Rooi-els

Op Vrydag, 19 April het ‘n party van vier-en-vyftig studente van Stellenbosch na Gordonsbaai vertrek waar kamp geslaan is. Die volgende dag is die party die berg uit na Steenbrasdam. ‘n Sterk suidooste wind het die nag almal uit hulle slaap geblaas en krete van mense, deur angs bevang omdat tente op hulle wil neerstort, het die wat nie vir wind omgee nie, ook nog gedwing om te gaan help tentpenne inmoker.

Op Maandag stap die karavaan na Rooi Els toe. Bagasie sou met ‘n motor-skuit omgebring word, maar toe die seksie na ‘n vyftien myl warm stap daar aanland vind hul nog geen sterfling daar nie. Sonder kos of bedekking is toe bed toe gegaan of liewer, is die meisies in ‘n kampie van hout opgeslaan (om hulle van leeus te beskerm) gesit, terwyl die mans op die sand om die kampvuur probeer slaap. Koue en uitbundige geselskap van die wat nie van slaap in die ope-lug hou nie, het meegewerk dat geeneen eintlik te vas geslaap het nie. Die volgende dag en nag geen skuite en geen voedsel. Net ‘n klompie vis in see-water gekook en ‘n sny brood vir elkeen moes die toeriste lawe, ‘n afdeling kêrels wat met die boot saam sou kom, het ook agterna gestap gekom en ‘n voorraad voedsel meegebring. Dit was onmoontlik om die terugreis op Dinsdag te aanvaar dus is besluit om te wag tot die skuite kom.

Daardie aand is ‘n konsert gehou en terwyl dit aan die gang is dring ‘n geroep van die see se kant af tot die klomp om die vuur deur en dadelik word die strand bestorm. In allerhaas is die boot dan ontlaai en binnekort was dit ‘n feesvier soos by ‘n stad waar na ‘n lange beleg, die vyand uiteindelik teruggetrek het en voedsel weer volop is. Kamp is gou-gou in die nag geslaan.

Woensdag is in feesvreugde deurgebring. In die namiddag het ‘n deel van die klomp ‘n kop uitgeklim en van dr A.V. Krige ‘n les in die Geologie gekry.

Die volgende dag is ‘n uitstappie onderneem na die Hangklip-Walvisstasie en ‘n rivier halfpad verder na Palmiet toe. Hierdie dag is die klomp byna in ‘n ongeluk gedompel. John Murray was met visvang ‘n bietjie onverskillig en word deur ‘n brander van ‘n rots geslaan. Die moedige optrede van George Daneel het hom egter gered. Vrydag het dit gereën: van die môre vroeg tot die aand laat, en al wat gedaan kan word was om in die tente te koets, maar die volgende oggend toe die terugreis moes begin was dit helder mooi weer. Twee het agter gebly by die kamp om nog ‘n bietjie vis te vang totdat die skuite sal opdaag. Hul moes ook later moed opgee en terugstap – die skuit het eers die volgende Woensdag ons bagasie gaan haal.

Die terugreis was heeltemal voorspoedig en vroeg Saterdagaand was almal weer op Stellenbosch.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui