Knysna Toer

Kan dit regtig waar wees dat ons weer Knysna toe gaan – Knysna waarheen die BTK sy eerste toer georganiseer het? Dit is tog so en hoe anders is die vertrek van Stellenbosch-stasie as die eerste keer. Toe was die BTK nog jonk en onbekend en meeste het hom met huiwering beskou, maar nou is hy alombekend, alombemind en oral word die lede van die BTK beny. Die teleurgestelde gesigte van ‘n paar van die stoere lede van die klub wat verhinder was om saam te gaan was die laaste indrukke van Stellenbosch en dit het die gelukkige toeriste nog meer laat besef watter besondere voorreg hulle te beurt val.

Die treinreis vorder goed, behalwe as ‘n mens in die gangetjie staan en die klomp wat nog nie van te vore getoer het nie, begin solank deur die treinwaens te toer. Dr en mev Eiselen het probeer om kennis te maak, maar eers op George toe almal saam vir ‘n paar uur in die son gebak het, het daar ‘n gemeenskapsgevoel ontwikkel. Die reis met die bus na Knysna, toe ‘n mens amper nie kon beken wat toeriste, toersakke, komberse of koskaste is nie omdat die een idee was om die meeste goed in die kleinste plekkie te stop het nog meer alle stywigheid weggeneem.

Laat die aand kom ons op Knysna en toe begin die toer in erns. Sing-sing stap die van ons deur die strate van die dorp en toe met die pad die donker berg op. Misterieus lyk alles om jou en daar onder flikker verbaas die liggies van beskawing. Die geraas van die koffieblik, die vrolike stemme wat gesels en sing bring ‘n mens terug tot die werklikheid. Die aand by Springveld sou ‘n ideale nag gewees het as die tentkomitee nie ‘n verkeerde konsepsie van die aand en die môre gehad het nie. – Die aand toe die elite wil slaap gesels hulle asof hulle al die knoppe en bossies in hulle tentvloer wil uitgesels en die môre toe almal op is, vergas hulle die kamp op ‘n volle orkes-uitvoering.

Saterdagmôre stap ons deur ‘n pragtige deel van die bos en bring ‘n besoekie aan die “Garden of Eden”. Heerlik stil en koel is dit daar tussen die varings en die reuse bome. Dit was ‘n volmaakte Paradys want beide die appel, die slang en die mens het ontbreek (Toeriste is natuurlik nie mense nie). Die lang stap van die middag breek almal in, en van nou af aan is jy of ‘n ware stapper of ‘n “krok”. Na ‘n baai in die see en ‘n besoek aan die winkeltjie het almal weer energie gehad om ‘n wandeling op die sand te geniet. Min het die eer gehad om te kan sê: Ek was nie geplant nie. Almal het gevoel hoe dit smaak om vinnig in aanraking met die nat see-sand te kom.

Sondagmôre sous dit asof alles wil verspoel. Nieteenstaande reën, rook en nat hout het die boskomitee ons ‘n aller aangenaamste dinee gelewer. Dit was so lekker en so volop dat die woorde “vleis en stew” nog herhaalde male tot ons bewussyn deurgedring het.

Maandagmôre sous dit nog steeds, maar ons wys die reën toe ‘n punt en stap Keurbooms toe. Daar gekom bedaar die reën na ‘n rukkie en massa gaan ons met bootjies op die rivier. Stil gly ons op die donker water tussen die digbegroeide walle. By Wiskey Creeck gaan die een deel na die reuse geelhoutboom kyk, maar die wat nog naby aan die bobbejaanfamilie is, klouter in ‘n omgevalde boom.

Die aand maak ons ‘n heerlike kampvuur wat in sy rooi dieptes alle moontlike beloftes voorhou. Maar net toe almal hulle sit gekry het – ja toe speel die reën ons nou regtig ‘n handegame en ons moes trek. Die besondere eer val my toe te beurt om uitgenooi te word na tent no: Chaos waar ons vergas word op “yarns” van dr Vy, melodieuse liedere van die gashere en dadels. ‘n Goeie kombinasie nê?

Onder gunstige omstandighede stap ons Dinsdag na Grootrivier. Ons admireer nou nog die brawe manne wat die laaste twee myl na Barnard se winkel in 17 minute afgestap het. Ons wonder of hulle horlosies stadiger gaan hoe vinniger hulleself stap.

Van Grootrivier kan ons net een woord sê, en dit is dit was salig. Hoe het ons nie die mooi weer ten volle geniet nie, die bosse, die rivier en die see! Elkeen het daar tot sy natuurlike staat teruggekeer met die gevolg dat party met bobbejaan-toue opgeklim het, ander ure in die water geboer het, sommige twee-twee in die bos verdwyn het en die grootste gros op die sand gelê en bak het. Albei die aande was die kampvure ideaal, miskien het die maan te mooi geskyn sodat almal ‘n bietjie stil was. Spesiaal moet ons melding maak van die hoogdramatiese resitasie van mnr Herbert Markötte, wat hom so aangetas het dat hy eindelik op sy knieë gaan staan het.

Donderdag stap ons terug Keurbooms toe. Die tweede ent was lank en eentonig en alleen die digterlike ontboeseminge van Martie het my aan die loop gehou. Na ‘n laaste afskeid van Keurbooms stap ons na Wittedrift waar ‘n gulle ontvangs ons wag. Hoe snaaks was dit om weer op ‘n stoel te sit, uit ‘n glas water te drink en om weer koerant te lees. Die aand lei ons ‘n koninklike lewe want ons kry vis, party slaap in die huis en die wat nie daar slaap nie kry die ander se kussings, komberse en toerseiltjies. Die program om die vuur was besonder goed veral die verhaal van Happy. Ons het besonder die teenwoordigheid van die Van Huyssteen-familie waardeer.

Die volgende môre, verryk met ‘n skaap en sestig eiers trek ons verder. Die winkeltjies was besonder volop die môre sodat “the late mr Droogte” se beursie maar moes oopbly omdat dit soveel moeite was om dit elke keer weer oop te maak.

By Bracken Hill ontmoet ons sekere dames en here wat so min respek vir hulle eie voete gehad het dat hulle met ‘n motor Knysna toe gery het. As hulle self so min van hulle eie voete dink, wat van ons dan!

Die hele dag was daar ‘n gedurige geheimsinnige bymekaar kom van groepies wat die aand kore sou lewer. Almal het geoefen behalwe die Hoipoloi wat op hulle eie talente en die van hulle leiers berus het. Nevermind het byna ‘n “break-down” gehad want hy het die hele tyd van na supper tot kampvuur-tyd geleer. Ons Seuntjie het soos mamma se soet kindjie die woorde die dag al geleer, jammer net dat sy entoesiasme so laat die ander lede van die Hollandse koor geïnspireer het. Met angs en bewing het die een koor na die ander verskyn. Eers die Hoipoloi waarvoor ons wat bokant die wind gesit het, ‘n gehoorspyp moes aanlê om te kan hoor; toe die Duitse koor wat ons in aller aangenaamste indruk van mev Eiselen en Einstein agtergelaat het; daarna die Engelse koor wat sy eie graf gegrawe het. Na dese het die Hollandse koor gevoel hulle moet iets doen om dinge te laat herlewe. Eers sing hulle twee liedjies om die gehoor in die regte stemming te bring en toe breek hulle los met: “Kleine, kleine, Moederke alleen” terwyl elkeen ‘n kussing sus, totdat Nevermind eindelik verander in ‘n kranige moeder en seuntjie probeer aan slaap sus. Jammer net dat die gelag van die gehoor die seuntjie se slaap laat verdamp het. Na dese kom die Afrikaanse koor met hulle toepaslike lied wat soeter geklink het as die son gebrand het waarin hy gefabriseer was, het hulle ‘n eerlike oorwinning behaal.

Die volgende dag stap ons by die waterval om waar ons verlaas ons natuurlewe geniet. Ons kan nou nog nie verstaan dat een van die aanloklike dames van die toer met een keer tot by die valle stap en toe hom verlaat om met ‘n ander na Knysna te gaan – Dit is ‘n harde game, of hoe sê Pottie?

In Knysna aangekom, vergaap die mense hulle aan ons, en ons vergaap ons aan hulle. Sistematies word aan al die winkels en Kafe’s ‘n besoek gebring alhoewel baie min geld uitgegee word. Na ete geniet almal die roeitoggie op die lagoon.

Die aand bereik die kampvuur sy toppunt in die hou van ‘n hofsitting. Die merkwaardigste saak van die aand was die tot dood veroordeling van Droogte en die formele menswording van “As you like it”. Ons maak ook melding van die handige manier waarop Nevermind homself en ander mense in die “box” laat seil het, en die skuldbesef wat by dr Eiselen opgewel het sodat hy die volgende aand twee meisies vir die kampvuur geskiet het.

Sondag het elkeen gemaak soos hy lus kry. Die middagete was die klimaks van al die etes op toer sodat die skietery vir borde-was besonder hard was en meeste skote stopskote was. Die aand was almal ‘n bietjie weemoedig omdat die afskeid nader, maar ‘n lekker beker koffie het almal se optimisme laat herleef.

Met swaar harte neem ons Maandagmôre afskeid van Knysna alhoewel niemand dit wys nie. Met die terug reis dig almal net liedjies en Seuntjie vind uit hy het sy roeping gemis, want hy moes bepaald die dirigent van ‘n koor geword het. Waar ter wêreld het julle ooit ‘n beker en ‘n paar veldskoene gesien wat beter tyd kan hou! As ek my gedagtes so na die toekoms laat gaan sien ek ‘n digbundel verskyn, uitgegee deur Seuntjie en Martie, waarin die name van beroemde mense soos Kloppie, Happy, dr Eiselen, Harlmuth, Martin, Potte, en andere, voorkom.

Dinsdagaand sit ek in my kamer met ‘n pak werk aan die eenkant maar my gedagtes trek terug na Knysna en na die ou toer. Sal daar ooit weer so ‘n lekker tyd kom? Ek neem my meteens voor dat as ek ander jaar ‘n werklose is dan skiet ek al die ander werklose BT-Kaners om saam met my om die wêreld te stap. Is dit raak?

M van Rensburg

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui