ingevlieg om familie te gaan soek – verlange na hul eie soort was groter as vermoeiens. (Dit is instryd met Darwinisme!).

“Die ander was minder gesteld op hul “pedigree” en het gerus; terwyl ‘n klein en stoere bende helde met lofwaardige opoffering en leeuemoed die goed, die diere en die wag anderkant berguit gesleep het.”

Die “stoere bende helde” moet Piet van Dyk sy leierskap tog vergewe. Hy was natuurlik verdiep in die studie van een of ander nôi se gevoelslewe met die gevolg dat afdraend vir hom nie juis die teenoorgestelde van ‘n opdraend was nie. Miskien het hy al die tyd ‘n opdraend uitgespreek.

Die “afgedrenteldes”, hoewel gerus, het ongeduldig gewag. Dit het al drie uur geword, en die kos is op die wa. Hul held is egter Abraham Louw, wat toe die nood al hoog was, uit blote ontfermende liefde daar aangekom het met ‘n rugsak vol brood, botter en konfyt.

Die kamp is nog verder, langs die Sonderendrivier geslaan, in ‘n gewese land. Die tentpenne het lekker getrek in die sagte grond. Weer ‘n kampvuur. Die vuur alleen was nie genoeg nie om die mense te verwarm nie. Komberse moes help. Orme en Laubreker het dit self nodig gevind om binne in die kombers te sit. Daar ontdek Mariekie dat dit eintlik ‘n “slee” is wat hulle ry.

Die aand was heerlik en so het Vy en andere verkies om onder die ope hemel te slaap. Die sand het die nag begin waai, met die gevolg dat net Uys se wit neus te sien was van sy met swart sand bedekte gesig. Dr Blommaert, wat die naweek vir ons kom besoek het, het onwillekeurig ‘n pond sand geëet vir ‘n ontbyt. Simpatie Dokter! Kom maar anderdag weer!

Sondagmôre was reënerig en koel. Die middag het egter sommige entoesiaste gelok na die bekoorlike berge waartussen ons kamp gelê het. Ander entoesiaste soos Piet van Dyk, Markotter, die “populêr noi”, haar suster en andere het ‘n huisie daar ontdek. Siende dat op die deur gestaan het “Just Married, don’t disturb” het hulle maar op die dak en teen die agterste muur die middag soveel moontlik geniet.

Die aand om die kampvuur is Sjokolade uitgedeel – net een van die twee kassies. Van die ander kassie het ons nooit weer gehoor nie. Wie kan vir ons sê, watter toeris se bord en lepel saam met die sjokolade kas geberg is. Het die volgende ingelewerde stukkie nie miskien betrekking op die saak nie? – “First Tour.”

ON HIS EXPERIENCE

(DURING A TOUR)

(WITH APOLOGIES TO MILTON)

When I consider how my tour was spent,
And how much cash the many chocolates cost,
Or how much weight in those few days I lost
Sweating and swearing at each bloomin’ tent,
Though therewith did I serve the numbers great,
And saw the satisfaction chocolates gave,
T’ was for too late when I endeavoured to save
My home-fattened purse from also losing weight;
Doth she exact might-labour knowledge denied?
I fondly asked. But, Patience to prevent
That murmer, soon replies: Give her a sweet,
And wash her plates, and little will she chide;
Thousands at her bidding their energies spent:
They also serve who only let her eat!

– A de V Clower –

Om tot die sjokolade van die aand terug te kom. Kloppie het die Sjokolade uitgedeel. Deur middel van die slinkse Teoloog Holtzhausen, het ons Kloppie se “draad gevang”. Die teoloog het hom voorgedoen as ‘n dame en toe kry hy somaar ‘n dubbele bedeling. Moet ons mans daarvan aflei dat al die meisies meer as die mans gekry het?

Kloppie is egter nie die enigste man wat so ‘n onvergeetlike fout begaan het nie. Op dieselfde manier het die Teoloog ook geslaag om Dinsdagmôre ‘n soen van mev Lillie van Fortuin te kry.

Maandagmôre was die tente nat, en halfpad toegegooi of toegewaai van die klewerige swart sand. Hulle moes egter teen wil en dank in klein sakkies kom. Alleen ‘n bekwame en ywerige tentkomitee kon so iets reg kry.

Die pad was die oggend nie al te aangenaam nie. Daar was egter druiwe “te neem” langs die pad. Die hele pad was oorsprei met toeriste. Die voorste was twaalfuur al op Fortuin en ander onder andere Cherry Berry het eers drieuur daar gekom. Baie jammer dat hulle toe te laat was vir die broodsny. Hulle het “eerlik” verdwaal, maar die indruk wat dit verwek het was die volgende:

THE VANISHING STUDENT

Said the Cherry to the Berry
What shall we do today?
They’ve got us up to cut the bread
I hate that, anyway.

say, I’ll tell you what we’ll do
There’s risk, but I’m no Junk.
They don’t take roll-call over here
In that case, well, let’s bunk.

– Einstein Scheffler –

Ons het ‘n fortuin “gestruck” op Fortuin: Baie lekker mense, ‘n groot appelboord vol appels, en ‘n wingerd met die heerlikste druiwe, ‘n mooi ruim skoolsaal, ‘n verkwikkende stortbad, strykysters, ensovoorts, ensovoorts. Nog meer, Lottie moet ook glo die dag inspirasie ontvang het, want ten spyte van alles wat al by eettyd deur ons nek was, het haar kos baie heerlike gesmaak.

Die skoolsaal was konsertsaal, hofsaal en slaap lokaal. Die hofsitting was Ferry s’n. Wat was hy nie groots toe hy vir Robert William Wilcocks ook in die “box” kon laat verskyn nie. Dit strek ons toer egter nie tot eer dat dr Wilcocks en mev Donald altwee as beskuldigdes moes verskyn nie. Vir hulle straf moes hulle egter, hoor dat die toeriste vir hulle uit volle bors toegesing het, “Hulle is lekker mense”. Ek wonder egter wat Ferry se prys is. Dat hy, as regverdige persoon, die mees “roekelooste en luiste” toeris-luise nie voor die hof gehad het nie, is baie onverstaanbaar.

“Dit was Dinsdag en dit was middag toe die reën begin het, voor die tente op was op Grabouw. Dit was middag en die mense was opeengedring in ‘n tent of twee; die lug was grou en droewig en somber, die wêreld was nat, die nattigheid het stadigaan binnetoe gesluip, en sommige gemoedere was bedruk en donker soos die natuur; die ander het gesing en aangehou met sing, en steeds gesing, oor en weer oor, aanhoudend soos die reent wat saamgesing het buite, dwarsdeur die donker middag tot die donker van die nag kom nader het, gelei met sterker reent. Edele siele het deur reent en koue heen, warm ete rondgedra. Toe nag daar was het ‘n skool kom redding bied; die vestigings is verlaat, die karavaan het opgetrek, dwarsdeur die papnat donker, en sagte plankvloer beddens gaan beklim.” Ons dank mnr Zietsman hiervoor!

By die edele siele wat hier warm ete rondgedra het moet ons egter nie die nog edeler siele vergeet wat in die reent moes vuurmaak en koskook nie. Daar was ‘n vroulike toeris ook by. Ons waardeer jou opoffering Mariekie! Die kos was lekker!

‘n Saal of vertrek is vir ‘n opgewekte klomp toeriste ‘n plek om ‘n “konsert” in te hou. Dit is gedoen.

Daar die skrywer hiervan die aand met nog twee natgereënde maats vir ‘n “motorspin” van sowat twintig myl uit was, waarvan hulle die laaste hier in ‘n met waterpespoelde pad en ‘n reën uit die lug moes loop, weet hy nie hoe interessant die konsert was nie. Die “spin” was egter uiters interessant en ondervindingryk. Dit was ‘n spin van ons lewe!

Woensdag – ‘n met bome omgroeide pad, uitgestrekte watermassa van Steenbrasdam en eindelik Gordonsbaai. Groot is ons optimisme vir ‘n heerlike Donderdag in Gordonsbaai.

So teen elfuur Donderdagmôre is die grootste hoeveelheid toeriste na ‘n kafee gespoel – ‘n hewige reent. Terwyl ons sing, skree, praat en raas daarby, het die kafee houer koffie en tee gemaak. Na ons dors al weg was het hy die eerste vrag gebring, en toe die eerste seksie al weer dors was het hy die tweede lot gebring.

Die middag het ons in ‘n huis getrek. Natuurlik die aand was daar weer ‘n konsert. Dit was ‘n naarheid soos hulle die aand vir Klopper en Erika Perold “uitgefreek” het. Cherry en Berry het gesing “Wanneer vry jy dan Kloppie?” Tot almal se blydskap en vreugde het Gussie Cluver en Schonegevel ‘n ontmoeting gehad in 1960 en daar lees hulle in ‘n dagblad dat Klopper en juffrou Erika verloof is. Die verloofskap na 30 jaar was egter ‘n teleurstelling, almal het hulle klaargemaak om dit op sy laaste oor drie jaar te vier.

Almal het hulle ontmoeting baie interessant gevi-vi-vi-vind!

Conrad Murray is ‘n stil kêrel. Een van die dames het die twintig woorde wat hy op die toer gepraat het baie interessant gevind. Miskien het Fanny meer as twintig gehoor! Soos dit pas by hom het Murray die aand ook stil in ‘n hoek gaan sit. Ek is egter seker sy rus is verstom, daar Fanny en Luise alkante van hom gesit het. Geluk het uit sy oë gestraal. Met eens vlië Murray daar uit die hoek uit en “spin” ons daar net gou ‘n “yarn” om gou weer na sy “easy corner” terug te keer.

Vrydagmôre wou en het dr Wilcocks ‘n krokodil in die see gaan vang – net ‘n kleintjie. Ou Nevermind het die uitnodiging van dr Wilcocks om mee te gaan, stilswyend met ‘n blik van “Ek is nie so ‘n blessed fool” beantwoord, en sy ore toegetrek.

Na ete het dr Wilcocks oral uit basuin “Wie volg my na Koeëlbaai!” Hy het eindelik geslaag om sowat elf volgelinge te kry. By Gordonsbaai was self soveel rondloop plek dat die ander nie juis tussen klippe wou gaan loop nie. Die klippe maak net ‘n mens se voete nog seerder.

Saterdagmôre het ons ons laaste toerpap – en sommige meen om September eers weer pap te eet – geëet. Hoe lekker het die ou pappies tog nie gesmaak nie. Sophy alleen sal vir ons kan sê:

SOPHY

Die “jam”-blik smaak so lekker,
Die stroop die is O.K.
Maar die melkblik “beat” hul almal,
O gee hom tog vir my.

Ek hou van “Golden Syrup”,
‘K aanbid die jam, ja ek;
Die melk laat staan dit kan ek nie,
O gee my iets te lek

– Einstein Scheffler –

Om te wys dat hulle nog vertroue in hulle uiterlike voorkomste het, is die gewone loop van sake Saterdagmiddag afgewissel met kiekies van die verskillende komitees, koshuisverteenwoordigers,
seksies en die enigste sekte van die toer – die twaalf predikant kinders – geneem.

Vir die eerstemaal het ons met die kiekies neem agtergekom dat ons ‘n waterkomitee ook gehad het. Die komitee kon egter nie voltallig afgeneem word nie, daar die enigste aktiewe lid Ou September, die wadrywer, al weg was.

Ongelukkig het ons twee lorries Saterdagmiddag lank na mekaar eers gekom, en so het ons in twee definitiewe groepe in Stellenbosch gekom.

“Die dinge het verbygegaan; hul is nou ewig stilte; hul is nou net gedagtes wat stadig dof sal word, sal wegraak …. Die dinge, die gedagtes, die bande wat ‘n groepie siele saambind, die moet weer swak word. Elkeen vat nou sy eie paadjie, slaan weer sy eie koers in. Vriende nog, maar die atmosfeer van maatskap en van eerlikheid, die heerlike natuurlikheid, die moet verdwyn.

Terug in die beskawing met al sy sotternye, sy skynvertoon, die sieklikheid; terug in die werk …. die werklikheid verlore.

Klink die laaste sin nie bietjie na die pessimistiese uiting van ‘n getroue sleevryer nie, wat bevrees is vir verkoeling van gevoelens nie?

Ten slotte nog ‘n woordjie oor die nadraaitjies van die toer. Tot ons spyt hoor ons dat ‘n paar van ons geselskap teleurgesteld is met die toer. Ons hoop egter dat hulle almal in die soek na die fout by hulle self sal begin.

Wat ek eintlik wou sê, is dat hier een van die publieke vergadering ‘n stem opgegaan het teen die moderne manier van vakansie hou – toere en kampe. Die vrye omgang en die gees van maatskap van die twee geslagte, sal dan nie bevorderlik wees vir die studerende jeug nie! Mag ek as ‘n ou toeris, aan ds Tobie Kotzé die versekering gee, dat as hy ‘n slag met die BTK saamtoer, hy ons gladnie sal steur nie, en ons sal sy rus en vrede ook nie belemmer nie, mits dat hy ook met die doel gaan om vakansie te hou, en nie net om fout te vind en te kritiseer nie? Ons ken die gevare en swakhede en daarom waak ons daarteen!

Aan alle kritici wil ons met nadruk sê, dat ons ons plig sal versuim as ons die BTK nie in lewe hou en gereeld ondersteun nie. Die organisasie vul ‘n groot leemte op in die studentelewe. Dis die middel tot ‘n goeie en gesonde manier van vakansie hou!

Re-Unie.
24 April 1931

D J Conradie
(oom Dirk)

AVONTUURSOEKERS: FRANSCHHOEK – ELGIN – GORDONSBAAI – TOER

Die goue kleur waarin die ondergaande son die miswolkies op Tafelberg gehul het is lang reeds verbleek. Hier aan die duskant van Valsbaai is die skemer al vinnig op pad na duisternis. Die bergpunt wat in die see uitskiet vorm maar ‘n vae silhoeët teen die naamlose hemel. Vir die oog het die dennebome en die berg reeds saamgesmelt, terwyl die bergpad waarlangs die seervoet toeriste vanmiddag afgesukkel het vir hulle uit die oog en uit die gedagte verdwyn het.

Tog maak vier van hulle nogeens kennis met die pad. Met slegs twee flitse as soekligte vorder hulle betreklik vinnig oor die lastige los klippe heen. Min woorde word gewissel. Van die gewone toerliedjies is nie meer sprake nie. Dit lyk bepaald asof hulle nie tevrede is met die onbewolkte uitspansel van vanaand nie, en op pad is om weer die waterstrome van Grabouw te gaan opsoek.

Maar hulle handelswyse verraai ander gedagtes, as die van die vorige aand se sondvloed. As hulle by die draai kom waar die steil pad begin, staan hulle stil: “Een, twee, drie … Mister Dona-a-a-ald!!”

Net enige sekondes neem dit; dan is die dreuning van die branders teen die rotse honderde voet benede hulle weer die enigste wat hulle hoor.

Onvermoeid beklim hulle nou die steilte, en staan alleen elke paar honderd voet stil om deur middel van hulle viervoudige stem al hulle kragte in te span ten einde die naam van die verlore man tot sy verlore ore te laat deurdring. Owerigens is die enigste woorde wat hulle wissel waarskuwings aan mekaar teen nagadders of teen die afgrond aan hulle regterkant.

By die voet van die kliptrappies voel hulle asof hulle beter werk verrig. Die talrike rotsblokke en kranse waardeur hulle nou omring is, gooi die klanke oor-en-weer, en dit neem ‘n langer tydjie voordat hulle stem wegsmelt met die nou minder hoorbare geraas van die branders: “Mister Dona-a-ald …. Dona-a-ald …. na-a-ald.” Na die laaste eggo het hulle nog raad: lang snerpende fluite dring die nag in.

Net soos hulle by die bo-ent van die kliptrappies aanstoot na die sementwaterhuis, verneem hulle oorspanne ore ‘n geluid van regsvoor.

“Wat is dit?” kom dit, sonder veel intonasie in die uitasem stem.
“‘n Jakkals.”
“Skreeu ‘n jakkals so?”
“Ja.”
“Ek het dit nooit geweet nie.”
“Dan weet jy dit nou.”

En aangesien ‘n jakkals so skreeu volg hulle vinnig op mekaar se hakke in die rigting van die plek waar, volgens herinnering van vanmiddag, ‘n huisie moet staan. Na ‘n paar minute se heen-en-weer loop ontdek hulle ‘n lig byna reg bokant hulle, omtrent veertig voet hoër. As antwoord op hulle geskree verhelder die lig, en weldra kom ‘n persoon met ‘n lantern op die rotsblok te voorskyn.

Die nagtelike besoekers klim gou op tot voor die deur van ‘n stewige kliphuisie, en word deur die twee kleurling-gashere na binne genooi. Ja, hulle mag maar die telefoon gebruik en op die “setee” sit solank as hulle wag op ‘n antwoord wat tog nie sou kom nie. Die gesprek tussen ons sestal vorder fluks, maar die mees gewenste stem, die lui van die telefoonklokkie, word nie gehoor nie. Onder die omstandighede glip ‘n uurtjie gou verby. Die deur gaan oop en die gashere wys aan hulle vertrekkende besoekers die regte pad af.

As hulle met die opkom haastig was, weet ons nie wat om hulle nou te noem nie. Miskien gee dit die getrouste beskrywing van hulle vaart as ons daaraan herinner dat hulle voor die bystaan nader uit die kamp weg is, en ná hulle gashere se aandete bo aangeland het. Ten spyte hiervan kom hulle darem nog in die gedagte dat die telefoongesprekke geen lig op hulle doel gewerp het nie. Met tussenposes weergalm die kranse met hulle dissonante “vier-enige” stem, wat opgevolg word deur ‘n ewe vrugtelose fluit.

Die see word nou weer duidelik hoorbaar. Die steilte is agter die rug en baie min tyd word op die pad wat dwars teen die berg loop verspil. Toe ons vriende by die eerste huise van Gordonsbaai verby is, en die gelyker voetpad linksweg inslaan, is die een so haastig om die ander te wen, dat hulle almal saam net betyds weinige voete van ‘n hakkiesdraad vassteek.

Binne nog enkele minute kom hulle by die kampvuur aan, ten volle bewus van hulle pas verworwe roemrykheid deur middel van hulle onbevreesde optrede op die nagtelike soektog. Maar hulle roem is kort van duur. Die lighartige verwelkomingstemming wat hulle by die sleeryers aantref, maak nie alleen hulle rapport oorbodig nie, maar is genoeg om hulle te laat besef dat hulle aan ‘n klugspel deelgeneem het met ongekende erns, en dat die avontuursoekers vir vanaand altans onherroeplik “uitgeboul” is by die sleë.

Abraham Louw

TOER ….. EN GENIET DIE BERGE

Ja, almal stem saam; die toer was heerlik, nooit sal ons dit vergeet nie. Die salige herinnerings word selfs verhelder deur die reën en wind by Grabouw.

Soveel faktore het bygedra om die vakansie aangenaam te maak, maar meer as een dink in stille verrukking terug aan al die skoonheid wat die natuur ons gebied het. Die gemoed, ontlas van die eentonige alledaagse werk, het net die heerlike plig om te geniet van alles …. en in besonder van die berge.

Wie kan ooit die berge vergeet? Vandat ons by Helshoogte begin het, totdat ons weer terug was op Stellenbosch het ons gedurig berge om ons heen gehad.

Met hul buie en nukke maak hulle hulself een met die veranderlike mens, maar tog bly hulle in hulle ewige standvastigheid en majesteit vir ons ‘n wonderlike voorbeeld. Altyd is die berge ‘n ondeurgsondelike, bekoorlike geheim ….

Smôrens is hul fris en blou en so aanloklik vir die natuurkind. Statig pryk hul teen die hemel. Dikwels is die koppe gehul in ‘n wolkesluier, terwyl klein verdwaalde wolkies lig-trippelende teen die kruin heen wals – altyd onbekommerd verder en verder.

Eindelik slaag die son om met sy gesellig-warme strale die wolkies weg te lok na ‘n geheimsinnige verborge ryk daar bo in die lug. Nou kan ons die baie kleure van die hange en kranse onderskei. Hier is die grond en klippe rooibruin, daar blou en grys met tussenin, terwyl oral kolle heldergroen gras groei. Op ‘n distansie smelt die skakerings ineen en die effek is onbeskryflik.

Hier en daar tussen die massiewe rotse en kranse loer ‘n geheimsinnige bosbegroeide klofie. Vir wie pryk die blommetjies en varings daar so aanloklik? Vir wie sing die stroompie daarbo? En kyk net die kranse! Hul spreek in die skeppingstaal om ons te vertel van hul wording, van al die geheime van die skepping -maar rus is te onkundig om te verstaan.

Maar dis saans, wanneer die son vir oulaas die hange streel, dat die skoonheid en daardie geheimsinnigheid van die berge ‘n mens so aangryp. Die laaste skynsel van die son op die wonderlike kleure bring ‘n mens in ‘n beswymende geesvervoering, jy ondervind ‘n onbeskryflike skoonheidsaandoening en inspirasie, jy voel jy moet uiting gee – maar dit kan alleen die digter.

‘n Mens word nou gewaar van ‘n band van eenheid met die berge, swygend spreek hul saklamerend tot jou siel. Bedags as hul pryk in die sonlig voel ‘n mens nietig by hul indrukwekkende majesteit, maar nou is dit anders. Gewaarwordinge en begeertes, wat die verstand nie eers kan ontleed of peil nie, vertolk die stille ou berge vir ons, hul spreek sag en stil soos g’n vriend dit kan nie. Hul skep ‘n onbegryplike kalmte en berusting, waarin die gees kan groei en geniet.

En dit is nie vergeefs dat hulle spreek nie. Noudat ons terug is in ons werk word ons soms bewus van nuwe gewaarwordinge. Die ekstase waarmee die skoonheid van die berge ons vroeër aangegryp het, het plaasgemaak vir ‘n ryper dieper perspektief; temidde van die koorsagtige gewoel van die lewe blik die geestesoog terug, ons lewe weer in daardie oomblikke van noue omgang met skoonheid, dit maak die gees groter, ons ondervind ‘n sublieme gevoel van gewese plesier en dit alles te saam gee ons so ‘n kykie in wat die lewe vir elkeen kan beteken.

Rita Steyn

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui