Grotte-toer

Sku-sku het die een-en-vyftig toeriste mekaar aangekyk toe hulle die Donderdagmiddag op Stellenbosch-stasie bymekaar gekom het. Dr Grobbelaar (en hierby sluit ons natuurlik die hoedjie in) was die enigste wat op sy gemak gelyk het. Maar dank sy die langgerekte treinreis na Ladismith – toe ons naderhand van verveligheid in ‘n “trok” gaan ry het – het ons mekaar gou leer ken. Die “meneer” en “mejuffrou” het plek gemaak vir “Wa”, “Kloppie”, “Ampie” en andere. Die rit per lorrie van Ladysmith na Prins Albert het nog verder alle stywigheid uit almal geskud.

Hierdie intimiteit het ‘n pragtige gees gebring in ons kamplewe en dit was veral kenmerkend van die kampvuur. Piet Schoeman met sy jagverhale, Van Rensburg met sy hipnotisme en dr Grobbelaar met sy “Nou kyk Dames en Here”, het ons die gemis van musiek laat vergeet. Verder het die “kombuis” ons voorsien met vry-fliek sowel as met skinderpraatjies.

Gedurende die dae het ons nie iemand nodig gehad om ons te amuseer nie. As ons voete nie beslag neem van al ons gedagtes nie, dan het die natuur dit gedoen. Die een toneel na die ander kom terug in ons geheue en dit is moeilik om te sê watter die mooiste was – Seweweekspoort, die Swartbergpas, Die Grotte, Montagu-pas, of die Wildernis. Terwyl die fantastiese ons verruk in die Grotte, oorweldig die grootsheid van die Swartberge ons en in die Wildernis neem ‘n groot rus en stilte besit van ons. Dis onmoontlik om ooit die verrukking te vergeet wat ons oorval het toe ons bo-op Montagu-pas neerkyk op George. Self die materialiste onder ons het hulle voete vergeet en begin blomme pluk.

Ons swyg val al die mensekennis en liggaamskragte wat ons op die toer opgedoen het om nie te praat van gogga-teorië en serenade-kuns (binne sowel as buite die slees). Ons dink net vir ‘n oomblik aan al die gasvryheid wat ons ontvang het – die ewigdurende vriendskap van oom Kotie Jordaan en die opregtheid van die Stander-familie. En dit is in baie gevalle aan dr en mev Grobbelaar te danke dat ons so gasvry ontvang is, want as almal se gesigte al lank is, dan lag hulle nog en verkry so gunste van almal wat ons ontmoet.

M van Rensburg

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui