Geskiedenis

Die BTK het ‘n geskiedenis wat oor meer as 80 jaar strek. Selfs in die HAT is die afkorting BTK – Berg- en Toerklub – opgeneem en deur die jare het BTK ook ‘n werkwoord geword: “Ons BTK die vakansie…” of “Ek gaan BTK…” Dit is dan ook belangrik dat vandag se BTKaners ook iets weet en verstaan van hierdie ryk erfenis sodat hulle kan weet waarom daar sekere tradisies en gebruike in die BTK bestaan wat aan die BTK sy karakter en dinamiese gees gee.

Die BTK is op 4 Junie 1928 op ‘n vergadering van 50 studente as gevolg van die inisiatief van Koos Driescher gestig. Die oogmerk was: “om ‘n doelmatige organisasie te vorm om belangstelling in en liefde vir die natuur en land aan te wakker deur middel van berg- en landtoere”. Om hierdie doel te verwesenlik is daar dadelik begin om staptoere te reël, die eerste toer was reeds in September 1928. Van die begin af was die toere deeglik beplan en alle voorsorg is getref om dit vir almal so lekker en veilig as moontlik te maak. Reeds in 1942 het die BTK ‘n handleiding uitgegee: Handleiding oor die Stigting, Benodigthede en Werksaamhede van ‘n Klub vir Bergklim of Staptoere aan ‘n Universiteit of Kollege.

Die doel van ‘n BTK Toer is om buite in die natuur te wees in ‘n ontspanne atmosfeer, dus moet enigiets wat spanning in die groep kan veroorsaak uit beginsel vermy word. Elke toeris moet dus die belange van die groep altyd hoër as sy eie belange ag! ‘n Verdere doel is om nuwe mense te leer ken wat dieselfde belangstellings het as jy sonder dat enige van die partye onder druk voel. Mans moet dus die dames soos Dames met die nodige respek en waardigheid behandel al ken hy spesifieke dames ook hoe goed. Netso geld die omgekeerde ook t.o.v hoe dames mans moet behandel.

By aankoms op ‘n kampterrein word dit deur die Toerleier en Kosma in ‘n Dames- en ‘n Manskamp verdeel. Hierdie verdeling geld vir slaapplekke, plekke om te was en plekke om ander persoonlike funksies te vervul. Hierdie verdeling het die doel om privaatheid vir dames en mans te verseker en moet ten alle tye gerespekteer word. Indien mans deur Dameskamp MOET gaan, moet hulle hulle teenwoordigheid vooruit bekend maak. Dit geld omgekeerd ook vir dames in Manskamp.

Aan die einde van die akademiese jaar word ‘n toer langs die see gereel wat as die Gala bekend staan. Dit word nog steeds soos destyds georganiseer, want ondervinding het gewys dit werk goed so. Die toer word gelei deur die Toerleier, bygestaan deur sy bestuur met ‘n Toervader en Chaperone in ‘n ondersteunende rol. Om die verskillende take wat aan so ‘n toer verbonde is doeltreffend uit te voer word al die toeriste ingedeel in “komitees” wat elkeen die verantwoordelikheid dra vir ‘n spesifieke funksie. So is daar byv die Kokke en Stokers wat saam met die Kosma en Kosdogter verantwoordelik is vir die kosmakery, Walaaiers, Tentekomitee (wat tente opslaan waar nodig), Waterdraers, Groenteskillers, Oggendbrode, Middagbrode en Blikwassers. Die meer ervare toeriste is kokke en stokers en die Eerste toeriste is gewoonlik blikwassers. Vir elke toeris is daar dus een of ander werkie op die toer wat ‘n gesonde groepsgees aanwakker en niemand uitgesluit laat voel nie en verseker dat al die werk baie doeltreffend verrig word. Die hierargie gee aan die moeilikste en eintlik minder lekker werk die hoogste status. Behalwe die kommitees is daar nog die Papkokers wat soggens vroeg die pap moet kook, die Lampeman en Toontjiesdokter wat na almal se seer voete moet dokter. Die bagasie en al die kampbenodighede is op ‘n vragmotor vervoer en op die stap is gewoonlik net ‘n dagsakkie saamgedra.

Van 1972 is daar begin om rugsaktoere te reël waarop die toeriste al hulle toerusting moes saamdra. Op hierdie toere word die toergroep opgedeel in groepies van 10 om saam kos te maak en binne die groepie is die verskillende take soos Groepieleier, ‘n Kok, ‘n Stoker, Middagbrood, Waterdraer en Blikwasser uitgedeel. ‘n Toontjiesdokter (of te wel “Tone”) moet almal op die toer dokter.

Waar moontlik word daar saans kampvuur gemaak en word vermaak verskaf in die vorm van voordragte, liedere en komiese voorstellings. Gewoonlik kry elke nommer of “item” ‘n geesdriftige applous wat ook die ander aangemoedig het om deel te neem. Om saam met die dame van jou keuse ‘n gesellige aand om die kampvuur deur te bring moes die mans gerieflike sitplekke vorsien wat gewoonlik in die vorm van ‘n vlak uitgrawing met ‘n rugleuning was. Weens sy vorm is dit ‘n “slee” genoem.. Dames word vir geselskap om die kampvuur “geskiet”. Op ‘n afgespreekte tyd soos deur die toerleier afgekondig “skiet” elke man ‘n dame vir daardie aand se kampvuur en sal hy vir haar daardie aand sorg. Een van die belangrikste dinge om die dame mee te versorg is “sleepille” wat uit ‘n verskeidenheid van lekkers bestaan. Met “Damesskiet” word die rolle omgeruil en nooi die dames ‘n man vir die aand by die kampvuur. Dit was ‘n vaste reel dat elke aand met iemand anders ge-slee word. Uitsonderings is gemaak vir die kampvuurleier wat daardie aand met die meisie van sy keuse kon slee. Die dames kon enige iemand skiet met damesskiet, en op die laaste aand kon jy ook weer met enige iemand slee. Effektief het dit dus daarop neergekom dat jy slegs drie aande op ‘n toer met dieselfde persoon kan slee. Die rede hiervoor is dat almal ‘n kans sal kry om ander te leer ken, en dat jy so wyd moontlik met mense sou gesels. Dit het die voordeel dat mens baie vaardighede i.v.m. menseverhoudinge aanleer. Vandag nog streef ons in die BTK daarna om hierdie tradisies na te volg omdat dit so goed werk. As daar ‘n onewe aantal mans en dames op die toer is dan is daar mense wat nie ‘n maat vir die aand sal hê nie. Die dames is “spinnies” en die mans “bachelors” genoem. Elke aand voor die skietery is die spinnies of die bachelors uit die toerlys aangewys, of hulle kon aanmeld en aanbied om spinnie of ‘n “batchie” te wees. Hulle het as groep saam geslee en was gewoonlik baie vrolik en lastig, omdat hulle toegelaat is om sleepille by die ander te kollekteer en het soms in ander se slee ingespring as hulle besig was om te “item”.

Aan die einde van die kampvuur is dit Hekeltyd. Dan mag enige iemand vir iemand anders ‘n vraag deur die toervader vra oor iets wat daardie persoon die dag sou kwyt geraak het. Hekel het sekere reëls. Daar mag slegs oor gebeure van die afgelope dag gehekel word. Sleemaats mag mekaar nie hekel nie. Daar mag nie uit die badkamer gehekel word nie en hulle mag ook die onder die belt wees nie. As die toervader saans sê: “Goeie Nag, Dames” is dit die teken dat die kampvuur afgesluit is en almal kan gaan slaap. Vanaf “Goeie Nag Dames” is stilte in die kamp noodsaaklik om toerlede kans te gee om te slaap. Sagte gesprekke word wel toegelaat solank dit niemand anders uit die slaap hou nie.

Na ‘n dag of drie is uitkenningsparade gehou vir die eerste toeriste wat dan die name van al die ou toeriste moes ken. Die een wat al die name reg het, kry ‘n blik kondens. Die ou toeriste het hulle probeer vermom vir die parade om dit moeilik te maak.

In 1933 is besluit dat die drag van die BTK kakieklere sou wees. Tot en met 1973 het die dames met kakie rompies gestap. Die rooi met wit kolletjie nekdoek is ook in daardie tyd ingevoer. Vandag word enige klere gedra, maar die rooi nekdoeke is nog altyd in gebruik. Om die toere te onthou wat meegemaak is is die nekdoeke elke toer by een of ander poskantoor gestempel, ge”tjap”.

Die gebruik om na ‘n rugsaktoer by ‘n hotel aan te gaan vir ‘n biertjie het op die eerste rugsaktoer in 1972 begin toe die Visrivier Canyon gestap is. Na die tyd is op Ai Ais se terasse ‘n biertjie gedrink. Dit is “terash” genoem, deesdae word daar by die Spur geëet en gedrink as daar van ‘n toer teruggekom word.

Van elke toer is daar van die begin van die BTK af ‘n skets geskryf om verslag te doen van wat op die toer gebeur het. Die sketsskrywer wat een van die portefeuljes op die toer was moes die skets skryf, vroeër jare in die “sketsboek” In die sketsboek is daar juwele deur ‘n paar bekende SA skrywers wat ook ge-BTK het.

Die BTKaners het in die eerste 40 jaar baie gesing en ‘n hele paar sangbundels is gedruk. Saans na kampvuur is soms tot laat gesit en sing. ‘n Hele aantal van die liedjies is deur die BTKaners self geskryf. Die sangtradisie het ongelukkig in die laaste jare baie gekwyn, maar dit dien nog as ‘n baie sterk saambindende faktor tussen die oud-BTKners van daardie tyd.

Godsdiens word in die BTK beoefen en soggens en saans word daar godsdiens gehou. Op Sondae word daar gewoonlik ‘n kort diens gehou of ‘n diens in ‘n kerk wat naby die toer is, word bygewoon.

In die sewentiger jare is daar ‘n berghut in die Banhoekberge gebou. Die hut was deur Paul le Roux ontwerp en het baie ure en harde werk van die BTK gevra. Die hut was baie gewild en is gereeld besoek oor naweke en vakansies. Om die hut te bou is ‘n paar toere soontoe gereël. In 1999 het die hut in ‘n veldbrand wat deur die hele Banhoekberge getrek het afgebrand. Dit was ‘n groot slag vir die BTK.

Die BTK het egter na 10 jaar toestemming gekry om ‘n nuwe Berghut te bou te Wortelgat.

Die tradisies van dié organisasie kan in een woord saamgevat word:

BEDAGSAAMHEID,
teenoor die natuur, mede-BTK’ners en ander mense wat na ons die dieselfde roete wil stap.

Maretha Steinmann