Aan Grootrivier

(‘n Dag uit die Knysna toer)

Yl vlieswolkies het stadig na die Weste geskuif toe die eerste sonstrale die toppe van die bome raak. Ongemerk en saggies was die oorgang van duisternis na lig. Heerlik het die môre aangebreek en fris soos ‘n pas ontluikte roos. Hier en daar het reeds ‘n mossie met sy vroeë gesang sy mede bosbewoners gewek met ‘n aanhoudende “getjielp tjielp tjielp.” Weldra het die bos weerklink van blye voëlsang. Die donsige veertjies word reggeskud en uit volle bors word dié nuwe dag toegejuig. Daar sal vandag sonskyn wees, en sonskyn bring nuwe lewenslus. Dis immers Lente en hier in die hart van die bosbewonertjie bruis dit van nuwe lewe. Sy lyfie tril van vreugde en sy stemmetjie weerklink ver deur die bos by die oomblik van die eerste sonstraal. Dis die Lenteson wat hier teen die boomtoppe skyn. Die geelhoutboom met sy duisend jonge kennis, wat hy hier in die bos opgedoen het, het al geleer om sy takke hoër uit te steek as die ander bome. Hoog bo die ander plante steek hy sy kroon uit en vandaar kan hy beter sy septer van majesteit swaai.

So uit die hoogte het hy ‘n beter vergesig oor die bos. Sy reuse stam en geweldige ouderdom beklee hom vanself met majesteit en krag. Geen ander boom berg sy koningskap nie, maar buig net voor sy grootsheid.

Gou het die mossie uitgevind, dat dit die boonste toppe is wat die eerste strale opvang en gou het hy hoër gewip. Daar bo het hy sy vlerkies uitgesprei en die ylblou lug ingevlieg. Sy gedagtes is vol van die moontlikhede van die nuwe dag. Sonskyn bring lewe en om te leef is om bly te wees. Ja dis Lente en sit daar nie ‘n maatjie in ‘n oulike nessie op drie eiertjies en broei nie? Oor ‘n week nog en dan sal daar drie mollige ou goedjies wees, vir wie hulle dan wurmpies sal aandra en met hulle bekkies sal voer. So vol is hy van sy eie liefde en weelde dat hy byna vergeet om weer te sak.

Wat is dit wat hy daar sien, daar onder langs die pad? Hy was gisteraand moeg en het nie gehoor dat hier wawiele gerol het nie, en het nie gehoor dat hier hamerslae op tentpenne geval het nie. Half vererg oor so ‘n vrypostige indringery hier in die bos, het hy nader gevlieg en so skelmpies deur die takke geloer wat nou hier aan die gang is. Hy besluit dat dit maar rondlopers is, wat ook hier ‘n bietjie wil kom asem skep, en ‘n lied van nuwe lewe en krag wil kom sing. Nou voel hy meer op sy gemak en het amper lus om daar op die toppie van een van die tente te gaan sit, maar deur die skrille geluid van ‘n fluitjie en ‘n aaklige geroep “Broodsny komitee” het hy so geskrik dat hy byna van sy takkie afval. Bevrees het hy daar weggevlug en was vas oortuig, dat die mens maar altyd die lewe van onskuldige voëltjies probeer verwoes.

Nou is daar volle beweging in die kamp. Weldra swyg die voëlsang, want skorre mense stemme weerklink deur die bos. Die aaklige gekraak en geruis van mensevoete op die gruispad het meer as een diertjie laat besluit dat hulle vryheid verlore is en die skoonheid van hulle gebied geskonde is. Krakend het die voetstappe voortgegaan en al slingerend die pad gevolg na die hoëveld. As die geruis van die voetstappe verby is, het daar weer die stilte van die bos geheers. Nes aan die see elke golfie die spore intwis en die sand gelyk vee, so verdryf die môre-windjie die klanke en laat stilte en vrede na. Dis dié stilte wat die eensame wandelaar aangryp. Dis so imponerend en dit sak op hom neer nes swaar mis. Dis om hom heen en hy is bang om ‘n geluid te maak en so die natuur te steur.

Hier op die hoëveld kan ‘n mens weer reg sien. Hier is ‘n skeiding tussen die bosse. Wat ‘n gesig is dit. Links lê die Tsitsikamaberge, ver agter lê die Knysna bos en hier voor lê die deinserige blou see. Daar is gou weer verandering en die pad lei jou weer in die bos in en begin stadig afsak na die Bloukransrivier. Die son skyn nou in sy volle prag en elke blaartjie reflekteer die skoonheid. Die son bring lewe en dis die moeite werd om te leef.

Die pad sak nou alweer, lei gou onder bome deur en verdwyn om elke draai. Wie let nou op die pad? Hier is die Natuur in al sy grootsheid. Wat ‘n oomblik, wat ‘n invloed op die toeris. Wie kan dit beskryf? Hier het jy ‘n gesig waarvan jy nie genoeg kry nie. Dis ‘n fees wat nie versadig nie. Daar is nie woorde om dit te beskryf nie. Jy probeer iets sê, maar jou woorde klink soos ‘n skor geluid, ‘n wanklank in ‘n mooi kerk. Die pad kronkel hier in ‘n kloof af. Aan die eenkant is die rotsmuur en aan die anderkant die ruig begroeide kloof. Die hand van die Natuur is baie kwistig en vrygewend. Hier is nou skoonheid in sy volle prag. Die vorse geelhoutbome staan soos reuse hier in die oerwoud. Hulle is groeiende monumente en toonbeelde van taaie volharding. Generasie na generasie van die eensame bosbewoners het al hier hulle rol gespeel. Jaar uit en jaar in het die bosbouer al hier rondgestap. Hy het bome afgekap en opgesaag. Sy kinders na hom het dieselfde gedoen en na hulle weer ander en nog staan van hulle daar, 1 000, 1 000 en 1 500 jaar het al oor party gegaan en nog pryk hulle daar vol lewe. Ander is afgeleef en verdroog. So staan hy daar die droë ou stomp, ‘n reuse pilaar van die grysverlede, maar sy tyd gaan ook verby. Deur die stormwind word hy geskud, die hand van die tyd beitel aan hom en eendag stort hy neer met geweld wat alles in sy pad verpletter. En dan spring daar ‘n jong boompie in sy plek op en ook hy groei op om deur die eeue heen daar te staan en eendag neer te plof – gebreek en verskrompel.

Pragtige slingerplante, bobbejaantoue, varings, ‘n murmelende stroompie, en die af en toe geroep van ‘n veelkeurige loerie vorm die fyn note om ‘n suiwer harmonie te skep. Die diep bostoue word verskaf deur die reuse bome van die oerwoud. Dis ‘n volkome simfonie, ‘n natuurlied – rein en ongeskonde. Maak maar jou oë oop, aanskou die skakering van kleure en jy staan verslae. Dan sal jy ook die lied van die Natuur hoor, die simfonie van die bos wat op jou aan gewalm kom. Jy hoor dit nie juis nie. Die lied is daar, so heerlik en skoon. Dan voel jy soos Richard Jeffries in sy “Meadow Thoughts” hoe onmoontlik dit is om die skoonheid van die Natuur mee te deel aan ander.

Die gedagtes van ander is te vaag en jou eie te diep om uit te druk. “The paper is so obviously paper, the ink so evidently ink, the pen so stiff, all so inadequate.” Woorde is onvoldoende. Jy verlang na musiek. Wat sal ‘n Beethoven of ‘n Bach nie hiervan kon maak nie? Jy verlang na ‘n penseel. Wat sal ‘n Rembrandt of ‘n Leonardi da Vinci nie hiervan kon maak nie?

Hoe laer jy afsak hoe voller word die akkoorde van die Natuurlied. Alles is nou grootser. Die varings word mooier, die stroom al sterker, immers dis die Bloukransrivier met sy bruinswart water, wat skuimbollend en bruisend sy weg deur kranse en bosse vind na die see.

Die aand om die kampvuur was daar blydskap en skerts. Die tone van ‘n vioolduet dra nog by om jou meer te laat geniet van die beker wat die Natuur jou aanbied, en om die sereniteit nog mee te verhoog. Die skoonheid van die dag was geweldig indrukwekkend, maar nou hoor jy die maan verligte nag met al sy bekoring. Nou is dit die maan wat sy sagte silwerlig deur die blare filter. Die donker silhouette van die bosreuse kondig aan dat die nag vinnig val. Om die kampvuur waar die vlamme op knetter en vonkies wegspat sit sewe-en-vyftig studente met gehoor- en gesigssintuie fyn gespan om elke geluid of beweging op te vang. Met volle lewe word die aandlug ingedrink. Eindelik word dit laat, die vlamme brand al kleiner en elkeen soek sy weg na sy tent.

‘n Tortelduifie het nog ‘n wiegeliedjie vir haar kleintjies gesing. ‘n Mossie het onrustig in sy warm nessie gedroom. Die kampvuur is nou uitgebrand en die stilte van die nag heers alom.

J J de Necker

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui