Tweede Waterval Uitstappie

‘n BTK-uitstappie! Net die inspirasie wat ‘n mens nodig het voor die eksamens van Junie moet afkom!

Met trane in die oë verneem ons dat ons die geselskap van sulke gefossileerde BT-Kaners soos Kikker en Mamma-se-Jakkalsie sal moet mis. Maar met ‘n paar handdoeke gewapen, die hulp van ‘n koel windjie waarteen ons opgestap het en die bemoedigende klanke van Driescher se kitaar het ons darem reggekry om die vloed te demp en het eindelik droogoogs vir ons in die geselskap van dr Bobbie en dr en mevr Grobbelaar neergegooi onder die reuse eike voor die deur van mej Watermeyer.

Vandaar moes elkeen maar self sy komberse en rugsak dra behalwe waar daar sulke goedhartige ridders soos ou Frikkie te hulp gesnel het en homself so oorlaai het van die dames se komberse dat hyself kort-kort onder die las beswyk het.

By die Withuis gekom het elkeen probeer om in die agterste hoekie van die stoep te kom om sodoende die koue wind ‘n bloutjie te laat loop. Die hout-komitee, wat hierdie slag omtrent uit al die mans bestaan het, het gou-gou die berghelling uitgesnel en genoeg hout versamel vir die kampvuur.

Vroeg kan jy al die knal van skote hoor soos heen-en-weer geskiet word vir die kampvuur. Dié kan ‘n mens duidelik onderskei want hulle klap mos nie!

Die kampvuur het weer genoegsaam bewys gelewer van sluimerende talente. Pikkie maak ons al die geniese, landboukundige en teologiese besonderhede duidelik om musiek te lok uit ‘n grammafoon wat hy in ‘n vuurhoutjiedosie – van daar plat soort -mee gebring het. Ou Ben maak propaganda vir ‘n landbou-pos deur ons op professerlike wyse te vertel hoe kikkers ontstaan en konstateer sy feite deur so af en toe sy hand stadig – lui oor sy kop te vee. Dr Bobbie eindig die genoegliks aan deur Ireneë in ‘n heerlike slaap te laat val waaruit hy gewek word deur ‘n geweldige pluk aan die hare van die hand van ou Cor wat toe ook nie juis in ‘n geestes toestand verkeer het waarin haar eie brein haar dade beheers het nie.

Die volgende môre was dit natuurlik Frikkie, wat homself as wekker gestel het, om die klomp uit hulle sluimers te wek deur met sy sagte toerboetse op die soller van die huis ‘n grasieuse nimfe-dans uit te voer en sodoende die slapendes te laat stik in die stof wat in donker wolke op hulle neergesak het. Die stap na die valle was heerlik behalwe die deel deur die “verbrande” proteas wat ons so swart gesmeer het dat ou Cor en Marieke dit niks meer as hulle plig geag het om ‘n bad met klere en al te neem toe ons by die valle kom nie.

Die valle! Oor klip en rots klou die ou paadjie aan die steil bergrand vas en kruip so hier en daar agter om ‘n boomstam vir versterking tot dit eindelik vasloop teen die bo-end van die kloof. Diep teleurgesteld deur die neerlaag wat hom tog eindelik tebeurt val, verpletter die ou paadjie hom tog eindelik teen die rotswand en begrawe homself in die gars van rondlêende klippe. Onwetend van die graf van smarte aan die voet van die krans, kom die bergstroompie – die kindertjies van die Eerste Rivier – vrolik en opgeruimd aangespeel. Op die rand van die krans daag die waterkindertjies mekaar uit om loshande daaroor te spring. Hemdjies word gelos en ‘n vlaag van waterkindertjies daal uit die hoogte neer en kry nie eers seer nie. Hulle gryp weer handjies en gly dan, lag-lag oor die pret van hulle wilde natuur, langs die klippe af en met die kloofstroom saam.

Wat ‘n kontras! – Dis juis dit wat die lewe se kleur en skaduwee tot hulle beste laat uitkom!

Terug weer in die mond van die kloof, word die blye tyding van ‘n inwendige versterking aangekondig, en terwyl Cor en Maricke nie ‘n handdoek saamgebring het nie, monopoleer hulle die vuur na hulle bad.

Die terugstap word afgewissel deur die insamel van blame – natuurlik het almal vergeet dat hulle nog hulle komberse moes dra van die withuis af.

By mej Watermeyer speel dr Bobby ons ‘n ‘handegame’ en ry waarlik met ‘n motor huistoe. Dr en mev Grobbelaar ry saam met ons op die lorries.

Met “My hartjie, my liefie, die son trek weg”, se spoed gly ons oor die pad en is gou op Stellenbosch. Ons spat soos mieliepitte uiteen maar elkeen neem ‘n stukkie van die uitstappie saam as ‘n herinnering aan ‘n lekker ou tydjie.

M van Rensburg

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui