Sederberg September 1951

“Sagie de Beer, my broer!” As ons hierdie bekende sê in ons ore terugroep, is ‘n mens as’t ware weer “boots, blisters and all” terug in die Sederberge – dié plek waarheen ‘n mens moet BTK.

Vrydagmiddag op Stellenbosch-stasie het ‘n mens sommer reeds spirit gekry. Soos van ouds was perron, trein, selfs die “dog box” die BTK s’n. Op Bellville het elkeen net sy rugsak en kombersrol gegryp en gespring vir ‘n kompartement. Op die trein is oor en weer gekuier, gesing en geskerts. Soos gebruiklik is by Malmesbury afgeklim vir koffie (definitief nie ons swart soet, wit bitter of wit soet nie!). Die oorsprong van die toer-serial was ook hier op die trein.

Op Eendekuil is ons vroeg verwelkom deur katte, ‘n lawaaierige lokomotief en reën. Daar het ons die lorrie en ander vrinne ook te sien gekry, laasgenoemdes ook maar styf en deur die slaap van die wagkamervloer en Eendekuil se “local toughs” soos Hendrik ons meegedeel het.

Die heel eerste stap van Eendekuil oor Grey’spas tot duskant Citrusdal was in die reën. Om nie te verkluim nie, is daar gou-gou ‘n spelery opgetel waarin Tilly se nekdoek ‘n belangrike rol gespeel het. In Citrusdal het ons gou-gou die dorp in beslag geneem waar ons goed ‘n uur op die vragmotors om ons na Hexrivier te vervoer, gewag het. Die dorp se voorraad stokkielekkers en drop is gou uitverkoop. Die telefoonhokkie het ook goed shaain gevang veral deur Elize Lindes.

Hexrivier is sommer ‘n agtermekaar kampplek (met gerieflike lemoenboorde baie naby) behalwe vir die deur-Tilly-gevreesde wurms. Die aand by die kampvuur het die serial in alle erns afgespeel – net jammer J.P. moes so gou van die toneel verdwyn. Na ‘n “paraat” van vlotte is ‘n BTK-koningin gekroon.

Sondagoggend het ‘n mens swaar eers jou kop, daarna die res van jou lyf, onder die komberse uitgetrek – vanweë die eerste styfheid, die ryp en koue. Later met die braaiery van jou kaasbrood kon jy egter so ‘n druppel hitte van die vuur kry.

Tinie Britz het die oggend diens gehou. Daarna het elkeen sy gang gegaan. Die son was nou ook warmer. Daar was oorgenoeg om te doen – op die dromme op die dam roei, swem, tennikoit speel en wegval onder die lemoene. Na die middagslapie wat op die vreetstelike middagete gevolg het, het die eintlike swemmery begin. Sommige is na die Olifantsrivier, ander het die meer beskutte plekkies in die rivier opgesoek, maar – Tinie van Rooyen se skinkbord en waterski-ery het alles gekroon. Net jammer dat hy, net om die meisies se heroe te bly, ‘n paar keer deur die dubbeltjies moes rol.

Sondagaand se kampvuur sal nog lank onthou word vanweë die mooi vuur, die program en die “gesellige verkeer, broers en susters” van Tinie Britz, ‘n item op sigself.

Maandag se stap van Hexrivier na Algerië oor Nieuwoudtspas het baie mense anders laat opkyk. Toe die son begin steek, die skoene knel en die kele toetrek, het baie verlangend aan die vragmotor met die kosrugsakke begin dink. Maar sat. Daar is deurgestap tot op Algerië. Intussen het die lorrie gaan staan. Die walaaiers oftewel lawaaiers het net woes heroe gepomp om die middagbrood (nagereg lemoene) by die klomp te bring – ongelukkig vir hulle kon die lorrie net betyds wees om die laaste myl of wat weer die rugsakke oor te neem.

“Komitees moet item!” Dit het voorbereidings én voorbereidings laat ontstaan. Sekere mense het hul roeping in die lewe gemis. Kyk net na die stiervegters of die hoola-hoola meide, treffend gekostumeerd en baie ritmies in hul bewegings. ‘n Heel modernifisering van die verhaal, het Rooikappie en haar seksie die blikkie kedêns laat verower.

Dinsdag – oorlêdag. Oom Theo en ‘n paar gesondes het op ‘n uitstappie na Vensterberg gegaan, ander was weer ‘n end teen Middelberg uit en die luistes het soos gewoonlik in die kamp rondge-“idle”. Omdat dit damesskiet was, was die sleës en sleepille (en die geselskap?) van die beste. Weereens was daar ‘n goeie program. Tielman en Ockert het geryloop met die beste inhoud van Tilly se koskiste.

Woensdag se stap was duidelik opdraend teen Uitkykpas uit. Die vrag moes in twee lotte uitgeneem word en die walaaiers het allerlei wedervarings gehad onder andere Graaff wat in die water geval het. J.P. het ‘n nuwe siekte ontwikkel terwyl hy op die tweede vrag gewag het, naamlik lamboundia! Die volgende oorstaanplek was op oom Swart Andries se plaas. Dié aand se kampvuur was soos gebruiklik weer ‘n hoge een onder andere ‘n vervolg op Tielman en Ockert se rylopery en ‘n opera. Die dames van die Universiteitskoor het hier hul debuut gemaak.

Die uitstappie na die Wolfberg die volgende dag, was seker dié dag van die toer. Vir sommige was die eerste endjie bergop steil, maar toe die skeure bereik is, was alle moegheid opsygeskuif. Alhoewel ‘n paar van ons reeds daar was, kon ons nie anders as om stil te wees en ons weereens te verlustig aan die wonderlike rotsformasies en die mooi uitsig nie. Grondbone en rosyne het ons egter weer tot die werklikheid teruggeroep. Daarna was daar nog ‘n beter gees en het ons stemme en die akoestiek van die skeure dit laat weergalm, een liedjie na die ander. Die top van die berg is sonder enige ernstige vassittery bereik en hiervandaan was die uitsig eers mooi. Na middagbrood omtrent halfvier in die kampplek, het ‘n paar vragte vol toeriste na die Boesmantekeninge gaan kyk.

By die wasplek in die yskoue water daar by Dwarsrivier, kon Elize Linde darem vasstel dat daar nog ‘n stoere boerevolk bestaan.

Die eerste toeriste se program was ‘n hoge een. Die einde van die serial in die vorm van ‘n gedrog sonder punt of einde, is hier opgevoer. Die teeparty en die debat het gekompiteer vir die item van die toer. “Meneer die agtervoorsitter” – “hoor, hoor!” van Tinie Britz – “jou vale vloek!” – “op ‘n punt van orde het alles ‘hits’ geword van die toer.”

Vrydagoggend het vier-en-neëntig BT-Kaners in die maanskyn opgestaan. Die stap na Wupperthal het dus besonder vroeg begin. Dit was besonder mooi, veral tot waar ons oor die nekkie by Eselsbank gegaan het. Middagbrood was by ‘n lieflike koel waterval – presies hoe koel dit was kan ‘n paar van die manne wat agtergebly het, sê.

Die son het intussen besluit om nog warmer te word, die pad om nog sanderiger en langer te word. Elke keer gee die volkies langs die pad ‘n mens die versekering: “Nog net ‘n uur se stap, my basie.” Na ‘n uur en ‘n half vertel die volgende klompie volkies jou min of meer dieselfde. Toe Wupperthal eindelik soos ‘n oase onder in die kom te sien was, lê daar nog ‘n steil, klipperige en warm pad af daarheen. Sommige het dit oorweeg of die pakdonkies hul nie gouer daar sou bring nie.

Soos te verstane is, was die hele BTK nie verteenwoordig op die uitstappie na die Krakedouw nie. Die klim het egter besonder vinnig gegaan sodat ons die kruin nog voor middagbrood bereik het. Ongelukkig was dit ‘n bietjie te bewolk en mistig om ‘n mooi uitsig te hê, maar die vreeslike afgronde, die skeure en mooi sederbome, en sommer net die klim was oorgenoeg.

Saterdagaand se kampvuur het hoge items gehad. Broekies het op een tydstip nie geweet of hy ‘n koei of ‘n bul was nie, geeste is weereens opgeroep en Luistner en Tinie van Rooyen het twee “oulike love-birds” (letterlik en figuurlik) uitgemaak. Ryne was ook aan die beurt met haar mannetjie wat dowe taal ook kan praat. Tog het ‘n mens, veral tydens die sing van die slaapliedjies, gevoel dat die toer sy einde nader.

Vrydagaand was ‘n mens te moeg om Wupperthal te waardeer. Daarvoor was veral Sondag daar. Die opregtheid van die volkies daar, hul singery, die bloeisels, die mooi wit kerkie, die klokke – alles maak Wupperthal enig van sy soort en iets wat ‘n mens nie lig sal vergeet nie.

Dit het hard probeer om te reën Sondagmôre. Veiligheidshalwe is drie groot tente opgeslaan en maar goed ook, want teen die aand het dit begin reën. Die môre het Bert Heyns ‘n baie mooi diens gehou in die tente.

Die laaste kampvuur was daar. Die universiteitskoor moes weer hul repertoire herhaal, en Bert was net besig om van sy oorsese toer te vertel, toe die eerste werklike druppels op ons neerval. Daar is vir oulaas afgesluit deur Willie Cillie – sy laaste toer as leier.

Maandagmôre het dit sommer lekker gesous. Die vragmotor met bagasie is berguit deur ‘n jeep gesleep. Kettings alleen het niks gemaak aan die steil, glibberige pad nie. Die tawwe mans het die ander vragmotors (en die meisies daarin!) uitgestoot.

Die stap vanaf Heuningvlei bly seker die onvergeetlikste. Die reën het dit nog steeds uitgekap. Aan die begin kon ‘n mens hoor: “Sjoe, hier’s ‘n druppel by my nek af.” Later egter is dit nie eers meer gevoel nie. By die lopies (toe bergstrome) is net eenvoudig met skoene en al dwarsdeur gestap. Eers het hier en daar nog ‘n liedjie opgeklink, maar hoe verder en hoe natter dit geword het, kon net Toffie nog iets te singe uitsukkel. Die gesjoep-sjap van Willem Krige se paar newwies was enig van sy soort.

Op Pakhuispas was geen teken van ons lorrie en middagbrood nie en is daar maar deurgesteek Clanwilliam toe met die skoolbusse wat reeds op ons gewag het. As gevolg van die vriendelikheid van die Strassbergers kon ons darem op ‘n manier droog word by die vure in hul agterplaas.

Uiteindelik het ons middagbrood en ‘n paar verskrikte pelle wat lorrie gery het, opgedaag. Die steil, gladde pad was een plek te veel vir die vragmotor en het dit omgeslaan. Niemand is egter beseer nie, wat ‘n baie groot wonder en genade is, behalwe Willem en Tilly, leier en kosmoeder, wat ligte beserings opgedoen het.

Die beseerdes is per motor nog dieselfde aand Stellenbosch toe. Die res is vanaf Graafwater per trein Bellville toe.

Dit was ‘n klompie doodmoeg en vaak BT-Kaners wat sewe-uur Dinsdagmôre op Stellenbosch aangekom het, maar hul kom van die Sederberge en niemand wat nog nie daar was nie, kan besef wat dit alles insluit nie.

Die besonderhede van die ongeluk het meeste maar eers later te hore gekom byvoorbeeld hoe Loubie kop gehou en hooggespring het, hoe Neethling onder die koskiste moes uitworstel, hoe Johan Fouche van skone skrik (?) haas geëet het. Al wat ons kan sê is: “Hoe zijn onze helden gevallen.”

Mietsie Marais

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui