Kaap-Agulhas April 1951

“Ladies and gentleman it is indeed a great honour to me to address you tonight” Cheer!! Ja, dis einste die woorde van General Douglas Mac Arthur maklik ‘n groter hero onder die BT-Kaners as onder die Amerikaners, want hy gooi ons gedagtes weer “boots and all” terug binne in ‘n hoge, ja sommer ‘n baie hoge toer – die Agulhastoer van April 1951.

Meer as een was maar swaarmoedig en het maar ge-”panic” toe ‘n groot deel van die winter se reën Donderdag en Vrydag uitsak. Nogtans het die toer toe Vrydagaand begin al was dit in die Uitspan en nie op Houwhoek nie. Meer as een was ook maar bly om nog ‘n nag op beddens met matrasse te slaap.

Saterdagoggend vroeg was ons weg, weg om Stellenbosch, boeke en al sulke dinge vir minstens een week te vergeet. Van die ry met die busse sal ek liewer nie te veel sê nie. Dit het vir party ook net betyds geeindig. Wel op die manier agter is ons repertoire deurgesing.

Op Bredasdorp was ons ontvangs weer so hartlik soos voorheen, en daar is op die burgemeester se onkoste op die twee kafees toegesak. Na middagbrood is daar met heel voete en baie moed in die pad geval. Die stap het egter skaars ‘n myl gevorder of ‘n heelpaar moes deurloop onder ‘n modder-stortbad. Dit het gemaak dat die meisies naarstiglik begin soek het na ‘n sekere dam langs die pad waar die meisies op die vorige Agulhastoer bietjie ontspan het, maar die geskikte dam kan maar nie gekry word nie. Hard luck girls!!

Die kampplek op Mierkraal wat uit die hoogste rakke, vra maar vir die meisies, veral vir die wat langs die pad wou swem.

Die eerste rêrige kampvuur was sommer hoog en die ou BTK-spirit het al goed sy kop begin uitsteek. Dis ook die aand wat Mietsie sommer gou-gou baie begin hou het van Skroef se slee en so dikwels het sy haar daar tuisgemaak dat die besadigde Jan Bruwer homself byna te buite gegaan het in sy woorde aan haar. Moral -moenie Mietsie in kennis stel van gampoppies se teenwoordigheid nie. Sy ruk hande uit.

Na die middagete het almal net een behoefte gehad en dit was om te lê en slaap. So het die Sondag dan rustig verbygegaan.

Maandagoggend is met die eintlike stap begin en dit was ‘n goeie littelosmaker. By middagbrood was daar boonop nog ‘n verrassing naamlik mev Conradie stormjaers en hulle is voorwaar stormgeloop. Maandagaand was ons bestemming Struisbaai.

Dinsdag het ons stap langs die strand begin. Na sowat ‘n uur was ons by die Agulhasvuurtoring of te wel die suidelikste punt van Afrika. Sommige wou net dramaties raak oor die saak. Na middagbrood het daar so ‘n motreëntjie uitgesak en ons moes op Aasfontein ons intrek neem in die ge-alfonsde kamers. Maar kamers is after-all nie so sleg nie of hoe?

Die program was in die skuur. Dis al tradisie dat minstens een aand van die toer in ‘n skuur geslee word. Dis tog ook ‘n baie goeie ding. Dan sien almal die items mooi en sien ook wat aan die gang is. Dis mos die aand wat die komitees ge-item het.

Na die hout-en-water wou die blikwassers net begin panic, maar hou toe meer kop soos net hulle kan kophou, en lewer maklik die item van die toer. Sachie se gesig sonder sy speech was al genoeg om mens te laat kruip het van die lag en toe die kommentaar, sy speech en les bes die toejuiging van die skare losbars was dit vir almal een te veel.

Maar ek het gesê die blikwassers kan kophou en dis hier waar die laaste gedeelte van hul item inkom. Dit het wonders verrig veral as ‘n mens hul konvenor daarna sien werk het.

Woensdagoggend toe skyn die son mos weer. Dit toe wat so ‘n paar ander en die walaaiers, of te wel die lawaaiers of nog te beter die laatwaaiers hul kans waarneem. Ja, daar is definitief voordele aan laat waai verbonde. Of hoe sê ek?! Wel terwyl die res van die mense hul toe van ‘n sandduin in die verte sit en gadeslaan gaan swem hul toe mos. Dis egter niks, maar om die regter se woorde te gebruik “pose” hul toe nog boonop. Sensor asseblief tog! Wat word van ons volkie?

Vuurwarm en stukkend gesteek en moeg gedra aan hitch-hikers of te wel steekvlieë het ons die lieflike kampplek van Ratelrivier voor ons sien lê.

Hier het die vroue geslag ook weer slim taktiek aan die dag gelê. Die manne het vreeslik te kere gegaan en moes lieflike sleë gegrawe het. Die meisies het hul mooi gadegeslaan veral die gehalte van hul arbeid en toe begin hul (die meisies) skiet vir slee. Janee ons vroumense weet ook net hoe.

Dit was ook eerstelinge aand en moenie praat van die hofsitting en die vreeslike modeparade nie. Sachie, Sas, en Hannes se “magtige koning” was ‘n moedige poging. Vir hul wil ons toewens: “better luck next time”.

Donderdag was die salige dag van oorlê. Tennekoit speel, sing, swem, lees, slaap, ensovoorts was die hoofitems op die program van die dag.

Die hoofitem op die program van die aand was egter ‘n lewendige debat “Men are clay, and women make mugs out of them.” Aangrypende toesprake wat gegloei het van vuur het diep en opreg uit die harte van die sprekers gekom. Ja dit was soms selfs hartroerend en dit was vir menig een ‘n “eye opener”.

Die hofsaak wat daarop gevolg het, het sy klimaks bereik toe ene Tas Delport voor die regter verskyn het. Nou hier dink ek ons moet liewer ophou. Oor die ander geheime van die dag sal ons maar liewer swyg, né Marianne en Mietsie.

Alhoewel Sachie nou al so baie shine gevang het, moet ‘n mens darem die treffende poging om hom in die water te gooi nie vergeet nie. Sachie het egter definitief die beste daarvan afgekom. Die beste van die hele petalje dink ek was die “press photographer” wat nie ‘n steen onaangeroerd gelaat nie om ‘n treffende foto te verkry nie.

Van Vrydagoggend het daardie aaklige gevoel dat toer besig is om sy einde te nader weer sy kop onder ons uitgesteek het.

Die dag se stap het almal egter wel deeglik laat besef dat hul nog met voete en al op die BTK is. Met tonge wat byna op hul voete gesleep het, het die eerste helde die kamp ingestorm. Dis heeltemaal te begrype dat Eric Nieuwoudt los voor was.

Daar was egter gou-gou vir die moeë stappers so ‘n stukkie BTK de luxe want hul is as’t ware met koeldrank tegemoet gegaan.

Kampvuur het bietjie laat begin maar wie het omgegee, want die nag is mos lank. Die kampvuur was die laaste aand waardig. Wie word nie nou nog swak van die lag as hul weer die geheim van die klank in die sitkamer hul voor die gees roep nie. Die kostumering van die gasvrou tot Ai Schaeva was onverbeterlik.

Wel alle goeie dinge moet eindig. Terwyl ons vir die laaste keer om die kampvuur slaapliedjies gesing het, het meer as een seker opnuut besef wat die BTK vir hulle beteken en van die mooi herinneringe wat hul met hul saamneem.

Vrydagnag het die gebruiklike serenade plaasgevind. Manne het egter by die meisies gesing toe die meisies by die manne gesing het. Die mooiste was egter toe die manne en meisies saamgesing het.

Saterdagoggend is vir oulaas pap gekook, rugsakke gepak, lorrie gelaai en tente laat val. Laasgenoemde was uiters treffend en het voorwaar rare tonele opgelewer. Die manne het woes probeer uitkom onder die vallende tent terwyl die meisies dapper pogings aangewend het om bedek te bly.

Saterdag se kort stap het die stap van die toer op ‘n hoogtepunt laat eindig. Sommige het nog ‘n ekstra myl of twee geloop soos hul heen en weer oor die pad geslinger het van die lag.

By die Kelders is vir oulaas koffie gemaak en die terugtog het begin. Op Hermanus was nog ‘n moedige poging om ons ons nog te laat verbeel ons toer, maar hoe nader ons aan Stellenbosch gekom het, hoe “flatter” het elkeen begin voel.

Toe ‘n mens jou rugsak en komberse by Hamelhof weggesleep het, het die werklikheid soos ‘n emmer koue water op jou toegesak naamlik; nog ‘n toer is verstreke op ou BTK.

T. McLachlan

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui